kykNET Silwerskermfees 2019: Leon van Nierop se indrukke

  • 0

“Halleluja!” roep ’n vrou uit en neem ’n selfie voor die Silwerskerm-embleem buite die Bay Hotel, voete gepunt op die blou tapyt. “Nou kry ek eers my asem terug!”

Sy bevestig soveel vroue se gevoelens oor die negende kykNET-Silwerskermfees wat pas in Kampsbaai ten einde geloop het, want die krag van vrouwees in al sy vorme en kulture is luidkeels gevier. Vroue is nou vry van voorskote en onderdanige hoflikheid. Hulle stories beweeg na die voorgrond terwyl die krag van vrouwees baldadig gevier word. 

Poppie Nongena het met 12 welverdiende toekennings weggestap, ook omdat dit ’n Suid-Afrikaanse storie vreesloos en sonder versagting vertel het met dieselfde impak as die destydse Mapantsula (1988). Poppie het nou eers die regte rolprentvertellers gevind om haar verhaal relevant te maak vir ’n nuwe geslag in ’n veranderende land. Elsa Joubert se meesterstuk word hier behendig in perspektief geplaas, veral gesien teen ’n sosiale en polities vloeibare landskap op die rand van chaos. Christiaan Olwagen het ’n verwikkelde en veelvlakkige teks getem en briljante rolprentgestalte gegee sonder om propagandisties of polities korrek te probeer wees.

Ander bekende stories het nuwe, tegnologies gevorderde klere aangetrek, soos Fiela se Kind en Matthys Boshoff se Die verhaal van Racheltjie de Beer. So boender Brett Michael-Innes se Fiela ’n moedswillige volstruismannetjie in onderspeelde vorm tot by sy maat. Die verhaal word sterk onderspeel en getemper, wat aanhangers van die boek en vorige rolprent kan pla, maar dis ’n nuwe weergawe vir ’n nuwe geslag.

Dalene Matthee se nalatenskap het ook ’n vars bosasem oor die fees geblaas in ’n treffende dokumentêr, Dalene, deur Danie Bester. Dit beweeg met ’n gemaklike slenterstappie om die aardsmoeder van die Afrikaanse bosliteratuur in ekonomiese onderhoude te eer. Verskeie waarnemings word met mekaar gejukstaponeer sodat Dalene se krag opnuut wortel skiet. Dit was veral haar vrolike dogter Hilary, wat op ’n nugtere wyse en met deernis oor haar ma as vrou maar veral as moeder kon praat, wat die dokumentêr gekenmerk het.

In die magiese Toorbos, met sy eeue oue bosreuse, vier die bekwame regisseur René van Rooyen die bosvrou Karoliena se aardse liefde vir bosreusbome in ’n intieme rolprent oor ontworteling. Hier soek ’n vrou na haarself en haar identiteit tussen haar boomgesin wie se wortels deur uitwissing bedreig word, nes hare. Dit sluit aan by die tema van die plundering van die natuur wat sterk op die fees beklemtoon is.

Nog ’n aandagtrekker was twee wispelturige loslyf meisies (uitstekend gespeel deur die bekroonde Izelle Bezuidenhout en Nicole Fortuin) – individualiste tot in hul gebleikte haarwortels. Hierdie Afrika-Thelma and Louise skiet die hel uit die plat-op-die-aarde Flatland. Maar as ’n man se maag so plat soos die Karoo is, kan dit darem elders doeltreffend aangewend word!  Donker, wrede humor steek gereeld kop uit tussen die onortodokse woede. Voeg daarby ’n polisievrou (’n bedeesde maar sterk Faith Baloyi) wat haar eie demone verwerk in ’n astrante huldeblyk aan vroue op kruispaaie, en die rolprent tref jou tussen die oë.

Nog dapper vroue  weier om toe te laat dat ’n eenvoudige agtergrond hulle pootjie. Hulle durf Afrika kaalhand aan in die dokumentêre rolprent Sisters of the wilderness waarin renosterstroping ook aangevat word, terwyl Racheltjie de Beer haar boetie se lewe red in Matthys Boshoff se pragtige rolprent (wat twee keer bekroon is) waarin ’n ontwortelde gesin gevangenes word op ’n plaas wat deur berge omring word. Skuldgevoelens en misverstande betralie hul bestaan. Maar Racheltjie beur uit hierdie gevangenskap na die ewige vryheid.

Hiermee tref ’n heerlike tsoenami van vrouwees en bevryding die Silwerskermfees dus en vind vroue ’n nuwe plek, soms op onverwagse terreine. Dit gaan nie meer om kleur of taal of ras of politieke oortuiging nie. Dit gaan om menswees.

Verdere aandagtrekkers sluit in die 14 kortprente wat grense lag-lag en met ’n skeur in die jeans getakel het. Dit is vingeroefeninge wat die inleiding tot moontlike vollengte-speelfilms gee en wat met dramatiese ekonomie en dikwels geniepsige humor ’n verskeidenheid temas aandurf.

Die bekroonde Die begrafnis met beheerste regie deur Johannes Pieter Nel trap komedieslaggate mis. Dit skater met ’n oop keelgat saam met wulpse tantes in reënboogmonderings wat hoedens bo vals begrafnistrane verkies en handevat as vroue met ’n skeutjie melancholie aan die einde.

Dan is daar ’n opsweperige vrou wat met ’n papaja en boerewors fut in haar pap huwelik sit in Swaaibraai. Seks beweeg hier, maar ook in ander komedies, verby die banale en voorspelbare. Dit word ’n prikkelende gespot met huwelike wat in ’n groef beland het en na avontuurlike bevryding smag. Maar oppas waarvoor jy wens – dit mag chakalaka oor jou boerewors gooi, en dit brand! Liefde moet gerespekteer word.

Daar is ’n gemaklike, terloopse humorsin wat die moderne Afrikaanse rolprent nou kenmerk. Verby is die dae van dubbelsinnige graffiti agterop toiletdeure waaroor vorige films blosend gegiggel het. Hierdie nuwe byderwetse en jeugdige humorsin kry nou ’n koelkop houding en gaan gemaklik om met seks. Dis ’n doodgewone (maar lekker!) funksie wat met ’n halfmasglimlag uitgebeeld word as meer as net blote voortplanting of tydskrifte met omkrulmiddelblaaie wat onder die matras weggesteek word.

Nog ’n voorbeeld is Gebles deur Juri Badenhorst, met ’n kostelike teks deur Bard Cloete wat wemel van vrypostige kwinkslae. ’n Jong man se ereksieprobleme volg op haarverlies, tot hy besef dat vervulling in die regte meisie en geesgenoot lê en nie net in ’n weerligkuifie nie.

Nie alle kortfilmhumor werk egter nie, en soms pootjie lomphede, ’n gebrek aan ritme en ’n misgissing met die sogenaamde rolprent-beat sekere kortfilms. ’n Uitsondering is die bekroonde, ratse Oedipus die Musical, ’n satire op indertydse teaterstyle, teatrale ego’s en misverstande. Stefan Benadé verstaan eksentrieke humor volkome.

Ander kortprente verander in aangrypende belydenisse, soos Luan Jacobs se bekroonde Hoe om ’n perd te teken. Dit gaan oor ’n verlore siel wat homself as kind op ’n bus ontmoet en bevryding van neurose en skuldgevoelens kry deur uit die onderbewussyn te teken. Dieselfde geld ’n ernstige stelling soos Inamari Schoonraad se bekroonde My gelykenis – professioneel geregisseer en klinies en afstandelik verfilm asof die karakters op ’n operasietafel oopgespalk word. Maar Gert Steyn se Sussie werk ongelukkig nie altyd nie. Hier word ’n dood onder andere verbloem. ’n Los konstruksie en soeke na identiteit en fokus kortwiek dié kortfilm.

Griekwastad (gebaseer op Jacques Steenkamp se boek) was ’n verrassing. Jozua Malherbe het dit in ’n beklemmende eietydse reis omskep en as ’n speurrolprent ingeklee. Die klem val op psigopatie, leuens onder Afrikaners, die ongeloof oor moord onder mekaar en die verlatenheid van ’n moordlandskap bevlek deur bloedskande. Die hoogs talentvolle en bekroonde Alex van Dyk as Don Steenkamp lewer manjifieke en genuanseerde spel. Soveel emosies vlek deur een paar oë dat dit die gehoor oorbluf laat. En Arnold Vosloo as die ondersoekbeampte speel ’n barshou.

Susan Scott se dokumentêr Stroop moes twee keer gewys word vanweë ’n groot aanvraag. Dit is ‘n uitmergelende dokumentêr oor die brutaliteit van renosterstroping. Een of twee brutale beelde beteken baie meer as bladsye se skokkende feite.

Die goedbedoelde dokumentêr Skeef maak ook ’n broodnodige stelling deur veral vir transmense ’n stem te gee, maar kon gebaat het by die jukstaponering van onderhoude, in plaas daarvan om bloot grepe van onderhoude in ’n ry te plaas. In goeie redigering lê dikwels nuwe stellings. Dit moet nogtans geloof word vir die moed en eerlikheid om oopkop oor die onderwerp te praat.

Die feeshoogtepunt was egter Poppie Nongena, dikwels  byna in opera-rolprentvorm, waar ’n onderdrukte vrou haar pad na Amandla! in ’n huwelik tussen teater en film vind. Hier raak ’n formidabele ma nooit te vermoeid om te veg nie. Sak sy nie weg in die oorbluftheid van ’n onmenslike apartheidstelsel wat haar mens- en vrouwees onderdruk nie. Sy beur vurig voort na volkome bevryding.

Die fees is verby. Tone is nie net in koue water gedruk nie, maar karakters en filmmakers het sommer kaalbas aan die diep kant ingespring. Vrouwees, die verkryging van identiteit, sosiale kwessies, politieke turksvye, komedie wat uiteindelik sy “siesa!”-juk afgeskud het, en toonaangewende dokumentêre rolprente het persepsies oor Afrikaanse films ’n heerlike duik gegee wat geen paneelklopper kan uitkry nie. Maar feit bly staan: Poppie Nongena het ons rolprentlandskap verbreed en verander.  

Geluk aan die kykNET-span en deelnemers wat rolprenttaal uiteindelik onder die knie het en verstaan hoe om daardie gereedskap aan te wend om gehore uit hul sluimerslaap te ruk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top