Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes

  • 0

ATR, Jakes Gerwel-gespreksreeks – Suidoosterfees – 28 April 2018

Anne-Marie Beukes
Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek, Universiteit van Johannesburg
Direkteur van die Afrikaanse Taalraad

Anne-Marie Beukes, Conrad Steenkamp, Hendrik Theys en Christo van der Rheede (gespreksleier) (Foto: Naomi Bruwer)

Mense maak ons eie geskiedenis, maar ons doen dit nie net soos ons wil nie, ons doen dit nie in omstandighede wat ons kies nie, maar in reeds bestaande omstandighede, dit wat vir ons gegee is, en dit wat vir ons uit die verlede oorgedra is. (Karl Marx)

Ter inleiding van ons gesprek is dit gepas om erkenning te gee aan Jakes Gerwel wat bekend was vir sy passie om Afrikaans as ’n versoenende taal te bevorder en só weg te beweeg van die gedagte dat Afrikaans ’n bron van verdeling is.

In ’n huldeblyk by die oorlye van Gerwel haal Hein Willemse hom soos volg aan:

Om aan te hou praat, redelik te praat, selfs waar die drif en die daad dreig om die woord te verswelg […] Om elke gespreksgenoot ernstig op te neem, na sy woord te luister, en hom steeds as medespreker te respekteer. [Ons moet] volhardend […] bly werk aan die skepping van daardie grammatika van saamlééf in geregtigheid.

Ons besin vandag oor die toekomswaarde van Afrikaans: ons besin oor wat dit gaan beteken om in die toekoms steeds Afrikaans te wees, Afrikaans te praat, in Afrikaans te leef. Hierdie woorde van Jakes Gerwel, nl “die grammatika van saamlééf in geregtigheid”, is ’n sleutel waarmee die waarde van ’n toekoms in en vir Afrikaans oopgesluit kan word, ’n toekoms wat ’n naasbestaan tussen al die ander tale in ons land insluit. Die toekoms van Afrikaans lê in die omarming van ons land se taal- en kultuurdiversiteit. Meertaligheid is ons en ons taal se toekomstige habitat.

Ek wil graag twee aspekte oor Afrikaans in hierdie meertalige konteks voorhou:

  1. Die ekologie van Afrikaans is meertaligheid/diversiteit, en haar toekoms sal bepaal word deur Afrikaans nié in isolasie te bevorder nie.
  2. Die toekoms van Afrikaans lê in die skep en benutting van taalnetwerke deur aktiewe, transformerende taalburgerskap wat na vore moet kom as ’n meganisme om Afrikaans se toekoms te verseker.

Afrikaans en ’n dinamiese taalekologie

In Suid-Afrika word daar, benewens ons 11 amptelike tale, na raming sowat 25 tot 30 tale op ’n daaglikse basis gebruik. Omgewingsbewaring en die ekologie is deesdae tereg op almal se lippe. Ons moet ons planeet bewaar vir die toekoms, is die slagspreuk. Die Franse president, Emmanuel Macron, het pas verlede week sy Amerikaanse eweknie en die Amerikaanse kongres daarop gewys dat daar nié iets soos ’n Planeet B is nie. Ek wil hierdie metafoor van toepassing maak op die toekoms van die Afrikaanse taal, naamlik: Die bewaring en instandhouding van ’n dinamiese, gesonde taalekologie wat ’n regverdige naasbestaan met ander tale en hulle taalgemeenskappe verseker, is ’n dwingende noodsaaklikheid.

Afrikaans is onder druk, ernstige druk. Ons bevind ons tans in ’n situasie waar die taal in die onderwysdomein ’n omvangryke verlies in die gesig staar, en dit is ’n rede tot kommer. Ons moet perspektief kry dat slegs ’n klein persentasie tale op ons planeet ooit tot volwaardige onderrig- en wetenskapstale vorder soos wat dit wel met Afrikaans die geval was. Afrikaans, met bykans sewe miljoen eerstetaalsprekers, bevind haar in die uitgelese geselskap van slegs vyf tale altesaam wat in die 20ste eeu tot wetenskapstale ontwikkel het, nl Hindi (sowat 258 miljoen eerstetaalsprekers), Bahasa-Indonesies (nagenoeg 22,8 miljoen), Hebreeus (4,3 miljoen) en Katalaans (3,7 miljoen).1 Geen ander Afrikataal het hierdie status in die 20ste eeu behaal het nie.

Soos in alle ander ekosisteme moet daar ook in ’n taalekosisteem ’n goeie balans gehandhaaf word ten bate van die bewoners/sprekers. In die geval van ’n taalekosisteem gaan dit om die tale en taalgemeenskappe wat van mekaar afhanklik is en in balans moet verkeer ten einde die sorgvuldige bewaring van die diversiteit in die taalhabitat te handhaaf. Daar is ’n paar faktore wat verreken moet word wat Afrikaans betref.

  • Die aller vertrekpunt is die intratalige ekosisteem waarin al die verskillende variëteite van Afrikaans hulle regmatige ruimte benut sodat alle sprekers ’n gebalanseerde integrerende deel van die groter taalgemeenskap vorm. In so ’n habitat is alle niestandaardtaalvariëteite noodsaaklike uitdrukkingsmiddele en bied hulle ryk hulpbronne waarvoor sprekers eienaarskap aanvaar en dit uitleef ter wille van hulle eie welstand en dié van hulle taal. Dit is teen hierdie agtergrond dat die plek en rol van ’n burgerlike liggaam soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat beter balans met groter inklusiwiteit wil bewerkstellig en helende versoening nastreef, so onontbeerlik is.
  • Daarbenewens is dit die Taalraad se standpunt dat die toekoms van Afrikaans ook in die inklusiewe, harmonieuse naasbestaansrol in meertalige Suid-Afrika in intertalige verband lê. Hierdie rol sluit daarom ook in om konstruktiewe vennootskappe met ander inheemse taalgemeenskappe te sluit ter wille van ’n ekologie waar ons kosbare taaldiversiteit in ’n meertalige samelewing bevorder en gehandhaaf word. Die Taalraad werk byvoorbeeld in vennootskap met die XhosAfrika-projek wat deur Neville Alexander op die been gebring is met die doel om Xhosa met behulp van Afrikaans te ontwikkel.
  • Refreine soos “Solank mense Afrikaans praat, is daar niks te vrese nie” en “Ag nee wat, kyk hoe blom Afrikaans by die feeste” word voortdurend voorgehou as aanduidings van Afrikaans se vitaliteit. Dit is inderdaad so dat Afrikaans in vele domeine lewenskragtig is, maar ekosisteme se gesondheid word op lang termyn bepaal deur die handhawing van ’n versigtige balans tussen die verskillende komponente of, in die geval van taal, ook in verskillende domeine waarin die taal gebruik (kan) word.
  • Ondanks die afskaling van institusionele steun van die staat en die inkorting van Afrikaans in die openbare domein, gedy Afrikaanse op kultuurgebied. Dis alombekend dat Afrikaanse kultuurfeeste die afgelope twee dekades sterk gegroei het, en ook dat daar ’n oplewing in Afrikaanse musiek is. Daarby is Afrikaans ook steeds ’n sterk literêre taal wat deur middel van vertaling ’n toenemend groter leserspubliek bedien. Met die inkorting van Afrikaanse uitsaaityd op SABC se TV-kanale gaan kykNET se kanale sedert 1999 van krag tot krag en kom meerdere kanale soos Media24 se Via vir Afrikaanse kykers beskikbaar. Afrikaanse gemeenskapsradiostasies floreer, en so ook RSG wat toenemend die breë Afrikaanse gemeenskap bereik. Verder is die skaarste aan goeie Afrikaanse films die afgelope jaar of twee beëindig met etlike goeie films wat hul verskyning op die kringloop maak.
  • Daar is helaas in die onderwysdomein minder rede tot opgewondenheid. Die getal openbare eentalige Afrikaanse skole het die afgelope twee en ’n half dekades betekenisvol verminder deur ’n swaai weg van die voorkeur vir moedertaalonderrig deur Afrikaanse ouers na Engels. Die ander faktor wat die ekologie van Afrikaans bedreig, is die regering van die dag se beskouing dat eentalige Afrikaanse skole en universiteite as oorblyfsels van die apartheidsbedeling in die pad van transformasie in die onderwys staan omdat dit billike toegang tot skaars onderwyshulpbronne belemmer. Die pasgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), waarby die Afrikaanse Taalraad ook betrokke is, en wat met ’n pyplynfokus ruimte vir onderrig deur die medium van Afrikaans wil verseker, is ’n potensiële reddingsboei vir Afrikaanse se ekologie. Die AON sal egter slaag slegs indien daar by sowel ouers as politici ’n houdingsverandering intree en hulle oortuig kan word van die waarde van moedertaalonderrig in die aangesig van die hegemonie van Engels. Ouers moet ingeligte besluite kan neem oor wat die beste vir hulle kinders is. En dít is waar aktiewe taalburgerskap in die prentjie kom en waar John F Kennedy se beroemde uitdaging in 1961 aan die Amerikaanse samelewing oor aktiewe burgerskap resoneer: “Ask not what your country can do for you – ask what you can do for your country.”

Afrikaans se toekoms en aktiewe taalburgerskap

  • Aktiewe taalburgerskap verg dat sprekers hulle agentskap opneem om ’n dinamiese en gesonde taalekologie te help handhaaf. Wat die onderwysdomein betref, vereis dit dat bewindhebbers se eentalige praktyke en die ontkenning van taaldiversiteit uitgedaag kan word. Die gebrek aan politieke wil om ’n werkbare bloudruk vir aktiewe taalburgerskap te ontwikkel, lei tot die negering van leerders se huisvariëteite in die klaskamer en die huidige onkritiese voorkeur vir Engelsmediumonderrig. Die breë samelewing se ongeërgde onkunde oor en geringskatting van die rol en waarde wat die uitleef van meertaligheid meebring in domeine soos in die onderwys, die politiek, gesondheidsorg en die ekonomie kan deur aktiewe taalburgers se taalpolitieke bydrae teengestaan word.
  • Die balans in die ekosisteem van Afrikaans word toenemend bedreig as gevolg van ’n gebrek aan aktiewe taalburgerskap. Die aantrekkingskrag van Engels in ’n ontluikende demokrasie lê veelal in sy vermeende nasionale, “neutrale” bindingskrag. Daarby beloof sy wêreldtaalstatus sonder meer internasionale mobiliteit en welvarendheid.
  • Die saligheid van Afrikaans en haar taalekosisteem gaan beduidend beïnvloed word deur die taal se digitale voetspoor en die geslaagde gebruik en ontwikkeling van mensliketaaltegnologie soos spraakherkenning en -sintese, en masjienvertaling en -teksredigering vir Afrikaans en haar variëteite. Die afgelope twee dekades het die internet en die wêreldwye web nie slegs die medium van sosiale media en nuus geword nie, maar ook van kennisbestuur en navorsing deur middel van soekenjins. In hierdie konteks is Afrikaanse taaltegnologiese hulpbronne en toepassings deur die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVA) beskikbaar gestel. Daarby kom die gewilde Wikipedia, tans die grootste webgebaseerde bron van kennis, wat ook ’n rol kan speel om Afrikaans se krimpende ruimte in die kennissfeer teë te werk. ’n Baie klein persentasie van die meer as vyf miljoen artikels op Wikipedia is tans in Afrikaans beskikbaar, ’n agterstand wat deur die uitleef van vertalers se taalburgerskap ingehaal kan word.

Die ontstaan en groei van Afrikaans is in vele opsigte merkwaardig. Om die voortgesette gesondheid van die taal se ekosisteem te verseker, gaan gewis ywerige en versiende taalnetwerke verg. Die Afrikaanse taalgemeenskap beskik oor “taalkapitaal” en het ’n markwaarde: hoe meer die taal in die volle spektrum van sosio-ekonomiese domeine opgeëis word, hoe meer sal haar waarde toeneem (byvoorbeeld in die onderwysdomeine en in die arbeidsmark). Deur ons aktiewe taalburgerskap kan Afrikaanssprekendes groter deelname en seggenskap in hulle taal uitoefen, ’n groter ekologiese voetspoor en sigbaarheid bewerkstellig, ’n “goedvoel”-idee oor Afrikaans in die breë taalekologie kweek, en groter welsyn in en deur Afrikaans beleef.

Afrikaans se heil lê daarbenewens ook in die uitleef van ’n konstruktiewe naasbestaansrol in ons meertalige land. Die smee van vennootskappe en die deel van skaars taalhulpbronne tussen die inheemse taalgemeenskappe gaan gebiedend noodsaaklik wees om die heersende ideologie van eentaligheid teë te werk en ’n gesonde, dinamiese taalekosisteem aan die suidpunt van Afrika te verseker. Die uitleef van ’n aktiewe taalburgerskap is van kardinale belang vir “die skepping van daardie grammatika van saamlééf in geregtigheid”.

Eindnota

1 Gegrond op taalstatistieke verkry by www.ethnologue.com (27 April 2018).

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Conrad Steenkamp

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top