Die vrystelling van die slawe

  • 1

’n Toespraak gehou tydens ’n gesamentlike funksie deur die Taalmonument en die DAK Netwerk

...
Voor die aankondiging dat slawerny op 1 Desember 1834 afgeskaf sou word, het baie semen teen slavinne se bene afgeloop. Wat vandag as statutêre verkragting bekend sou staan, waarvoor die skuldiges jare in die tronk sou deurbring, is destyds beskou as een van die basiese regte van die slawebaas.
...

Goeienaand almal, en dankie aan Danie van Wyk en Michael Jonas vir die geleentheid om iets oor die geskiedenis van die slawe – baie van ons se voorouers – met julle te kan deel. Ek wil begin deur ’n paar mense aan julle voor te stel wat as uitstaande leiers hul mense gedien het, al was hulle slawe of slawekinders.

Abdullah Abdurahman is op 18 Desember 1872 in Wellington gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding aan die South African College School (SACS), waarna hy medies in Glasgow, Skotland, studeer en in 1893 as dokter kwalifiseer. Hierna begin hy ’n mediese praktyk in sy geboortedorp. Hy was ’n mediese dokter, ’n gerespekteerde politikus en ’n prominente leier van die bruin gemeenskap.

Hy was die eerste lid van kleur op die Kaapse stadsraad, waarin hy van 1904 tot en met sy dood gedien het, en beywer hom om die bruin gemeenskap op te hef, veral op die gebied van onderwys –hy het die eerste sekondêre skole vir bruin mense in Kaapstad help oprig. Abdurahman was ook die eerste persoon van kleur wat tot die Kaapse Provinsiale Raad verkies is (1914 tot sy dood).

In 1902 stig hy die antisegregasie-beweging African Political Organization, waarvan hy die leier was. Die party se doel was om die toenemende rasse-onderdrukking in die land te beveg, aanvanklik net namens nie-Afrika-gekleurde (bruin) mense. Abdurahman het onsuksesvol twee delegasies na Londen gelei om stemreg vir bruin mense te verseker (voor die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika). Later het sy party begin om nader met swart politieke leiers saam te werk in ’n poging om ’n verenigde front te skep.

Abdurahman was ook ’n skrywer, onder die skuilnaam Piet Uithaler, en raak veral bekend vir sy werk as politikus en vegter vir Afrikaans. Sy rubriek, Straatpraatjies, wat in die tydperk 1909–1922 in die African People’s Organisation (APO) se tydskrif verskyn het, is een van die eerste voorbeelde van hoe Afrikaans as politieke versettaal gebruik is.

Abdurahman was getroud met Helen (Nellie) Potter James, wat hy in Glasgow ontmoet het. Hulle het twee dogters gehad – Waradea (Rosie) en Zainunnisa (Cissie) Gool. Die jongste, Cissie (1900–1963), was in eie reg ’n belangrike politieke figuur. Op 2 Februarie 1940 sterf Abdurahman aan ’n hartstilstand. Sy begrafnis is deur 30 000 mense bygewoon. Albei sy oupas was slawe wat hul vryheid gekoop het. ’n Straat in Wellington is na hom vernoem, maar hy verdien baie meer as dit.

Slawerny onder die Nederlandse bewind

In 1652 vestig Jan van Riebeeck ’n verversingspos aan die Kaap. Die werk was baie en die hande min. Hy vra dus slawe aan vanaf sy Nederlandse base. Die eerste slaaf, Abraham van Batavia (die hedendaagse Sri Lanka), kom in 1653 in die Kaap aan. In April 1657 was daar 10 slawe aan die Kaap. Die slawetal het aansienlik vermeerder toe die Nederlanders ’n Portugese slaweskip met 500 Angolese slawe aan boord gekaap het en die slawe gesteel het. Nog slawe is in Mauritius en Madagaskar gevang vir die verversingspos in die Kaap.

Slawerny onder die Britse bewind

In 1795 neem die Britte die Kaap oor en aanvaar in 1807 die wet op slawehandel, wat hulle in 1808 binne die Kaapse kolonie afgedwing het.

Ontmoet vir Clara Belle Williams

Dit is vandeesweek die 16 dae van aktivisme teen vroue mishandeling. Daarom wil ek die lewensverhale van twee merkwaardige vroue met julle deel. Clara Belle Williams was die eerste swart gegradueerde van die New Mexico State University (NMSU). Baie van haar professors het haar nie toegelaat om in die klas te sit nie; sy moes in die gang by die deur staan en notas neem. Sy is ook nie toegelaat om saam met haar klasmaats na die verhoog te stap om haar sertifikaat te ontvang nie. Maar sy het volhard: Sy het ’n onderwyseres geword wat bedags swart studente onderrig het en saans vir hul ouers (almal voormalige slawe) klas gegee het in huishoudkunde. Sy het langer as 100 jaar gelewe (werk maak jou nie dood nie). Na haar dood het NMSU die Engels-departement se hoofgebou na hierdie dogter van ’n slavin vernoem.

...
Daar word dikwels die aanname gemaak dat “bruinmense” nie so swaar gely het onder die Europese maghebbers nie. Die feite vertel ’n ander storie. Slawe is soos diere in die bos gevang en met slaweskepe na SA en elders vervoer waar hulle op veilings verkoop is.
...

Die pyn van slawerny

Daar word dikwels die aanname gemaak dat “bruinmense” nie so swaar gely het onder die Europese maghebbers nie. Die feite vertel ’n ander storie. Slawe is soos diere in die bos gevang en met slaweskepe na SA en elders vervoer waar hulle op veilings verkoop is. Dan moes hulle tot hul sterwensdag vir hul eienaars werk, selfs hul kinders sou slawe word – teen hul sin. Daarom is dit belangrik dat ons kennis neem van mense soos Dr Abdurahman, wat uitgestyg het bo sy omstandighede.

Volgens oorlewering is slawe in private diens in Kaapstad goed behandel, maar die waarheid is dat onmenslike reëls gegeld het wat hul menswaardigheid volgens vandag se standaarde ernstig aangetas het en soms selfs hul dood beteken het. In 1753 is ’n stel reëls vir slawebeheer – die sg Tulbagh Kode – deur die destydse Kaapse goewerneur, Rijk Tulbagh, opgestel. Een van dié reëls was ’n klokreël waarkragtens slawe teen tienuur saans binnenshuis moes wees. Indien hulle buite moes wees, moes hulle ’n pas en ’n lantern dra. Slawe is ook verbied om snags te sing, fluit of enige geluid te maak. Hulle is belet om te perd of op ’n wa deur die Kaapse strate te ry en op vakansiedae in groepe saam te drom, en is nie in kroeë (taphuise) toegelaat nie.

Dié wat valse bewerings gedoen of die Kaapse vryburgers beledig het, is in kettings aangehou en in die openbaar gegesel. Slawe wat hulle teen hul base verset het, is met die dood gestraf. Daar was die keer toe ’n slaaf se regterhand afgekap is nadat hy aan moord en brandstigting skuldig bevind was. Voor dit is hy eers half verwurg en daarna op ’n “stadige vuur” gedood. Die stadige vuurdood was die straf vir brandstigting.

Van 1680 tot 1795 is gemiddeld een slaaf per maand in die Kaap tereggestel. Die hangende, ontbindende lyk van ’n slaaf wat tereggestel is, is op een plek in die moederstad vir openbare kennisname vertoon, later afgehaal en dan weer elders hangend uitgestal om ander slawe ernstig te waarsku om hulle te gedra. Een van die aakligste vonnisse was dié van Franciscus Xaverus in 1721. Daar is gelas dat hy onderstebo gekruisig moes word. Ná sy dood is sy lyk deur die strate gesleep na die Galge-heuwel by Groenpunt om daar te hang tot die voëls van die hemel dit verteer het.

Viering van vryheid

Die Kaapse Klopse-karnaval is ’n geleentheid waartydens die nasate van die eertydse slawe en hedendaagse Kapenaars fees vier. Hulle vier hul vryheid, maar agter dié uitbundigheid is ’n ryk maar hartseer geskiedenis. Slawe kon nie saans sing of fluit nie, maar een dag van die jaar het die slawe ’n af dag gehad. Op Tweede Nuwejaar kon hulle ’n bietjie ontspan en sosiaal verkeer. Deur die geskiedenis was dit ’n geleentheid om die bordjies te verhang; as onderdruktes kon hulle net een dag die gek skeer met hul onderdrukkers. Nuwejaar is vakansietyd in die Kaap. Die feesvieringe vind derhalwe in die strate plaas en het nog altyd gepaard gegaan met uitbundige musiek, sang en dans.

Philida

Soos opgeteken deur André P Brink in sy slaweroman met dieselfde naam, was Philida ’n slavin op die plaas Zandvliet in die tydperk voor en tydens die vrystelling van slawe aan die Kaap. Die verhaal van Philida begin in die jaar 1832, as Philida vanaf Zandvliet (vandag bekend as Solms Delta) in Groot Drakenstein kaalvoet Stellenbosch toe loop om daar by die slawebeskermer ’n klag in te dien teen Frans Brink, seun van die plaaseienaar, by wie sy vier kinders gehad het. Hy het nie sy belofte om haar vry te koop nagekom nie.

Verhouding tussen slavin en baas

Philida se verhouding met Frans is tekenend van die verhaal van slawerny aan die Kaap: ’n Mooi slavin raak betrokke in ’n verhouding met haar eienaar – in hierdie geval met die eienaar (baas Cornelis Brink) se seun, Frans (kleinbaas). Dis ’n verhaal waarin die vennote van hierdie verhoudings nooit op gelyke voet kon meeding nie. Hoeveel sê het die slavinne in hierdie verhoudings gehad? Kon hulle werklik nee sê as die baas hulle beveel het om saam met hom te slaap, of was dit ook maar net ’n opdrag wat die slaaf moes uitvoer soos een van die talle ander take wat hulle moes verrig? Jakes Gerwel het gesê dit is “intieme wreedheid”.

Hierdie perverse intimiteit van slawerny kry verder sy beslag in die verhouding van Frans se pa, Cornelis, met Philida se peet-ouma, Petronella. Cornelis het erken dat hy Petronella se kind is, en was die opperste wreedaard. Om sy lafhartige seun, Frans, teen Philda se klag by die slawebeskermer te beskerm, laat Cornelis haar in die openbaar deur twee jong slawe van die buurplaas L ’Ormarins verkrag. By ’n latere geleentheid probeer ook hy om haar te verkrag.

Ten spyte daarvan dat hy ’n lafaard en swakkeling is wat nóg die wil het om teen sy sadistiese pa op te staan, nóg die manlike ordentlikheid om vir die vrou wat hy liefhet (of so het hy gesê), te veg, word Frans se woord bo hare aanvaar. Was dit slawerny, of apartheid in sy vroeë stadia? Juis daarom is dit noodsaaklik dat ek Philida se verhaal met julle deel: nie net om die verwronge feite van die verlede reg te stel nie, maar ook om die voorbeeld wat Philida aan ander vroue gestel het deur self iets te doen om haar vryheid te bekom, te deel.

Christenskap vs Islam

Die verhaal van Philida toon ook waarom die meeste slawe na slawerny nié die Christengeloof van hul base gevolg het nie. Op meer as een geleentheid laat blyk Frans en Philida dat Cornelis se gedwepery met Christenskap en die Bybel hulle eintlik walg. So sou hy die aand na Philida se openbare verkragting sy optrede probeer regverdig uit die Bybel deur – volgens hom – die gepaste gedeeltes voor te lees. Philida het haar tot die Islam gewend nadat Cornelis haar en haar twee blondekopkinders in Worcester aan meester De la Bat verkoop het. Sy het later ’n verhouding met Labyn, wat haar nie net bekendstel aan die Islam-geloof nie, maar haar ook help deur haar op ’n ander manier te bevry: Hy sou haar leer lees en skryf – in vandag se konteks ’n besonder kragtige bemagtigingsaksie wat bydra tot haar uiteindelike emansipasie.

Tema: die strewe na vryheid

Om ’n slaaf te wees is om die mees uiterste teenstelling van vryheid te beleef – dat alles van buite af vir jou besluit word. Jy moet net luister en maak soos hulle sê. Of dit nou was om vir hom kos te maak, “of moes kromstaan dat die slawebaas jou met ’n sambok kan bykom”. Philida het dikwels opgemerk dat sy nooit ’n slaaf “was” nie, maar “aangehou is as slaaf”.

Vir my is dit ’n groot verskil. Dis my belewing dat baie voormalige slawe juis slagoffers is van hul eie onvermoë om soos vry mense te leef; om steeds as agterryer vir die baas op te tree, soos verklank deur die nou al bekende spreekwoord “ek het maar net saam met die baas gekom”.

Hierin is ’n groot stuk waarheid. Is dit nie maar die probleem vandag op ons plase en in die samelewing nie? Ons betoog vir vryheid, maar wanneer mense alleen in die baas se teenwoordigheid is, kan hulle, anders as Philida, nie vir hulself opstaan nie. So kry Philida ’n universele betekenis.

Afskaffing van slawehandel

In 1833 is die wet op die afskaffing van slawerny by wyse van ’n koninklike bekragtiging goedgekeur. Dit het die weg gebaan vir die afskaffing van slawerny in die Britse Ryk en sy kolonies op 1 Desember 1834. Hulle is egter vir nog vier jaar in die diens van hul voormalige eienaars geplaas in ’n soort van vakleerlingskap wat eers in 1838 geëindig het. Dit verklaar waarom slawe sulke goeie vakmanne en ambagsmanne was; messelaars, timmermanne, kleremakers, en baie ander. Die talle mooi kerke, bergpasse en geboue soos die kasteel is die slawe se handewerk.

Slotopmerking

Philida speel af tydens ’n belangrike oorgangstyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis: die afskaffing van slawerny. Die reis wat die jong slavin Philida te voet moes aflê op pad na haar vryheid en emansipasie is ’n voorbeeld vir elkeen van ons, veral elke vrou. Voor die aankondiging dat slawerny op 1 Desember 1834 afgeskaf sou word, het baie semen teen slavinne se bene afgeloop. Wat vandag as statutêre verkragting bekend sou staan, waarvoor die skuldiges jare in die tronk sou deurbring, is destyds beskou as een van die basiese regte van die slawebaas.

Slawe moes hul lewens kaalvoet aanpak. Dis ’n manier om jou gevange te hou, byna soos voetboeie. Skoene was ’n manier om te ontvlug. Op 1 Desember haal Floris, die skoenmaker, vir almal op die werf ’n paar skoene uit wat hy vir hulle gemaak het. Op daardie historiese dag in 1834 kry Philida, Labyn, en Philida se twee kinders, Lena en Klein Willem, vir die eerste keer in hul lewe skoene. En dan weet jy dat ook hierdie stil slaaf geglo het dat hierdie bitter lewe van slawerny tot ’n einde sou kom, móés kom. Die skoene getuig van weke, selfs maande se handewerk. So word Philida se droom bewaarheid. Saam met die skoene kom die vryheid; word die lewe van die eens kaalvoetslaaf finaal afgeskud en ervaar sy uiteindelik die “Jirregot se liefde”.

Oor tyd het Philida tot die besef gekom dat ware vryheid van binne kom. Dis een ding om vrygestel te word deur wetgewing, maar dis ’n heel ander ding om steeds verkneg te wees aan intellektuele slawerny. Ek sluit af met die slavin Philida se eie woorde.

Toe sy gevra is “Wie is jy?”, het sy geantwoord:

“Ek is Philida van die Caab. Hierdie ek wat vry is. Hierdie ek wat eens slaaf was. Ek wat nou volledig mens is. Ek wat eintlik alles is. Want ek is vry.”

Michael le Cordeur, 
1 Desember 2021, Paarlberg

Bronne: Wikipedia; Mieliestronk.com; Philida, ’n slaweroman deur André P Brink, resensie deur Jakes Gerwel

  • 1

Kommentaar

  • ’n Baie insiggewende artikel. Iets wat "elke persoon van kleur" en sommer elke Suid-Afrikaner moet lees. Dankie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top