Vars uit Oesbekistan: ’n onderhoud met Emile Minnie

  • 0

Boekomslag: verskaf

Emile Minnie praat met Naomi Meyer oor sy boek Vars uit Oesbekistan. Heelwat van die skrywes wat in hierdie boek saamgevat is, het ook as Elders gesien-bydraes op LitNet verskyn. Hier is die eerste skrywe in die destydse stel inskrywings.

Emile, jy het ’n paar maande gelede ’n boek uitgegee met die titel Vars uit Oesbekistan. Hoekom woon jy daar? Wanneer het jy daarheen gegaan?

Die Covid-golf het my hiernatoe meegesleur in 2020. Die aanpassing was rof, maar die Oesbeks is so lieflik en die weer so lekker, ek besluit toe om sommer ses jaar lank te bly. Ek het wel besluit om in 2026 my tassie te pak en na ’n ander land toe te swerf. Ek weet nog nie presies waarheen nie, maar verandering is op die kaarte.

Jou boek bestaan uit ’n klomp kort aflewerings, geskryf asof dit geskik is vir die sosiale media. En dis waar dit begin het, is dit nie? Jy het daar gaan woon en op Facebook dagboek gehou. Was dit wat jy beplan het om te doen toe jy die eerste inskrywing geskryf het? ’n Dagboek, maar vir almal wat jou sosialemediavriende is, om dit te lees?

........
Ek is baie lief vir skryf en die idee om ’n sosiale dagboek te hou het vir my lekker geklink. Ek is ’n baie onwillige fotograaf, so om foto’s met my brein te neem en dit in woorde te omskep kom vir my baie natuurliker. Met die intrapslag het ek besef dat mense die stories net soveel geniet as wat ek dit geniet om die stories te skryf.
.........

Ek is baie lief vir skryf en die idee om ’n sosiale dagboek te hou het vir my lekker geklink. Ek is ’n baie onwillige fotograaf, so om foto’s met my brein te neem en dit in woorde te omskep kom vir my baie natuurliker. Met die intrapslag het ek besef dat mense die stories net soveel geniet as wat ek dit geniet om die stories te skryf.

Iemand soos Anne Frank het dalk nie gedink mense sou agterna lees wat sy skryf nie, hoewel sy graag ’n skrywer wou wees. Ingrid Jonker en André Brink se korrespondensie was sekerlik aanvanklik toe hulle vir mekaar geskryf het, nie bedoel om vir almal daar te wees om te lees nie – hoewel die korrespondensie bewaar is. Wat van jou: Hoe het jy die skryf daarvan beleef terwyl jy geweet het andere gaan lees wat jy ervaar? Sit mens ’n wag voor die mond as jy dan praat?

Ek is ’n gebore performer, so ek hou altyd die gehoor in gedagte. Wanneer ek skryf, moet die storie vir my entertaining wees, want as ek binnepret het met die skryf van die storie, sal die leser dit ook voel.

Ek dink jy skryf vrylik en eerlik as jy berig wat jy daar ervaar. Jy lewer kommentaar op alles daar. Dis nie soos ’n dagboek waar mens skryf op hierdie datum het ek hier aangekom en dit was my ontbyt en toe gaan besoek ons ’n besienswaardigheid en dis soos ek dit ervaar het nie. Wat was jou planne, gaandeweg, hoe meer jy geskryf het, met wat jy doen?

Ek wou met elke storie my gevoelens vasvat en weergee. Ek beleef die lewe in hoofletters en ek wou graag hê dat mense my binnewêreld se avonture saam met my sal beleef.

........
Ek wou met elke storie my gevoelens vasvat en weergee. Ek beleef die lewe in hoofletters en ek wou graag hê dat mense my binnewêreld se avonture saam met my sal beleef.
........

Wie is jy en wat is die liefde van jou lewe? 

Ek is. Punt. ’n Mens se lewe is te vol en ryk om dit in ’n boksie te sit met ’n naam op. Die liefde van my lewe is die lewe self. Om alles te ervaar van menswees, die lig, die donker en alles tussenin; dit gee my die grootste vrede.

Ek vra oor die liefde van jou lewe, want ek raai ten minste ’n gedeelte van jou antwoord is: musiek. 

Musiek is baie soos die mens. Dit ís ook. Punt. Vir my is musiek meer as ’n taal. Dit is die siel van die skepping.

Ek het jou skrywes eerste op Facebook en daarna op LitNet gelees. Enkele van jou inskrywings is op LitNet gepubliseer. En daarna het die boek gevolg. Is daar nog skrywes wat op pad is?

Ek dink ek het als gesê wat ek wou sê oor my tyd in Oesbekistan. Wanneer ek ’n nuwe hoofstuk begin in ’n nuwe land, sal die stories weer begin vlamvat.

Mens kan skryf oor om ’n ander in ’n ander land te wees, en dit kan mens vervulling besorg. En tog kan mens ook baie alleen in ’n ander land wees. Dit is egter so dat mens ook alleen in mens se eie land kan wees. Wat is jou ervaring van wat ek hier sê?

Ek het al geleer om baie gemaklik in my eie geselskap te wees, en alleenheid is strate beter as om omring te wees deur ’n ander dam se eende. Om alleen te sit en die wêreld dop te hou is vir my een van die lekkerste tydverdrywe.

Waar woon jy nou en hoekom? Hoe finansier jy jou lewe daar? Gee jy skool, maak jy musiek, doen jy iets anders?

Ek gaan tot Junie 2026 nog in Tasjkent woon. Ek gee klasmusiek vir tieners en ek sing en speel klavier in ’n 80’s-dansorkes.

Dink jy, jy sal ooit weer permanent terugkeer Suid-Afrika toe?

Ek het geen idee nie. Hierdie klip wil aanhou rol.

Wat is die beste dinge daaromtrent om ’n burger van die wêreld te wees, soos wat jy is? En te woon waar jy wil?

Om jou kultuur en jou sin vir humor saam met jou te vat en te sien hoe verskillend en tog eenders ons almal is.

Wat is die moeilikste?

Ek kry soms onverwags heimwee na my familie en my land. Dan luister ek Anneli van Rooyen totdat die trane die heimwee weggespoel het.

Kan mens die lewe ’n oomblik laat stilstaan as mens dit neerskryf? Is dit die waarheid wat mens skryf, of is dit dadelik fiksie?

Wanneer jou leser voel asof sy self die storie beleef, dan word die storie werklikheid vir haar.

Jy bespeel die klarinet en die klawerbord en jy sing. Jy praat baie tale. Hoe verskil die verskillende instrumente en hoe mens moet leer om daardie uiteenlopende registers te bemeester van die aanleer van ’n ander taal?

Musiekinstrumente en tale klink baie romanties, maar vir albei is die proses glad nie romanties nie: Net soos jy moet sit en toonlere oefen vir ’n musiekinstrument, moet jy sit en grammatika leer vir ’n taal. Die mense sien die resultaat soos ’n swaan wat grasieus deur die water gly, maar hulle sien nie die woeste getrap en gesweet onder die water nie.

Kan jy ’n gesprek voer in Oesbek? Is dit bietjie soos Russies? 

O aarde nee. Oesbek en Russies se takke is baie ver uitmekaar op die taalboom. Albei tale is vir my grof op die oor, so ek het geen begeerte om hulle te leer nie. Russe klink heeltyd beneuk as hulle praat, en die Oesbeks se taal is so ver verwyderd van enigiets wat ek ken, dat ek nêrens iets kry om my brein aan te haak nie. Bowendien leer die Oesbeks almal obsessief Engels, so kommunikasie is maklik.

Hoe ervaar jy die politieke situasie waar jy woon? Eers was dit Covid en toe was daar oorlog. Is dit normaal – alles wat so abnormaal klink aan wat ek hier geskryf het?

Oesbekistan is in die middel van nêrens. Min mense kom hiernatoe en min mense verlaat die plek. Dis ’n polisiestaat, so almal hou hulle in, en die mense ken nog die waarde van vriendelikheid en medemenslikheid. Die oorloë en gerugte van oorloë bly maar net gerugte. Die lewe hier gaan ongestoord aan.

Wat bring vir jou sin en vervulling in jou lewe, waar jy ook al bly?

Moeder Natuur. Om na wolke te kyk, langs ’n rivier te loop, die sonlig op my vel te voel en die sneeuvlokkies te sien val bring vir my vrede.

........
Moeder Natuur. Om na wolke te kyk, langs ’n rivier te loop, die sonlig op my vel te voel en die sneeuvlokkies te sien val bring vir my vrede.
........

Waar kan mense jou boek koop en wat kos dit?

R159 by https://www.malherbepublishers.co.za/product/vars-uit-oesbekistan/

Lees ook:

"My lewe in Oesbekistan": Medeklinkers vir Afrika, moltreine, ’n vrat en gebaretaal onder die water

"My lewe in Oesbekistan": Oor tandartsbesoeke, begraafplase, woonstelpret, ryloop en spoeg

"My lewe in Oesbekistan": Die vensters van die siel, Covid en joga

Elders gesien: "My lewe in Oesbekistan" – skoolkonsert, ekstatiese danse, opera en hartsake

"My lewe in Oesbekistan": sirkusse, Botox, melktert en die huweliksnag

Sing jou voorgeskrewe gedigte in die stort

Onderhoude: Liewe Heksie Flower Power

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top