Agterstories: ’n Ekonomiese teorie oor Afrikaans

  • 9
  • Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.

’n Week of wat gelede pryk die Voortrekkermonument in oranje, blanje en blou toe duisende betoog teen die nuwe Bela-wet. Vir dié wat pas ontwaak het: Twee klousules in die reeds ondertekende Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette maak dit vir ’n provinsiale owerheid moontlik om die taal van onderrig in skole voor te skryf, in plaas van ’n skool se beheerliggaam. Die vrees is dat Afrikaanse moedertaalonderrig gaan verdwyn.

Maar, wonder ek, verstaan ons goed die redes waarom sommige tale floreer en ander wegkwyn? Kan mens werklik ’n taal vernietig met die aanvaarding van een wetsontwerp?

Dis vrae sonder ’n maklike antwoord. Een teorie, verwoord deur die Duitse sosioloog Max Weber, stel dit onomwonde: Taal is politiek, ’n manier vir politieke elites om groepe in en uit te sluit. Dink aan die Gautengse premier Panyaza Lesufi se opmerking op X oor die StopBela-betoging: “Dit is nie oor onderwys nie, maar [oor] dié wat ons met ’n passie haat. [D]it is net omdat hulle nie wil hê ons kinders moet saam studeer en leer nie. Die deure van leer en kultuur sal vir almal geopen word.” Lesufi sou met Weber saamstem dat taal politiek is en dat die owerheid daarom ook die instelling is wat taal moet bevorder of, in hierdie geval, dalk onderdruk. Dis die staat wat Afrikaans geskep het, sou hulle argumenteer, en die staat wat dit daarom ook sal kan beheer.

Maar daar is ook ander sienings. Pierre Bourdieu, die Franse sosioloog, skryf in die 70’s dat taal ’n vorm van simboliese kapitaal is wat mense toegang gee tot sosiale en ekonomiese bronne. Taal is nie slegs ’n instrument van politieke elites nie, maar ’n praktyk waardeur gemeenskappe self betekenis gee aan hul wêreld. Dus, wanneer gemeenskappe taal verdedig, verdedig hulle nie net ’n vorm van kommunikasie nie, maar ook hul identiteit en die sosiale kapitaal wat daarmee gepaardgaan. Hier is Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging wat die betoging georganiseer het: “Dit is uit liefde vir ons taak, ons erfenis en die land.”

’n Kru manier vir ’n ekonoom om dit op te som: Daar is ’n mark vir taal en tale groei of krimp afhangend van die ekonomiese waarde daarvan, breedweg gedefinieer, relatief tot die kostes om die taal te leer. ’n Voorbeeld hiervan is hoe Engels die afgelope eeu die wêreld oorgeneem het. Dit floreer omdat dit gekoppel word aan ekonomiese geleenthede, wetenskaplike uitvindings en tegnologiese vooruitgang. In dieselfde asem sou mens kon argumenteer dat tale soos Afrikaans – of enige minderheidstaal – sal sukkel om kers vas te hou; vir dié wat ’n eerstetaal vir hul kinders kan kies, is Engels die taal van opwaartse mobiliteit. Dis dus nie net ’n kwessie van erfenis, kultuur of identiteit nie: Ekonomiese oorwegings, al wil ons dit nie aldag erken nie, is beduidend.

(Dink vanuit hierdie lig oor die Stellenbosse taaldebat. Ja, daar is goeie kulturele redes om Afrikaans as akademiese taal te wil beskerm, maar is die felle behoefte vir Afrikaans op Stellenbosch nie bloot ’n poging om Afrikaanssprekendes, wat tans plekke aan beter presterende Engelssprekende studente moet afstaan, ’n ekonomiese hupstoot te gee nie?)

’n Ierse voorbeeld help ons om hierdie idees te toets. Die Ierse taal is besig om uit te sterf; ná meer as ’n eeu se pogings om Iers te laat herleef, bly dit “beslis bedreigd”, volgens Unesco. Minder as 120 000 mense kan Iers praat, slegs 1,6% van die Ierse bevolking, en al daardie mense praat ook Engels. Dis nie eens meer die gewildste tweedetaal in Ierland nie.

Dit was nie altyd die geval nie, skryf Alan Fernihough, Chris Colvin en Eoin McLaughlin, drie Ierse ekonomiese geskiedkundiges, in ’n onlangse wordingsartikel. Op die vooraand van die Grootse Ierse Hongersnood van die 1840’s was daar ’n gerame 2 miljoen mense wat daagliks in Iers gekommunikeer het. Teen 1851, ná die hongersnood, was dit 1,5 miljoen, of 23% van die bevolking. 50 jaar later was daar minder as 800 000 mense wat Iers kon praat en, ten spyte van baie energie en geld, het die getalle aanhou daal. Die outeurs wil weet hoekom.

Iere, soos mens kon dink, het baie redes vir die vernietiging van hul taal. Die mees gewilde is eenvoudig dat Engels ’n koloniale taal was en in hul keelgat afgeforseer is. Maar dis darem te eenvoudig. Natuurlik het die Engelse ’n rol gespeel om Engels tydens die neëntiende eeu in skole af te dwing, maar owerheidsbeleid het ook baie verander oor tyd, veral ná onafhanklikheid in die twintigste eeu. As dit net owerheidsbeleid was, sou die taal tog herstel het, veral gegewe die pogings om dit juis te ondersteun?

Nee, skryf die outeurs, dis ander faktore, veral ekonomies. Onderwys het ’n rol gespeel, ja, maar nie so groot soos wat hulle vermoed het nie; in kort, dit was nie net dié met goeie onderwys wat besluit het om op te hou Iers praat nie. Om die waarheid te sê, die resultate toon dat die Katolieke Kerk, weens hul beleid van tweetaligheid vir priesters, gehelp het om Iers te beskerm.

Geografie speel ’n sentrale rol. Ierssprekende areas wat nader aan stede was of Engelssprekende dorpe met beter ekonomiese geleenthede het vinniger verengels. Die aanleer van Engels het veral ná die Groot Hongersnood noodsaaklik geword, aangesien Engels toegang tot beter werksgeleenthede en emigrasie, veral na Amerika, moontlik gemaak het.

Mens sou natuurlik die Anglo-Boereoorlog as teenvoorbeeld kon gebruik. Hier was daar ook verwoesting en geweldige hoë mortaliteit. Die verwagting sou gewees het dat Afrikaans sou verdwyn, verswelg deur die taal van industrie en besigheid. En tog, die teenoorgestelde sou in die twintigste eeu met Afrikaans gebeur. Tot watter mate ekonomiese faktore hiervoor verantwoordelik was, is ’n fantastiese navorsingsvraag vir ’n voornemende Ekonomie-PhD-student.

Een interessante resultaat van die Ierse studie is die rol van intergenerasie-oordrag. Een van die belangrikste faktore wat die voortbestaan van Iers oor die dekades voorspel, is of ouer mense in dieselfde huishouding die taal praat. Dit maak sin; mens leer net ’n taal deur daaraan blootgestel te word, en wanneer die grootmense ophou, gaan dit moeilik vir die kinders wees om die taal aan te leer. Wat egter interessant is, is dat hierdie ook geld vir ouer mense in die dorp en streek, en nie net in die huishouding nie. Anders gestel, al het jy grootgeword in ’n huis waar die grootmense Iers gepraat het, maar almal anders in die dorp het Engels gepraat, gaan jy waarskynlik jou vermoë om Iers te praat verloor.

Vir ’n taal om voort te leef, moet daar genoeg mense rondom jou wees wat die taal praat. Ouers sal dit slegs vir hulle kinders leer as hulle glo daar is ekonomiese waarde daarin. Wanneer die voordele van eerstetaal-Engels die kostes van Engels as tweedetaal (of geen Engels) oorskry, gaan minderheidstale soos Afrikaans kwyn. En, soos die Ierse voorbeeld wys, is dit ’n bose kringloop. Hoe kleiner die poel van praters, hoe laer is die ekonomiese waarde vir dié wat dit wel praat, en hoe kleiner raak die insentief om die taal aan te leer, veral vir kinders.

Hoe mens hierdie kringloop breek – en of mens enigsins moet – is nie vir my duidelik nie. Vir baie van ons is Afrikaans dalk die taal van ons hart, maar die realiteit is, om dit te behou vir ons kinders se kinders wat wag, gaan dit ook die taal van ons spaarvarkie moet word. Bela is maar net die begin.

Lees en kyk ook:

Bela-optog: ’n onderhoud met Michael le Cordeur

Bela-wet: Op ’n heuwel daar ver

Bela-wet: Waarom die groot bohaai oor twee klousules?

Is verengelsing die Bela-wet se skuld?

Elders gesien: Oranje het hierdie week ’n slegte naam gekry

SteedsDink met LitNet Akademies: Michael le Cordeur oor sy akademiese navorsing

Reguit met Robinson: Onderwyssektor onder beleg

Theuns Eloff: Aftakeling van Afrikaans as akademiese taal universiteite se eie skuld

Griefskrif met sewe eise vir Afrikaans aan US oorhandig

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

Mediavrystelling: Afrikaanse Taalraad oorhandig ope brief aan Ramaphosa

Eeufeesviering van Departement Afrikaans en Nederlands, US: Kanselier Edwin Cameron se toespraak

Kaaps in fokus-referaat: Ekonomiese bemagtiging deur Kaaps

Is alles oraait byrie hys?: ’n Onderhoud met die stigter van Vannie Kaap

  • 9

Kommentaar

  • Luan Staphorst

    1. "is die felle behoefte vir Afrikaans op Stellenbosch nie bloot ’n poging om Afrikaanssprekendes, wat tans plekke aan beter presterende Engelssprekende studente moet afstaan, ’n ekonomiese hupstoot te gee nie?" Kan Johan enige bewyse verskaf dat Afrikaanse studente die plek van "beter presterende Engelssprekende studente" in(ge)neem (het) bloot vanweë hul Afrikaansheid?
    2. Die argument vir 'n ekonomiese analise van Afrikaans is reeds in 1997 deur die pas ontslape Hans du Plessis gemaak in 'n artikel wat heet "Afrikaans op universiteit: gee wat die mark vra". Hy het soortgelyke gevolgtrekkings bereik. Die taalkunde is 'n bordienghuis met baie wonings – waar die kamers swaar, maar nie altyd donker, is.

  • Luan, twintig jaar gelede, toe ek begin klas gee het, was 'n groot proporsie van my topstudente – die top 20%, byvoorbeeld – Afrikaanssprekend. Vandag is ’n groot proporsie van hierdie studente Engelssprekend, wat maar net kan beteken dat hulle die swakker-presterende Afrikaanssprekendes aan die onderkant van die verdeling vervang het. Die kwaliteit van die gemiddelde student wat op Stellenbosch studeer, ten minste in Ekonomie, is beduidend beter.

  • Kan ons 'Afrikaans' bly al praat ons Engels aan huis en in die wêreld daarbuite? Dalk is die Afrikaners in die Kaap tydens die Engelse besetting ook 'n goeie navorsingsbron [dit is seker al ondersoek].

  • Hanno Visagie

    Die mate waartoe ook (en veral) (verloopte) Afrikaner-akademici hulle deur antichris-globalistiese wokeness (oftewel kultuurmarxisme) laat breinspoel het, is teleurstellend. Die samestelling Afrikaner-akademikus is eintlik 'n teenstelling (oftewel 'n oksimoron) wat kwalik bestaan.

  • Hoe gaan Afrikaanssprekendes 'n 'ekonomiese hupstoot' kry in 'n regstellende-aksie- en BEE-ekonomie, die afspringplek van die anti-Afrikaanse aanslag?

  • Louis Duvenage

    "Ouers sal dit slegs vir hulle kinders leer as hulle glo daar is ekonomiese waarde daarin." Ek het nie hierdie "sweeping statement" toegepas nie. Een van die redes is dat moedertaal-onderrig deurslaggewend is in die vormende jare van 'n kind. Dit is juis gedoen sodat moeilike konsepte deeglik verstaan en verwoord kan word deur die kind.

  • Hans Richardt

    Raed-na-gael, ons is besig om 'n eie ekonomie te bou. Ons sal nie sonder groot stryd deel van BBBEE- of regstelaksie-ekonomie kry nie.
    Die begin is gemaak met Akademia, Soltech en Bo-Karoo opleiding.
    Vaardighede en sweet is al wat gaan help om deel van hoofstroomekonomie te word weereens.

  • Hans
    Die ‘ons’ waarvan jy praat, klink vir my na 'n identiteit. Ek is aan die kant van die kulturele (nie polities nie) nasionalisme. Ek maak appèl op my kulturele uitgeslotenheid en/of pogings daartoe.
    Juliemaand het ek my jaarlikse kwota biltongtjies gaan haal. So lekker Afrikaans gekuier dat die ou my dit geskenk het. Op pad terug stop ek by 'n plattelandse winkel/kafee en word op 'n growwe Afrikaanse aksent in Engels aangespreek met: "Good day, how can I help you?"
    Onthuts antwoord ek met: “Praat Afrikaans, asseblief.”
    Kostelik, jy moes daardie gesig gesien het.
    Sou beter gewees het indien daar voor die winkel/kafee 'n kennisgewing gepryk het met bv die volgende bewoording: "The default language of this establishment is AFRIKAANS – please state your language preference."
    Of hoe?
    Groetnis,
    Raed-na-Gael

  • Pieter Rautenbach

    Johan, ek dink hierdie was 'n interessante stuk.

    Een opmerking oor jou syfers oor die samestelling van klasse: Die universiteit volg natuurlik hierdie syfers baie noukeurig (en 'n vriend van my en iemand wat jy ook ken wat saam met ons in die koshuis was – een van die oud-onderprims – werk in hierdie kwaliteitsbestuurafdeling). Wat hulle daar gesien het, asook 'n ander vriend wat eens klas by ingenieurswese gegee het, is dat baie Afrikaanse studente hul taal as Engels aangegee het – en ek dink jou ekonomiese redenasie ondersteun wat 'n mens daar sien. Self al was helfte van my klasse in Engels gewees, het dit my nie té veel gepla nie (en dit was nog voor die beleide werklik aangepas is). Dit was vir my 'n aanpassing, maar dit was nie asof ek ingenieursterme reeds in Afrikaans geken het en dus moes oorskakel nie. Al my handboeke was in Engels, weens die aard van 'n wetenskaplike graad. Daar was net werklik geen punt daarin om alles te vertaal nie. Tog het ons gemaklik in Afrikaans gekommunikeer.

    Afrikaans floreer wel in baie ander opsigte, maar daar is egter nog steeds 'n sterk kultuur van uitsluiting in baie gevalle. Daar is baie groepe, sonder oorvleueling, elk met hul eie identiteit. Die ou NP het eintlik die taal baie skade berokken, al is dit toe sterkter as 'n akademiese taal bevorder.

    En hoekom is Engels so wyd verspreid onder baie in SA? Ons weet dat vele van die ANC en ander se leiers by Engelse universiteite (sommige oorsee) gaan studeer het, want hulle kon nie by top Afrikaanse universiteite gaan studeer het nie (sou hulle wou).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top