"My lewe in Oesbekistan": Die vensters van die siel, Covid en joga

  • 5

Foto van Khiva: https://pixabay.com/photos/khiva-city-cityscape-old-198685/; foto van Emile Minnie: verskaf

Emile Minnie is ’n Suid-Afrikaanse musikant wat in Oesbekistan woon. Hy skryf al ’n geruime tyd op Facebook oor sy ervarings in dié land.  Die bydraes het onder die LitNet-redaksie se aandag gekom en hy is versoek om daarop uit te brei. Hier onder verskyn die derde van ’n reeks Elders gesien-bydraes uit Emile se pen.


  1. Lola

Die vrou wat die baanbesprekings by die plaaslike tennisklub hanteer, is ’n regte suurknol. Soos ’n droë kaktus sit sy agter haar lessenaar, en wanneer mens haar vra om ’n baan te bespreek, laat sy jou altyd voel asof jy haar gevra het om drie sakke aartappels te skil. Dit sug en rol die oë, nes ’n melodramatiese aktrise, en met oordadige en duidelike moeite word ’n boek nadergetrek en ’n nota gemaak. Sy laat my altyd voel soos ’n stout kind, en dit steek my al maande lank dwars in die krop.

Ek het al probeer om my in haar skoene te sit. Sy is dalk ’n mislukte Oesbekiese tennisster wat in ’n vaal kantoor beland het, en dag na dag gaan die lewe haar verby, en word sy valer en gryser, onbemin, onaangeraak deur kind of kraai, meestal geïgnoreer, behalwe as iemand ’n baan wil bespreek.

Gister het ek ’n rowwe dag by die werk, en ek besluit om my frustrasies teen die muur te gaan uitslaan. Maar eers moet ek ’n bespreking maak by die kaktus. Ek klop beleefd aan die deur, en groet haar vriendelik. Sy kyk my kwaai aan. Ek besluit om deur te druk, en vra of ek asseblief ’n bespreking kan maak. Net daar trek daai vrou los met ’n monoloog, mens sou sweer sy gee haar laaste show by die KKNK. Ek verstaan natuurlik niks van die Russies nie, maar aan die skouerrolle, oogrolle en woede wat in my rigting kom, vermoed ek dat ék die rede is vir hierdie performance. En net daar gee iets binne my mee. Ek begin op daai vrou te gil. In Afrikaans. Hoe dúrf sy my met soveel disrespek behandel? Wat het ek óóit aan haar gedoen om sulke slegte behandeling te verdien? Maande en maande se frustrasie borrel oor, en ek sê vir daai vrou presies hoe ek voel oor haar gedrag. In my moedertaal. Ek sluit af met ’n sin in gebroke Russies: U is ’n slegte voorbeeld vir Oesbekistan. Sy kyk af en staar vir haar lessenaar. Ek kan nie uitmaak of sy huil of lag nie, maar ek is só woedend, ek gee nie om nie. Ek stap bewend huis toe. By die kafee koop ek iets. Die kafee-eienaar vra my hoe dit gaan. Ek kan nie praat nie. Warm trane brand in my oë.

.............
By die huis gaan sit ek en afkoel, en met die kalmte kom die insig: Daai vrou en ek is in presies dieselfde bootjie. Ons is elkeen vasgevang in ons eie kamertjie. Dag na dag gaan die lewe by my verby, en word ek valer en gryser, onbemin, onaangeraak deur kind of kraai, meestal geïgnoreer, behalwe as iemand ’n musiekles wil hê.
...............

By die huis gaan sit ek en afkoel, en met die kalmte kom die insig: Daai vrou en ek is in presies dieselfde bootjie. Ons is elkeen vasgevang in ons eie kamertjie. Dag na dag gaan die lewe by my verby, en word ek valer en gryser, onbemin, onaangeraak deur kind of kraai, meestal geïgnoreer, behalwe as iemand ’n musiekles wil hê.

  1. Jogadag

Dis Nasionale Jogadag in Oesbekistan. Die sentrale stadspark is omskep in “tie-die-city”. Dis net kleurvolle lappe, linte, hippies en sandale waar jy kyk. Ek dink dit gaan nie soseer om die joga-strekke en posisies nie, maar meer om die kans om die kettings van die konserwatiewe af te skud, al is dit net vir een dag in die jaar.

Ek sit backstage en wag om saam met Minas te perform. ’n Meisie in ’n vormlose blou rok klim op die verhoog. In die gehoor staan tien tannies en ’n brandmaer meisie. Die tannies lyk almal of hulle ’n Nataniël middag-show by die KKNK gaan kyk. Los, geblomde bloese en netjiese sandale. Die maer meisie is in spandex. Almal behalwe die maer meisie lyk skepties. Hulle loer ongemaklik vir mekaar terwyl die meisie op die verhoog begin om snaakse klanke met haar stem te maak. Dit klink of sy opwarm vir iets groots. Die maer spandex-meisie se oë is toe en sy wriemel haar lyfie soos ’n kobra in ’n rietmandjie wat vir die eerste keer ’n klarinet hoor.

Dan skop die beat in. Die girl op die verhoog begin die mees akrobatiese toertjies met haar stem te doen. Amper soos “Koningin van die Nag” met ’n disco beat. Tussendeur doen sy pikante sprongetjies in haar blou rok. Ek is gehipnotiseer. Haar stem en haar bewegings maak dat mens heeltyd net vir haar wil kyk. Wanneer ek uiteindelik weer vir die gehoor kyk, lyk die prentjie heeltemal anders. Die KKNK-tannies lyk soos wafferse rave-dansers. Hulle oë is toe en hulle lywe swaai gemaklik saam met die musiek. Weg is die gespanne loerdery. Hierdie girls is nou in die “moment”, en hulle páártie. Die dansers word al hoe meer, totdat dit ’n skare van vrye geeste word wat met totale oorgawe saam dans, heeltemal bevry van konserwatiewe kettings.

..............
Die dansers word al hoe meer, totdat dit ’n skare van vrye geeste word wat met totale oorgawe saam dans, heeltemal bevry van konserwatiewe kettings.
Al is dit net vir een dag in die jaar.
................

Al is dit net vir een dag in die jaar.

  1. Mantra Jam

Een middag nooi Minas my saam na ’n “Mantra Jam”. Ek het nie ’n cooking clue wat dit is nie, maar met Minas vra jy nie vrae nie. Jy sê net ja en jy klim in die kar, want met Minas is jy altyd in vir ’n ding.

’n Halfuur later sit ek plat op my boude op ’n oranje matjie in ’n klein saaltjie. Om my sit nog mense, elkeen op sy eie oranje eilandjie. In die middel van die saal sit ’n pragtige jong dame wat lyk soos Kylie Minogue. Ook plat op die vloer. Haar blonde hare is in ’n bolla met ’n silwer lint. Sy dra ’n waterblou sari met silwer blinkers wat heeltyd soos waterdruppels in die sonlig skitter. Agter haar sit-lê ’n man wat lyk soos ’n seerower en tokkel liggies op ’n kitaar. Drie tienerseuns sit in ’n ry voor waterdruppel-Kylie. Hulle lyk soos die rhythm section, want elkeen hou ’n ander eksotiese perkussie-instrument vas. Voor Kylie op die vloer staan ’n trekklavier in die vorm van ’n klein tafeltjie. Die blaasbalk van die trekklavier is ’n tipe van ’n laaitjie in die tafel. Kylie werk daai blaasbalk met een fyn gecutexde handjie, en met die ander handjie speel sy akkoorde. Ek is stomgeslaan. Dan begin sy te sing. Hemelse klanke sweef uit haar keel en streel my ore. Die seerower op die kitaar kom by en begin die mees funky basnote te speel. Die ritme-trio skop in en daar gebeur die mees meesleurende musiek. Reg voor my oë.

Ná ’n ruk begin Kylie en haar orkes al hoe sagter te speel. Kylie wikkel die blaasbalk-laaitjie vir ’n laaste noot, dan skuif sy al glinsterend eenkant toe. Daar daal ’n stilte oor die saal neer. Ek voel aan Kylie was net die opening act. Ons maak ons gereed vir die hoofvertoning.

’n Man verskyn in ’n oranje toga. Hy stap glimlaggend deur die mense. Die liefde straal uit hom uit soos sonlig. Hy het die forse liggaamsbou van ’n rugbystut, die oop gesig van ’n eerstejaarstudent, en die sagte hande van ’n bakker. Ek kan voel hoe styg die temperatuur in die saal met die gesamentlike aanskou van hierdie wese. Hy gaan neem stelling in agter die tafel-trekklavier. Met ’n hand wat ’n bol vetkoekdeeg tot trane kan bring begin hy ook om die blaasbalk-laaitjie te bewerk. Mense wieg saam op sy ritmiese bewegings. Ons is gehipnotiseer deur sy aura en die liefde wat uit hom uit straal. Dan begin hy sing. Eers sag en teer, asof hy troos bring vir ’n leeftyd se hartseer, dan harder en harder. Met meer en meer woema en vreugde vul hy daai saaltjie. My oë is toe. Ek vergeet heeltemal van die laaitjie, die seerower en Kylie se rok. My siel duik soos ’n dolfyn deur die golwe van geluk en saligheid wat om my spoel. Tyd gaan staan. Al wat saak maak, is die vreugde in hierdie heilige oomblik.

Die musiek word sagter, my oë gaan oop. Mense loop half-bedwelmd uit die saaltjie uit. Ek staan wankelrig op en loop saam met die stroom. Buite die saaltjie gaan sit almal in ’n binneplein op die vloer. Borde kos word bedien en ons smul aan rys, hoenderbredie en slaai. Die wese met die oranje toga doen die rondte en groet almal met die hand. Wanneer hy by my kom, is ek te oorstelp om myself voor te stel. My tong knoop om die Russiese woorde en gaan kruip dan weg agter my tande. “My name is Abhiram,” sê hy in perfekte Engels terwyl hy my hand skud. Op pad terug huis toe kan ek sweer my hand ruik soos vetkoekdeeg.

  1. In die studio

Pre-Covid, toe ek nog voltyds liedjieskrywer en sanger was, het ek my albums by Frank Smuts in die Kaap gemaak. Frankie vir short. Frankie het halfpad deur ons verbintenis ’n algehele metamorfose ondergaan, van “dad bod” tot Iron Man-kampioen. Maar sy metamorfose het niks verander aan die pret wat ons altyd saam in sy studio gehad het nie.

In Oesbekistan maak ek vriende met Arkadiy. Hy het ook ’n studio, en hy nooi my om daar te kom kuier. Ek vat die taxi soontoe, en ek word afgelaai langs vaalbruin woonstelle in ’n stowwerige straat. Arkadiy verskyn voor in die stofpad, en hy begelei my om ’n draai en op by ’n trap, tot by die plaaslike kultuursentrum. Ook ’n stowwerige gebou. Binne sien ek advertensies vir boksklasse en stoei. In ’n hoek van die gebou staan ’n antieke vleuelklavier. ’n Groep tieners oefen kliphard aan ’n dramastuk. Met totale toewyding word monoloë opgesê en reëls gememoriseer.

Arkadiy maak ’n deur oop en nooi my by sy studio in. Binne is dit donker. Die enigste lig kom van stroke neonlig teen die dak. Daar is ’n rekenaar, drie klawerborde uit die tagtigerjare, en ’n prentjie van ’n halfkaal meisie teen die muur. In die hoek is ’n boks met ’n klein skilpadjie in. Arkadiy se troeteldier.

Ons sit in die halfdonker op swart leerbanke en Arkadiy speel vir my sy komposisies op die rekenaar. Swaar, elektroniese ritmes met Midde-Oosterse klanke wat hier en daar deurskemer. Wêrelde verwyder van wat ek ken en aan gewoond is. Ek speel vir Arkadiy die musiek wat ek en Minas saam maak. Hy sê dis briljant, ons moet ’n album maak.

Ná ’n ruk so in die donker begin ek kriewelrig raak. Ek mis die daglig. Ek sê vir Arkadiy koebaai. Op pad uit kyk die skilpad met lang oë na my. Hy mis ook seker die daglig. Arkadiy sê hy sal my kom oplaai en my vat na die dieremark toe. Dan kan ek vir my ook ’n eksotiese troeteldier kry. Dalk ’n apie of ’n papegaai.

Buite in die stowwerige straat verwonder ek my vir ’n oomblik aan hierdie vreemde lewe wat ek nou lewe. Dan is die taxi daar. Die drywer is van Turkmenistan. Hy lyk ’n bietjie soos Frankie met sy blonde hare en sy groen oë. En so word ek deur ’n Frankie lookalike meegevoer na die volgende avontuur op hierdie vreemde reis.

................
Buite in die stowwerige straat verwonder ek my vir ’n oomblik aan hierdie vreemde lewe wat ek nou lewe. Dan is die taxi daar. Die drywer is van Turkmenistan. Hy lyk ’n bietjie soos Frankie met sy blonde hare en sy groen oë. En so word ek deur ’n Frankie lookalike meegevoer na die volgende avontuur op hierdie vreemde reis.
.................
  1. Leon

Leon Kruger, ek onthou jou, jare gelede in Potchefstroom by Aardklop. Jy was daar met ’n one-man show, en jy was vreeslik famous. Ons lot het almal ’n kamer gedeel in iemand se huis. Ek onthou jou “Môre Mielie” elke oggend in jou bruin weermagfrokkie. Ek onthou jou skalkse humor en jou kinderlike opgewondenheid wanneer jy praat oor jou werk; jou stiltes, die lag in jou oë en die hartseer in jou glimlag. Ek het jou nie baie goed geken nie, maar die bietjie wat ek geken het, het ek baie van gehou. Ek treur vandag, maar ek sal nie vir ewig treur nie. Want waar jy was, is daar nou strale lig.

  1. Covid

Laas week Vrydag begin ek bietjie olik voel. Niks ernstigs nie, net slap links van springlewendig en gesond. Teen Sondag is al die simptome daar: lyfseer, hoofpyn en ’n knaende droë kuggie. Ek gaan kliniek toe om my te laat toets. Positief. Corona. Ek vra die verpleegster: “Wat nou?” Sy sê ek moet warm water drink. “Is dit al?” vra ek. “Met heuning,” sê sy. En daar begin ek my eie reis saam met die virus.

My vriendin gaan totaal oorboord met die aanhoor van die nuus. Sy sweer hoog en laag dag agt is die ergste, en sy wil net antivirale medikasie, bloedverdunners en nog berge medisyne aankoop, plus pille om die maag te beskerm teen al die ander pille. Gou besef ek: Almal wat die virus oorleef het, het ’n ander paadjie gestap, en elkeen het sy eie verhaal van hoe hy uit die donker woud ontsnap het.

Ek het nie eintlik koors of longprobleme nie. Net ’n knaende lyfseer. En moegheid. Ek is heeltyd tam, pap en liggies geïrriteerd. Ek verloor myself in flieks, rekenaarspeletjies en radio luister. Alle ambisie om Russies te leer of voor te berei vir werk verdwyn. Ek slaap die dae en die nagte om. Ek is die hele tyd honger vir warm, vertroostende kos soos pasta, rys en hoendersop. Iewers langs die pad verdwyn proe en ruik. Ek looi my kos met speserye en brandgoed, maar dit bly ’n smaaklose bol niks in my mond. Al wat nog na iets proe, is jogurt, so ek eet lepels vol.

Ná ’n week gaan ek dokter toe om iets te kry vir die moegheid. Die dokter is ’n sagte, simpatieke dame. Haar moederlike omgee maak my skoon tranerig, en vir die eerste keer lê ek my dapperheid neer, en laat ek myself toe om sag en kwesbaar te wees. Haar diagnose is verdikte bloed en inflammasie in die longe. Ek moet twee keer ’n dag ’n klomp inspuitings kry. In die boud, in die arm, selfs in die maag. Ek bel my mense in Suid-Afrika en vertel vir hulle die nuus. Almal is vol troos en moed-inpraat. Dit laat my beter voel. Ek bel my vriendin en vra haar of sy asseblief vir my kos en kruideniersware sal bring. Sy sê sy help graag.

.............
Ek weet ek gaan weer gesond word, en ek gaan onthou dat ons net kan oorwin as ons uitreik na mekaar, hande vat en sáám die wa deur die drif trek.
..............

Ek weet ek gaan weer gesond word, en ek gaan onthou dat ons net kan oorwin as ons uitreik na mekaar, hande vat en sáám die wa deur die drif trek.

  1. Verpleegster

Die Oesbeke love ’n inspuiting. Vergeet van pille pop of pleisters plak: naalde kraai koning. Toe ek siek was met Covid, skryf die dokter twee kruidenierssakke vol medikasie voor, en als moet ingespuit word. Vir die Oesbeke is inspuitings so alledaags, die dokter het sommer aangeneem ek gaan self die daad doen. Maar toe ek met groot oë en nog groter handgebare protesteer, word ek verwys na Mahira.

Mahira is die verpleegster by die plaaslike ginekologie-kliniek. Sy is 20, en sy is die sagste mens wat ek ken. Sy dra Chanel slippers met bobby socks, en lang, vormlose pajamas met blinkers op in die Oesbekiese styl. Op dag een, toe ek my eerste sarsie spuite in boud, maag en arm ontvang, pass ek amper uit van al die naalde. Mahira staan dadelik gereed met ’n blok chocolate en ’n glas water, en net daar word sy my heldin. Elke oggend en elke middag meld ek aan, en elke keer is Mahira daar met ’n sagte glimlag en ’n tere aanraking.

As jy in Russies vra “Is dit seer?” sê jy: “Bolna?” Elke keer wanneer daai naald ingaan, vra Mahira met die strelende stem van ’n engel: “Bolna?” En elke keer glimlag ek soos Mona Lisa en sê: “Nee, nee bolna.” Want Mahira ken haar storie. Sy kan daai naald laat ingly soos ’n warm mes deur botter. Maar sy check elke keer, soos ’n ware meester van haar kuns. Teen dag vyf raak Mahira se stemtoon al hoe sagter en intiemer, en teen dag nege is haar vraag net ’n fluister in my oor: “Bolna?” En ek, swymelend: “Nee, nee bolna.”

Ek het nooit besef hoe intiem die verhouding tussen ’n verpleegster en haar pasiënt kan raak nie, en ek sal altyd met sagte oë na ’n inspuiting kyk. Ek verstaan ook nou die Oesbeke se voorkeur vir naalde bo pille – hierdie mense verstaan hoe die tere aanraking van ’n verpleegster ’n man se gees kan genees.

Op ons laaste dag vat ek vir Mahira ’n chocolate, en ek bedank haar dat sy my teruggedokter het na die lewe. Ek is bly die naalde is iets van die verlede, maar ek weet ek gaan vir Mahira mis. En ek gaan vir altyd haar sagte stem onthou, soos ’n skoenlapper wat sug: “Bolna?” En ek, half bedwelm deur haar teerheid: “Nee, nee bolna.”

  1. Die vensters van die siel

Waar ek vandaan kom, is musiekmaak ’n vrolike affêre. Musikante se gesigte straal, hulle lywe beaam en hulle oë vonkel wanneer hulle musiek maak. Hier in Oesbekistan lyk die prentjie egter anders.

Tashkent het sy eie simfonie-orkes, en een aand gaan luister ek na ’n Beethoven-simfonie. Die konsertsaal kom reguit uit die Koue Oorlogsjare: standbeelde van streng vaderfigure beloer jou uit elke hoek; teen die plafon is daar ’n Russiese slagspreuk in groot letters uitgespel: Die kunstenaar dien die nasie. Om my sit Russe in swierige gewade en Oesbekiese families met mammas in kopdoeke en babas op skote.

Wanneer die musiek begin, spoel daar golwe van plesier oor my ore. Die musikante speel pragtig, en daar is ’n borrelende energie in die musiek wat my hart laat glimlag. Wanneer mens egter vir die orkes kyk, lyk dit of hulle ’n dodemars speel. Dis net strak gesigte en somber gesigsuitdrukkings. Ek verwonder my aan die skrille kontras tussen die orkeslede se bonsende musiek en hulle lang gesigte.

By ’n ander geleentheid is ek by ’n Symphonic Rock-konsert. Selle storie. Daai orkes speel AC/DC- en Metallica-treffers saam met ’n rock-orkes dat oumas hulle vals tande insluk soos hulle rock en roll in die gehoor, maar nêrens gewaar jy ’n glimlag op ’n orkeslid se bakkies of ’n vonkel in ’n oog nie.

Ek het selfs ’n jazzkonsert met ’n Kubaanse sangeres bygewoon, oortuig dat die warmte van Kuba die Oesbeke se ysige uitdrukkings sou laat smelt. Maar helaas. Die sangeres probeer heeltyd oogkontak maak met die orkes, maar ná vele mislukte pogings kruip sy weg agter haar kuif en maak haar oë toe. Bes moontlik aan’t droom van haar mense in Havana.

Ek vermoed dat Oesbekiese musikante die mees ongelooflike binnepret het terwyl hulle speel, maar ná jare en jare se koue oorloë, streng onderwysers en suur standbeelde, bly die pret binne. Voor die vensters van die siel bly die gordyne dig toegetrek.

Nou, wanneer ek musieklesse gee, maak ek seker dat elke kind verstaan: Die vreugde van menswees hoef nie binne te bly nie. As jy wil dans, laat waai. As jy wil lag, skater. Ons wêreld kan doen met heelwat meer vonkelende oë.

  1. Oesbekiese dames

Oesbekiese vroue verbaas my daagliks. Hulle lyk almal of hulle nagklere dra. Sulke vormlose toonlengte jurke, afgerond met ’n kopdoek en pantoffels. Dis reg, geliefde leser, pantoffels. Insteekskoentjies met ’n plat hak en ’n tossel op die toon. My ma het nét sulkes gedra in die huis saam met haar nagrok. Ek wonder altyd wat doen ’n Oesbekiese tannie as daar ’n brand is. Skop sy die pantoffels uit en laat spaander, of is daar ’n spesiale tegniek om ’n pantoffel te laat vasklou terwyl jy laat wiel?

Een oggend daag ek by die skool op en word begroet deur ’n groep dames. Hulle is daar vir ’n damestee, en hulle het duidelik almal hulle beste voetjie voor gesit. Maar daar is nêrens ’n pantoffel in sig nie. Daai voetjies is gewikkel in hakke in wat my dadelik na my sonbril laat gryp. Alles blink. Swierige kopdoeke, kleurvolle tabberds, naels, nekke, vingers en enkels – elke sigbare stuk materiaal of liggaamsdeel is geslaat met die bling. Sequins, diamanté, glitter en satyn; brokaat, lamé, taffeta en organza – alles ingespan om daai dames te laat skitter met ’n almagtige blink.

Maar die hoogtepunt van die vonkelfees was ongetwyfeld die hakke. In my dag des lewens het ek nog nooit soveel blink stiletto’s saam beleef nie. Met my aankoms moes ek ’n stel trappe op, en ek beland toe agter ’n stewige dame wat daai trappe versigtig op baie dun hakkies bestyg. Die pas was stadig, maar ek kon my oë nie afhou van die reënboogstrale wat gedans het om haar silwer skoeisels nie. Ek kon sweer daar is iewers batterye in daai hakke om soveel glans te produseer.

Later die dag, toe die geleentheid verby is en die glitter gaan lê het, toe sien ek daar lê ’n paar skoene op die trap. Jou wrintiewaar, dit was dieselfde paar treffers wat my vroeër die dag so betower het. Die trippie trap-op was waarskynlik genoeg vir die dame, en toe sy moet trap-af, toe skop sy net daar haar stiletto’s uit. Ek is seker sy het ’n paar pantoffels in haar handsak gehad as backup. Met glitter-tossels op, soos dit ’n statige Oesbekiese dame betaam.

Lees ook:

"My lewe in Oesbekistan": Medeklinkers vir Afrika, moltreine, ’n vrat en gebaretaal onder die water

"My lewe in Oesbekistan": Oor tandartsbesoeke, begraafplase, woonstelpret, ryloop en spoeg

  • 5

Kommentaar

  • Dankie vir die ervaring! Kon nie ophou lees nie. Sterkte daar ver en probeer maar ’n glimlag op ’n gesig kry!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top