
Prent van gebou: erkenning aan Salohiddin Kamolov op Unsplash; foto van Emile Minnie: verskaf
Emile Minnie is ’n Suid-Afrikaanse musikant wat in Oesbekistan woon. Hy skryf al ’n geruime tyd op Facebook oor sy ervarings in dié land. Die bydraes het onder die LitNet-redaksie se aandag gekom en hy is versoek om daarop uit te brei. Hier onder verskyn die vierde van ’n reeks Elders gesien-bydraes uit Emile se pen.
- Svetlana
Ek het haar al by ’n paar hippie-paarties in Tashkent gesien: seker so in haar middelsewentigs, met lang, wit hare wat my aan my ouma laat dink. Maar dis waar die ooreenkoms brieke aandraai, want hierdie antie het die gees en die woema van ’n Duracell-hasie met ’n splinternuwe stel batterye. Sy lewe nie net nie, sy borrel.
Wanneer die musiek begin speel, is sy heel eerste op die dansbaan, die ekstase helder in haar glimlag. Wanneer sy ’n bekende sien (en sy ken omtrent almal) omhels sy daai een met soveel liefde en omgee, mens sou sweer almal is haar langverlore kinders wat huis toe kom. Hierdie vrou is ’n inspirasie. Hulle sê sy het in die berge in Mongolië by ’n sjamaan gaan leer hoe om mense gesond te maak met musiek en kruie. Orals waar sy gaan vat sy ’n spesiale trom saam wat sy uithaal en speel terwyl sy dans. Haar blou oë blink met soveel lewensenergie dat sy alles en almal om haar inkleur met reënboë van lig. As dié vrou ’n perd gery het, was dit beslis ’n unicorn.
Ek en Minas maak gisteraand musiek by ’n paartie onder die sterre. Mense dans dat die stof so staan. Ek sien die energieke tannie tussen al die mense, en sy glimlag vir my. Die musiek wat ek maak, maak ek in in daardie oomblik nét vir haar. Sy maak haar oë toe, en ek kan sien sy voel elke noot wat ek vir haar speel. My hart is vol liefde, en ek stuur al die liefde op musieknote na haar toe. Wanneer die musiek ophou, sit sy twee vingers in haar mond en fluit kliphard. Die mense juig, en my hart juig saam.
Later die aand gaan maak ek met haar kennis, en ek vra haar of ek ’n foto van haar mag neem. Sekerlik, straal sy, en sy stel haarself voor met ’n ferm handdruk. Svetlana.
- Fiets
In Oesbekistan ken almal hulle plek, en almal hou hulle in. Krete, gille en ’n geskater word bitter min gehoor, indien ooit. Dit geld ook vir fietsryers. Hier bly jy in jou spesiaal geteerde fietsrybaan, en ry jy reguit huis óf werk toe. Geen ompaadjies word geduld nie. As ’n voetganger dit waag om sy voet in jou baan te sit, lui jy beleefd jou klokkie, en daai voet verdwyn summier, terug op sy eie paadjie.
...........
In Oesbekistan ken almal hulle plek, en almal hou hulle in. Krete, gille en ’n geskater word bitter min gehoor, indien ooit. Dit geld ook vir fietsryers. Hier bly jy in jou spesiaal geteerde fietsrybaan, en ry jy reguit huis óf werk toe. Geen ompaadjies word geduld nie. As ’n voetganger dit waag om sy voet in jou baan te sit, lui jy beleefd jou klokkie, en daai voet verdwyn summier, terug op sy eie paadjie.
...........
Gister is ek flink per fiets op pad huis toe. Skielik hoor ek ’n gil agter my, en ’n ou man op ’n fiets jaag verby my. Soos hy verbykom, ruik ek net vodkawalms. Maar daai man is op ’n mission. Al trappend gil hy vir elkeen wat dit durf waag om in sy fietsrybaan te loop. “Skoert, student!” gil hy, ongeag die oortreder se ouderdom. Mense laat spaander; ’n jong vrou met ’n baba maak haar haastig uit die voete; ooms en tannies kyk verskrik na die gevaarte op sy fiets, en maak hulle dadelik uit die voete.
Ek geniet elke oomblik van hierdie chaotiese affêre, en ek ry al laggend agter die histeriese man aan. Sy malheid is aansteeklik. Wanneer ek hom verbyvat, gil ek vir hom in Afrikaans en Spaans deurmekaar: “Kom Pappie, trap daai fietsie van jou! Ariba, ariba!” Hy skree terug in Russies, en so hits ons mekaar aan soos twee waansinniges.
Ek kom papnat gesweet by die huis, vol vrolikheid en binnepret, dankbaar dat daar Oesbeke is wat ’n bietjie mal is, al vat dit ’n paar glase vodka om die mal uit te laat.
- Somsa
Dis ’n triestige dag in Tashkent. Ek stap deur plasse water, verby winkels wat als verkoop, van kar-onderdele tot panties. Die honger begin knaag, en ek stop by ’n straatkafee wat Oesbekiese pasteie verkoop. Somsa. Dit lyk soos ’n Mama’s Pie in die vorm van ’n waterdruppel. Die somsa-maker sit twee somsas in my bord, en ek gaan sit aan by ’n klein tafeltjie saam met twee Oesbeke. Die plekkie is beknop, so jy gaan sit waar jy ’n oop stoel sien.
Die somsa proe heerlik. Mama’s Pies kan hulle droë pasteie agterna gooi. Hierdie somsa het ’n bros kors en ’n smulsagte magie. Te lekker. Die twee manne wat saam met my aan tafel sit sê nie ’n woord nie. Een lyk soos Tommy Lee Jones. Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir Tommy, en ek glimlag mooi vir hom. Ek weet nie of dit my glimlag is wat hom inspireer en of dit blote Oesbekiese goedgemanierdheid is nie, maar Tommy Lee roep die kelnerin om vir my ’n teekoppie te bring. Dan skink hy vir my ’n koppie tee uit die antieke termosfles wat op die tafel staan. My hart glimlag van oor tot oor. Die alledaagse goedhartigheid van hierdie nasie tref my altyd soos ’n sonstraal wat deur die reënwolke breek. Ek hervat my wandeling deur die strate op hierdie grys dag, maar in my gees is dit ’n helder sonskyndag.
- Ecstatic Dance
Hier in Oesbekistan, omring deur strak gesigte en suurknolle, eindig ek gereeld op saam met die plaaslike hippies. Hulle is vry van gees en glimlaggend van gemoed. Ek en Minas drink tee, maak musiek, en die hippies lag oopmond en dans toe-oë. Gisteraand se episode het egter die storie na ’n hele ander vlak gevat.
...........
Hier in Oesbekistan, omring deur strak gesigte en suurknolle, eindig ek gereeld op saam met die plaaslike hippies. Hulle is vry van gees en glimlaggend van gemoed. Ek en Minas drink tee, maak musiek, en die hippies lag oopmond en dans toe-oë. Gisteraand se episode het egter die storie na ’n hele ander vlak gevat.
.............
Hierdie keer word ek genooi na ’n danspartytjie met ’n kinkel: sogenaamde Ecstatic Dance. Geen polsende ligte en dawerende musiek nie. Feetjieliggies, sagte matte en plomp Oosterse kussings omskep die dansvloer in ’n toweragtige landskap. In ’n hoek sit musikante en speel saggies op vreemde instrumente. ’n Meisie met hare wat lyk soos graspolle nooi ons om in ’n sirkel te kom sit. Dis net vrouens. Ek is die enigste man. Sy brabbel vir ’n ruk in Russies, dan staan sy op en begin met toe oë te wieg op die maat van die musiek. Ons almal volg haar voorbeeld. Ek voel ongemaklik. Hier staan en wieg ek saam met ’n klomp weird meisies op die maat van volksvreemde musiek, en hier is nie eens ’n druppeltjie vodka om my te help ontspan nie. Maar ek druk deur. Ek fokus op die musiek, en probeer om my ledemate in harmonie te bring met die ritme.
Nes ek begin rigting kry, sug ’n meisie kliphard langs my. So ’n diep sug wat klink of hy al jare aankom. Ek kyk verskrik vir haar, gereed om te help waar ek kan. Maar die meisie is fine. Elke paar minute laat sy so ’n sug los. Dis deel van haar dans. In ’n ander hoek is daar ’n poenskopmeisie in gestreepte pajamas wat effe epilepties lyk. Nog ene hou nonstop aan tiekiedraai. Elkeen is in haar eie wêreld, salig onbewus van my wat hulle so beloer. Ek besluit om dit ook te probeer. Ek maak my oë toe, en ek gee myself oor aan die musiek. Eers net ’n bietjie wieg, later die heupe begin swaai, en toe ek weer sien, is ek hande in die lug aan die boogie. Mens sou sweer ABBA is op repeat op die draaitafel.
Later gaan lê ek op een van die sagte kussings, en ek dryf weg op die golwende klanke. Toe ek bykom, voel ek verkwik, gelawe en dankbaar vir die vrye geeste in hierdie gebonde land.
- Skoolkonsert
Om vir ’n spul bedorwe rykmanskinders musiek te gee in ’n land waar musiek en musikante nie veel aansien geniet nie, is maar ’n uitdaging. Ek het grootgeword met eisteddfods, kunstefeeste en koorkompetisies, waar elke kind, ongeag sy talent, die kans gegun is om saam met ander kinders musiek te maak. Musikante is gerespekteer en musiek was heilig.
Hier in Oesbekistan word musikante in dieselfde lig gesien as paaldansers: effe eksoties, maar beslis nie iemand wat jy sal nooi vir tee nie. Hoekom ek in die eerste plek aangestel is om musiek te gee, gaan my verstand te bowe, maar hier is ek nou, en die werk moet gedoen word.
............
Hier in Oesbekistan word musikante in dieselfde lig gesien as paaldansers: effe eksoties, maar beslis nie iemand wat jy sal nooi vir tee nie. Hoekom ek in die eerste plek aangestel is om musiek te gee, gaan my verstand te bowe, maar hier is ek nou, en die werk moet gedoen word.
.............
My eerste paar maande in die tuig was natuurlik pure hel. Die kinders was onwillig, ongemotiveerd en onbekwaam om selfs ’n driehoek te bespeel, en ek moes ’n manier kry om hulle oor te wen. Van Bach en Beethoven wou hulle niks weet nie. Al wat hulle wou doen, is selfies neem en op TikTok wees. En net daar het die lig vir my opgegaan. Laat hulle hulle eie musiek speel. Leer vir hulle die popliedjies wat húlle luister. En voilà! In ’n japtrap was die kinders opgewonde oor hulle musiek en lus vir musiekmaak. Nou speel ons Billie Eilish en Taylor Swift. Dis nou wel nie serenades en simfonieë nie, maar ten minste is die dae van lang lippe en suurknolle in my klas verby. Deesdae geniet almal, ek inkluis, die klasse.
Die hoogtepunt was laas week se jaarlikse skoolkonsert. Elke klas het ’n liedjie gekies en dit vir die skool gesing. Ek het van agter die klavier die storie begelei en saamgesing. Hier en daar moes ek terughou, want ek wou-wou net die show oorvat. Dit was ’n fees. Die kinders het uit volle bors konsert gehou, en dit het vir my gevoel ek is terug op die KKNK se verhoog, in my element, tokkelend op die klawers en uitbundig aan die sing. Aan alle konserthouers en paaldansers in die wêreld wil ek sê: Doen so voort. Julle is goud werd.
- Rahimjon
’n Ruk terug word ek genooi na ’n verjaarsdagpartytjie in Tashkent se botaniese tuin. Ek was nie baie lus om te gaan nie, maar op nommer 99 zip ek my partytjie-gemoed aan, en gaan drink saam tee en eet koek.
In ’n hoek sien ek ’n knaap met ’n tipiese Sentraal-Asiatiese gesig: Oosterse oë, Westerse lippe, pikswart hare. Maar daar was iets aan hom wat hom anders gemaak het – ’n gelatenheid, ’n glimlag wat gesê het: Die lewe is nou wel nie ’n lied nie, maar kom ons sing anyway. Ek het my aan hom voorgestel, en ons het begin praat. Oor flieks, boeke, filosofie. Die volgende dag het ons ontmoet vir middagete, en die gesprek het aangehou, land en sand. Daar was ook vele stiltes; gemaklike stiltes op ’n parkbankie, waar ons net sit en die mensdom dophou. Karaoke het gevolg – kliphard aan’t treffers uitbasuin in Engels en Oesbekies. Hy speel kitaar en ek speel ukulele, so ons het begin om ure lank saam musiek te maak en tee te drink.
Om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees is soms ’n eensame pad, maar die droewe droogte is nou gebreek. Ek het ’n vriend gemaak, en alles is nou beter. Dankie, Rahimjon.
- Stoeiklas
Ek geniet ’n gimsessie op sy tyd. ’n Bietjie touspring en ’n paar optrekke is genoeg om die hart aan die klop te kry en die endorfiene te laat vloei. Mens het egter variasie nodig, en vir ’n change of scenery besluit ek om aan te meld vir ’n stoeiklas. Hoe moeilik kan dit wees? wonder ek. Jy leer ’n paar stoeitegnieke, en daar gaat jy.
Die eerste les is gratis. Ek sluit aan by die groepie wat om die kryt draf om op te warm. So far, so good. Ons groepie bestaan uit ’n mengsel van jonges en middeljariges, langes en kortes, en ’n potjierol. Ons word aangesê om vorentoerolle op ’n oefenmat te doen. Die instrukteur praat net Russies, so ek is effe verlore, maar ek volg die trop. Die vorentoerolle verloop volgens plan, maar dan begin dinge ontspoor. Die instrukteur blaf nog iets in Russies en skielik begin almal agteroorrolle doen wat eindig met ’n kopstand. Ek het in my dag des lewens nog nooit agteroor gerol óf ’n kopstand gedoen nie, so ek bly by vorentoerolle terwyl die res agteroor rol en op hulle koppe staan soos Olimpiese kampioene. Selfs die potjierol kry dit reg. Dan volg nóg blafgeluide van die instrukteur, en nóg posisies wat my skoon skeel laat kyk. Ek hou aan vorentoe rol terwyl die aksie om my al hoe meer gimnasties raak. Die trop kyk my verdwaas aan, maar ek hou aan. My avontuurlus vir stoei raak minder met elke rol.
Wanneer die stof genadiglik gaan lê, maak ons ’n sirkel om die instrukteur. Elkeen kry ’n spanmaat. My spanmaat is lank, dun en bebril. Die instrukteur het nou ’n handlanger, en hulle twee demonstreer die mees ingewikkelde choreografie denkbaar om jou opponent te oorrompel wanneer hy jou om die heupe gryp. Wie gaan jou ooit om die heupe gryp? wonder ek, maar ek hou fokus. Die choreografie behels ’n reeks bewegings so ingewikkeld, my brein gaan staan ná die eerste beweging. Die instrukteur vra ’n gespanne meisie om vir my te tolk, maar my brein wil niks weet nie. Ek haak vas by die eerste stap en bly net daar. Skielik gryp my spanmaat my om die heupe, maar ek weet nie watter kant toe nie. Ek is so verbouereerd, ek vergeet selfs wat stap nommer een was. En daar staan ek met ’n Oesbeek se arms om my heupe en ’n gevriesde brein. My spanmaat se wang is nou teen my heup en sy bril sit skeef. Hy gil instruksies, maar ek is verlore. Die instrukteur en die gespanne tolk staan nader om raad te gee, maar ek hoor niks.
Toe die ergste verbouereerdheid gaan lê, maak ek my so spoedig moontlik uit die voete, en gaan direk na my gim toe vir ’n endorfienbelaaide sessie met die bekende, beminde springtou. En ’n paar optrekke.
- Opera
In Oesbekistan is die standaardlengte van ’n vrou se rok die volle lengte. ’n Enkel word selde gewaar, en ’n kuit nog minder. Of dit nou snikheet of ysig koud is, daai soom lig nie ’n aks van die grond af nie.
Een Sondag bevind ek my in die Tashkent-operahuis. Als is rooi: van die matte, verby die gordyne, tot by die dak. Net die pilare lyk of hulle met foelie oorgetrek is. ’n Oesbeek glo mos as ’n ding kán blink, dan móét hy blink.
Die opera is La traviata. Die orkes onder in die ruim maak aanvaarbare geluide, en die sangers vaar nie te sleg nie. Dan verskyn Violetta. Ruim van boesem en skril van stem neem sy posisie in en doen entoesiasties haar deel vir volk en vaderland. Haar bates is bedek met ’n bloedrooi rok met meer valle as die Victoria Falls, maar as gevolg van al die rooi om my, smelt sy effe saam met die res van die gebou. Ek hoor haar meer as wat ek haar sien. Sy dreun en ratel, sy hyg en vibreer, maar die gehoor is nie juis beïndruk nie (dalk as gevolg van die saamsmelt-effek) en haar eerste aria word begroet met ’n flou applousie.
Maar dan verander daai vrou van rat, en begin sy haar rok swaai asof sy die can-can herontdek. Wulpser en wulpser swaai sy, hoër en hoër klim daai rok teen haar bene op, en soos die rok Violetta se been bestyg, so styg die temperatuur in daai saal. Die opera, die orkes, als is nou vergete. Man en muis se oë is vasgenael op die stygende rok, en die sagte, wit, langerwordende been. Uiteindelik kom die onderste val van die rok uitasem tot ruste hoog op teen haar binnebeen. ’n Paar skaamhare loer ondeund uit. Daai klomp Oesbeke snak soos een man na hulle asem. Ma’s druk hulle kinders se oë toe en oumas se oë dop skoon om in hulle kaste. Die skokgolf van die ontblote bobeen (plus) skiet soos weerligstrale deur die operahuis. Vrouens trek kuis hulle enkellengte rokke reg, en mans dank in die stilte hulle sterre vir hierdie meevallertjie.
Ná die tyd is ek skoon uitasem van al die bobeen-opwinding, en ek gaan wandel deur die strate van Tashkent. Ek is omring deur bene: slankes, volrondes, en als tussenin, maar elke paar bene word streng bewaak onder ’n vreeslose, onwrikbare, vollengte rok.
- Hartsake
’n Ruk terug begin my hart vreemde goed doen: hy begin om onreëlmatig te klop. “Knit one, slip two”, soos my ma sou sê. Hier ’n klop, daar ’n klop, en tussenin ’n vreemde, ongekende stilte. Asof die tromspeler in my lyf se orkes elke nou en dan sy tromstokkie laat val. Die vreemde ritme in my borskas maak my natuurlik vreeslik benoud, so elke keer wanneer my hart se tromspeler weer die tromstok in die hand het, tokkel hy daai tamboer op ’n drafstap, en klim my hart amper by my keel uit.
Ek gaan eers na my dokter toe. ’n Gawe vrou met slim oë. Sy vra my hoe lanklaas ek met iemand intiem verkeer het. Sy sê ’n vrou kan klaarkom daarsonder, maar ’n man se liggaam pak op sonder ’n bietjie patla-patla. Skielik lyk sy nie meer vir my so slim nie. Sy verwys my na ’n spesialis.
Die hartdokter is rustig en informeel. Hy sê hulle gaan ’n instrument in ’n aar in my binnebeen moet opdruk tot by my hart om dan ’n deeltjie van die hart te brand. Maar eers sal hy ’n sonar van die hart moet doen.
Teen dié tyd is ek histeries. Die tromspeler in my borskas speel ’n AC/DC medley teen maksimumspoed. Maar ek hou my koel. Ek gaan lê op my sy, en ’n ander dokter staan nader om die sonar te doen. Haar hande is sag en warm. Sy sit haar arm om my lyf, en druk die sonar teen my bors. Skielik verlaat al die spanning my. Die aanraking van ’n ander mens bring ’n kalmte oor my wat ek lanklaas geken het. My deurmekaarbonsende hart raak skielik rustig en reëlmatig. Ek raak amper aan die slaap van die ongekende kalmte wat my oorval.
En so word daar besluit dat ’n operasie nie nodig is nie. Al wat ek kort is ’n bietjie menslike warmte. Die dokter met die slim oë was toe al die pad reg. Die voorskrif is ’n dubbele dosis patla-patla.
Lees ook:
"My lewe in Oesbekistan": Oor tandartsbesoeke, begraafplase, woonstelpret, ryloop en spoeg
"My lewe in Oesbekistan": Medeklinkers vir Afrika, moltreine, ’n vrat en gebaretaal onder die water
"My lewe in Oesbekistan": Die vensters van die siel, Covid en joga