
Hierdie lesing (sien die video) is op Saterdag 25 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
KI en die uitgewersbedryf: The Good, the Bad and the Ugly
Wanneer ’n mens deesdae die woorde “kunsmatige intelligensie” of die afkorting “KI” hoor, het jy waarskynlik een van drie reaksies: Jy kyk lewendig op, omdat jy gefassineer is deur dié revolusionêre verskynsel; jy steek jou kop in die sand, want dit klink als baie bedreigend en oorweldigend; of jy gaap van verveling vir hierdie oorgebruikte gonswoorde.
Vir die gapers het ek nie raad nie, want ek gaan in hierdie artikel helaas voortgons oor die tema en kyk na van die teenstrydige eienskappe van KI, spesifiek in die konteks van die uitgewersbedryf, want die een ding wat ons op dié tydstip daaroor weet, is dat dit nie net in swart en wit beskou kan word nie – daar is groot grys gebiede. In hierdie Western is alle Indiane nie noodwendig sleg en alle cowboys goed nie.
Nóg iets wat ons oor KI weet, is dat dit ’n ontwrigtende mag is waarvan die impak nie langer ontken kan word nie. Die rus en vrede op die prêrie is versteur en die wêreld sal nooit weer dieselfde wees as voor KI nie. Drie jaar nadat OpenAI ChatGPT bekendgestel het, het die ChatGPT-toepassing reeds een miljard maandelikse gebruikers.1 Selfs my 80-jarige familielid op Prieska gebruik dit, vertel sy my nou die dag.
Ons kan kies om KI te ignoreer of ons kan besluit om dit reg van voor te konfronteer. Die vraag is nie óf ons KI moet gebruik nie, maar eerder hóé dit sinvol binne uitgewerye aangewend kan word.
Die ander kernvraag is of ons as uitgewers manuskripte wat volledig deur KI geskryf is, sal uitgee. Die antwoord hierop is maklik: “Nee.”
Daar is reeds ’n magdom KI-gegenereerde boeke daar buite en die getalle neem daagliks toe. Amazon se Kindle Direct Publishing het byvoorbeeld onlangs bepaal dat individue en uitgewers maar slegs drie KI-gegenereerde manuskripte per dag mag oplaai. Dit is nie ’n resies waarin ons belangstel of van deel wil wees nie. Ons rol is om as kurators van die menslike skeppingsproses op te tree.
Sal ons ’n manuskrip uitgee wat met die hulp van KI geskryf is? Dit is die vraag waarmee ons tans worstel. Ek gaan later na hierdie punt terugkeer.
The ugly
’n Grootse ironie, en seker dié skreiendste teenstrydigheid, is dat dit wat baie mense beskou as een van die grootste bedreigings vir menslike kreatiwiteit, júis op menslike kreatiwiteit gebou is.
KI-platforms soos Claude, ChatGPT en Gemini is almal geskep ná die diefstal van miljoene der miljoene boeke en ander tekste wat onwettig afgelaai en daarna aan KI-maatskappy soos Meta, Anthropic en OpenAI verkoop is of deur hulle geskraap is. Dit is danksy hierdie massiewe bron van menslike kreatiwiteit dat die groot taalmodelle wat die fondasie van KI-platforms uitmaak, gebou en opgelei kon word.
Die ontwikkeling van KI-platforms en die wêreld van die skrywer en die uitgewer was van die begin dus intiem aan mekaar verbind. Ongelukkig was die sheriff aanvanklik totaal afwesig in wat ’n tweegeveg tussen skrywers en uitgewers aan die een kant en KI-maatskappye aan die ander sou word.
Amerikaanse skrywers het eerste tot die geveg toegetree. In 2023 het talle skrywers en nuuspublikasies ’n saak van kopieregskending aanhangig gemaak teen OpenAI, wat ChatGPT besit, en in 2024 het die Amerikaanse Skrywersgilde ’n groepaksie van kopieregskending teen Anthropic, wat Claude besit, ingestel en ’n jaar later gewen. Anthropic moet nou $1,5 miljard se skadevergoeding betaal.
In Mei vanjaar het vyf van Amerika se grootste uitgewershuise2 ook vir die eerste keer ’n hofsaak van kopieregskending aanhangig gemaak teen Meta en sy stigter, Mark Zuckerberg.3
Dit is verblydend dat minstens een Amerikaanse hof reeds ’n KI-maatskappy gedwing het om skadevergoeding aan skrywers te betaal, maar die koeël is ongelukkig deur die kerk. Die gesteelde boeke kan nie teruggekry word nie en die taalmodelle sal nooit dit wat hulle daaruit geleer het, kan afleer nie.
Wat is die les hieruit vir skrywers en uitgewers?
Skrywers (en uitgewers) moet eerstens daarop aandring dat toestemming gevra word om hul boeke vir KI-opleiding te gebruik, en indien hulle daartoe instem, moet hulle vergoed word. Skrywers moet ook kan weier dat hul boeke daarvoor gebruik word. Op die kopieregbladsy van elke boek wat ons uitgee, word al geruime tyd gestipuleer dat die boek nié vir KI-opleiding gebruik mag word sonder die uitgewer, en by implikasie die skrywer, se toestemming nie.
Ons moet aan KI-opleiding begin dink as ’n soort newereg, soos vertaalregte, teater- of filmregte wat gelisensieer kan word. In 2024 is ’n maatskappy met die naam Created by Humans in Amerika gestig om skrywers te help om hul werk aan KI-maatskappye te lisensieer, hetsy vir KI-opleiding of om as verwysingsbron deur KI gebruik en/of aangehaal te word.
Ons skrywerskontrakte by Jonathan Ball Uitgewers maak nie tans voorsiening vir KI-opleiding as newereg nie, maar dit is iets waaraan ons op die oomblik aandag gee. Die hoop is dat KI-maatskappye in die toekoms ooreenkomste met uitgewers of direk met skrywers sal aangaan en nie net die nodige kopieregtoestemming sal kry nie, maar skrywers ook sal vergoed.
The good
In watter mate gebruik plaaslike en oorsese uitgewershuise KI, en kan daar iets goeds oor KI gesê word? Volgens ’n 2025-studie deur die Amerikaanse Book Industry Study Group gebruik 46% van respondente in die Amerikaanse en Kanadese uitgewerswese KI. Dit word tans die algemeenste aangewend vir administratiewe en operasionele take, data-analise en bemarking.4
Die meerderheid respondente het aangedui dat hulle heelwat bekommernisse het oor KI, onder meer oor KI-hallusinasies en die oorvloed KI-gegenereerde boeke wat op aanlyn platforms beskikbaar is. Die studie het ook bevind dat die meerderheid organisasies wat KI gebruik, nog nie formele KI-beleide of riglyne het nie.
Hoe lyk dinge hier plaaslik?
Media24, die moedermaatskappy waaraan Jonathan Ball Uitgewers behoort, het al geruime tyd ’n amptelike KI-beleid. Ons het ook ’n dokument wat as addisionele interne riglyn vir uitgewers dien en gereeld aangepas word.
By Jonathan Ball, wat die ou NB Uitgewers insluit, is ons al vir die afgelope twee tot drie jaar besig om in verskillende afdelings van die maatskappy met KI te eksperimenteer en dit in van ons werkprosesse te inkorporeer. Ek deel graag enkele voorbeelde van hoe ons KI suksesvol binne die groter maatskappy inspan:
– Ons verkopespan is die grootste gebruikers van KI.
- KI ontleed groot hoeveelhede verkoopsdata vinnig en help met die opstel van verkoopsverslae.
- KI gee insigte in tendense en leemtes.
- KI verpak inligting oor groot getalle boeke vinnig en versnel die proses om bestelvorms vir boekwinkels op te stel.
– Die bemarking- en publisiteitspan gebruik KI vir
- die skryf, versorging en vertaling van sosiale media plasings en persverklarings
- as kommunikasiehulp – hulle vra KI byvoorbeeld of ’n e-pos professioneel genoeg geformuleer is
- soekenjinoptimalisering (SEO) – KI gradeer onderskrifte by potgooie en dui aan hoe SEO-vlakke verbeter kan word.
– Redaksionele en produksiespan
Ons redaksionele spanne gebruik KI meestal om aspekte van die boekproduksieproses doeltreffender, akkurater of makliker te maak.
Dit help veral ons span by Pharos-woordeboeke, omdat die herhalende take in die opstel van ’n woordeboek met die hulp van KI geoutomatiseer kan word. Hulle het ’n agent geskep om die struktuur van elke woordeboekinskrywing na te gaan om seker te maak daar is konsekwentheid in terme van byvoorbeeld woordbreuke, klemaanduidings, die meervoudsvorm en woordsoortklassifikasie. Dit is moeilik om te verseker wanneer alles handmatig gedoen word, veral wanneer verskillende leksikograwe aan een woordeboek werk.
Ons produksiespan gebruik dit om beskrywings van omslae vir e-boeke te genereer sodat ons aan EU-standaarde vir toeganklikheid vir siggestremdes kan voldoen.
– Ons uitgewers span KI voorts in om
- voorstelle vir boektitels te maak, veral vir niefiksieboeke
- rowwe sketse vir omslae te genereer, wat uitgewers gebruik om hul opdrag aan ontwerpers saam te stel. (Let wel: Ons gebruik nie KI om ons omslae vir ons te ontwerp nie.)
- niefiksie-uitgewers te help om boekidees te konseptualiseer en voorlopige inhoudsopgawes op te stel vir manuskripte wat in opdrag geskryf word
- loktekste (blurbs) te skryf.
- boekopsommings te vertaal vir die inligtingstukke wat die verkopespan gebruik
- voorbeeldhoofstukke uit Afrikaans in Engels te vertaal met die oog op internasionale-regte-verkope
The bad
Ons het al heelwat met KI-vertalings geëksperimenteer, uit Afrikaans in Engels en andersom. Die meeste KI-vertalings skiet egter ver te kort, behalwe as dit ’n baie eenvoudige teks is. Dit moet intens deur menslike redigeerders herbewerk word. Hier is van die algemeenste probleme:
- Die vertaling is baie direk en letterlik.
- Dit is nie altyd in idiomatiese Afrikaans nie en nuanses verdwyn dikwels.
- In vertalings in Afrikaans word die Engelse sinskonstruksie verkeerdelik gevolg.
- Dit vertaal dikwels opsommend en nie sin vir sin nie, wat beteken stukke teks verdwyn.
Hoe gebruik skrywers KI?
Die bekroonde skrywer Zakes Mda het vroeër vanjaar by die Time of the Writer-fees gesê dat KI vir hom ’n nuttige werktuig vir sy skryfwerk is. “Ek weet baie van die mense in my beroep is baie bang dit gaan hulle vervang. Ek deel nie in daardie vrese nie. Ek gebruik dit heeltyd.”5
Volgens hom kon hy ’n biografie oor Chris Hani binne ses maande afhandel, en dat dit sonder die hulp van KI minstens twee jaar sou geneem het.
Ek dink van die belangrikste vrae vir hierdie oomblik is die verskillende maniere waarop, en vlakke waartoe, skrywers KI in hul skryfwerk kan en behoort te gebruik. Daar is ’n massiewe stuk grys gebied tussen “KI was ’n skryfgenoot en het my gehelp om die teks te verfyn” en “KI het my met my navorsing gehelp” en “KI het die teks vir my geskryf.”
Ek vermoed daar mag dalk nie gou klinkklare antwoorde op hierdie vrae wees nie, maar dit is juis waarom ons gereeld en indringend daaroor moet gesels.
Nog ’n skrywer wat KI vir navorsing gebruik, is Rudie van Rensburg. Vir sy boek Enigma het hy Grok gebruik om meer te leer oor die tegniese besonderhede van meeluisterapparate en diamantslyptoerusting. Volgens hom is dit baie vinniger as om op Google na dié soort inligting te soek. “Die voordeel is ook dat jy spesifieke vrae kan vra soos of daar in Suid-Afrika wetlike vereistes is om meeluisterapparate te bekom.”6
Jaco Wolmarans skryf op sy webwerf hoe hy altyd Google Earth en internetfoto’s gebruik het om ware plekke en tonele te help visualiseer. Intussen het hy begin om KI hiervoor in te span. “Hoewel ek baie lugtig vir KI se nadelige uitwerking op ons werkomgewings is, kan ’n mens nie misken wat ’n kragtige stuk skeppende gereedskap dit is nie.”7
Fanie Viljoen het KI ook vir navorsing vir sy jongste jeugboek, Kwantum, gebruik. Hy waarsku egter teen hallusinasies en daarom het hy KI se verduidelikings oor kuberkrakingstegnieke verder met ’n krakervriend van hom bespreek. Hy voel dit is belangrik dat skrywers weet wat KI kan doen, hetsy dit goed of sleg is.8
Etienne van Heerden was almal ligjare vooruit toe hy al in 2021 met sy dogter, die akademikus Imke van Heerden, saamgewerk het om KI-geassisteerde skryfwerk in Afrikaans te ondersoek. Hulle het AfriKI, Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie, geskep om frases te genereer uit Etienne se boek Die biblioteek aan die einde van die wêreld wat toe deur Imke saamgestel is om kort gediggies te vorm.9
Dus?
KI is nie nét sleg of nét goed nie. Vir my maak dit sin dat skrywers KI op al hierdie wyses moet kan inspan, en ook met die taalversorging van hul teks.
Die vraag is egter wanneer help KI te veel en is ’n stuk skryfwerk primêr nie meer die resultaat van menslike inspanning en kreatiwiteit nie? Oftewel, wanneer is dit nie meer oorspronklik nie?
Dit raak al hoe moeiliker om vas te stel wanneer KI as skryfgenoot gebruik is. In Mei vanjaar het ek vir die eerste keer ’n Engelse niefiksiemanuskrip ontvang wat nie ek of een van ons senior uitgewers besef het met die hulp van KI geskryf is nie.
Uitgewers se rol as kurators en beskermers van die menslike skeppingsproses en kreatiwiteit is nou relevanter as ooit, en ek glo dit gaan vorentoe selfs nog belangriker word. In ’n wêreld waar jy miljoene KI-gegenereerde boeke teen sakpaspryse sal kan koop, gaan goeie literatuur al hoe eksklusiewer en meer gesog word.
Eve Fairbanks, ’n Amerikaanse joernalis en skrywer wat in Johannesburg gebaseer is, skryf in The Atlantic:
No matter how much we may tell ourselves that AI is just a tool like spell-check, it isn’t. When we use AI to flesh out ideas, we lose the most important part of the writing process: thinking ... When human beings write, we judge ourselves; we stop; we backtrack. In published writing, the traces of this process are erased. But it is the process that makes human writing sensible and meaningful.10
Adam Kirsch, ’n senior redakteur by The Atlantic, skryf onlangs dat die opkoms van KI-skryfwerk eintlik ’n wonderlike geleentheid vir die literatuur skep, selfs al gaan dit die lewe vir professionele skrywers moeiliker maak. Hy wys daarop hoe skilderkuns vir gebruiksdoeleindes, byvoorbeeld vir portrette, in die 19de eeu deur fotografie vervang is, omdat ’n kamera mense en dinge gewoon baie akkurater en goedkoper kon dokumenteer as ’n skilder.
Maar, sê hy, dit het nie die einde van die skilderkuns beteken nie:
On the contrary, it entered a golden age: Freed from the obligation of realism, painters developed radical new ways of seeing, such as Impressionism, Cubism, and abstract expressionism. Now AI has the potential to liberate literature in the same way. In a world full of emptily competent prose, we need writers daring, challenging, and obstinate enough to tell us what it’s like to be human, “from the inside”.11
KI kan nie belewenisse hê nie en dit het nie perspektief nie – ek glo en hoop dus dat ons op die vooraand van ’n goue era vir die literatuur staan.
Eindnotas
1 Reuters. “ChatGPT app hits 1 billion monthly active users in record time, data shows”. 3 Junie 2026. https://www.reuters.com/technology/chatgpt-app-hits-1-billion-monthly-active-users-record-time-data-shows-2026-06-02.
2 Die uitgewershuise is Elsevier, Cengage Learning, Hachette Book Group, Macmillan Publishers en McGraw Hill.
3 Milliot, Jim. “Publishers file lawsuit against Meta, Mark Zuckerberg. 5 Mei 2026. https://www.publishersweekly.com/pw/by-topic/digital/copyright/article/100329-publishers-file-infringement-lawsuit-against-meta-zuckerberg.html.
4 Anderson, Porter. Frankfurt: How much is book publishing using AI? Publishing Perspectives: Frankfurt 2025, 21 Oktober 2025. https://publishingperspectives.com/2025/10/frankfurt-how-much-ai-usage-is-actually-going-on-in-publishing/. Sien ook BISG AI working group by https://www.bisg.org/artificial-intelligence.
5 De Beer, Erika. KI soos pandemietyd se pajamas vir die skrywer. Netwerk24, 26 Maart 2026. https://www.netwerk24.com/stemme/aktueel/ki-soos-pandemietyd-se-pajamas-vir-skrywer-20260326-0660.
6 E-pos-korrespondensie met Rudie van Rensburg, 14 Julie 2026.
7 Wolmarans, Jaco. ’n Boek in prentjies. Op Jaco Wolmarans Boeke, 5 Julie 2025. Sien https://jacowolmarans.co.za/n-boek-in-prentjies.
8 E-pos-korrespondensie met Fanie Viljoen, 14 Julie 2026.
9 Van Heerden, Imke. Afrikaans se eerste KI-gedigte. LitNet, 28 April 2022. https://www.litnet.co.za/afrikaans-se-eerste-ki-gedigte.
10 Fairbanks, Eve. The biggest tell that something was written by AI. The Atlantic, 29 Mei 2026. https://www.theatlantic.com/technology/2026/05/how-to-tell-ai-writing/687345.
11 Kirsch, Adam. Why AI Is incorrigibly didactic. The Atlantic, 15 Junie 2026. https://www.theatlantic.com/ideas/2026/06/ai-writing-style-literature/687536.
Kyk en lees ook:
Naomi Meyer: Whose line is it anyway? Kopiereg, oorspronklikheid en outeurskap in die era van kunsmatige intelligensie
Imke van Heerden: Hou KI ’n bedreiging vir skrywers in?
Etienne van Heerden: Artisanal/Ambagtelik
Julio Agrella: Gedagtes oor die effek van KI ná die Sewende Etienne van Heerden Veldsoirée
Imke van Heerden: LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer
Willem Krog: KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens
Rianne van Vuuren: Van mens tot masjien: Wikipedia en die voortbestaan van betroubare kennis
AfriKI: Die eerste KI-gedig in Afrikaans: "Silwerwit in die soontoe"
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo

