Joshlin: Indrukke uit die hof

  • 0

Jy groet, soos jy geleer is: “Hello, Dêrrie. Hoe gaan ’it?” Die skerm van jou ma se selfoon wys nie jou gesig duidelik nie. Dit wys jou prominente voorkop wat jy by my geërf het. Jy verstel die posisie van die kamera. Aaa, daar’s jy nou; jou warm glimlag – wat jy by jou ma kry – ontbloot jou een afwesige voortand. Toemaar, jy is net vier, amper vyf; jy moet nog behoorlik tande kry. Jy wag op my antwoord: “Dit gaan goed met Dêrrie, my kind.” Ek verneem na hoe dit met jou gaan.

“Ook goed, Dêrrie.”

“En met Mammie?”

Jy roep na jou ma: “Mammie, wanneer verjaar ek môre?”

“Sê vir Daddy wanneer verjaar jy,” por jou ma jou aan.

Jy bgry jy jou antwoord deur die gaping in jou boonste stel voortande: “Dgrie ... en ... twintag ... Siptembig, Dêrrie.”

Jy gee jouself ’n applous dat jy dit reg het. Ek doen mee: “Jyyyyyyy!”

Maar wag, beduie jy, jy het nog iets om my te vertel: “Dêrrie – en Mammie is baie siek.”

Ontferming op my gesig. “Ai, tog. Dêrrie hoop Mammie word gou beter.” Jy: “Ek is ook siek, Dêrrie. My keel is seer. Ek kan nie hard praat nie, want my keel is seer.”

Ek sê ek is jammer om dit te hoor en ek sukkel self om te herstel van ’n bietjie verkouerigheid. “Dêrrie het gehoes vandag,” verduidelik ek.

“Uhhhh,” sê jy.

Ek wil verder by jou weet hoe dit met Oupa gaan. Ek vra maar altyd na Oupa se welstand, want julle het onlangs vir Ouma verloor. Die seer lê nog laag. Jy sê gereeld, uit die bloute uit, heeltemal verwyderd van die onderwerp waaroor ons nou eintlik aan die praat was: “Ek mis vir Ouma, want Ouma is mos dood, Dêrrie.” Nou roep jy na Oupa: “Oupa, Dêrrie vra hoe gaan dit?”

Oupa antwoord uit sy slaapkamer of uit die kombuis, af in die gang, stap dan nader aan jou wat die foon na hom wou neem sodat ek hom self moet kan hoor. “Oupa sê orraait, Dêrrie.” In die agtergrond deel Oupa ons mee dat hy nuus kyk om op te vang op die dag se groot storie: die vonnisoplegging in die Joshlin Smith-hofsaak by die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Saldanha.

“Sê vir Oupa dat Dêrrie by die hof was,” sê ek.

“Dêrrie sê Dêrrie was by die hof, Oupa.”

Jy vra nie watse hof nie. Jy weet nie wat ’n hof is nie.

*

Dit is nog donker toe ek in die mistigheid van ’n Weskus-oggend opdaag by die “hofgebou” – tydelik ingerig in die White City veeldoelige sentrum – net om die draai van die hotel waar ek die vorige aand oornag het. Die vorige aand loop ek die provinsiale woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag by die hotel raak; die volgende oggend, lede van die media wat die hofverrigtinge dek.

Saldanha is vandag heeldag hoofnuus.

Polisielede is vroegmôre reeds aan diens by die hof.

Teen die tyd dat die mis verdwyn en die son begin skyn, het groot getalle joernaliste reeds opgedaag. ’n Groep vroue bid en sing op die terrein; een van hulle blaas ’n ramshoring, wat in ’n Facebook-plasing deur Engelize de Lange, dogter van die skrywer Engemi Ferreira, eens paslik beskryf is as “’n gebed sonder woorde – ’n roep tot God wat deur die lug beweeg”. En, treffend: “In elke blaas, in elke klank, is daar ’n verhaal van hoop, berou, en die soeke na God.”

Die verhaal wat maande lank in hierdie hofgebou afgespeel het, weerspieël elemente van die “soeke” na ’n verdwene sesjarige dogtertjie (verkoop in ’n misdaad wat die staat as mensehandel bestempel, en ook ontvoering); die afwesigheid van “berou” by die drie skuldiges (nou gevonnis), onder wie die ma, Kelly Smith, saam met haar kêrel, Jacquen (Boeta) van Rhyn, en ’n vriend, Steveno van Rhyn; en daarby die “hoop” by familie en die publiek dat klein Joshlin tog nog opgespoor sal word.

*

In die hof is dit nogeens die rustigheid, kalmte en “binnegoed van medelye” van regter Nathan Erasmus wat jou tref. Tot aan die einde verduidelik hy elke stap of stelling van hom soos ’n wysgeer van ouds en spreek hy almal wat by die saak betrokke is met die grootste respek aan, ongeag in watter hoedanigheid – selfs die skuldiges, nog oomblikke voordat hy hulle lewenslange tronkstraf oplê, word byna vaderlik deur hom benader: “Mister Van Rhyn” ... “Mister Appollis” “... and Miss Smith”.

Maar ten spyte daarvan dat hy voor vonnisoplegging aanhaal uit ’n vorige uitspraak waarin die belangrikheid onderstreep word dat ’n regter nie geswaai moet word in ’n besluit oor ’n gepaste vonnis deur “haat”, “kwaadheid” of die samelewing se aandrang op vergelding nie, was dit duidelik dat die skuldiges se stilswye oor wat presies met Joshlin in Februarie verlede jaar gebeur het – en dat hulle geensins voorkom asof hulle spyt daaroor het nie – vir hom die laaste strooi was.

*

Die hofgangers juig oor die uitkoms. ’n Dag voor die euforie rol hul trane oor die slagofferimpakverslae wat voorgelees word namens Joshlin se klasonderwyser by Diazville Primêr, juffrou Edna Maart, wat vertel dat hulle haar naam in die klasregister hou omdat hulle glo sy sal nog terugkeer.

Ook dié van haar “ander ma”, Natasha Andrews, wat ’n paar keer probeer het om haar aan te neem. En dié van Smith se ma, Amanda Smith-Daniels, wat vertel Kelly is goed grootgemaak deur haar ouma en dat sy teleurgesteld is, omdat haar dogter haar belowe het sy sal tog vertel wat met Joshlin gebeur het – en dit toe nie gedoen het nie.

Smith, Appollis en Van Rhyn word uit die hof begelei, in ’n ry agter mekaar aan, soos die stapsoldaatjies van hul Sondagskoolliedjies, óp met die trappe agter die regter se sitplek op die verhoog van die veeldoelige sentrum, totdat hulle koppe verdwyn. Die mense begin stadig uit die saal te beweeg.

*

Nadat Amanda Smith-Daniels té emosioneel raak en weggelei word van die TV-kameras en die radiomikrofone en die selfoonopnames, tree ek nader aan haar, stel myself voor en sê, met ’n simpatieke gesigsuitdrukking en stemtoon, ek wou net haar hand skud. Oomblikke later, ’n veilige afstand weg van die media se aandag, vra ek of ek haar iets mag vra en met my selfoon op video mag opneem. Sy stem in.

Ek vra of sy meen dat sy as moeder iets meer of iets anders vir Kelly in haar grootwordjare kon gedoen het. (Nou staan ’n paar joernaliste nader. Maroela Media, onder andere, neem ons gesprek op en saai dit agterna uit.) Haar antwoord is dat Kelly, in “welgestelde” omstandighede grootgeword het. Die keuses wat sy uitgeoefen het, was haar eie.

“En is u nog lief vir haar?”

“Ek is lief vir haar as ’n ma,” antwoord sy. “My liefde sal nooit verdwyn vir haar as ’n ma nie.”

En dit tref my toe: Dat al kom die woord nie oor haar lippe nie, hang ’n “maar” tog ongesê in die spasie tussen haar mond en my selfoon se mikrofoon.

Die nuusbulletins wat na afloop van die hofverrigtinge volg, lei met die berig dat die ma van Kelly Smith sê haar dogter moet nou maar boet vir haar dade. ’n Stem oor die radio verwoord wat baie ander voel: “Maar op die einde van die dag beteken die straf niks as ons nie weet waar die kind is nie.”

*

“Die kind”, my kind, wil ek jou vertel wanneer jy oud genoeg is om dit te verstaan, was die rede waarom Dêrrie verlede Donderdag by die hof op Saldanha was. Die saak wat Dêrrie bygewoon het, was oor die verdwyning van die dogtertjie Joshlin Smith; en dié hofsaak was die nuus wat Oupa die aand wou inhaal. Hulle sê sy was net so ’n bondeltjie vreugde soos jy.

Praat. Lag. Speel.

En nou is die dogtertjie se stemmetjie al ’n jaar lank stil.

Jy sal nie nou verstaan nie, Dêrrie se kind. Jy sal “môre” verstaan wanneer jy al ’n paar keer verjaar het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top