
Hierdie lesing (sien die video) is op Saterdag 26 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
Hy neem agter die podium op die verhoog stelling in. Die podium is ongewoon korter as hy hierdie keer, anders as ander kere. Dit staan omtrent halflyf voor hom; en dit pas hom goed, gee hom meer selfvertroue. In die agtergrond doof die gelag uit die gehoor uit oor iets wat hy vooraf opgemerk het. Hy glimlag self steeds daaroor. ’n Glas water staan naby die nege A4-bladsye waarop sy praatjie uitgetik is, in lettertipe Arial, lettergrootte 12. Hy groet die gehoor en wyk af van sy voorbereide teks om die praatjie in te lei:
“Dames en here, goeienaand ...”
Hy stel die mikrofoon om dit nader aan sy mond te bring, terwyl hy verder praat: “Hier staan boaan die bladsy ’n titel: ‘Wie is ek?’. Maar as jy hier gestaan het, dan sou jy sien tussen hakies staan daar n̖á ‘Wie’ die woorde ‘‘(se fout)’, sodat die vraag eintlik lui: ‘Wie (se fout) is ek?’.” Nou vryf hy sy twee hande, wat eers aan weerskante van sy hopie bladsye geplaas was, en gaan dan voort: “En dan staan daar ‘Mymeringe oor identiteit’, maar ‘Mymeringe’ is mettertyd doodgekrap en vervang met ‘stukkies’, sodat daar staan ‘Stukkies oor identiteit’ – ‘Stukkies’, omdat ek ’n vierjarige dogtertjie het wat met die woord ‘stukkies’ verwys na die YouTube-video’s wat sy gevoed word, wat in haar keel afgedruk word by die huis waar sy grootword [en die gehoor lag alte lekker oor hoe hy dit stel] wanneer sy dit sit en kyk; en wanneer sy by my kom, kyk ons nie ‘stukkies’ nie.” Hy sê egter nie wat dit is wat hy en sy dogtertjie wel kyk nie. Dit sou hy wel later in sy praatjie bywerk, naamlik opvoedkundige video’s – in Afrikaans.
“Hier boaan die bladsy, dames en here, sê dit ook waar ons is – julle weet almal dit; en dan sê dit [asemhaling] dit is Saterdag 26 Julie 2025. Hier is ’n aanhaling van JM Coetzee, of dis eerder ’n aanhaling uit sy boek, of dié boek, The good story: exchanges on truth, fiction and psychotherapy. Dis ’n boek wat hy en Arabella Kurtz saam geskryf het. Hy lees die (aangepaste, verkorte) aanhaling, maar hy het reeds vroeër besluit om die eerste sin te skrap:
What are the qualities of a good (a plausible, even a compelling) story? When I tell people the story of my life – and more importantly when I tell myself the story of my life – should I try to make it into a well-formed artefact, (…) giving the narrative a shape, creating anticipation and suspense; or on the contrary should I be neutral, objective, striving to tell a kind of truth that would meet the criteria of the courtroom: the truth, the whole truth, and nothing but the truth?”
Hierna, weer ’n asemhalingspouse, net kort, en dan begin sy voordrag ...
*
Ag, ek weet nie.
Dit voel maar altyd so ‘n bietjie vreemd, so ’n bietjie arrag, om vooraf daar op jou stoel te sit en te luister hoedat jy deur die programdirekteur (in hierdie geval sou dit Darryl David of Izak de Vries kon wees) aan ’n afwagtende gehoor voorgestel word.
“Wonder wat gaan hy sê?” wonder hulle seker. Wonder hulle of hulle verwagtinge van die spreker (wat dit ook al mag wees) bevredig gaan word. Eerste op die program vir die aandsessie, nogal, maar dan is daar darem ander sprekers wat op hom volg en wat kan vergoed as hy in gebreke sou bly om hulle met iets kroeg of kamer toe te laat gaan waaroor hulle kan nadink en verder kan bespreek (dissekteer, ontleed, ondersoek, oopsny).
Die volgende spreker, “[Heindrich Wyngaard] is ’n skrywer, joernalis, TV-aanbieder en die uitvoerende hoof van Kaapse Forum,” deel die programdirekteur [dit is toe Izak en nie Darryl nie; of Darryl en nie Izak nie] die gehoor mee. Kort en kragtig. Die gehoor knik dalk kop om erkenning daaraan te gee. Glimlag dalk; klap straks hande. Die spreker moes tog iemand vernaam genoeg wees om die program te kon haal, neem hulle aan. Hulle het tog nie so ver gereis om na “no name brands” te kom luister nie.
Die spreker bedank dan die programdirekteur – Izak, David – en groet die gehoor – “Naand julle” – en spreek woorde van waardering teenoor die organiseerders van die geleentheid uit – “Dankie LitNet.” In hierdie geval dra die geleentheid die naam van ’n baie belangrike skrywer en die spreker is alte bewus daarvan – en weet jy, altyd, al die jare nog, sê hy aan homself vooraf oor die BBS aan wie se naam die geleentheid gekoppel is, so verskriklik nederig, hierdie skrywer, dat jy hom soms in die ribbekas wil elmboog en roskam: “Kom nou, man, jy is lank reeds ’n Nobelprys werd!”
Of vermoed die BBS ook, soos die spreker, dat die internasionale besluitnemingskomitees van ons skrywers vergeet het, hier aan die voetenent van Afrika, sedert JM Coetzee in 2003 die prys ontvang het? Of is dit net Engelsskrywende en Franssprekende skrywers uit Afrika wat nog in ag geneem word, of ook net as hulle hulle oorkant die water bevind, soos die “Tanzanian-born British novelist and academic” Abdulrazak Gurnah in 2021? (En was Coetzee nie ook reeds Australiese burger toe die eer hom te beurt geval het nie?) Mmmmm, dink die spreker hardop, terwyl hy alte bewus is daarvan dat daar in die gehoor grootnaamletterkundiges, soos prof Hein Willemse, sit wat van hierdie sake ongetwyfeld ongelooflik baie meer as hy weet.
Maar Coetzee is tog Engels; Nadine Gordimer (die 1991-ontvanger) was ook; en is André P Brink benoem omdat hy sy Afrikaanse manuskripte sommer terselfdertyd in Engels vertaal het? Of sou hy as ’n Afrikaanse skrywer alleen kon kwalifiseer? Waarom het hy dit dan nooit ontvang nie? Waarom ook nie Adam Small of Breyten Breytenbach nie? En watter plaaslike skrywer dra vandag genoeg internasionale letterkundige gewig dat hy of sy of (gedagtig aan die veranderende leksikon van geslagsidentiteite: hulle) sou kon kwalifiseer? Indien nie de BBS aan wie se naam hierdie byeenkoms gekoppel is nie, moontlik Antjie Krog? But come to think of it, dink die spreker, ook James Joyce – na wie Van Heerden self die dag voor hierdie praatjie verwys het as ’n moderniseerder van die roman – het nooit die Nobelprys gewen nie. Hutsmerk #KanselleerDieSweedseKomitee.
Ons kan natuurlik ure lank daaroor praat, mymer, menings uitruil – en steeds nie noodwendig tot ’n sinmakende slotsom kom nie. Dit is in elk geval nie waarom die man aan die woord deur die programdirekteur aan die woord gestel is nie. Op die program staan daar geskrywe dat hy hier is om oor “Identiteit” te praat. Hy vermoed die organiseerders het die tema gekies omdat hy te lank geneem het om self een deur te stuur.
*
Maar identiteit begin sekerlik binne die huis; overgesetsynde: in die DNS van die gesin. Al die jare nog was die kern daarvan vir my iets byna soos die Sartre-verwysing wat prof Albert Grundlingh gister in sy Van Zyl Slabbert-voorlegging gebruik het: “Jy is ’n bruin ou, Heindrich Wyngaard, as ek kyk na jou.”
Gebore op Saterdag, 28 Julie 1973, op die plaas Steenboksrivier, distrik Caledon, Kaapprovinsie, die jongste van Dirk Daniel Wyngaard en Sophie Susanna Wyngaard (née Martin).
Mammie het altyd gesê: “Jou bek is te slim. Altyd ’n antwoord vir alles.” Mammie het ook altyd gesê: “Djy sal nog sien waar daai bek jou gaan kry.”
Dit was nie ’n seën wat sy oor haar jongste seun uitgespreek het nie, maar dit was darem seker ook nie ’n vloek nie. Watse ma doen dit? Was dit nie maar net haar manier om (getrou aan die gemeenskappe waarin sy haar kinders grootgemaak het, waarin haar kinders se identiteite gevorm is) haar onkunde te verwoord oor hoe om ’n weetgierige kind te hanteer nie? Onthou sy was deel van die generasies van bruin volwassenes wat geleer is – gemaak of gedwing is – om hulself onderworpe te stel aan die eerste slawernygebod: “Houd-den-Bek.” (Julle het gister van die boek gehoor as nommer 12, as ek reg onthou, op Darryl se lys.) Hou jou bek: Jy praat net wanneer jy gevra word om te praat, toestemming kry, en jy sê wat ons wil hoor.
Selfs die hooggeleerdes het gedurende die Tweede Lydingstyd, of die slawerny van apartheid, deurgeloop: “Ek het gedink ...,” sê Franklin Sonn as opvoeder aan die wit kringinspekteur oor wat hy gedog het ’n beter verslagboek was as dié wat deur die departement voorgeskryf was. Sonn het nie verder as daardie drie woorde gekom nie, skryf hy in sy onlangs verskene outobiografie, Karooseun van Vosburg. Woedend het die wit inspekteur ontplof: “Luister nou vir my, hier dink jy nie, hier dink ék en jy dóén!”
Hulle het die Saterdagmiddag ná die weeklikse inkopietog uit die dorp op die plaas aangekom toe Mammie geboortepyne begin kry. Dê en oom Edward van Bolla moes terug dorp toe om die vroedvrou, ant Johanna Stallenberg, te gaan haal. Maar soos wat hulle aangeklam was, sou dit baie langer neem as wat dit sou neem om my uit te kry. Toe spring an Bolla van oom Edward maar in en “Ma Maria” de Klerk hardloop weg, want die naelstring was om die kind se nek gedraai en “Ma Maria” kon dié prentjie nie verduur nie. Dis Maria van an Bolla en oom Edward wat my dié storie op Facebook Messenger vertel. Wanneer sy dit vertel, klink sy benoud; asof sy ook toe al dalk bewus was daarvan dat Dê graag nog ’n dogter wou hê, met dié dat hy en Mammie toe reeds twee seuns en net een dogter gehad het. Maar wanneer Maria van an Bolla en oom Edward my ’n ander storie op Facebook Messenger vertel, dan lág sy, want dit is vir haar snaaks. Dis die storie oor die dag wat ek amper verdrink het, seker so ’n jaar of agtien maande oud, want ek was twee, is ek vertel, toe ons circa 1975 van die plaas af dorp toe getrek het – na die bruin buurt Bergsig, Afdelingsraadshuis nommer 6. Die amperse verdrinking was ’n stink storie ...
*
Die eerste helfte van die sewentigerjare – toe ek stadigaan as kind my verstand begin kry het – was die tyd van die opkoms van swart bewustheid. Maar in die onkunde van die Afrikaanssprekende, plattelandse, armmans- en werkersklasomgewing waarin ek opgegroei het, was politieke ideologie ’n ander land. Ons was nouliks bewus van daardie “waterskeiding vir terminologiese dinge in Suid-Afrika”, soos die digter-filosoof Adam Small die destydse “opkoms van swart bewustheid” by die Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium in 1995 op Paternoster sou noem.
“Ons wou nie non-white genoem wees nie. Ons sal nie nie-blank wees nie. Ons is swart in enige boek ...,” haal ek hom aan uit sy referaat “Die baklei om uit die slaweding te kom”. Small was – heel ironies – die vader van my denke oor identiteit; en ek bedoel hier bruin identiteit, want ek het die swartbewussynfase nooit eerstehands ervaar nie, maar toe my eie politieke bewussyn begin ontwikkel, was ek weliswaar aan die een kant beïnvloed deur die bevrydingstrydpolitiek van my hoërskooljare en aan die ander kant die skrywes van Small en ander, soos prof Richard van der Ross, dat om jouself bruin te noem nie minderwaardig aan wit wees (óf meerderwaardig, het die bevrydingsleiers my denke gebalanseer, teenoor swart wees) is nie.
In die verslag van die simposium, in boekvorm uitgegee as Die reis na Paternoster, skryf Hein Willemse in Junie 2018 in sy kantoor aan die Universiteit van Pretoria in ’n geskenkeksemplaar vir my: “Paternoster, waar jy jou plek leer ken het!!”
En, weet u, ek het hom nooit daaroor gevra nie; nooit gevra wat hy daarmee sou bedoel nie. Gee jy om, Hein – as jy dit onthou – om my nou te sê wat jy daarmee bedoel het?
Ek weet wel dat ek die Paternoster-belewenis nog altyd beskou het – trots! – as my inwyding of inisiasie tot die ná-1994-generasie Afrikaanse skrywers (of moet ek eerder sê “swart Afrikaanse skrywers”?), ’n beweging anderkant die voor-1994-“kanon”, oorheers deur die Sestigers. Dit sou ek seker ook vandag as my identiteitsvorming as skrywer kon beskou. Hierdie aanhalings uit ’n onvoltooide manuskrip:
In Elsa Joubert se lywige boek Reisiger, die tweede volume van haar outobiografie, skryf sy in die hoofstuk “Oorgang” onder die subhofie “Nuwe stemme”: “En bo ons verwagting, wat ons eintlik behoort te verwag het, kom daar nuwe opwindende groeipunte vir Afrikaans: nuwe stemme.”
Hierdie nuwe stemme sluit in Abraham (Ronnie) Phillips van Worcester, skrywer van onder meer Die verdwaalde land, die “klein boekie met die groot hart” (André P Brink). Ook vermeld sy Karel Benjamin se Staan uit die water uit! en die letterkundige kanonskoot Vatmaar van AHM Scholtz, wat op 72 sy debuut gemaak het. En in die Sentrum vir die Boek in Koningin Victoriastraat in Kaapstad word die destydse premier van Mpumalanga dr Matthews Phosa se bundel gedigte bekend gestel: Deur die oog van ’n naald, die titel ontleen aan ’n ANC-beleidsdokument oor die belangrikheid van onkreukbare karaktereienskappe van sowel leiers as gewone kaders van die beweging.
Madiba woon die geleentheid by; so ook Mbeki; oudpres FW de Klerk is daar; en hierdie intreejoernalis in die hoofstroommedia kry sy foto saam met Mej Suid-Afrika, Peggy-Sue Khumalo. Dit is September 1996, nege maande nadat my voltydse joernalistieke reis op Die Burger se “wit”-redaksie begin het.
Oor Phillips, Benjamin, Scholtz en Phosa, skryf Joubert in Reisiger: “Hierdie is die stemme wat die land wil hoor.”
Uit Joubert se verslag oor die totstandkoming van ’n nuwe, inklusiewe skrywersliggaam, die Afrikaanse Skrywersvereniging, opvolger van die ou (byna eksklusiewe wit) Afrikaanse Skrywersgilde, hierdie aanhaling: “Klaas [Steytler, haar man] word na die stigtingsvergadering by die Universiteit van Wes-Kaapland genooi. ’n Paar ‘gevestigde’ skrywers, lees blank, is teenwoordig, en verder jong mense van die Vlakte; ook jong joernaliste wie se name gereeld in Die Burger verskyn, onder andere Heindrich Wyngaard.”
Paternoster, dan, waar ek my tweede identiteit gesement het; waar ek my (skrywers-) plek in die Afrikaanse leef- en denkwêreld leer ken het.
*
In Hans Heese se akademiese artikel “Identiteitsprobleme gedurende die 17de eeu” skryf hy dat die woord “identiteit” in die politieke debatte van die afgelope aantal dekades dikwels in Suid-Afrika gehoor is. Die populêre interpretasie van die term sou wees “dat dit die eienskappe is wat ’n groep mense (...) in [sic] gemeen het”. Dit sou as volg kon wees – hier slegs drie uit Heese se ses voorbeelde:
- Rasseherkoms en terselfdertyd ook die bloedband, waarby die familie as konstituerende element inbegryp is.
- Die gemeenskaplike taal en kultuur.
- Die gemeenskaplike geskiedenis, tradisie, lewensbeskouing, gewoontes en godsdiens.
- Die bewoning van ’n gemeenskaplike vaderland.
- Eie politieke instellings of ’n strewe daama.
- Ekonomies ’n selfstandige, gelntegreerde eenheid.
“In Suid-Afrika het daar sedert die sewentiende eeu verskillende bevolkingsgroepe met ’n eie identiteit ontstaan,” skryf Heese verder, “hoofsaaklik gebaseer op etnies-genetiese patrone.”
En toe eendag, tydens die Woordfees op Stellenbosch, vertel hy my dat hy dink hy weet wat die oorsprong van my van is. Dit is opgeteken in sy 2015-boek Amsterdam tot Zeeland; Slawestand tot Middestand – ’n Stellenbosse Geskiedenis, 1679–1849:
Soos in Kaapstad, waar talle slawe vanaf die einde van die agtiende eeu oor tipiese “Europese” vanne beskik het, en wat talle navorsers al laat glo het dat hulle nie slawe kon wees nie, het hierdie verskynsel ook reeds vroeg op Stellenbosch ontstaan. Voorbeelde hiervan is persone met die vanne Bergstedt, Beyers, Blomerus, Carsten, Catz of Katz, Fick, Gerrits, Greeff, Gustdorp, Harms, Heyman, Jordaan, Keizer, Kok, Lottering, Melville, Mulder en Muller, Niekerk, Niemand, Putters, Quinn, Smith, Stolts, Theunissen, Van Gyselen, Visagie, Visser, Walendorf, Wever en Weber, Wilson en Wyngaard.
By sommige van hierdie families mag daar wel ’n blanke of Europeër die stamvader van die familie gewees het. Daar is egter ook gevalle waar die slaaf eenvoudig die van van die vorige eienaar [se van] aanvaar het toe hy of sy gedoop is; (...)
Stellenbosch is die bakermat van sommige bruin families wat direk uit slawerny stam. Na alle waarskynlikheid kan persone wat die volgende vanne het, hulle wortels in die dorp of distrik na die slawetydperk terug trek. Van die tipiese Stellenbosse vanne is onder andere Abels, Bergstedt, Pool (-e) en Wyngaard, vanne wat nog steeds op Stellenbosch voorkom. Weens migrasie kom van hierdie vanne vandag wyd verspreid in die Boland voor.
Soos in Caledon, waar ek vandaan kom; en ander dorpe soos Grabouw, Tesselaarsdal, Elim, Bredasdorp, ens.
Die stamvader van die Wyngaard familie is waarskynlik die slaaf Fortuin, gebore op 16 Mei 1793 en oorlede is op 20.1.1880, wat in die omgang ook as Johannes Jacobus Wyngaard bekend gestaan het. ’n Alternatiewe stamvader, of seun van bogenoemde, was Abraham Wyngaard, ’n slaaf van Paul Roux, vermoedelik die eienaar van die plaas Moddergat naby Somerset-Wes.
Dit is daarom my ongestaafde mening dat my oupa Boelie Wyngaard aan my pa se kant een van die afstammelinge van die slaafgemaaktes van Stellenbosch was wat saam met die vryburger Johannes Jacobus Tesselaar gekom het na vandag se Tesselaarsdal, duskant Caledon, rigting Hemel-en-Aarde-vallei, waar albei my ouers gebore is; en die Wyngaards is een van die oorspronklike families van Tesselaarsdal. Meer kan ek julle ongelukkig nie vertel nie, want my ouers het nie oor herkoms en familiegeskiedenis vertel nie; en wat my ma oor my pa te sê gehad het, was net dat hy sy geld op drank en dagga uitgemors het en nooit daar was om haar te help om ons kinders groot te maak nie.
In die kunstenaar Peter E Clarke se boekie Plain furniture – met gedigte, sketse en kort prosastukke – ontdek ek toe in 1994 dat my pa as jongman ’n skaapwagter was; en vandag is dit die verhaal waaraan ek vasklou as ’n belangrike deel van my familiegeskiedenis. Dit is ook opgeneem in Hein Willemse se boek oor die 70ste verjaardae van Clarke en die digter-skrywer James Matthews: More than brothers.
Mammie het nog ’n ding gesê. Mammie het gesê, wanneer sy haar vir my vererg het: “Djy’s nes jou fokkien pa.”
*
“The modern concept of identity unites three different phenomena,” lees ons in Francis Fukuyama se boek Identity – contemporary identity politics and the struggle for recognition. “The first is thymos, a universal aspect of human personality that craves recognition. The second is the distinction between the inner and the outer self, and the raising of the moral valuation of the inner self over outer society. (…) The third is an evolving concept of dignity, in which recognition is due not just to a narrow class of people, but to everyone.”
Die soeke na erkenning is dus vooropgestel in die moderne konsep van identiteit, as jy Fukuyama se standpunt aanvaar. Ook dat die innerlike eiewaarde die uiterlike samelewingswaardes troef; en dan derdens die kernbehoefte aan waardigheid.
“Om te ag en te minag, [is] die oorsprong van eindelose vernietigings in Suid-Afrika,” skryf Antjie Krog in haar outobiografiese roman, Binnerym van bloed, voorafgegaan deur dié stelling: “Die diepste begeerte van die Afrikaner – om geag te word, deur sy gemeenskap, sy land, homself” en – mind you – is dit nie ook maar die versugting by almal van ons wat in hierdie land hoort nie, ongeag ons etniese of gender of politieke of kulturele identiteit nie?
Om deur ander geag te word; en nie deur ander geminag te word nie.
En dan ook uit Binnerym van bloed hierdie lewensles van Antjie se ma, Dot Serfontein, aan haar as dogter, eintlik meer aan haar as medeskrywer, waarby ek as ’n bruin Afrikaanse skrywer ten diepste aanklank vind: “Geen literêre roem is werd dat jy jou mense verraai of diegene rondom jou vernietig nie. Hoe meer jy dit doen, hoe minder sal wat jy te sê het, blywend wees. Selfs al dink ’n mens jou mense is verkeerd, ’n mens bly by hulle en skryf met genade [oor hulle].”
Dit is ’n les waarby ek – iemand wat identifiseer as ’n bruin Afrikaanse skrywer – ten diepste aanklank vind; en as ek dan vanaand hier voorgestel is as ’n skrywer, is dit alleen omdat ek oor die jare (sedert my letterkundige pad die eerste keer, rondom ’n kwarteeu gelede, met dié van Hein Willemse en Etienne van Heerden en Riana Scheepers gekruis het) getrou probeer bly het daaraan om met genade oor my mense te skryf en hulle nie te verraai of te vernietig nie, maar deur my skrywes te versterk.
*
En dan, terug na Fukuyama, hierdie aanhaling: “The broadening and universalization of dignity turns the private quest for self into a political project.” Waarom dit deel van my praatjie uitmaak, is dat dit die aanknopingspunt is met ’n derde aspek van my identiteit: Naas die persoonlike en kreatiewe of skeppende identiteit is daar ook ’n “politieke identiteit”.
My geliefkoosde Amerikaanse skrywer James Baldwin het iets daaroor geskryf in sy opstel “Notes of a native son”:
It began to seem that one would have to hold in the mind forever two ideas which seemed to be in opposition. The first idea was acceptance (...) that injustice is a commonplace. But this did not mean that one could be complacent, for the second idea was of equal power: that one must never, in one’s own life, accept these injustices as commonplace but must fight them with all one’s strength. This fight begins, however, in the heart and it now had been laid to my charge to keep my own heart free of hatred and despair.
Hierin lê die aanknopingskakel opgesluit oor ’n ander verwysing in die kort beskrywing van wie ek is wat op die program met u gedeel word: dat ek ook uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie Kaapse Forum is. Wat ons doen, is om ongeregtigheid teen te werk, maar met ons harte vry van haat en mismoedigheid. Dit begin by die vestiging van ’n gevoel van waardigheid onder die mense in die gemeenskappe waar ons werksaam is.
Fukuyama skryf ook:
Research on ethnic movements around the world has shown that individual self-esteem is related to the esteem conferred on the larger group with which one is associated (…). Each movement represented people who had up to then been invisible and suppressed; each resented that invisibility and wanted public recognition on their inner worth. (…)
Each marginalized group had a choice of seeing itself in broader or narrower identity terms. It could demand that society treat its members identically to the way that the dominant groups in society were treated, or it could assert a separate identity for its members and demand respect for them as different from the mainstream society.
Nog aanhalings kan gegee word uit Fukuyama se Identity – contemporary identity politics and the struggle for recognition, maar die tyd is te min om alles hier te deel … Net nog, krities belangrik, hierdie twee: “So there is nothing wrong with identity politics as such; it is a natural and inevitable response to injustice.” En: “We will not escape thinking about ourselves and our society in identity terms. But we need to remember that the identities dwelling deep inside us are neither fixed nor necessarily given to us by our accidents of birth. Identity can be used to divide, but it can and must also be used to integrate. That in the end will be the remedy for the popular politics of the present.”
*
Ten slotte dalk iets oor ’n laaste identiteit: dié van pa-wees.
Boaan die teks van my praatjie het ek aanvanklik geskryf: “Mymeringe oor identiteit”. Maar toe dink ek aan my vierjarige dogtertjie, wat praat van “stukkies” op TV of YouTube; en omdat sy weet haar pa het ’n afkeer van hierdie gewoonte om die kinders voor die TV neer te plak sodat hulle kan sit en stukkies kyk, sê sy nou al vooruit wanneer sy by my huis instap. “Niks stukkies nie, nè Dêrrie.” Wel, die stukkies word vervang deur Afrikaanse YouTube-inhoud sodat sy op hierdie wyse leer van haar pa se onlosmaaklike verbintenis tot sy moedertaal, Afrikaans – ’n taal wat my ma gebruik het om my te skel, ’n taal waarin ek my plek in ons samelewing leer ken het, en ’n taal wat ek nou gebruik om my liefde aan my vierjarige dogtertjie oor te dra, sy wat die woord “môre” oorgebruik, maar wat vir my ’n aanduiding is dat sy toekomsgerig is en nie opgesaal moet word met die onsmaaklikhede van “gister” se dinge en identiteite nie.
Lees en kyk ook:
Hein Willemse: Veertig jaar later: die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium
Nèlleke de Jager: Waar is die nuwe generasie swart Afrikaanse skrywers?
Willa Boezak: Die Khoi-San se eeue-oue trauma
Michael le Cordeur: Die vrystelling van die slawe
Danie van Wyk: Verslag oor die Hoerikwaggo Indaba: ’n suksesvolle byeenkoms
Willa Boezak: Die Khoi-San se eeue-oue trauma
Johann Rossouw: Oor ons trane, nou – en die mistiese groot trek
Heindrich Wyngaard: Joshlin: Indrukke uit die hof
Hein Willemse: Op weg na die volheid van die Afrikaanse taal
Danie van Wyk: Randall van den Heever is oorlede
Mphuthumi Ntabeni: Kemi Badenoch: The Africa that was not born in her
Heindrich Wyngaard: Die Tref-en-Trump-slag
Izak de Vries: Die veelrassige storie van Afrikaans
Handré Brand: Ken jy die see, meneer?
Danie van Wyk: Die aaklige gesig van rassisme: reaksie op die potgooi wat bruin mense verkleineer
Mphuthumi Ntabeni: Undoing villainy: Eastern Cape name changes
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor



