Alvorens ons die resultate van Suid-Afrika se 2022-volkstelling bekyk, moet ons kennis neem van twee belangrike veranderinge met betrekking tot die taalvraag in die sensus:
- Waar die 1996- en 2011-sensusse twee taalvrae bevat het – oor die eerste en tweede mees gebruikte tuistale – keer die 2022-sensus terug na slegs die een vraag van die 2001-sensus oor watter taal die meeste in die huishouding gebruik word.
- Waar die 1996-sensus vir die eerste keer inligting oor die land se destydse 11 ampstale en die 2022-sensus vir die eerste keer inligting oor Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) ingesluit het, sluit die 2022-sensus nou naas die land se 12 amptelike tale (met inbegrip van SAGT) ook inligting oor nie-amptelike tale in.
Omtrent die taalvraag
Die vraag oor watter taal die meeste in huishoudings gebruik word, skep ’n interessante prentjie omtrent taalverspreiding, soos Statistieke Suid-Afrika se grafiek illustreer. Dit is opvallend dat die afbakening van die nege provinsies grootliks ooreenstem met die verspreiding van dominante huistale. Gauteng, die noordelike provinsies, metropolitaanse gebiede en enklawes skyn hieromtrent ietwat van ’n uitsondering te wees. Hulle het dus te kampe met groter uitdagings wat betref taalbeleid en taalbeplanning.
..........
Op basis van die oorhoofse tendens vra ’n mens jou dus af wat die land se taalbeplanners met sulke inligting maak en waarom provinsies nie hierdie verskynsel van taaldominansie tot voordeel van hulle inwoners aanwend nie. Dit is ’n demografiese gegewe wat suggereer dat taalbestuur in Suid-Afrika in die eerste plek ’n territoriaal gedrewe aangeleentheid behoort te wees.
.................
Op basis van die oorhoofse tendens vra ’n mens jou dus af wat die land se taalbeplanners met sulke inligting maak en waarom provinsies nie hierdie verskynsel van taaldominansie tot voordeel van hulle inwoners aanwend nie. Dit is ’n demografiese gegewe wat suggereer dat taalbestuur in Suid-Afrika in die eerste plek ’n territoriaal gedrewe aangeleentheid behoort te wees. So kan verseker word dat produktiewe en daadwerklike taalontwikkeling vir die agtergestelde amptelike tale plaasvind en gedwonge taaloorheersing hokgeslaan word.
Skole is ’n maklike plek om met so ’n territoriaal gedrewe taalbestuurspoging te begin deur seker te maak dat ten minste die dominante streekstaal as addisionele taal in skole aangebied word, naas die huistaal en tweede taal (die sogenaamde eerste addisionele taal). Sinvolle beplanning hieromtrent sal nie net ’n groot bydrae tot onderlinge kommunikasie lewer nie, maar kan ook inklusiwiteit bevorder. Ouers kan hierin ’n belangrike rol speel wanneer daar oor hulle kinders se taalvakke besluit moet word.
Besonder interessant is die verspreiding van Afrikaans as dominante taal van die suidelike streek. Dit noop sommiges om na hierdie gebied as die bakermat van Afrikaans te verwys. Afrikaanse taalbeplanners behoort nietemin op die demografiese gegewe ag te slaan en dalk help om interprovinsiale inisiatiewe hieromtrent op dreef te kry.
Statistieke Suid-Afrika se grafiek dui egter nie ander demografiese tendense omtrent ons land se huistale aan nie.
Die nogal opvallende afname van 3,9% in die aantal persone wat Afrikaans as die mees gebruikte taal in die huishouding aangemeld het, van 14,5% in 1996 tot 10,6% in 2022, het reeds heelwat aandag in die media gekry (kyk Tabel 2.9 op bl 23 van die 2022-sensusverslag). Dit is egter nie die enigste taal met dalende persentasie nie.
Ook in die geval van Xhosa as die mees gebruikte taal kom ’n daling voor (van 17,9% in 1996 tot 16,2% in 2022); ook in die geval van Engels, asook in die geval van SAGT (van 0,5% in 1996 tot 0,2% in 2022), ’n kwessie wat hier onder verder bespreek word. (In die geval van Ndebele skyn die 2022-persentasie ’n regstelling van ’n oorrapportering in 2011 te wees.) Alhoewel die persentasie vir Engels in vergelyking met die 2011-sensus ’n daling van 9,7% na 8,7% suggereer, kom laasgenoemde persentasie ooreen met dié van 1996, wat ook op konstantheid dui. (Dit kan ook dui op ’n korreksie van die 2011-persentasie.) Ook opvallend is die relatiewe konstantheid van die persentasies vir die nege ander amptelike tale – Zulu en Pedi is die enigste twee tale waar daar ’n geringe persentasie toename is. Hierdie mate van konstantheid suggereer dat daar nie noodwendig taalverskuiwings voorkom nie, ofskoon die daling in die persentasies van twee Nguni-tale, Xhosa en Ndebele, en die styging in die persentasies vir Zulu dalk op so ’n tendens sou kon dui. Die ander betekenisvolle styging in persentasies kom in die kategorie “ander” (tale) voor, ’n kwessie wat straks bespreek sal word.
Binne hierdie konteks van relatiewe konstantheid beskou, is die daling van die persentasie mense wat Afrikaans as die mees gebruikte taal in die huishoudings gerapporteer het, in werklikheid besonder kommerwekkend. Waarskynlik speel faktore soos die afname in die wit bevolkingsgroep, geboortepersentasie, maar ook migrasie hierin ’n rol. Vir die behoud van Afrikaanssprekende skole hou hierdie kwessie besondere implikasies in, veral gesien in die lig van die regering se jongste pogings om beheer oor skole oor te neem en hierdie taalgemeenskap verder te ontmagtig.
..............
Binne hierdie konteks van relatiewe konstantheid beskou, is die daling van die persentasie mense wat Afrikaans as die mees gebruikte taal in die huishoudings gerapporteer het, in werklikheid besonder kommerwekkend. Waarskynlik speel faktore soos die afname in die wit bevolkingsgroep, geboortepersentasie, maar ook migrasie hierin ’n rol. Vir die behoud van Afrikaanssprekende skole hou hierdie kwessie besondere implikasies in, veral gesien in die lig van die regering se jongste pogings om beheer oor skole oor te neem en hierdie taalgemeenskap verder te ontmagtig.
..................
’n Groot kwelling omtrent die 2022-sensus is die ontbrekende vraag na, en gepaardgaande inligting oor, die tweede mees gebruikte taal wat in die 1996- en 2011-sensus voorgekom het. Dit is inligting wat ook vir onderwysbeplanning van besondere belang is, veral wanneer dit gaan oor taalkeuses op skool. Volgens die 2011-sensus het mense twee tale as die mees gebruikte tale aangedui: 5 877 313 het Engels aangemeld en 1 138 833 Afrikaans.[1] Van die nege ander amptelike tale het Zulu die beste gevaar, met 824 643 persone wat dit as die tweede mees gebruikte taal aangedui het. ’n Mens wonder dus waarom hierdie tweede taalvraag in die 2022-sensus weggelaat is.
Omtrent die nie-amptelike tale
Die jongste sensusverslag sluit buiten inligting oor deelnemers se keuse van die 12 amptelike tale as die mees gebruikte tuistale nou ook inligting oor vier bykomende taalkategorieë in, te wete mense se keuse van die land se inheemse kliktale (Nama en ander Khoi- en Santale – 0,01%) as die mees gebruikte tale, maar ook die keuse van drie “vreemdelingtale”, te wete Sjona (erkende taal van Zimbabwe – 1,2%), Chichewa/Chewa/Nyanja/Chinyanja (erkende taal van Malawië en Zambië – 0,3%)[2] en Portugees (erkende taal van onder meer twee van ons buurlande, Angola en Mosambiek – 0,2%).
Voorheen sou deelnemers aan die sensus se keuse van hierdie tale as die mees gebruikte huistale by die breë en ongespesifiseerde kategorie “ander” (tale) ingesluit gewees het: in die 1996-sensus as die keuse van 0,6% van die bevolking, in die 2001-sensus van 0,5% en in die 2011-sensus van 1,6%. In die 2022-sensus het 2,1% van die bevolking aangedui dat ’n nie-amptelike taal die meeste tuis gebruik word – dit is nou met inbegrip van hierdie vier addisionele kategorieë (kyk Tabel 2.8 op bl 22 van die 2022-sensusverslag).
Saam verteenwoordig hierdie vier kategorieë mees gebruikte tale die keuse van 1,7% van die bevolking. Dit impliseer dat ’n mens die persentasie van die 2011-sensus (1,6%) eintlik ook behoort te “suiwer” om by die gemiddelde normale tendens van 0,5% van die bevolking wat nie-amptelike tale as tuistale gebruik, in te val, wat dan daarop neerkom dat in die 2011-sensus reeds 1,1% van die bevolking tale uit die nou toegevoegde vier kategorieë as die mees gebruikte huistale moes aangemeld het.
Al het ons in die verlede nie eintlik aandag geskenk aan die kategorie “ander” nie, behoort ons nou wel ’n bietjie te besin oor wat hierdie nuwe taalverwikkeling in die jongste sensusverslag eintlik alles beteken en impliseer.
’n Mens wonder ten eerste waarom mense se keuse van nie-amptelike tale as die mees gebruikte tale opeens as afsonderlike taalkategorieë gespesifiseer word. Die insluiting van die kliktale is wel te verstane, gegewe die grondwetlike vereiste dat die staat asook die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) ’n grondwetlike verantwoordelikheid jeens hierdie groep tale moet nakom. Maar die spesifisering van die tale van “inkommers” of, beter gestel, migrante, laat sekerlik vrae ontstaan, gegewe die bedoeling om op basis van ’n sensusopname beplanning te kan doen. Moet ons aanneem dat in die lig van ons huidige regering se egalitaristiese benadering tot taalbeleid en taalbeplanning ons moet verwag dat van hierdie tale ook mettertyd veramptelik sal word? Hierdie vraag is seker geldig indien ’n mens in aanmerking neem dat SAGT, ’n taal wat 0,02% van die bevolking as die mees gebruikte taal in die huishouding aangedui het (in die 2011-sensus 0,5%), veramptelik is, terwyl 1,2% van die bevolking in 2022 aangedui het dat Sjona hul mees gebruikte taal tuis is! In werklikheid plaas hierdie persentasie Sjona in die geselskap van ons ander kleiner amptelike tale, Ndebele (die keuse van 1,7% van die bevolking), Venda (die keuse van 2,5%) en Swati (die keuse van 2,8%). Indien feite dan nie vir die huidige regeerder van belang is nie en sentiment deurslaggewend is, impliseer dit seker dat ’n inheemse kliktaal soos Nama dalk ook binnekort amptelike status sal moet kry. Daar word reeds gepraat oor die verampteliking van Swahili, ’n taal wat, vreemd genoeg, nog nie sy verskyning in die sensusverslag gemaak het nie. Sjona het daarom sekerlik ’n veel beter kans om in die afsienbare toekoms ook een van ons amptelike tale te word.
Van SAGT gepraat: Met die onlangse verampteliking van die taal is wilde getalle rondgegooi oor hoeveel dowes en gebruikers van die taal daar in die land is. Die South African National Deaf Association maak op sy webtuiste byvoorbeeld die ongestaafde aanspraak dat daar meer as 4 miljoen Dowe en hardhorende mense in Suid-Afrika woon. (“Doof” met ’n hoofletter-D verwys na die linguistiese minderheid van gebaretaalgebruikers, en “doof” met ’n kleinletter-d na ’n oudiologiese toestand.) Tydens een van die parlementêre debatte oor die verampteliking van SAGT aan die begin van die jaar het die EFF met ’n syfer van 7 miljoen (!) vorendag gekom. Opvallend omtrent hierdie getalle is dat dit hardhorende mense wat nie noodwendig gebaretaal as huistaal gebruik nie, insluit. Hulle word terloops ook nie as deel van die gebaretaalgemeenskap beskou nie.
Die sensusverslag werp egter glad nie lig hierop nie. Die verslag bevat twee (deur heelwat mense betwiste) vrae wat met doofheid verband hou en op basis waarvan ’n mens die persentasies hier bo moet probeer verstaan (kyk Tabel 5.1 op bl 51 van die 2022-sensusverslag).
Die een (nogal ironiese) vraag gaan oor die mate van moeilikheid wat die deelnemer met sy/haar gehoor ervaar, wisselend van geen tot totaal – dus geen direkte vraag oor doofheid nie. Hiervolgens tref die sensus nie ’n onderskeid tussen kultureel Doof (primêre gebruikers van gebaretaal) en oudiologies doof (wat hardhorendes kan insluit) nie. Dit is daarom problematies om uit die persentasies in Tabel 5.1 hier bo enige betroubare afleiding omtrent gebaretaalgebruikers te maak, veral uit die tweede vraag omtrent moeilikheidsgraad met betrekking tot kommunikasie in die persoon se “gebruiklike” taal. ’n Dowe wat SAGT as gebruiklike taal vermeld, sal logieserwys die eerste kategorie kies, dit wil sê kommunikasie “met geen moeite nie”. ’n Mens kan ietwat meer wys word uit die vraag omtrent gehoorprobleme, waar die laaste twee kategorieë (hoor “met heelwat moeite” en “kan glad nie” hoor nie) ongeveer betrekking kan hê op persone wat dalk kultureel as “Doof” bestempel kan word terwyl die tweede kategorie (“ietwat moeite” met gehoor) waarskynlik op hardhorendes betrekking het. Hoe dit ook al sy, die getal 4 miljoen duik nêrens in hierdie persentasiesyfers op nie.
Wat wel opval, is dat daar verskille voorkom tussen hoe in die 2011-sensus teenoor die 2022-sensus oor gehoorkwessies gerapporteer word, maar dat die kwessies nogtans persentasiegewys konstant gebly het. Daarteenoor staan die meer opvallende afname in die persentasie persone wat SAGT as die mees gebruikte taal in die huishouding opgegee het, van 0,5% in 2011 na 0,2% in 2022. Die reële getal het byna gehalveer, van 234 655 persone in 2011 na 124 055 in 2022.
Kommentators het reeds op van die gebreke van die 2022-sensus gewys, maar ook gesuggereer dat die oorhoofse tendense nogtans vir beplanningsdoeleindes van waarde is. In reaksie op vorige sensusse het ons nog min sodanige aanwending van die sensusinligting gerealiseer gesien wanneer dit by taalbeleid en taalbeplanning kom. Dit wil voorkom asof die beleidmakers vasgevang sit in ideologiese denke omtrent taal. ’n Mens kan daarom net hoop dat hulle hiervan bevry sal word en die gulde geleenthede sal aangryp wat hierdie jongste sensusverslag ons bied. Of dat hulle maar sal emigreer (gelukkig is hulle meestal nie Afrikaanssprekend nie) en hierdie taak aan gewilliges sal oorlaat.
Theo du Plessis, Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Bronne
Du Plessis, Christiaan. 2023. Dít is waarom minder by die huis Afrikaans praat. Volksblad, 12 Oktober 2023.
Horne, William. 2023. Wit bevolking in SA word al hoe kleiner. Volksblad, 12 Oktober 2023.
Statistics South Africa. 1998. The people of South Africa population census, 1996. Pretoria: Statistics South Africa.
—. 2003. Census 2001. Census in brief. Pretoria: Statistics South Africa.
—. 2012. Census 2011. Census in brief. Pretoria: Statistics South Africa.
—. 2023a. Census 2022 statistical release. https://census.statssa.gov.za/#/
—. 2023b. Census 2022 results. PowerPoint presentation. https://census.statssa.gov.za/#/.
[1] Inligting verskaf deur Space Time Research Pty Ltd via Statistieke Suid-Afrika.
[2] Daar bestaan onsekerheid oor die korrekte skryfvorm van hierdie taal.
Lees ook:
Khawufane ucinge SA schools seminar: Mphuthumi Ntabeni responds
Don’t upset ooMalume: A guide to stepping up your Xhosa by Hombakazi Mercy Nqandeka – a review
Veeltaligheid op universiteit: ’n uitdaging én ’n geleentheid vir identiteitsvorming
Terminologie en terminografie: ’n onderhoud met Mariëtta Alberts
Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis
Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes
Tien etiese en praktiese gebruike van ChatGPT vir akademiese skryfwerk in Afrikaans