Filmresensie: Griekwastad

  • 2

Griekwastad
Met Arnold Vosloo en Alex van Dyk
Regisseur: Jozua Malherbe

Min oomblikke in die Afrikaanse rolprent het Afrikaners so onbeskaamd laat grens en so onherstelbaar ontstem as die dood van Dirkie se hondjie in Jamie Uys se 1969-rolprent Dirkie. Vele beskryf vandag nog as volwassenes die rilling wat teen hul ruggrate af gekarwei is deur emosie, simpatie en skok. Afrikaanse films slaag selde daarin om skok so sterk te laat registreer sonder ’n Afkop Tokkelos wat deur die donkerte op ’n vlakvark aangery kom en jou psige karnuffel.

Die ander grieseloomblik wat ongeëwenaard is in Afrikaanse film is ’n nabyskoot van die jong Don Steenkamp se gesig in Griekwastad (2019) wanneer hy deur ’n speurder (Arnold Vosloo) ondervra word. ’n Warboel onuitgesproke emosies krimp deur sy soet, onbetrokke gesiggie. In die briljante Alex van Dyk se spel sien ’n mens hoe hy van een gedagte na ’n ander blaai. Die kyker lees ’n kortstondige skuldgevoel, hierna ’n skok oor die moontlikheid van tronkstraf, maar terselfdertyd die weerspieëling van ’n misplaaste onskuld. Daarmee word bedoel: Hy het drie moorde gepleeg, maar dit voel in Van Dyk se spel vermoedelik dat hy “onskuldig” is omdat hy "die regte ding gedoen het". En kort daarna die doodse uitdrukking wat impliseer dat hy dalk momenteel sy sinne verloor het en werklik nie onthou wat gebeur het nie. Wat ’n onthutsende oomblik!

In Van Dyk se stil, onderspeelde en genuanseerde uitbeelding vloei hierdie emosies deurmekaar soos ’n kinderkrabbel wat in die reën gelê het. Dit sluit aan by die regisseur Jozua Malherbe se deurdagte, sensitiewe regie (alhoewel hy soms ’n hamer neem om emosionele spykers in jou oë te slaan), waarin sy preokkupasie met die donker hart van wat agter die geslote konserwatiewe deure van Afrikaners gebeur, na vore kom.

’n Doodgewone, tipiese kerklike gesin (wie se naïwiteit nooit sitkom-neerhalend uitgebeeld word nie) se lewens word verskeur deur … wat? Bevlekte geheime waarvan die kyker nooit meer te wete sal kom nie? ’n Doodgewone seun wat vir ’n oomblik die kluts kwytgeraak het? Die onderdrukking van emosies en seksuele versugtings wat nou sy lawa oor ’n siel stort? Of ’n gesin wat, as gevolg van afsondering (soos in Racheltjie de Beer 2019) bloedskandelik te naby aan mekaar beweeg het sodat die grens tussen pa-wees, meisiekind-wees en stoutseun-boerseun-kaperjolle oorvleuel en soos ’n virus versprei?

Die probleem, wat die rolprent aanspreek, is dat slegs een persoon die brutale waarheid ken: Don Steenkamp self. En hy het tot dusver nog geen woord oor die moorde gerep nie, asof dit iets is wat apart van hom af plaasgevind het soos op die TV-skerm waarna die gesin gekyk het. Of hy nou vir die moorde verantwoordelik was of nie, die gruweldaad speel in ’n alternatiewe werklikheid af, en Malherbe steek-steek met ’n rooi els in hierdie teorie se hart.

Dit is welbekend dat die hegte Steenkamp-familie op Goeie Vrydag 2012 saam televisie gekyk het. Vermoedelik het die jong Don sy sussie die middag verkrag en gevrees dat Martella haar pa van hierdie onnoembare daad vertel het. Die band tussen pa en seun was hoeka, volgens die film, nie baie heg nie. Hoe dan ook gemaak met ’n seun wat gewoonlik op die oog af onderdanig is en nooit sy emosies of diepste versugtinge met sy ouers sou deel nie? Ook die verskroeide pannekoekvlaktes waarvan die klipperigheid, soos oeroue vetkoeke, die horisonne verskans?

Hoe sal ’n doodgewone boer op só ’n onthutsende onthulling reageer? Hy moes vermoedelik stilgemaak word. Daarom het Don ’n geweer geneem, eers sy pa, toe sy ma en daarna sy suster geskiet. Toe die pa en sussie nog nie dood was nie, het hy (volgens die rolprent se tweede teorie) koelbloedig met albei klaargespeel en voorgegee dat dit ’n plaasmoord was. Hy is maande daarna verhoor en tronk toe gestuur vir moord.

Tog volg Malherbe, en die draaiboekskrywer Tertius Kapp, in ’n soepel en visueel-geletterde draaiboek, nie die maklike sensasionele uitweg nie. Word ander teorieë ook ondersoek. Malherbe beeld met vreesaanjaende angs die tweede scenario uit. Dat die jong Steenkamp se verklaring (hy het in die skuur gewerk en geweerskote gehoor) dalk waar kan wees. En tussenin peper hy die kyker (so suf van ’n oormaat gemiddelde Afrikaanse verstrooiingsvermaak) met potente beelde wat die teendeel bewys.

Donker plaaspaaie waardeur motorligte deursoekend klief soos wat speurders na die waarheid soek; Martella, Don se sussie, se deurskynende, swembladblou onskuldige oë, knap weergegee deur ’n feitlik woordelose Jane de Wet; sorgelose perdetonele; die oorblufte skok van ’n buurman, knap gespeel deur Albert Maritz; en ander onverklaarbare gebeure teken graffiti op die kyker se geheue. Sonder om strepe onder hierdie tonele te trek, bevraagteken Malherbe die onverklaarbaarheid van glase wat op strategiese plekke op die plaaswerf gevind is. Oorblyfsels van een of ander ritueel? Ook die oënskynlik doodgewone gesinsbedrywighede voor ’n televisiestel terwyl moord sluimer. (Hoe weet ons daardie toneel het werklik presies so plaasgevind?)

Maar midde-in is die uitdrukkinglose Don wat skynbaar onbetrokke is. Emosies is vir hom vreemd. Hy het, soos so baie boerseuns wat worstel met probleme, nooit daaroor gepraat nie. Dit sou ’n swakheid ontbloot in ’n kultuur van patriargale man-wees. Jukstaponeer dit met die klipgesigbelydenisse van gewone dorpenaars wat hul opinie oor die Steenkamps gee, en jy kry ’n tafereel van Afrikanerdom waarvan die kultuur soos ’n Krismispoeding lyk: vol rosyntjies tussen die vrolike vrugte en lekker brandewyn.

Voeg al hierdie elemente bymekaar, gerugsteun deur Malherbe se nugter regie, en jy kry ’n produk wat meer vreesaanjaend is as enige riller wat ’n skrywer kon optower. Tussenin balanseer die formele, indringende spel van Arnold Vosloo, die simpatieke Lida Botha en die boertige Deon Lotz se Bennie Heckroodt die gruwelike gebeure. Dit vorm visuele stippels wat ’n bloedbevlekte rolprent betekenis en balans gee.

Hier en daar is die film skerp dramaties en skokkend (sommige mag dit net te beredeneerd vind), alhoewel dit beslis hier werk. Ook Charl-Johan Lingenfelder se grieselrige musiek, wat soos gloeiende kole deur die kyker se are pols, teister die gehoor. As musiek al ooit innerlike paniek en daardie gru-oomblik briljant weergegee het (soos toe Dirkie besef sy hondjie is deur ’n slang gepik!), is dit hierdie klankbaan. Dit verdien ’n toekenning.

Griekwastad is een van die beter Afrikaanse rolprente wat my, in ’n toenemend bar Afrikaanse filmlandskap, weer laat moed skep. En Alex van Dyk, so goed in Stropers (2018), speel ’n barshou. Beklemd, onderspeel, dubbelsinnig, onpeilbaar en engeltjie-gesig-diabolies. Hy is uitmuntend.

Jy kan Griekwastad vanaf Maandag 5 Mei op Boxoffice huur. Dit kos R35.

Kyk die lokprent hier:

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Dit was aan groot klok deur Media gehang aanvanklik as "wrede plaasaanval"!
    Toe die omstandighede bevraagteken was, deur selfs lesers, het baie vrae ontstaan.
    Was hierdie nie toksiese hegte gesin in afsondering nie? Vraag is, was daar werklike oop gesinsverhouding? Laat my wonder, want Noordkaap kan groot stiltes handhaaf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top