Moeg om vervelige gedigte uit jou kop te leer? Emile Minnie, sanger, liedjieskrywer en kunstenaar, het aan 'n plan gedink wat sal maak dat leerders hul gedigte nie uit hulle koppe kán - of wíl - kry nie. Naomi Meyer het hom hieroor uitgevra.
Emile, ek lees in JIP jy het voorgeskrewe gedigte getoonset. Wonderlike manier om te leer: sing die gedigte wat jy moet ken. Hoe het jy op die idee gekom?
Idees teel aan in my kop soos sywurms in ‘n moerbeiboom. Ek is die heeltyd aan die dink oor nuwe maniere om ‘n inkomste uit my musiek te maak. Ek het met onderwysers gesels en besef daar is ‘n mark vir ‘n CD wat as hulpmiddel in die letterkundeklas kan dien. Toe ek die idee met ‘n paar onderwysers bespreek, het hulle geesdrif my aangespoor om dadelik aan die werk te spring.
Kan leerders jou CD, Spore op die Maan, koop en regtig voorberei vir die eksamen? Met ander woorde: Is hierdie gedigte vir 'n rukkie lank voorgeskryf, of hoe werk die sillabusse deesdae?
Die finale sillabus moet nog bekendgemaak word, maar ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat die voorgeskrewe graad 12-gedigte gaan bly tot einde 2014.
Vertel sommer vir al die leerders wat belangstel in woorde én in musiek of jy sou aanbeveel dat hulle beroepe in die vermaaklikheidswêreld sal oorweeg ... Of eerder prakties: Wat moet hulle doen en wat moet hulle nie doen nie?
Om voltyds musikant te wees is soos om op die water te loop. Jy kyk net vorentoe en jy “fake it till you make it”. En elke einde van die maand is jy totally verstom dat jy actually die rent betaal het. En elke 1ste van die maand dink jy: OK, hoe genereer ek hierdie maand ‘n inkomste? Jy dink heeltyd op jou voete. Jy beplan heeltyd jou volgende move. Jy’s heeltyd aan die hustle. Jy begin elke maand van scratch.
Totally scary, challenging en exciting.
Jy moet hare op jou tande hê, en jy moet bereid wees om te waag.
Dis nie vir almal nie.
As jy sekuriteit soek, is dit nie aan te beveel nie.
Wenk: Kry soveel moontlik ervaring in alle aspekte van jou loopbaan, en dink tien keer voor jy jou handtekening op enigiets sit.
Die "Spore op die maan"-CD kan bestel word deur 'n e-pos te stuur na info@emileminnie.com. Die koste is R130 (CD en posgeld ingesluit). |