"My lewe in Oesbekistan": sirkusse, Botox, melktert en die huweliksnag

  • 2

Prent (links): https://pixabay.com/illustrations/registan-square-palace-samarkand-1026770/; foto van Emile Minnie: verskaf

Emile Minnie is ’n Suid-Afrikaanse musikant wat in Oesbekistan woon. Hy skryf al ’n geruime tyd op Facebook oor sy ervarings in dié land.  Die bydraes het onder die LitNet-redaksie se aandag gekom en hy is versoek om daarop uit te brei. Hier onder verskyn nog ’n aflewering van ’n reeks Elders gesien-bydraes uit Emile se pen.

  1. Sirkus

Ek was nog nooit ’n sirkusaanhanger nie. ’n Mens het in elk geval nie ’n sirkustent nodig om daagliks narre en waaghalse in die regte lewe te beleef nie. Maar toe my pelle my saamnooi sirkus toe, gaan ek saam.

Die eerste ding wat my tussen die oë tref, is die klankie wat in die warm sirkustent hang. So ’n mengsel van koeimis en ’n Argentynse bordeel. Ek steier effe, maar ek druk deur. Vanuit die tent se dak tot op die vloer hang kleurvolle swaaie en harnasse. Lede van die publiek word aangemoedig om hulleself te laat ingordel, en dan word hulle opgehys dak toe om vir vyf minute daar rond te sweef. Dit lyk soos die wegraping, behalwe dat almal weer terugkom aarde toe met skaapagtige glimlagte en ’n louwarm “dit was nou lekker”.

Wanneer almal weer sit, verdoof die ligte, en ’n trop gimnaste dawer die verhoog op met Oosterse diskomusiek en aangeplakte vrolikheid. Almal lyk soos Bruce Lee en almal doen dieselfde bollemakiesie. Oor en oor. Die klankie wat nog steeds in die lug hang, die stygende hitte en die repeterende getollery laat my wegsink in ’n beswyming.

Wanneer ek bykom, is dit tjoepstil. ’n Jong meisie in ’n rooi leotard staan kaalvoet op ’n klein verhogie. Sy is seker skaars tien jaar oud. Sy glimlag vriendelik vir ons. Sagte harpmusiek begin speel. Dan begin sy agteroor buig. Verder en verder sak sy terug, totdat haar hande aan die vloer raak. Ons klap hande, dankbaar dat sy nie haar rug gebreek het nie. Maar dan hou sy aan sak. Met haar voetjies nog ferm op die verhogie buig sy nóg verder agteroor totdat sy haar kop tussen haar voete deursteek. En sy hou aan. ’n Volle sirkel, plus nog ’n bietjie. Sy glimlag nog steeds, dog effe ongemaklik. My brein raak heeltemal deurmekaar tussen haar ledemate. Waar begin en eindig wat? Genadiglik ontknoop sy haarself, maak ’n klein buiginkie en trippel van die verhoog af.

............
Teen pouse het ek oorgenoeg gehad. Ek strompel by die tent uit. Om my word skape weer dak toe gehys. Buite die tent verwelkom ek die vars lug en die narre en waaghalse van die regte lewe.
..............

Teen pouse het ek oorgenoeg gehad. Ek strompel by die tent uit. Om my word skape weer dak toe gehys. Buite die tent verwelkom ek die vars lug en die narre en waaghalse van die regte lewe.

  1. Gazgan

Dis kwartaal-vakansie. Ek kuier by Rahimjon op sy tuisdorp, Gazgan. Jy spreek hom uit met ’n Namakwalandse brei as Raz-Ron. Die dorpie het sy bestaan te danke aan die lae klip en marmer wat al vir jare gewelddadig uit hulle onderaardse slaap wakker gedinamiet word, om dan gekap en gepoleer te word, en uiteindelik in die geboue van Oesbekistan te pryk.

Die meeste van die mense op die dorpie werk met klip. Buitelanders kom bitter selde hier, indien ooit. My teenwoordigheid word begroet met ’n mengsel van agterdog en nuuskierigheid. Stap ek by ’n winkel in, gee die meisie wat daar werk my een kyk, en klap dan toe soos ’n oester. Stap ek in die straat af, word ek beloer uit alle oorde. Van insmelt is daar hier geen sprake.

Gisteraand vat Rahimjon my saam vir volleyball saam met die plaaslike talent. Met ons aankoms groet ons almal met die hand. Ek probeer om soveel name as moontlik te onthou: Jalol, Bekhruz, Sardor, Dilshod. Die spel begin, en dis duidelik dat ek bitter min weet. As die bal op my afpyl, koes ek eerder as wat ek die bal probeer terugslaan. Ek voel skoon verbouereerd, maar die manne is gretig om vir my die tegniek te leer. Elke keer as ek iets regkry, word daar luidkeels gecheer met ’n whôôô in stygende stemtoon. My arms is later rooi van al die speel, maar ek geniet elke oomblik. Vir ’n rukkie is ek deel van die groep, en nie so ’n seer vinger soos ek gewoonlik is nie.

Ná die tyd loop ek en Rahimjon deur die strate van Gazgan. Ons loop en sing. Om ons is die sterre, die marmer en die klip ons enigste gehoor.

  1. Nuwe klavier

Om skool te gee is amper soos om jou eie kinders te hê. Die bloedjies se opvoeding vat hope tyd en energie in beslag, en jou eie drome trek dikwels aan die kortste ent.

Laas week is ek en Rahimjon in ’n musiekwinkel, en daar sien ek ’n elektriese klavier wat klink soos gesmelte botter en heuning op warm roosterbrood. Sonder om twee keer te dink, beklink ek die transaksie. By die huis aangekom, slaan ek dadelik die klavier op en begin speel. En net daar begin die klein verwaarloosde seuntjie in my binneste dans. Ek is skoon tranerig, en ek besef ek het bitter lanklaas vir hom aandag gegee. My hele lewe draai nog die heeltyd om die skool en sy dinge. Maar nou het ek ’n klavier, en ek gaan hom speel. Die kind binne my se drome kom nou eerste.

  1. By die bank

My bank in Oesbekistan is ’n belewenis op sy eie. Wanneer jy die bank betree, los jy alle tegnologie agter jou. Dis asof ’n klomp manne saam beplan het aan ’n sisteem met soveel papiertjies, vorms en toonbanke as moontlik. Om enigiets uitgerig te kry, moet jy by ten minste vier toonbanke 30 vorms invul en teken. In triplikaat. Blykbaar is ander Oesbekiese banke effe beter, maar ek werk met wat ek het.

Hier is ook geen rye nie. Mense staan in bondels, en elkeen onthou soort van hoeveelste hy of sy opgedaag het. Wanneer jy by die bondel aansluit, moet jy eers uitvind wie is daar met ’n doel voor oë, en wie staan en wag vir beter dae. Want laasgenoemdes is ook daar.

Die dame wat die oorsese oorplasings hanteer se naam is Yasmina. Sy sit gewoonlik en niksdoen, want al die buitelanders vermy my chaotiese bank soos die pes. Ek stap verby bondels en bondels mense reguit na Yasmina toe. Haar wimpers is vandag ekstra dik, en haar hare is so reguit soos ’n kitaarsnaar. Ek sê vir haar ek wil geld Suid-Afrika toe stuur. Yasmina gee vir my die 30 vorms om in te vul en te teken. In triplikaat. So tussendeur al die vorms vra ek haar uit oor haar lewe. Haar man is oorlede, en sy maak haar twee kinders alleen groot. Wanneer ek opkyk, sien ek Yasmina sit met haar ken in haar hand ek kyk glimlaggend met fladderende wimpers vir my. O hel, dag ek, Yasmina het nou die verkeerde idee gekry. Wanneer sy my na ’n ander toonbank toe stuur om nóg ’n klomp goed te teken, spreek die vrou my aan as Yasmina se spesiale vriend. Sjoe. Nuus versprei soos ’n veldbrand in hierdie bank se droë tak.

Terug by Yasmina gee ek dadelik vir haar die nommer van die plaaslike vriendskapsgroep in die stad, en ek nooi haar uit om saam met ons te kom kuier. Dalk kan sy die bondels mense en papiertjies vir ’n slag agterlaat en vriende maak in hierdie dorre stad.

  1. Botox

Ouer word is iets waarmee ons almal op een of ander stadium moet vrede maak. Mens se vel gaan nie vir ewig sag en glad bly nie, en weldra gaan swaartekrag sy tol eis op jou liggaam. Dele wat altyd opgespring het met ’n flinke “Goeiemôre!” gaan noodgedwonge begin hang met ’n gemompelde “Waar’s my koffie?” Party van ons maak egter makliker vrede met Vader Tyd as ander.

Laas week is ek by die dermatoloog. Die frons tussen my oë begin pla. Ek lyk die heeltyd befoeterd, al is ek in ’n goeie bui, en die kinders by die skool loop al wyer draaie om my. Wanneer ek my gesig ontspan en in die spieël kyk, sien ek dat die plooie tussen my oë ’n duidelike nommer 11 vorm. Resting bitch face noem hulle daai. ’n Gevriesde frons.

Die goeie dokter Karumov beveel botox aan. Dit sal die frons vir ’n paar maande uitstryk. Ek stem in, maar iewers in die vertaalwerk tussen dokter Karumov se gebroke Engels en my spastiese Russies, raak iets verlore, want toe ek my weer kom kry, het dokter Karumov my hele voorkop bygekom met die botox-inspuitings.

Drie dae later begin dit. My voorkop is glad soos ’n baba se boudjies, maar niks beweeg nie. Ek kyk myself geskok in die spieël aan, maar nêrens op my gesig is die skok sigbaar nie. My voorkop is een gladde dam sonder ’n rimpel. Wanneer ek wil frons, gebeur niks nie. My hele gesig bly neutraal, ongeag my emosies. Wanneer ek egter my wenkbroue lig, skiet net die middelste deel van die wenkbrou op, wat maak dat ek lyk soos die Heks van Endor. Enige positiewe emosie wat ’n wenkbrou-lig benodig, eindig dus op met ’n gesig wat mense ongemaklik laat wegkyk en baba’s laat huil.

Nou probeer ek hard om my wenkbroue in toom te hou. Uitdrukkingloos en glad van gelaat gaan ek deur die lewe. Oor drie maande gaan ek my gesig weer terughê. Jy kan maar kom, Vader Tyd, ek is gereed vir jou.

  1. Crabs

Gedurende die skoolvakansie bevind ek my op ’n oornagtrein in Oesbekistan. Net soos die reine van my kinderdae, is daar afslaanmatrasse waarop mens kan slaap. Op elke matras is daar ’n ekstra katoenmatrassie en ’n hopie skoon, opgevoude beddegoed. Dis vrek warm en ek is alreeds halfpad aan die slaap, so ek pass sommer op die katoen-matrassie uit. My Oesbekiese medepassasier raai my egter aan om eerder my bed op te maak met die beddegoed wat voorsien is. Mens weet nooit wie het vóór jou op daai katoenmatras geslaap nie. Langtand lig ek my en maak my bed op, maar teen daai tyd is die koeël lank reeds deur die kerk.

’n Paar dae later voel ek ’n roering in my onderbroek. By nadere ondersoek sien ek jou wrintiewaar ’n ongewenste gas op ’n skaamhaar. So ’n piepklein krapperige insekkie wat hom tuisgemaak het op my privaatste van privaat dele. Versigtig tel ek die blikskottel op en bekyk hom van naderby. Sy beentjies wriemel. Paniekbevange stuur ek hom met ’n gil bokveld toe. Wat op dees aarde? Is ek besmet met een of ander krioelende insek-infestasie? Hoe het dit gebeur? Dan onthou ek die oornagtrein en die katoenmatrassie. Bewend-prewelend trek ek my foon nader om te googleloer wat in my verborgene plaatse aangaan. My ergste vrese klim by my foon uit tot in my kloppende hart: luise.

Die volgende dag is ek reguit apteek toe. Totaal verbouereerd en met groot skaamte vra ek saggies vir die apteker of hulle ietsie het vir my situasie. Kliphard gil sy vir haar kollega: “Fatima, op watter rak is die luis-sjampoe?” Mense se koppe ruk in my rigting. Ek wil sterf van skaamte. Uiteindelik het ek die boksie in die hand, en blitsvinnig is ek daar uit.

Dis nou ’n week later. Ek is insekvry, en my skaamhare skaam hulle vir niks. Maar ek hou daai botteltjie sjampoe in my kas, net ingeval ek weer op ’n katoenmatrassie vol krioelende ongewenste gaste beland.

  1. Melktertjies

My vriend Willem het my jare terug in Suid-Afrika geleer van melktertjies. Daai konkoksie van vodka, kondensmelk, ingedampte melk en kaneel. Ek het nie net één soet tand nie, ek het ’n mondvol van hulle, so ’n melktertjie op sy tyd bring vir my groot lipklap-lekkerte.

So besluit ek om die resep hier in Oesbekistan op die plaaslike bevolking uit te toets. Die eerste uitdaging is die bestanddele. Kondensmelk kry jy om elke hoek en draai, maar min Oesbeke het al van ingedampte melk gehoor. Ná vele mislukte pogings en onbeholpe gesigsuitdrukkings besluit ek om my resep effe aan te pas, en sommer gewone melk te gebruik. En jou wrintiewaar, dis ’n reusesukses.

Almal is vol lofprysing oor dié nuwe resep, en ek kan nie voorbly met my melktertjieproduksie nie. Net die geharde vodkadrinkers trek hulle neuse op. Hulle soek hulle harde hout grof. Maar een aand vra een van hulle saggies of hy tóg ’n helping van my melktertjies kan kry, en toe daai glasie klink, toe dans ons tot ounag onder die sterre.

  1. Buurvrou

My buurvrou is ’n lang, groot vrou. Sy woon alleen saam met ’n piepklein brakkie wat lyk soos ’n afro op beentjies. Sy het ’n sagte, hoog geblaasde “home perm” en sy dra elke dag dieselfde pers vollengte nagrok. Sy herinner my sterk aan die operasangeres Bianca Castafiore uit die Kuifie-boeke: so ’n mengsel van Maria Callas en Juffrou Rottenmeier. Ek vermoed sy is die hoofmeisie van die buurt, want sy word dikwels omring deur klein, kort tannies wat om haar saamkoek en kekkel. Somtyds sien ek haar saam met haar brakkie in die straat. Sy waggel, en die afro’tjie trippel. Ek dink nie sy gaan ooit na ’n werksplek toe nie. Haar werk is om alles en almal dop te hou. Soos ’n wafferse buurtwag hou daai antie alles dop. Haar groot oë met hoog geverfde wenkbroue mis niks nie. Blykbaar is dit ’n tipiese Russiese ding – die oujongnooi wat seker maak sy weet presies wie kom en wie gaan in haar kontrei.

.............
Wanneer ek soggens op my fiets verby haar ry, en wanneer ek smiddae weer terugry huis toe, groet ons mekaar met ’n beleefde knik en ’n zdraws-woei-tje. Maar ek voel haar oë op my. Soos ’n seekat in haar seespelonk sit sy my dag en nag en beloer.
................

Wanneer ek soggens op my fiets verby haar ry, en wanneer ek smiddae weer terugry huis toe, groet ons mekaar met ’n beleefde knik en ’n zdraws-woei-tje. Maar ek voel haar oë op my. Soos ’n seekat in haar seespelonk sit sy my dag en nag en beloer.

Een middag kry ek haar straat-af aan’t waggel saam met die trippelende afro’tjie. Haar krulle is ekstra hoog geblaas, en ek sien die brakkie se afro is ook stokstyf getrim. Die tweetjies het duidelik ’n makeover gehad, en omdat ek nog glad nie die woordeskat het om ’n dame in Russies te komplimenteer nie, maak ek eerder ’n groot oogrol in die rigting van die brakkie, en glimlag breed met ’n entoesiastiese knik.

Ek weet nie of my oogrol onvanpas was nie, maar die volgende oggend word my groet geïgnoreer, en word ek uit die hoogte aangegluur met die kilste kyk; so ’n koue-oorlog-kyk, reguit vanuit die ystergordyn.

Wat op dees aarde kon haar so ontstig het? Die hemel alleen weet. Nou ry ek maar wye draaie om die antie en haar brakkie, en ek bid so in die kille stilte dat sy nie die KGB sal stuur om my in die middel van die nag te kom wegvat nie.

  1. Trou

Die Oesbeke het ’n obsessie met trou en kinders kry. ’n Seun is skaars 20 jaar oud, dan begin die soektog. Die ma is gewoonlik aan die stuur van sake. Sy maak ’n lys van meisies wat haar geval, en dan word die stomme seunskind gestuur op een blind date na die ander om te sien of hy van die meisie hou. Op elke afspraak word die paartjie vergesel deur ’n ouer, tante of suster om seker te maak als bly bo die belt. Daar is dus bitter min kans om mekaar behoorlik te leer ken, veral as jy en die meisie mekaar vir die eerste keer ontmoet en julle met stokstywe oë in ’n formele restaurant vir mekaar sit en kyk oor ’n koppie tee terwyl Ousus julle blatant sit en dophou. Eintlik is die hele proses ’n klugspul, want Moeder weet van die begin af wie haar gekose kandidaat is.

.............
Die huwelikseremonie is nog erger. Hope en hope geld word spandeer op die blinkste rok, die grootste bruilofsaal en die gewildste sanger, net om die bure te beïndruk. Ná al die prag en praal trek die bruid by die bruidegom en sy ouers in, waar sy haar blink hoëhakskoene en tiara verruil vir pantoffels en ’n besem.
...............

Die huwelikseremonie is nog erger. Hope en hope geld word spandeer op die blinkste rok, die grootste bruilofsaal en die gewildste sanger, net om die bure te beïndruk. Ná al die prag en praal trek die bruid by die bruidegom en sy ouers in, waar sy haar blink hoëhakskoene en tiara verruil vir pantoffels en ’n besem.

Die huweliksnag is die ergste. ’n Seun kan maar hoer en rumoer voor die troue, maar as ’n meisie nie maagdelik rein is op haar huweliksnag nie, kan die bruidegom haar net daar in die pad steek, haar reputasie aan skerwe. Slaag sy wel die toets, moet daar blitsvinnig ’n swangerskap wees, anders tokkel die skindertonge weer die telefoondrade.

My landlady en haar seun is gister by my. Die seun is nege maande terug getroud. Pas uit sy melktande en vol tienerpuisies sit hy trots en vertel sy vroutjie staan op kraam. “Geluk,” sê ek vir hom, maar in my hart voel ek baie jammer vir hierdie kinders wat gedwing word om kinders van hulle eie te hê.

Lees ook:

Elders gesien: "My lewe in Oesbekistan" – skoolkonsert, ekstatiese danse, opera en hartsake

"My lewe in Oesbekistan": Oor tandartsbesoeke, begraafplase, woonstelpret, ryloop en spoeg

"My lewe in Oesbekistan": Die vensters van die siel, Covid en joga

"My lewe in Oesbekistan": Medeklinkers vir Afrika, moltreine, ’n vrat en gebaretaal onder die water

 

  • 2

Kommentaar

  • Fransie Meyer

    Skitterend. Ek kon prentjies in my kop maak en het uitbundig gelag. Doe so voort, Emile.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top