Van Parys tot Pretoria: Wie besit die woorde wanneer KI die pen vashou?

  • 0

...
Beleef ons die volgende evolusie van literatuur, of verloor ons stadigaan die onderskeid tussen die skepper en die skepping?
...

Wanneer maak tegnologie jou werk makliker, en wanneer doen dit sommer die werk namens jou? Dis ’n vraag waaroor die literêre wêreld tans behoorlik kopkrap. En soos gewoonlik wanneer skrywers oor skryfwerk stry, loop die emosies hoog. Wat my egter interesseer, is nie net of KI ’n goeie boek kan skryf nie. Ek wonder toenemend of ons nog mooi weet wat ons bedoel wanneer ons sê iemand het ’n boek geskryf.

In Frankryk is die Prix Pascal de Littérature IA in Oktober bekendgestel, ’n literêre prys vir boeke wat met KI geskryf is. Deelnemers moet verduidelik watter programme hulle gebruik het en hoe die samewerking tussen mens en masjien verloop het. Ek moet erken, die konsep prikkel my nuuskierigheid. In plaas daarvan om met ’n vergrootglas na KI te soek, vra die organiseerders bloot dat almal oop kaarte speel.

Die roman wat ’n herrie veroorsaak het

Die Franse literêre wêreld het onlangs behoorlik gegons oor die Kanadees-Haïtiaanse skrywer Thélyson Orélien, wie se roman C’était ça ou mourir die gesogte Prix du Roman Fnac gewen het. Op 21 September is op ’n anonieme X-rekening, Balance ton Claude, beweer dat groot dele van die boek deur KI geskryf is. Volgens Le Monde het die opsporingsprogram Pangram meer as 95% van die gedeeltes wat die koerant getoets het, as KI-geskrewe geklassifiseer. Dit beteken natuurlik nie dat 95% van die boek noodwendig deur KI geskryf is nie. Die roman is uit die Goncourt-keuring verwyder, maar Orélien het volgehou dat dit sy eie skepping is.

...
Om KI te gebruik, is nie noodwendig dieselfde as om ’n hele boek deur KI te laat skryf nie. Tog word daardie twee dinge in die openbare debat dikwels in dieselfde pot gegooi.
...

Op 21 Oktober het sy Kanadese uitgewer, Boréal, bevestig dat KI wel gebruik is en die samewerking beëindig. Presies hoeveel van die boek met KI geskryf is, kon die uitgewer egter nie bepaal nie. En daar lê vir my ’n belangrike onderskeid: Om KI te gebruik, is nie noodwendig dieselfde as om ’n hele boek deur KI te laat skryf nie. Tog word daardie twee dinge in die openbare debat dikwels in dieselfde pot gegooi.

Die Suid-Afrikaanse skrywer met 370 boeke

Intussen het julle jul eie KI-storie aan die suidpunt van Afrika. Coral Hart (’n skuilnaam) het volgens ’n AFP-onderhoud meer as 370 boeke sedert Februarie 2025 met KI gepubliseer. Sy beweer dat sy meer as ’n miljoen boeke verkoop en vanjaar reeds meer as ’n miljoen Amerikaanse dollar verdien het. Ek vermoed heelwat skrywers het op daardie stadium hulle sakrekenaars nadergetrek. Hierdie syfers is egter haar eie bewerings en is, sover bekend, nie onafhanklik bevestig nie.

Hart beplan haar verhale, karakters en hoofstukke, waarna KI-programme die teks skryf en help redigeer. ’n Menslike proefleser doen die finale kontrole. Hart het blykbaar jare se ondervinding in die uitgewersbedryf en weet waarskynlik alte goed hoe moeilik dit is om ’n bestaan uit tantieme te maak. Sy is dus nie die leek waarvoor sommige mense haar aansien nie. Of ’n mens met haar werkswyse saamstem of nie, dit sou onbillik wees om haar kennis en ervaring sommer van die tafel te vee.

Haar argument is eenvoudig: Mense koop die boeke en geniet dit. Wat is dan die probleem?

Ek dink nie die geld is werklik die grootste kopseer nie. Die vraag is eerder of ons hierdie werkswyse op dieselfde manier as tradisionele skryfwerk moet beskou. Vir iemand wat self maande of jare aan ’n enkele manuskrip werk, gaan dit nie net noodwendig oor jaloesie of verkoopsyfers nie, maar oor wat ons onder die begrip skryfwerk verstaan.

Terwyl almal egter oor die etiek van Hart se werkswyse stry, het ek aan iets anders begin dink. Ek het nog nie daardie bankstaat gesien wat die miljoen dollar bevestig nie. Ons het immers – sover ek weet – net haar woorde oor die verkoopsyfers. En toe wonder ek: Sê nou maar hierdie hele bohaai is eintlik net ’n briljante bemarkingskuif? Hart is immers ’n sakevrou wat die uitgewersbedryf ken. Slegte publisiteit verkoop soms net soveel boeke as goeie resensies, want nuuskierigheid is ’n snaakse ding. Skielik ken almal in die skrywersgemeenskap haar naam, en hoeveel mense gaan nou nie een van haar boeke koop net om te sien waaroor die herrie gaan nie?

Dalk het sy wel reeds ’n miljoen dollar gemaak, dalk nie. Maar as hierdie aandag haar uiteindelik daar bring, sal ek my hoed vir haar moet afhaal. En as haar verkoopsyfers wel korrek is, gaan al hierdie gratis publisiteit waarskynlik net nog meer boeke verkoop. Ek stem nie uit ’n etiese oogpunt saam met haar werkswyse nie, maar haar sakevernuf kan ek bewonder. Ons is dalk so besig om oor haar boeke te stry dat ons nie agterkom ons help om hulle te verkoop nie.

’n Mikrogolfmaaltyd maak jou nie ’n wêreldsjef nie

Iemand het onlangs op Facebook gereken mense wat Hart kritiseer, is waarskynlik net jaloers op haar geld. Ek het geen probleem daarmee dat iemand geld met KI verdien nie. As daar ’n mark is, goed so. Maar om ’n klaargemaakte mikrogolfmaaltyd warm te maak, maak jou nie ’n wêreldsjef nie. En om ’n sakrekenaar te gebruik, maak jou ook nie ’n wiskundige nie. Dit beteken nie daar is geen vaardigheid betrokke nie. Ek dink net ons moet ophou om verskillende vaardighede met mekaar te verwar.

Vir my is daar ’n verskil tussen iemand wat KI gebruik om navorsing te doen, taal te versorg of idees te ontwikkel en iemand wat die masjien die werklike skryfwerk laat doen. Maar selfs daardie onderskeid is nie so eenvoudig soos wat ek dit graag sou wou hê nie. Baie uitgewers en redaksies gebruik vandag reeds digitale taalhulpmiddels, waarvan baie KI-tegnologie insluit, om hulle werk te vergemaklik. Gestel ek skryf my hele manuskrip met die hand, sonder enige digitale hulp, en stuur dit na ’n uitgewer. Daar gebruik iemand ’n KI-aangedrewe program om die spelling na te gaan of ’n paar van my geliefkoosde woorde met sinonieme te vervang. Het KI dan ook aan die skryf van my boek deelgeneem voordat dit op die winkelrak beland het? Moet ek nou op die omslag verklaar dat KI betrokke was, al het ek nie self een woord daarmee geskryf nie? En as die uitgewer se program my sinne herskryf om dit beter te laat vloei, op watter punt hou dit op om bloot taalversorging te wees?

...
Is ’n speltoetser onskuldig, maar ’n program wat ’n beter metafoor voorstel, skielik ’n medeskrywer? En wat van die redakteur wat daardie voorstel aanvaar?
...

Hoe meer ’n mens hieroor dink, hoe meer vrae duik van alle kante op. Ons wil graag ’n netjiese streep tussen mens en masjien trek, maar in die praktyk raak daardie streep al hoe dowwer. Is dit die aantal woorde wat KI verander wat saak maak, of die aard van die veranderinge? Is ’n speltoetser onskuldig, maar ’n program wat ’n beter metafoor voorstel, skielik ’n medeskrywer? En wat van die redakteur wat daardie voorstel aanvaar? Ek het nie ’n maklike antwoord nie, en ek raak al hoe meer agterdogtig teenoor mense wat wel een het.

Miskien het ons nuwe benamings nodig: KI-skepper, verhaalontwerper of selfs literêre regisseur. Tegnologie het immers al voorheen nuwe beroepstitels geskep. Dink maar aan die digitale bladopmakers wat die ou lettersetters vervang het – daardie mense wat vroeër tot laat in die nag elke klein loodlettertjie met die hand moes rangskik sodat die koerant die volgende oggend betyds op die sypaadjies kon lê. Die tegnologie het verander, die vaardighede het verander en die beroepe het saam daarmee ontwikkel. Waarom sou dieselfde nie met skryfwerk kon gebeur nie?

Maar dit krap ook aan ’n ou seerplek. Wanneer mag iemand homself ’n skrywer noem? As jy ’n blog het? As jy self ʼn boek gepubliseer het? Of slegs as ʼn gerespekteerde uitgewer jou boek opraap? Tel joernaliste? En moet dit noodwendig hoë literatuur wees, of mag gewone sterflinge wat liefdesverhale en spanningsromans skryf ook aanspraak maak op die titel van “skrywer”? ’n Ander benaming vir KI-skeppers hoef nie ’n belediging te wees nie. Dalk is dit bloot ’n eerliker beskrywing van wat hulle doen. Of dalk probeer ons ’n nuwe soort kreatiewe werk met ou definisies meet.

Ons het hierdie debat al voorheen gehad

Dink aan fotografie en Photoshop. Toe digitale beeldverwerking algemeen geword het, het mense gewonder of ’n gemanipuleerde foto nog die fotograaf se eie skepping is. Ander het aangevoer dat Photoshop bloot ’n moderne donkerkamer is. Maar ’n fotograaf wat self ’n oomblik vasvang en daarna die beeld verbeter, het steeds die foto geneem. Dit is nie noodwendig dieselfde as iemand wat ’n rekenaar vra om ’n sonsondergang te skep nie. Albei kan indrukwekkend wees, maar dit is beslis nie dieselfde kunsvorm nie. En waarom sou ons nie dieselfde onderskeid by boeke tref nie? 

Wanneer die KI-speurder verkeerd is

Hoe weet ons in elk geval of iets deur KI geskryf is? Terwyl ek aan hierdie artikel gewerk het, het ek die eerste hoofstuk van my roman Bruidzilla, wat ek in 2018 geskryf het, deur Textdefend laat ontleed. Die uitslag? Volgens die program was 21% daarvan deur KI geskryf. Dit het selfs die sogenaamde skuldige gedeeltes uitgewys. Dis onsin, want die KI wat ons vandag ken, het nie in 2018 bestaan nie.

Ek het ander gedeeltes van dieselfde boek getoets en elke keer was die KI-telling meer as 15%. Ek weet mos wie daardie teks geskryf het, en dit was nie ’n kletsbot nie. Dit beteken nie Textdefend is noodwendig ’n swak program nie. Dit wys wel dat KI-opsporing verkeerd kan wees. En as ’n program my eie, ou manuskrip verkeerd klassifiseer, hoe gemaklik moet ons wees om ’n ander skrywer se reputasie op grond van so ’n telling te beoordeel?

Dit bring my terug by die anonieme X-rekening wat Orélien beskuldig het. Watter teks is getoets? Waar het die persoon dit gekry? Die meeste KI-programme sal jou vinnig daarop wys dat hulle nie sommer kopieregbeskermde materiaal mag reproduseer nie, maar dat hulle dalk wel die inhoud kan parafraseer. Hoe het die persoon dus die teks in die roman getoets? Ek het boonop ’n broertjie dood aan mense wat agter skuilname ernstige beskuldigings maak. Vertel ons wie jy is. Haal af jou masker en help ons uitvind wat agter die kap van die byl sit.

Bygesê, Le Monde het later self meer as die helfte van die roman getoets, en Pangram se medestigter het ’n volledige PDF ontleed. Die saak berus dus nie net op een, anonieme persoon se bewering nie. Maar my Bruidzilla-eksperiment wys waarom ons versigtig moet wees om ’n persentasie as die evangelie te aanvaar. ’n Program kan taalpatrone herken. Dit kan nie noodwendig vertel wie agter die sleutelbord gesit het nie. En dalk is die ironie dat ons nou KI gebruik om vas te stel of iemand KI gebruik het, terwyl ons nie altyd die KI se oordeel kan vertrou nie.

Maar wat van die siel van ’n verhaal?

Ek het al KI-geskrewe tekste gelees wat tegnies uitstekend is. Die grammatika klop, die intrige werk en die karakters ontwikkel soos hulle moet. Alles is daar, netjies op sy plek. En tog ontbreek daar soms iets. Ek noem dit die “siel” van die verhaal. Dalk is dit die onverwagse sin wat uit persoonlike ervaring kom. Die pyn agter ’n karakter. Die herinnering wat ’n skrywer nooit heeltemal verwerk het nie. Daardie klein onvolmaakthede wat ’n verhaal juis menslik maak.

Ek kry soms dieselfde gevoel by televisieproduksies. Alles is tegnies perfek, maar ná die eindkrediete voel ek niks. Daardie “siel” van ons gunsteling-tagtigerprogramme het verlore gegaan. Natuurlik kan menslike skrywers ook lewelose verhale skep, en KI-ondersteunde werk kan lesers diep raak. Maar is die vermoë om emosie op te wek dieselfde as om dit self te ervaar? En maak dit vir die leser saak, of net vir die persoon wat die boek geskryf het?

’n Nuwe soort literatuur?

Miskien bied die Prix Pascal ’n derde weg: nie ’n verbod op KI nie, maar ook nie die voorgee dat ’n masjien se werk volledig menslike skryfwerk is nie. In Frankryk het sommige uitgewers reeds begin om boeke as 100% menslik te etiketteer. Maar as die taal deur KI se hulp versorg is, is dit dan nog 100% menslik? Of beteken die etiket bloot dat die oorspronklike verhaal uit ’n mens se kop gekom het?

...
In Frankryk het sommige uitgewers reeds begin om boeke as 100% menslik te etiketteer. Maar as die taal deur KI se hulp versorg is, is dit dan nog 100% menslik?
...

Kan albei benaderings saam bestaan? Gee die gewone leser regtig soveel om soos die skrywer wat jare se navorsing in een boek sit? Vir sommige gaan dit waarskynlik bloot oor vermaak, en dis ook hulle goeie reg. ’n Mens hoef nie elke keer wanneer jy ’n roman koop, ’n filosofiese ondersoek na die ontstaan daarvan te doen nie. Maar jy behoort ten minste die geleentheid te hê om te besluit of daardie inligting vir jou saak maak.

Vir my bly deursigtigheid die beginpunt. Ek wil weet of die roman wat ek wil koop, hoofsaaklik deur ’n mens geskryf is of deur ’n masjien wat menslike instruksies gevolg het. Dan kan ek self besluit of ek dit wil lees, op grond van my eie oortuigings. Dit beteken nie dat ek noodwendig ’n KI-geskrewe boek gaan verwerp nie. Ek wil bloot weet waarvoor ek betaal en wat ek in die hande kry. Uiteindelik gaan dit vir my oor die reg om ’n ingeligte keuse te maak.

...
Miskien sal die volgende geslag heeltemal anders oor outeurskap dink. Miskien word die skrywer van die toekoms eerder ’n regisseur van idees.
...

Miskien sal die volgende geslag heeltemal anders oor outeurskap dink. Miskien word die skrywer van die toekoms eerder ’n regisseur van idees. En miskien sal ons oor 20 jaar lag oor hoe ernstig ons vandag oor die onderskeid tussen mens en masjien stry. Maar as iemand wat ’n masjien opdrag gee om ’n boek te skryf sonder meer ’n “skrywer” is, wat beteken die woord dan nog? En as ons elke skrywer wat ’n KI-aangedrewe speltoetser gebruik, as ’n KI-skrywer beskou, waar laat dit ons?

Beleef ons die volgende evolusie van literatuur, of verloor ons stadigaan die onderskeid tussen die skepper en die skepping?

Bronnelys

AFP, 21 Oktober 2026. Canadian publisher says novelist Orelien used AI to write novel.
https://www.afp.com/en/canadian-publisher-says-novelist-orelien-used-ai-write-novel

AFP / Eyewitness News, 23 Oktober 2026. 370 books in 20 months: South African author defends her use of AI.
https://www.ewn.co.za/370-books-in-20-months-south-african-author-defends-her-use-of-ai.

Le Monde, 24 September 2026. A breakout star author is accused of using AI in his prize-contending debut.
https://www.lemonde.fr/en/pixels/article/2026/09/24/a-breakout-star-author-is-accused-of-using-ai-in-his-prize-contending-debut_6757882_13.html.

Le Monde, 25 September 2026. Pangram founder Max Spero has “no doubt” about AI use in Thélyson Orélien's best-selling novel.
https://www.lemonde.fr/en/pixels/article/2026/09/25/pangram-founder-max-spero-has-no-doubt-about-ai-use-in-thelyson-orelien-s-best-selling-novel_6757958_13.html.

Le Parisien, 25 September 2026. Les Éditions de l’Observatoire lancent un label “100 % humain”, sans IA.
https://www.leparisien.fr/culture-loisirs/livres/polemique-sur-le-roman-de-thelyson-orelien-les-editions-de-lobservatoire-lancent-un-label-100-humain-sans-ia-25-09-2026-X5WDWC3VBFB25PLQLYWRSNOBKY.php.

Livres Hebdo, 16 Oktober 2026. Lancement du prix Pascal, pour récompenser les livres écrits avec l’intelligence artificielle.
https://www.livreshebdo.fr/article/lancement-du-prix-pascal-pour-recompenser-les-livres-ecrits-avec-lintelligence-artificielle.

Prix Pascal de Littérature IA. Règlement officiel du Prix Pascal.
https://www.prixpascal.fr/reglement_prix_pascal_v6.html.

The Guardian, 25 September 2026. Novelist accused of using AI to write book removed from French prize list.
https://www.theguardian.com/books/2026/sep/25/thelyson-orelien-goncourt-prize-france.

Kyk en lees ook:

Annie Olivier: KI en die uitgewersbedryf: The Good, the Bad and the Ugly

Naomi Meyer: Whose line is it anyway? Kopiereg, oorspronklikheid en outeurskap in die era van kunsmatige intelligensie

Imke van Heerden:  Hou KI ’n bedreiging vir skrywers in?

Etienne van Heerden: Artisanal/Ambagtelik

Julio Agrella: Gedagtes oor die effek van KI ná die Sewende Etienne van Heerden Veldsoirée

Imke van Heerden: LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer

Willem Krog: KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens

Rianne van Vuuren: Van mens tot masjien: Wikipedia en die voortbestaan van betroubare kennis

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Van Gutenberg tot Zuckerberg – oor die beloftes en bedreigings van die nuwe tegniese era in die Suid-Afrikaanse universiteitswese

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n Filosofiese oorweging van intelligensiesimulasie (IS) – Luc Ferry se IA, Grand remplacement ou complémentarité?

AfriKI: Die eerste KI-gedig in Afrikaans: "Silwerwit in die soontoe"

Surene Esterhuizen en Marion Erskine: "Ek is die rykste mens in die wêreld"

Lees die ander bydraes hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top