Sensus 2011: Taallandskap en taalpolitieke karakter

  • 2

Die statistieke van die 2011 Sensus is bekend en die taalstatistiek sê 13,5% van die land praat Afrikaans.

Vic Webb is professor emeritus in die Departement Afrikaans en direkteur van die Sentrum vir Taalpolitieke Navorsing (CentRePoL) by UP. Naomi Meyer het die volgende vrae vir hom gevra: Watter veranderinge het plaasgevind sedert die vorige sensus? Wat beteken hierdie statistieke binne die taallandskap? Hoe voel jy spesifiek oor die posisie en toekomsmoontlikhede van Afrikaans?

Sensus 2011 het verskeie interessante veranderinge in die Suid-Afrikaanse bevolkingsamestelling bekend gemaak.1 Benewens ’n toename van 15,5% (40 583 573 tot 51 770 560) in die totale bevolking het die sensusopname ook getoon:

  • Dat die toename in bevolkingsgetalle (vanaf 1996) in Gauteng die grootste was (33,7%), gevolg deur die Wes-Kaap (28,7%), Mpumalanga (20,0%) en  Noordwes (15,5%).
  • Dat die swart bevolking van die Wes-Kaap gegroei het van 21,6% na 32,9%, en die wit bevolking verminder het van 21,4% na 15,7%, terwyl die swart bevolking in Gauteng vermeerder het van 72,3% van die totaal na 77,4%, en die wit bevolking verklein het van 22% na 15,6% (en in die land as geheel: 77,4% na 79,2% en 11% na 8,9% onderskeidelik).
  • Dat die totale aantal Afrikaanssprekendes in die land gegroei het met 0,2% en Engelssprekendes met 1,4%, maar dat die aantal sprekers van die nege Afrikatale verminder het met tussen 0,1% (Venda en Tsonga) en 1,6% (Xhosa);
  • Dat die vyf grootste tale (in terme van huistaalsprekers) soos volg is: Zulu (11,6 m); Xhosa: (8,15 m); Afrikaans (6,85 m); Engels (4,9 m) en Sepedi/Noord-Sotho (4,6 m).
  • Dat die amptelike tale wat in die verskillende provinsies die meeste huistaalsprekers het, soos volg is: Wes-Kaap: Afrikaans 49,7%, Xhosa 24,7% en Engels 20,2%; Oos-Kaap: Xhosa 78,8%; Noord-Kaap: Afrikaans 53,8% en Tswana 33,1%; Vrystaat: Suid-Sotho en Afrikaans 12,7%; KwaZulu-Natal: Zulu 77,8%; Noordwes: Tswana 63,4%; Gauteng: Zulu: 19,8%, Engels 13,3% en Afrikaans 12,4%; Mpumalanga: Swazi 27,7% en Zulu 24,1%; Limpopo: Noord-Sotho 52,9%, Tsonga 17% en Venda 16,7%.
  • Dat Limpopo statisties gesproke die mees diverse provinsie ten opsigte van huistale is.

Wat die nasionale taallandskap betref, is die opvallendste verandering in die sensusstatistiek die toename in die aantal huistaalsprekers van Engels: terwyl die aantal huistaalsprekers van die Afrikatale verminder het, en Afrikaans ’n geringe toename toon, het die syfer vir Engels sedert die laaste sensus toegeneem met 1,4 miljoen sprekers: van 8,2 tot 9,6 miljoen.

Hierdie verandering is uiteraard nie toe te skryf aan ’n verhoogde migrasie van Engelssprekendes na Suid-Afrika toe, of aan hoë geboortesyfers onder Engelssprekende Suid-Afrikaners nie. Dis klaarblyklik (wil ek voorstel) ’n geval van taalverskuiwing: Suid-Afrikaanse burgers wat van huistaal verander - van (veral) ’n Afrikataal na Engels. En dit het waarskynlik veral onder stedelike jongmense voorgekom (en in die besonder begin aan ons hoërskole en ons universiteite).

Dit bring mens by die taalpolitieke landskap.

Wat die sensusgegewens nié sê nie, is hoeveel mense die verskillende tale as tweede (of meerdere) tale ken en in hul alledaagse omgang gebruik.

Wat mense (taalmatig) doen in hul alledaagse omgang is (vanuit ’n taalpolitieke perspektief) natuurlik nie onbelangrik nie. Taalkeuses in sulke situasies dien as merkers van die openbare stand (en status) van ’n taal.

Hier moet ons onderskei tussen die gebruik van taal in die sosiale omgang en die gebruik van taal in “hoë-funksie formele kontekste”. Watter tale mense in hoë-funksie formele kontekste gebruik, is ’n sterk aanduiding van die tale se status.

Met hoë-funksie formele kontekste verwys ek na kontekste soos die parlement (insluitende wetgewing), staatsdepartemente (insluitende staatspublikasies), die howe, staatsinstansies (byvoorbeeld provinsiale hospitale) en onderwysinstansies (insluitende alle skole, naskoolse opleidingsinstansies en universiteite), die SABC, die algemene media, ens.

In hierdie kontekste word Afrikaans en die nege amptelike Afrikatale na verhouding veel minder gebruik, en is Engels in ekstreme mate dominant. Hierdie taalpolitieke toestand kan diagrammaties soos volg voorgestel word:

Die klein sirkeltjies stel natuurlik die tien ander amptelike tale voor.

Wat die land se taalpolitieke karakter betref, is dit dus duidelik dat Suid-Afrika gekenmerk word deur linguistiese ongelykhede, met Engels die taal van mag: opvoedkundig, ekonomies, polities en sosiaal. Die gevolge van hierdie asimmetriese linguistiesemagsverhoudings, die grootskaalse linguistiese ongelykhede, is uiteraard van uitsonderlik belang, met ernstige gevolge vir leerders se opvoedkundige ontwikkeling, burgers se toegang tot ekonomiese geleenthede, en die uitlewing van hul politieke behoeftes.

Om maar een konkrete voorbeeld te noem: ’n kollega van Unisa het nou die dag daarop gewys dat ’n onlangse ondersoek na primêre skole in Gauteng getoon het dat baie swart leerders nie kon lees of skryf in hul huistale aan die einde van graad 3 nie!

Hierdie situasie word meer kompleks gemaak deur die uitdagings van ’n toenemend globaliserende wêreld waar vaardigheid in Engels essensieel is en waar die waarde van tale anders as Engels (hierna: TAE) beskou word as van minder (indien enige) belang,

Die taalongelykhede in Suid-Afrika is natuurlik wel van fundamentele belang. Maar die regering (en die heersende elite) doen niks daaraan om sake te verander nie.

Dis wel so dat die regering en die politieke leierskap van Suid-Afrika stappe gedoen het om die asimmetriese taalpolitieke opset in die land te verander, soos byvoorbeeld blyk uit ons konstitusionele taalbepalings, wetgewing (byvoorbeeld die onlangs aanvaarde Gebruik van Amptelike Tale-wetgewing) en taalbeleid en -regulasies op nasionale, provinsiale en munisipale vlakke. Die ANC-regering het byvoorbeeld in die onlangse verlede selfs navorsing geïnisieer oor taalsake, soos die grootskaalse projek oor taalbeleid van die voormalige Departement van Provinsiale en Plaaslike Regerings in 2008, met die oënskynlike doel om die gebruik van TAE te bevorder.

Maar: ten spyte van hierdie inisiatiewe het niks verander rakende die taalpolitieke status en funksie van TAE nie.

Inteendeel: die openbare rol en funksie van TAE verswak steeds, soos blyk uit die volgende tabelle oor die taalpolitieke stand van Afrikaans (deur my saamgestel, en opgeneem in ’n onlangse verslag aan die Afrikaanse Taalraad oor ’n hersiening van strategieë vir die behoud en bevordering van Afrikaans):

Tabel 1. Vermindering in die aantal Afrikaans-enkelmediumskole in  
              geselekteerde provinsies

Provinsie

1993

2003

% vermindering

Gauteng

274

155

43,0

Vrystaat

153

97

36,6

Limpopo

38

12

68,0

Mpumalanga

90

3

96,6

Tabel 2. Daling in die aantal leerders op skool wat Afrikaans as vak (huistaal; eerste addisionele taal) neem en wat Afrikaans as taal van onderrig gebruik: 2008 tot 2009

Daling in die aantal leerders met Afrikaans as huistaal in die grondslagfase

11,4 tot 10,6%

Daling in die aantal leerders met Afrikaans as eerste addisionele taal

2% tot 1,3%

Afname in die getal leerders met Afrikaans as onderrigtaal

50 000 (byna 4%)

(Bron: 2011: Dept Basiese Onderwys-verslag, 2008 en 2009)

Tabel 3. Afname in die aantal SAU’s met Afrikaans as onderrigmedium

In die 1980’s: 15 van die 23 SAU’s is Engels; 5 Afrikaans; 3 tweetalig

Sedert 1994: 18 Engels; 5 tweetalig (parallel- en dubbelmedium, en tolking); GEEN SAU met Afrikaans of ’n Afrikataal as enigste onderrigmedium nie

Tabel 4. Verandering in studente se keuse van Afrikaans teenoor Engels as onderrigmedium aan die Universiteit van Pretoria, 1995 tot 2007, as %

 

1995

1998

2004

2007

Afrikaans

70,8

59,1

42,8

34,8

Engels

29,2

40,9

57,4

65,2

As mens die fundamentele rol van taal in die sinvolle funksionering van die mens as individu en van die maatskaplike lewe in die algemeen in ag neem, is hierdie veranderinge ’n uiters ernstige kwessie.

Taal is nie net ’n instrument vir die oordrag van inligting nie. Dit is ook fundamenteel tot die oorlewing en die ontwikkeling van menslike gemeenskappe, soos duidelik blyk uit die rol van taal in:

  • die mens se kognitiewe ontwikkeling
  • die bevordering van individue se sosiopsigologiese sekuriteit en die bevordering van ’n positiewe sin van eiewaarde
  • die opbou van kennis en die berging, bestuur en oproep daarvan
  • die integrasie van nuwe kennis in bestaande kennis
  • die verwerwing van insig in die prosesse en beginsels van nuwe kennisvelde en die begrip van nuwe wetenskaplike konsepte
  • die aanleer en gebruik van die tegniese terme vir nuwe konsepte in die oplossing van menslike probleme.

Daarby is taal ook ’n basiese faktor in effektiewe dienslewering deur die regering op alle vlakke.

As Afrikaans én die Afrikatale van Suid-Afrika nie in ’n betekenisvolle mate behou en uitgebou word as tale van openbare belang nie (veral in die opvoedkundige konteks), sal dit tot ’n verskeidenheid ernstige konsekwensies lei, soos hoë kostes (weens hoë druipsyfers, die herhaling van studiejare, hoë uitsaksyfers op skool), die ontwikkeling van sieninge van minderwaardigheid en swak selfbeelde by individue en gemeenskappe, die toenemende gaping tussen ryk en arm, die voortsetting van ongelykhede en diskriminasie, en burgers se beperkte toegang tot kennis, regte en voorregte.

Aandag moet gegee word aan die (her-)vitalisering van TAE in Suid-Afrika, en aan die rol van taal in die uitoefening van menseregte, die behoud van etnokulturele identiteit en legitimiteit, die vestiging van ware demokrasie en die land se ideologie, en die bevordering van nasionale samehorigheid in Suid-Afrika.

Ten slotte, wat Afrikaans betref: dis uiteraard noodsaaklik, soos so pas beredeneer, dat die regering op alle vlakke sy deel doen om die 11 amptelike tale van Suid-Afrika te beskerm en te bevorder. Maar dit, as sodanig, is nie voldoende nie; dit is ook essensieel dat daar ’n ewe sterk krag “van onder af”, van die sprekers van Afrikaans en van die Afrikaanse taalgemeenskap (en ook, natuurlik, die Afrikataalgemeenskappe), sal kom vir die behoud en die bevordering van Afrikaans (en die Afrikatale) as openbare hoëfunksietaal (-tale). Afrikaans (en die Afrikatale) het die lojaliteit van sy (hulle) huistaalsprekers nodig.

Maar Afrikaans moet ook ’n objek van aansien in niehuistaalgemeenskappe wees: sprekers van die ander tale moet Afrikaans sien as ’n instrument van toegang tot sosiale, opvoedkundige, politieke en ekonomiese geleenthede en, selfs, as ’n voorbeeld van die uitoefening van menseregte.

Daarvoor moet die Afrikaanssprekende gemeenskap self verantwoordelikheid aanvaar.

Naskrif

Die taalpolitieke leierskap van die Afrikaanssprekende gemeenskap, die Afrikaanse Taalraad (ATR), is uiteraard besorgd oor die taalpolitieke stand van die taal, en het oor die jare etlike ondersoeke onderneem en verslae daaroor gepubliseer. Van hierdie verslae is die volgende:

Prinsloo, Karel en Dirkie Ofringa. 1992. Stigtings in SA en die buiteland met moontlike voorbeeldwaarde vir die Stigting vir Afrikaans. RGN.

Prinsloo, Karel en Kobus Schoeman. 2010. Die gebruik van Afrikaans in kerklike gemeentes in SA. Universiteit van die Vrystaat.

Prinsloo, Karel (red). 2005/6. Op pad na ’n taalstrategie vir Afrikaans. Afrikaanse Taalraad.

—. 2007. Opname oor Afrikaanse projekte en aktiwiteite op ’n plaaslike munisipale vlak in SA, 2006, Afrikaanse Taalraad.

Die wetenskapskomitee van die ATR het vanjaar ook ondersoek ingestel na die werksaamhede van Afrikaansgerigte organisasies, en die volgende verslag is onlangs daaroor vrygestel:

Prinsloo, K. (red). Hersiening van die ATR se Taalstrategie: 2012-2015. Afrikaanse Taalraad.


1 Dank word uitgespreek aan prof Van Aardt van Unisa vir die verlening van die statsitiekdata.

Lees ook wat sê Theo du Plessis oor Sensus 2011.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Dit is so dat nie alle probleme in ons samelewing en taalgroeperinge reggestel kan word met wetgewing nie. 'n Taal het egter sekere beskermingsmaatreëls nodig - veral waar daar die teenwoordigheid is van 'n wêreldtaal soos Engels - waarmee meegeding moet word om voortbestaan. Dalk het die tyd vir die afskaf van "hoflikheids tweetaligheid" aangebreek en moet sprekers van Afrikaans meer "kragdadig" optree teenoor verengelsing. Dit is ook so dat aansienlik groter getalle nie-huistaal Afrikaans/Engelssprekendes eerder voorkeur gee aan Engels eerder as die moedertaal. Dit is veral te wyte aan die SAUK, die magtigste taalkommunikeerder, wat die persepsie doelbewus skep dat Engels die nastrewenswaardige taal moet wees wat alle drome en rykdom en "bling" kan bevredig. Dit tref veral by mense wat in armoede lewe en smag die die beeld wat uitgedra word deur medium van Engels.

    'n Taal soos Afrikaans of Xhosa moet gesien en gehoor word om enigsins 'n invloed te kan uitoefen op anderstaliges en moet ook daardie "nastrewenswaardige" beelde kan uitdra waarna mense verlang. Die tyd het aangebreek dat Afrikaans, Xhosa, Engels en ander tale gebruik word op alle produkverpakkings en reklame van produkte in ten minste 4 tale moet verskyn. Trouens dit moet wetlik afgedwing word. 50% van 'n produk kan twee tale op verpakking gebruik en 50% kan in nog twee tale geskied.
     
    Hierdie sou slegs 'n beginpunt wees ter bevordering van meertaligheid en gelykberegtiging tussen tale. Daar is uiteraard nog honderde ander voorstelle maar die proses behoort trapsgewys toegepas te word tov ander voorstelle wat sou volg. Is daar dalk iemand wat alreeds indie opsig werk of sou mens 'n groep kon stig om geld in te samel namens 'n bestaande taalliggaam, wat reklame in alle tale sou kon bevorder ? 
    • Wat sal julle sê van Engels as onderrigtaal en hoe dit NIE verdraagsaamheid in SA sal bevorder nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top