Onderhoude: Liewe Heksie Flower Power

  • 0

Liewe Heksie: Flower Power – 'n amperse pantomime was vanjaar  by die ABSA KKNK 2015 te sien. Goeie nuus vir Kaapse gesinne is dat hierdie  produksie spoedig by die Bellville Stadskouburg speel.

Crystal-Donna Roberts, Emile Minnie en De  Klerk Oelofse het vir Naomi Meyer van hulle rolle vertel.

Crystal-Donna, wie speel jy in Liewe Heksie Flower Power?

Ek speel  die rol van Kwaaitjie Kabouter, 'n bitter haan, en ek is die trotse kopkant van  Griet, die towerperd.

Wat is vir jou lekker van jou karakter en  wat is uitdagend?

Wat ek  lekker vind met Kwaaitjie is als in die naam ... Kwaaitjie. Hy is hierdie nors "know-it-all",  maar hy het ook “likeable” eienskappe. Ek geniet die speelsheid van 'n  kabouterseuntjie speel. Daar’s dinge wat mens met jou liggaam en stem kan  doen wat net so lekker is. Jy voel soos ‘n kind wat met jou niggies en nefies  gespeel het toe julle jonger was. Mens klim weer in daai tyd in en jy gaan weer  in daardie gedeelte van jou brein in.

Die haan  is 'n crazy rol. Hy praat nie juis baie nie, maar wanneer hy wel sy mond oopmaak,  kom jy agter daar is miskien jare se bitterheid wat daar lê. Hy is “no-nonsense  and to the point” ... en as mens daardie eienskappe in 'n haankostuum plaas,  kan dit net pret wees.

Griet is  mos “legendary”, so dit alleen dra groot by tot die lekker daarvan.

Wat is vir jou die belangrikste van jou  karakters?

Met al die  karakters ... die belangrikste in terme van die stuk as 'n geheel en in terme  van die gehoor is rêrig om die gehoor te laat uitstap met 'n breë glimlag op  die gesig. Dit kan mens net bereik deur dit rêrig eerlik te speel, maar eerlik  binne die rame van pantomime. En wat ek nou al besef het, dat energie baie  aansteeklik is. As ons pret het op die verhoog, dan het die gehoor ook  pret.

En dan natuurlik  ... try to create magic ... as akteurs maar ook binne die konteks van die  toneelstuk.

Jy vertolk meestal volwasse karakters in  heelwat donkerder en hartseerder dramas. Watter rolle geniet jy die meeste en  hoekom?
 

Ek  geniet eerlikwaar alle tipes rolle, veral die soort wat ek nog nie vertolk het  nie. Ek sien uit na wanneer ek regte volwasse vrouekarakters gaan vertolk. 'n  Ma met vyf kinders wat op die stoep sit en rook want haar kinders en haar man  gee haar nonsens. Sulke tipes rolle. 

Emile Minnie! Toe Margit vertel Flower  Power is "Liewe Heksie op acid", toe wonder ek hoe skryf mens  musiek hiervoor. Verklap asseblief jou geheime.
 

Geheim nommer 1: Trek silwer sequined boots aan en gaan sit  voor jou klavier.
 

Geheim nommer 2: Omring jouself met die Liewe Heksie-span.
 

Geheim nommer 3: Haak geheel en al uit.
 

Maar hoe kry  mens dit reg dat almal in die familie na dieselfde musiek wil luister?
 

Music makes the world go round. Ouma kan haar tone wikkel op  ‘n hande-in-die-lug-poptreffer, en kleinsus kan bewoë raak op ‘n meesleurende  Elton John-ballade. Musiek spreek van die hart tot die hart. Ouderdom is  irrelevant.
 

Onthou jy Ballade vir ‘n Enkeling, die TV-reeks?  Toe Die Heuwels Fantasties die temalied herskryf het, het hulle steeds hulde  gebring aan Richard van der Westhuizen se oorspronklike lied. Noem jy die  karakter steeds Liewe Heksie? Is Levinia steeds haar naam? Of perm jy haar hare  met jou musiek, trek jy haar aan in ‘n neonkleurige jassie met wat jy sing?
 

Daar verwoord jy dit pragtig. Heksie behou haar karakter,  maar sy kry beslis ‘n musikale make-over.
 

Moet die  gehoor hulle sangstemme saambring vir die geleentheid?
 

Die gehoor dans op ‘n kol saam, en hulle gil spontaan  wanneer die Geelheks die silwerroos wil steel. Doen maar ‘n strekoefening of  twee voor jy die show kom kyk. En sluk ‘n sjerrietjie vir die keel.

De Klerk, wie speel  jy in Liewe Heksie Flower Power?

Hi  Naomi. Ek vertolk die rolle van Blommie die Kabouter, Borrie en Kerrie (die  gifappels,  terselfdertyd), Liewe Lotta (die  Feëkoningin se bysiende “Lady in waiting”) en Griet die perd (se agterkant).

Wat is vir jou  lekker van jou karakter en wat is uitdagend?

Wel,  Blommie is lekker, want hy wil eintlik net hê almal moet 'n lekker tyd hê en loop  self ook die heeltyd met 'n smile op sy bakkies rond. Borrie en Kerrie is vir  my nogal 'n uitdaging omdat ek hulle albei op dieselfde tyd speel. Buiten dat  ek aan elkeen 'n fisikaliteit en stem moes gee, moet ek ook kop hou met wie ek  op watse stadium is. Dit als gesê, is die truuk met hulle twee eintlik om na “mekaar”  te luister, want dan kom die ritme natuurlik. Lotta is 'n absolute fees om te  speel! Sy storm net in en doen haar ding terwyl die Feëkoningin konstant haar  irritasievlakke toets met haar opdragte. Baie mense sou dink dat Griet se  agterkant my blaaskans in die stuk is, maar ek moet mooi kop hou om die lyf by  die kop te hou. (Sien jy wat ek bedoel?!)

Wat is vir jou die  belangrikste van jou karakter in Flower  Power?

'n  Karakter soos Blommie sou ek sê is baie funksioneel van aard: hy is 'n baie  bekende figuur uit die oorspronklike stories en in ons stuk is hy belangrik in  terme van die set-up van ons handeling. Dis vir my nogal 'n mooi oomblik as hy  so opreg vir Heksie gaan troos nadat Koning Rosekrans met haar geraas het.

Borrie  en Kerrie is natuurlik die Geelheks se dom handlangers. Ek dink omdat die een  dom is en die ander een glo hy is nie, is daar potensiaal vir lekker komedie.  Die hartseerste ding aan die twee is waarskynlik hulle “looks”!

Lotta  is ook nou nie juis iets vir die oog nie ... Maar ek veronderstel dis een van  die dinge wat mense die meeste van haar geniet. Sy het haar hartseer oomblikke  in die versugtingslied, maar sy draai nie doekies om nie en haar snaaksste  oomblik is seker as sy die Feëkoningin aansê om vir 'n slag haar eie kos te  proe!

Griet  se agterkant se hartseerste oomblik is die feit dat niemand ooit sal weet dis  ek nie. Ek speel my hart uit aan die agterkant van daai perd en niemand weet  dit nie. Haha. Die snaaksste is seker dan maar as die Geelheks haar onder die  perd se stert bevind!

Jy vertolk meestal  karakters in volwasse dramas. Watter rolle geniet jy die meeste en hoekom?

Hierdie  antwoord is dieselfde as die een wat ek gee as mense my vra wat my gunsteling-seisoen  is. Ek het nie voorkeure nie – elkeen is anders en ek geniet elkeen vir wat hy  is. As dit 'n sekere seisoen is, rus die onus op jou om die beste daarvan te  maak. Elkeen het sy eie uitdagings en soos seisoene is geen twee karakters ooit  dieselfde nie. Liewe Heksie: Flower  Power speel byvoorbeeld in Blommeland af – hoe dan anders as om 'n klomp  lentekarakters te skep!

Liewe Heksie Flower Power
Bellville  Stadskouburg: 19-31 Mei –  vertonings om 19:00 en Saterdae ook om 14:00 en Sondae om 15:00.

  Kaartjies vir  volwassenes kos R100 en kinders onder 16 betaal R75.

  Kaartjies  beskikbaar by Computicket.

  Navrae:  021 979 1911 / carnav@mweb.co.za

Ondersteun deur  kykNET, Absa KKNK, Hiemstra Trust, TygerBurger,  Hollywood Costumes, Hannon, Minuteman Press

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top