Danie van Wyk skryf op Facebook:
’n Vriend, ’n kameraad, oud-kollega, onderwysleier, taalaktivis, vakbondleier van formaat, oud-Parlementslid, Randall van der Heever, (74), het Vrydag gesterf. Dit kom as ’n groot skok, alhoewel ons geweet het dat hy gesondheidsuitdagings die laaste jare van sy lewe ervaar het.
Randall het verskeie publikasies oor die toekoms van Afrikaans die lig laat sien onder andere Tree na Vryheid en Alternatiewe Afrikaans, wat ’n samevatting was van die uitkomste van ’n beraad oor die toekoms van Afrikaans in ’n na-apartheidsbewind. Hy sal onthou word vir die keurige Afrikaans wat hy altyd gebesig het.
Hy was ’n voormalige skoolhoof van Spes Bona Hoërskool in Athlone, en het Franklin Sonn opgevolg as president van die destydse Kaaplandse Professionele Onderwysersunie.
Ná die unifikasie van verskeie onderwysorganisasies, is hy aangestel as die eerste sekretaris van SADTU voor hy in 1994 aangestel is as ’n ANC-parlementslid.
Ek het destyds as ’n jong onderwyser by die KPO as lid aangesluit omdat David Piedt en ander onderwysers die organisasie as ’n gemeenskapsorganisasie en politieke beweging onder bruinmense gesien het, en nie slegs as ’n onderwysunie nie.
Randall het ’n groot rol in hierdie oorgangsjare gespeel. Die KPO se aanvaarding van die Vryheidsmanifes as ’n leidinggewende dokument vir die organisasie getuig hiervan.
Hy, Sonn en Jakes Gerwel was deel van die Dakar-groep wat die ANC in Dakar in die 1980’s ontmoet het.
In sy laaste jare het hy hom in Beaufort-Wes gevestig.
Rus sag my broer tot ons eendag weersiens vier.
My innige meegevoel aan sy vrou, Cheslain en ander naasbestaandes.
Kommentaar
Randall was 'n intellek in eie reg.
Iemand wat nie hoef skaam te wees oor sy bydrae tot onderwys en die bevrydingstryd nie.
Ek het Randall van der Heever as jong onderwyser leer ken deur Franklin en Joan Sonn. Wat ek veral onthou, is sy geesdrif vir Afrikaans. Hy het vertel dat hy altyd die Groot Verseboek naby hom gehad het. Ook dat Jakes Gerwel hom aangemoedig het om veral N P van Wyk Louw se werk te lees. Ek onthou hom as 'n man van waarde.
Jammer om te hoor. Hy was my geskiedenisonnie by Spes Bona. Ek is nou nog verknog aan geskiedenis. Sy Afrikaans was die taal van engele. Mag jou rusplek sag wees en jou siel in glorie baai. Nag, ou grote.