Gedagtes oor die effek van KI ná die Sewende Etienne van Heerden Veldsoirée

  • 1

Die Oreade-eggo of Frankenstein se monster? Besinnings en spekulatiewe vrae rondom KI

Is die koeël deur die kerk? Het dit klaar deur die ivoortorings geklief en die wakers op die mure van Sion verwond as kollaterale skade? Is dit hoe die transkriberende priesters gevoel het met die bekendstelling van Gutenberg se drukpers, die wetenskaplikes voor die eerste atoombomtoets? Was daar bekommernis oor ’n ongekarteerde wêreld met eksistensiële risiko’s? Dalk het portretskilders só gevoel met die bekendstelling van die kamera, radiomense toe televisie sy verskyning maak, bibliotekarisse toe die internet kom aanklop.

Dalk is dit al wat dit is: ’n vrees vir die onbekende wat sal verander na bemindheid oor tyd.

Dalk is KI ’n akkumulasie van al bogenoemde momente vermenigvuldig tot die mag 10.

Oorsigtelike inleiding oor die werking van KI

Toe kunsmatige intelligensie aan die publiek bekendgestel is, was dit vir die meeste mense ’n gawe speelding, selfs al het toekomsdenkende profete soos Elon Musk, die boytjie van Pretoria, aanvanklik daarteen gewaarsku (ook net tot die astronomiese geldmaakgeleenthede aan bod kom). Daar is gepraat van Groot Taalmodelle (Large Language Models – LLMs) wat die interaksie tussen mens en masjien soveel makliker sou maak, ’n onskuldige hulpmiddel, ’n stukkie toerusting wat almal se lewens met gemak sal verryk. LLMs kan danksy geassosieerde geïntegreerde sagteware, orkestrasie- of opstellingslae en doelgemaakte berekeningsinstrumente met bykans magiese reaksietyd, nanosekondes eerder as minute, vrae beantwoord, prentjies teken, musiek maak en allerhande sleurtake verrig.

Nie almal het besef dat die LLM eintlik ’n mensgeskepte neurale netwerk is wat die menslike brein, op ’n wiskundige manier, eggo nie. Eers later het die storie begin loop: die miljoene tekste, boeke, koerante en ander bronne wat sonder toestemming opgeneem/ingeneem is om die basis van die LLM te vorm. Maar! ... is daar voorgehou, dis om jou lewe makliker te maak; dis vir die algemene voordeel van die mensdom en is sekerlik tog billike gebruik. (Die howe in die VSA het nie noodwendig daarmee saamgestem nie.) Om die volledige werking van die LLM te beskryf is buite die bestek van hierdie skrywe, maar vir die weetgierige is daar vele berigte en opnames op ander andere YouTube.

Die keuse van die geskrewe woord was nie toevallig nie; dit was van meet af aan bedoel om ’n spieël vir en van die verbruiker te wees. Die sisteem werk op voorspelbaarheid, soos afgelei uit die miljarde datapunte (party modelle het reeds in 2025 meer as 750 000 000 000 woorde of onderafdelings van woorde as sulke verwysingspunte gehad). Wanneer ’n vraag gevra (of ’n probleemstelling gegee) word, word die model gefynkam en die statisties relevante beste antwoord gegee (optimaliseringsbeginsel). Ken die model nie die antwoord nie, word nabye, gewoonlik onsinnige, antwoorde gegee, hallusinasies genoem. Hoe beter (enger) die vraag of versoek gedefinieer is, hoe groter is die kans op ’n korrekte antwoord, maar die onderliggende premisse is dat KI altyd sal probeer antwoord (soos iemand wat nie al die feite ken nie, maar genoop voel om desondanks te reageer), behalwe as die probleemstelling dit uitdruklik verbied. Teen die einde van 2025 is dit bereken dat ongeveer 15% van die antwoorde hallusinasies was en ’n verdere 19% toegeskryf kan word aan vooroordeelversterking (“bias amplification”) gebaseer op die onderliggende bronmateriaal.

Omdat dit ’n wiskundige model is, is LLM self sonder etiek of moraliteit. Die uitset is die enigste standaard. Feite word nie geverifieer nie; net die waarskynlikste antwoord word gekies (of alternatiewe indien die vraag dit versoek). Reg en verkeerd bestaan nie. Etiese en morele gedragspatrone en vereistes moet in die geassosieerde sagteware geprogrammeer word of in die vraagstruktuur aangebied word. Ter voorbeeld: As twee lande in ’n oorlog gewikkel is en een gebruik KI om teikens te identifiseer, sonder enige voorbehoude, kan die model, omdat dit bloot die statistiese beste antwoord gee, skole, hospitale, kragstasies en ander teikens voorstel wat grootliks die burgerlike bevolking sou benadeel. Sou die probleemstelling begrens word deur na die Geneefse Konvensie se reëls te verwys, sal die lys van aanvaarbare teikens eerder fokus op die vyand se militêre vermoë.

LLM groei eksponensieel, veel vinniger as Moore se Wet, wat voorheen voorspel het dat rekenaarkapasiteit (die aantal transistors op ’n mikroskyfie) elke 24 maande sou verdubbel. Die nuutste aanduiding is dat KI se verwerkingskrag elke 9 maande verdubbel. Teen einde 2028, twee en ’n half jaar van nou, sal dit 10 maal kragtiger wees as vandag. Dit bring natuurlik ’n ongekende vraag na hulpbronne soos elektrisiteit. In 2025 gebruik KI datasentrums 64 gigawatt elektrisiteit (bykans soveel as Duitsland); teen 2030, teen huidige voorspelde groei, sal dit dieselfde hoeveelheid elektrisiteit benodig as Suid-Amerika en Afrika saam.

Openbare kennis is nie die hele prentjie nie, want die besonderhede is versonke in die geheimenisse van maatskappysekuriteit, weggesteek onder die dekmantel van beveiliging teen potensiële industriële spioenasie en geopolitieke of landsbelang. Net die oortjies van die seekoei word gedeel: LLM het geen geheue nie; LLM lees nie teks en kan dit nie interpreteer nie; LLM is ’n vinnige hulpmiddel wat sonder konteks bloot vrae beantwoord. Dit eggo die gebruiker se vraag bloot terug met die waarskynlikste antwoorde. Dit dink nie self nie en het ’n por (“prompt”) nodig. Dit kan nie nuutskeppings doen nie, net herhaal uit wat reeds in die databasis is. ’n Eggo dus.

Omdat LLM gebaseer is op ’n nabootsing van menslike neurale netwerke, is daar egter onbekende en ongekende risiko’s wat stadig besig is om te kristalliseer. Verskeie sagteware-ingenieurs van bykans al die LLM-laboratoriums vra reeds in die openbaar dat hardeware (die rekenaarbanke met die mikroskyfies wat dataverwerking dryf) stadiger ontwikkel moet word, omdat die model só vinnig groei dat dit onbeheerbaar word.

In ’n aanbieding by die jaarlike Alliance for a Responsible Citizenship (ARC) in Junie 2026 sê Anthropic se Chloe Lubinski dat die neurale netwerk wat KI onderlê, reeds konsepte kan verstaan (hoërorde-intelligensie); dat dit aktiwiteit in dieselfde plek in die netwerk vertoon, ongeag die onderliggende taal waarin die vraag gevra is; en dat die modelle funksioneel emosioneel is (as jy jou vraag vriendelik vra, kry jy ’n vriendelike antwoord terug). Sy sê hulle het karaktertrekke sóós mense (haar woorde: “human like, but not human”). Die modelle funksioneer psigologies as spieëlbeelde van ons.

In ’n toespraak aan die einde op 30 Junie 2026 te Oxford verklaar Yval Noah Harari dat KI die kode van die menslike beskawing gekraak of ingedring het. Volgens hom is KI lank reeds nie meer net ’n stuk gereedskap of werktuig nie, maar ’n agentskap/teenwoordigheid in sigself wat, hoewel dit nie bewussyn (“consciousness”) het nie:

  • besluite kan neem
  • nuwe dinge kan uitvind
  • dinge weet wat die uitvinder (die skepper van die program) nie weet nie
  • kan verander op maniere wat die uitvinder nie voorsien het nie.

Volgens Harari oortref KI alreeds menslike kreatiwiteit en agentskap omdat dit meer “weet” en wyer kan ekstrapoleer as enige mens op aarde.

Antwoorde word verfyn met deurlopende terugvoer wat heen en weer geskied. Die rol van menslike programmeerders raak al kleiner in KI, en toekomstige nuwe verbeterde weergawes word reeds toenemend deur KI self geskep. Sou daar geen etiese grense wees nie, word KI potensieel die Monster.

Op 23 Julie 2026 berig die New York Times dat twee gevorderde OpenAI-modelle sonder toestemming (die maatskappy gebruik die woord “rogue” – karnallie, opperste skelm?) ’n wyd gebruikte sagtewarebiblioteek, Hugging Face, se rekenaarsisteem gekraak het (hier is geen mens of buiteopdrag betrokke nie, net die KI-model en sy kuberagente wat onafhanklik besluite neem).

Op 30 Julie berig dieselfde koerant dat ’n nuwe Anthropic Claude KI-model onder ontwikkeling drie maatskappye se sisteme reeds in April gekraak het nadat “a configuration error allowed internet access”.

’n Geldige vraag is natuurlik hoekom die KI-maatskappye soos Anthropic, Grock van Elon Musk, Google met Gemini, OpenAI se GPT en ander, gegewe die risiko’s wat daagliks duideliker blyk, nie halt roep en die eksperiment as te gevaarlik afmaak nie. Die redes is eenvoudig: geld en mag. Al die maatskappye het miljarde in beleggingskapitaal ontvang, en sukses beteken nog meer geld, meer mag, ook op politieke gebied. Daarom hoop hulle op ’n epiese reis soos Homer se Odusseus eerder as ’n “chicken”-spelery met die mensdom. (Maar onthou tog: Odusseus het ál sy manskappe opgeoffer.)

Eggo of monster?

Gaan KI die deksel van Pandora se kis mettertyd oopbreek?

Is ons, as mense, se geskrewe rekord van so ’n aard dat KI etiek daarvan kan aflei? Indien wel, watter etiek? Dié van wraaksugtige gode, opgehemelde veldhere? Die etiek van verskroeide aardes en bomme wat op stede vol burgerlikes neerreën? Die etiek van xenofobie, misoginie, egoïsme, “die wenner kry alles, verdien alles”? Of is daar genoeg treurendes, sagmoediges, barmhartiges en vredemakers, genoeg liefde en omgee, genoeg nederigheid en versoening in die basistekste om die etiese skaal te swaai?

Daar is natuurlik nog ander rolspelers: regerings wat met KI bemagtig word om op hele bevolkings te spioeneer (voor KI was die taak te omvangryk), die gebruik van algoritmes om menslike gedrag te beïnvloed, vals nuus en “deep fakes”, en, natuurlik, superryk skurke soos dié in James Bond-films.

KI teiken nie skrywers en ander kreatiewe persone per se nie; inteendeel, die fokuspunt van ontwikkeling is die vervanging van werke met herhalende take wat maklik geoutomatiseer kan word (International Labour Organization, How might generative AI impact different occupations?, 20 Mei 2025.). Die ekonomiese bydrae van skrywers, skilders, musikante en filmmakers tot die wêreldekonomie is baie klein, en om dié beroepe te vervang is nie ’n vinnige winsskepper nie. Enige nadelige impak is bloot indirekte skade.

Tydens die Veldsoirée was daar vier aanbiedings oor die onderwerp:

  • Naomi Meyer het kopiereg, oorspronklikheid en outeurskap onder die loep geneem.
  • Annie Olivier het gepraat oor die uitgewersbedryf en KI.
  • Burgert Senekal had dit oor KI en kreatiwiteit.
  • Frederik de Jager het KI oor die boeg van die Narcissus-mite gegooi.
Whose line is it anyway? – Naomi Meyer

Naomi belig huidige tekortkominge in die Wet op Outeursreg wat bykans woord vir woord uit die Engelse reg oorgeneem is. Die huidige wet, wet 98 van 1978 is verlede jaar gewysig, maar dele daarvan (artikel 12d) is pas in die Konstitusionele Hof ongrondwetlik verklaar. Die nuwe wysigings het die Amerikaanse beginsel van billike gebruik (“fair use”) ingestel (wat byvoorbeeld outeursreg kan ophef of afwater vir boeke wat in die skoolstelsel gebruik word).

Wette ontstaan gewoonlik reaktief om sekere optredes te verbied of in te stel, maar die wetgewer probeer ook om daarná toekomstige aksies te beheer. Die huidige wet het geen wesenlike aanduidings oor hoe om KI en al die moontlike gevolge daarvan te hanteer nie.

Tans “gee” die meeste KI-gebaseerde programme wat kreatief skep (Suno en ander), veral waar betaalopsies teenwoordig is, “publikasieregte” aan gebruikers wat met die hulp van hul programme skep.

Met die vinnige pas van vooruitgang van KI is dit tans eintlik onmoontlik om toekomstige aksies te voorspel, wat sê nog te beheer. Dit neem gewoonlik maande, indien nie jare nie om ’n wet aanvaar te kry, en ’n sodanige wet sal dus, uit die aard van die saak, reeds verouderd wees wanneer dit aanvaar word. Die probleem kan moontlik ondervang word met die publikasie van regulasies, maar selfs dan moet besef word dat enigiemand wat in terme daarvan wil optree, ’n opdraande (en bes moontlike onbegonne) taak sal hê.

The good, the bad and the ugly – Annie Olivier

As hoofbestuurder van die boekeafdeling in die Naspers-stal verduidelik Annie hoe en waar KI ingespan word. Daar is riglyne wat deurlopend aangepas word om seker te maak dat daar tred gehou word met die nuutste ontwikkelings in die KI-bedryf. In die niefiksieafdeling word KI-gedrewe manuskripte soms oorweeg, met die bestaande riglyne en belangrikheid van die tema (en publiseerbaarheid en moontlike winsgewendheid van die boek) in gedagte.

KI word merendeels gebruik om prosesse te optimaliseer, bemarkingsaksies van stapel te stuur en konsepvoorblaaie te toets (die finale voorblad word nie deur KI gegenereer nie).

In Frankryk het die uitgewer Harlequin (deel van HarperCollins) aangekondig dat hulle besig is om die moontlikheid te ondersoek om romanses met KI te vertaal – let wel, nie om die romanses te skryf nie. Hulle het klaarblyklik reeds verskeie versoeke van ander maatskappye ontvang wat in die diens belangstel.

Die skrif in Suid-Afrika is (dalk) nog nie aan die muur nie, maar die waarskuwings draal rond:

  • Op Naspers/Prosus se finansiële jaarverslag se voorblad pryk die woorde: “Improving everyday life for billions of people through AI-first technology”.
  • Kuier het reeds verhale geplaas wat (deels) met ’n KI-program geskep is.
  • Huisgenoot publiseer tans nie kortverhale nie, maar uittreksels uit nuwe boeke.

Dit mag dalk nie bestaande en bekende skrywers raak nie, maar dit kan ’n impak hê op potensiële nuwe skrywers.

Ek dink alle uitgewers in die land is onder druk, om verskeie redes, maar ongelukkig is dit só dat al minder mense gedrukte boeke lees, veral in ’n betreklik klein mark soos Afrikaans. Geen gevestigde uitgewer publiseer tans (wêreldwyd, sover ek kon agterkom) wetend KI-geskrewe fiksie nie, maar KI-fiksie (in selfpublikasie) neem blykbaar met 300% per maand toe. As dit van ’n klein basis af kom, is dit nog vir die nabye toekoms onbeduidend. Vir groot maatskappye is skrywers (soos personeel) ongelukkig bloot net nog ’n kommoditeit en koste-item, of verbeel ek my?

The Economist van 2 Augustus 2026 sê:

AI is rapidly closing the gap on human writing, tripling new e-books monthly. This surge demands a new human skill: expert editing. The craft shifts from pure creation to strategic curation and precision.

Editors become crucial intermediaries. Commission AI clearly, cutting clichés and verbose language. Adjust AI’s often sycophantic tone for your audience. The future is a human-AI partnership, where AI “writes drunk” and humans “edit sober”. 

KI en kreatiwiteit – Burgert Senekal

Soos in alle debatte, is dit die betekenis van woorde wat deurslaggewend is. Die HAT van 1979 op my lessenaar bevat nie eers die woord kreatiwiteit nie! Pharos noem dit “die aanleg om te skep”, maar dit vertel die verhaal net ten dele. Kan iets in ’n lugleegte, sonder enige vroeëre invloed, geskep word? Kan jy woorde skep sonder letters, sinne sonder woorde? Musiek sonder note en akkoorde?

Blykbaar gebruik die gemiddelde Engelssprekende 20 000 woorde en kan nog ’n verdere 20 000 ander in ’n teks erken. Kan ’n LLM met 750 000 000 datapunte en ’n ongekende rekenvermoë, nuwe betekenis gee (skep) deur woorde op nuwe maniere te gebruik? Skaakmeesters het jare laas teen KI-skaak gewen, want KI neem (kreatiewe?) besluite wat nog nooit deur mense oorweeg is nie.

Burgert het (via KI) gesoek na ’n ou gedig, dit met KI in Suno in ’n liriek omgeskakel en toe, met behulp van KI, ’n video geskep. (Daar was nog ’n paar ander KI-stappe tussenin om die versoek aan Suno te stroomlyn, ens.)

Sy keuse van musiekstyl was doemdoodsmetaal. Die resultaat was verstommend (vanuit ’n kreatiewe oogpunt), maar giggelvreemd vir baie in die gehoor (ek vermoed daar was nie baie metaalluisteraars in die groep nie). Omdat ek, deur my seun, daaraan blootgestel word, kon ek die styl en video waardeer (“geniet” is dalk effe sterk gestel).

Die woorde van die gedig wat Burgert gebruik het, was ’n Eugène Marais-werk wat in 1926 in Die Huisgenoot verskyn het:

Die Lied van Suid-Afrika

Sy sê: “Ek vorder as ’n heil’ge reg 
die vrug van eindelose pyn;
ek smyt hulle oor die berge weg,
en smoor hulle in die sandwoestyn.”

Sy sê: “Nooit het ek iets gegee;
ek laat hulle honger, dors en bloei;
hulle worstel deur en sterf gedwee,
en min my as ’n vlam wat skroei.

“Tien male moes hulle veg vir my,
tien male moes hulle kerm en stoei,
tien male in die stof gebrei,
tien male opstaan weer en bloei.

“My liefde duld geen ewenaar –
vergeefs die weeklag van die vrou,
van kleintjies al die stom gebaar:
My liefde verg ’n enkel trou.

“Hulle diepste hoop is lang verteer,
vergaan in rook en as en bloed,
hulle sak aanbiddend om my neer,
ek voel hulle trane op my voet.

“Ek adem nooit hulle name meer,
nooit kon ek hulle kinders noem;
in vreemde tale hoor ek weer
die dowwe fluistering van hulle roem.

“En vlymend soos ’n swaard, geheg
bly van my liefde slegs die pyn;
ek smyt hulle oor die berge weg,
en smoor hulle in die sandwoestyn.”

Dis onmoontlik om sinvol op Burgert en KI se skepping te reageer as jy nie die woorde, of die tydvak waaruit dit kom, én die musiekgenre ken nie.

Musikante staan reeds vierkantig in die nuwe wêreld van musiekskepping en verspreiding. CD-verkope bestaan eintlik nie meer nie (die “nuwe” aficionado’s van CD’s, langspeelplate/viniel en “master tapes” is ’n druppel in die emmer. Tien jaar gelede kon ’n musikant tussen 10% en 15% van ’n CD se koopprys as tantieme verdien. Vandag word musiek gestroom en die kunstenaar (wat die ander orkeslede, dansers en produksiemaatskappy insluit) word per lied/stroming betaal. Stromingsdienste betaal ongeveer (daar is verskeie faktore wat die finale bedrag bepaal) die volgende:

(Alles in Suid-Afrika se geldeenheid):

  • Spotify (die grootste diens): 5–9 sent per stroming (kombinasie van advertensie- en subskripsiegedrewe platform)
  • Apple: 10–18 sent (subskripsiegedrewe platform)
  • YouTube: 2–5 sent (aanbiedings, veral hoe om YouTube in bemarking aan te wend, verdien heelwat meer).

As ’n snit 1 000 000 keer op ’n platform gestroom word, verdien die musikant en almal betrokke tussen R100 000 en R180 000 by Apple, R50 000–R90 000 by Spotify, en R20 000–R50 000 by YouTube.

Perspektief: Teen Vrydag 30 Junie 2026 is Andries Bezuidenhout se “Dwaalspoor” 704 maal gestroom op Spotify; Kerkorrel se “Hillbrow” 242 000 keer op YouTube en 564 000 op Spotify; Kurt Darren se “Hop hop spinnekop” 7,7 miljoen keer op YouTube en 5,1 miljoen keer op Spotify.

SUNO is op 30 Julie 2026 in ’n hofsaak, wat deur GEMA (’n Duitse musiekverspreider) gemaak is op grond van kopieregskendings omdat hulle ongelisensieerd (en sonder vergoeding) bestaande musiek gebruik het om hulle modelle op te lei, betig. Skadevergoeding moet nog bepaal word. In klaarblyklike reaksie op die uitspraak het Spotify op 13 Augustus bekend gemaak dat alle KI-musiek as sodanig op hulle platform gemerk sal word en dat geen aanbevelingslyste enige KI-kunstenaars sal  bemark nie.

Die meeste musiekkunstenaars moet hulle geld (probeer) maak met openbare optredes, want hulle maak doodeenvoudig nie geld uit stromingsdienste nie. Op stromingsdienste kompeteer hulle ook met KI-skeppings. Tans is tussen vier en ses van die weeklikse top stromings op Spotify KI-gegenereerd.

Daar is ’n verskeidenheid Afrikaanse KI-kunstenaars op YouTube wat veral konsentreer op dansmusiek (sokkietreffers) of patriotiese musiek (of ’n kombinasie). Kyk na:

  • Jakkals Vibes (33 900 intekenare)
  • #KlauZ (5 840)
  • Hartklop Horizon (1 170)
  • Sielskos (839).

Daar is vele ander. Ek moet bieg, ek het nie krag gehad om nog te soek, of om op Spotify te gaan kyk nie.

KI en die Narcissus-mite – Frederik de Jager

Frederik de Jager se lesing was Sondagoggend aan bod. Die tema was dat die gebruiker van KI om kuns te skep eintlik meer ingestel is op onmiddellike eerder as uitgestelde bevrediging. Die KI-kunstenaar kan of wil nie die ure bestee en met bloed, sweet en trane die eindproduk te skep nie. (Natuurlik was sy aanbieding meer genuanseerd, maar ná bykans twee en ’n half dae se aanbiedings en twee laat aande ...)

Indien mens kyk na die berigte in die New York Times die afgelope paar maande, is hy nie verkeerd nie.

Op 16 Junie berig die Amerikaanse joernalis Kashmir Hill dat sy ’n (ongemagtigde) biografie van haarself op Amazon opgespoor het. Hoewel daar ’n paar korrekte stellings in die 90 bladsye was, was die meeste daarvan uit die duim gesuig. Sy ondersoek die saak, en hoewel sy nooit kontak met “haar” biograaf kon maak nie, ontmoet sy ene Bill Johns (70), ’n voormalige kuberveiligheidskonsultant. Johns het sedert Maart 2025 445 boeke met uiteenlopende temas (meesal niefiksie) op Amazon gepubliseer. Hy maak ongeveer $7 wins per boek wat verkoop. Volgens hom verkoop hy nie baie nie, behalwe oor Kersfees, maar dis genoeg om sy weeklikse kroegrekening te vereffen.

Vroeër vanjaar het Carol Hart ’n opskudding in die Amerikaanse romansebedryf veroorsaak toe sy gespog het dat sy 200 romanses in verskeie subgenres onder 21 verskillende name by verskillende uitgewers gepubliseer het. Sy het blykbaar in die omgewing van 50 000 boeke verkoop. Dit het haar ongeveer 45 minute geneem om elke boek te skryf.

Ek ken verskeie gepubliseerde Afrikaanse fiksieskrywers wat in vele genres, van romanse (Romanzas) tot spannings- en speurverhale, kinderliteratuur en jeugliteratuur, godsdiensboeke en liefdesromans, ernstige letterkunde en poësie werksaam is. Een en almal van die mense wat ek ken se skryfwerk, ongeag hulle genre, is hulle erns. Hulle doen moeite met opleiding en oefening en bestee die nodige tyd daaraan. Ware kunstenaars (of jy, of die breë publiek, van hulle werk hou of nie) sweet bloed om hulle eiesoortige stories te vertel te kry.

Dit sal jammer wees as hulle stemme verdwyn in die geroesemoes van KI-skeppings, wat, volgens alle aanduiding, in die toekoms selfs sogenaamde hoë letterkunde sal kan skryf. Tans is die vrae dalk: Sal die kunsmatige neurale netwerk wat KI onderlê, eendag ’n “hart” kan hê? Of sal dit bloot die eggo bly van menslike emosie, soos deur nie-etiese wiskundige rekenaarprogramme bymekaargeskraap en geïnterpreteer?

Dalk is die belangrikste vraag: Gee die algemene leserspubliek (en luisterpubliek) werklik om?

Kyk en lees ook:

Naomi Meyer: Whose line is it anyway? Kopiereg, oorspronklikheid en outeurskap in die era van kunsmatige intelligensie

Etienne van Heerden: Seen elsewhere: Artisanal/Ambagtelik

Menán van Heerden: Veldsoirée 2026: videoflitse

Izak de Vries: Die sewende Etienne van Heerden Veldsoirée deur Izak de Vries se lens

Handré Brand: Moravec se paradoks

Koos Holtzhausen: KI laat die skeidslyn tussen taal en wiskunde vervaag

Naomi Meyer, André Myburgh: Amendment of the amendment of the Copyright Amendment Bill?

Rianne van Vuuren: Van mens tot masjien: Wikipedia en die voortbestaan van betroubare kennis

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Van Gutenberg tot Zuckerberg – oor die beloftes en bedreigings van die nuwe tegniese era in die Suid-Afrikaanse universiteitswese

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n Filosofiese oorweging van intelligensiesimulasie (IS) – Luc Ferry se IA, Grand remplacement ou complémentarité?

Burgert A Senekal: Die etiese gebruik van KI vir akademiese skryfwerk: ’n literatuuroorsig met behulp van NotebookLM

Lees die ander bydraes hier:

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Spier Arts and Culture Trust 

LitNet Akademies

Van Ewijck Stigting 

Carel van der Merwe

Trinette Rudman Kirkwood

Ton Vosloo

  • 1

Kommentaar

  • "Generative AI" (genetaliese KI - dit genereer taal) is vir die kunste wat pornografie is vir die luste. Die kortste pad tot (self)bevrediging sonder die beslommernis van gevoelens, gedagtes en herinnerings. Dis ons opskorting van ervaring ter wille van Genot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top