
Die gesprekke by die sewende Etienne van Heerden Veldsoirée van 24 tot 26 Julie was divers en so verrassend soos ’n Londen-taxi onder ’n lieflike Karoo-hemel.

Een van die beste beskrywings nóg van die Veldsoirée is dat dit “intellektuele speed dating” is. Dis nie ek wat dit uitgedink het nie, dit was die mooi woorde van Helené Coetzee ’n bemarker van Pan Macmillan. Coetzee het Refiloe Moahloli vergesel. Hier is hulle twee voor die gerestoureerde Tuishuis waarin hulle gebly het. Moahloli het Vrydagoggend met leerders van die plaaslike hoërskool gaan gesels. Ek kon nie daar wees nie, maar diegene wat die skoolbesoek bygewoon het, sê sy was fantasties. (Sy is in hierdie video deur Menán van Heerden te sien.)

Ek loop egter die storie nou vooruit.

Teen Donderdagaand het gaste begin opdaag. Talle het tuisgegaan in een van die lieflike Tuishuise in Markstraat.

Ander het die ooptes van DiRosie Lodge op Buffelshoek verkies.

Vrydagoggend 24 Julie om 09h00 het die ATKV-skryfskool afgeskop. Hannes Barnard het die prosa aangebied.

Bernard Odendaal het die poësie aangebied.

Net voor 14h00 het Darryl David, die stigter van die Veldsoirée, almal by die lesings verwelkom.

Annemarié van Niekerk het daarna die eerste lesing gelewer, oor nomadiese skrywerskap. Sy is self ’n rondtrekker en het oor haar eie werk, en dié van ander wat nomades is of was, uitgebrei.

Charl-Pierre Naudé het ’n filosofiese lesing gehou oor die tragiese as miskende verstaanskategorie en hoe ’n mens ’n vorm van intellektuele bevryding kan kry deur die verstaan van sekere letterkundige en filosofiese konstrukte.

Carina Stander het vertel hoe ware oorlogsgebeure en geweld haar genoop het om die Bergengel-reeks te skep – die konsep van baklei sonder bloed is gebore uit haar aversie vir die geweld wat ons om ons ervaar.

Steward van Wyk het daarna die gehoor bekendgestel aan ’n aantal gedigte wat Jakes Gerwel geskryf het. Van Wyk het die ongedateerde, ongepubliseerde gedigte ondersoek en hulle probeer plaas teen ’n moontlike tydraamwerk waarin hy vermoed Gerwel hulle kon geskep het.

Andries Bezuidenhout, ’n hoogleraar by Fort Hare, se praatjie was getiteld “Om sin te maak van universiteite wat brand”. Hy het vertel van die werk wat gedoen word om Fort Hare uit die kloue van apartheidonderwys en tuislandpolitiek te verwyder in ’n poging om dit ’n trotse akademiese instelling te maak. Die uitdagings is egter groot.

Vasti Roodt het gevra: Is daar nog ’n toekoms vir die letterkunde aan die universiteit? Letterkunde word dikwels gering geskat teen die wetenskappe, of wiskunde, velde waarin studente skynbaar makliker werk kan kry. Sy het idees gedeel met die gehoor oor hoe om mense anders te laat dink oor die belangrike rol van die geesteswetenskappe.

Anton Roodt het Vrydagaand ’n lesing oor spekulatiewe fiksie gehou.
Ná Roodt was daar vyf voorleessessies – skrywers wat vir agt minute uit eie werk kon voorlees.

Annemarié van Niekerk het voorgelees uit haar nuwe roman, Die oorkant.

Robert Schall (links) en Bernard Odendaal is albei vertalers van gedigte. Hulle het verlede jaar, ter viering van die eeufees van Afrikaans as amptelike taal, 100 gedigte uit Duits in Afrikaans vertaal. Albei het gedigte voorgedra.

Elmarie Dercksen het voorgelees uit Die gawe van groen en ook Wat die witbors wou sê, haar tweede roman wat pas verskyn het.

Charl-Pierre Naudé het van sy gedigte voorgelees.

Die sewende Veldsoirée was groter as enige van die voriges. Die lesingsaal van die Victoria Manor was volgepak.

Andries Bezuidenhout het die aand afgesluit deur gaste te vermaak met sang en ’n akoestiese kitaar.

Saterdagoggend om 08h00 het die ATKV-skryfskool weer begin. Hannes Barnard was oudergewoonte in die Biblioteek aan die einde van die wêreld.

Bernard Odendaal het die oggend afgeskop deur in gesprek te tree met Robert Schall oor die vertaal van gedigte. Enige een kon hierdie gesprek van ongeveer 30 minute bywoon.

Die lesings het toe geskuif na DiRosie Lodge op die plaas Buffelshoek. Nogeens was die saal stampvol.

Die tafels is met boeke en blomme versier.

Heindrich Wyngaard het die eerste lesing gegee, oor die stem van die skrywer in verkiesingstyd.

Mphuthumi Ntabeni het daarna gesels oor die spanning tussen die koloniale argief en orale tradisies, met spesiale verwysing na die stiltes in die koloniseerders se oënskynlik puntenerige aantekeninge.

Juliana Pistorius het ’n lesing gegee oor die wyse waarop William Kentridge die koloniale idee van die opera uitdaag met sy eie operas. Kentridge delf diep in die stiltes van die setlaars se argiewe en vul die verhoog dan met ’n kakofonie van klanke en beelde om die vergrype van die verlede te onthou.

Tom Dreyer het oor die mondmusiek van sy twee digbundels, Nou in infrarooi en Brief op veertigduisendvoet, gesels.

Yves T’Sjoen, ’n hoogleraar aan die Universiteit Gent, is die samesteller van die boek Twee overzijden, ’n gespreksreeks oor die literêre brûe tussen Afrikaans en Nederlands, ook tussen Suid-Afrika en die Nederlandstalige lande soos België en Nederland, asook van die kolonies wat eens deur die twee lande aan Nederlands blootgestel is.

Hy het ’n deel van sy lesing gebruik om boeke uit te deel aan ’n aantal medewerkers in Suid-Afrika wat die teks help vorm het. Die foto is deur Hanné Koster geneem.

Hoewel die Karoo-winters koud is in die nag en vroegoggend, is die dae heerlik. Kursusgangers kon middagete in die buitelug geniet.

Ná ete het Darryl David gesels oor sy literêre reise met honde en voorgelees uit sy nuwe boek, Doggone days. Heelwat trane is tydens hierdie lesing afgevee.

Naomi Meyer van LitNet, ook ’n prokureur, het na die oorsprong van kopieregwetgewing gaan kyk en verduidelik dat die wette gemaak is om mense se werk te beskerm; die ou frase dat werk “in die sweet van iemand se aangesig” gedoen word, het ter sprake gekom. Nou is daar die kwessie van KI. Wie se werk word aangebied as ’n skrywer KI gebruik? As daar geen sweet is nie, waarom moet iemand se regte beskerm word?

Asambese Mkumatela werk vir die Universiteit Stellenbosch, haar alma mater. Haar lesing het gehandel oor die redes waarom mense enige taal, maar veral dan Afrikaans, sou wil aanleer. Sy het ook uitgewei oor haar navorsing rakende die manier waarop Afrikaanstaalverwerwingstudente gebruik maak van vertaling in hul werkslewe en in hul persoonlike lewe.

Annie Olivier is ’n niefiksie-uitgewer en hoofbestuurder by Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie en Kwela, wat nou deel vorm van Jonathan Ball. Sy het oor die gebruik van KI in die uitgewersbedryf gesels, en het onder andere vertel hoe sy en haar kollegas KI gebruik om Afrikaanse boeke onder oorsese kopers se aandag te bring.

Japie Gouws is op die direksie van Die Louwhuis en Museum Sutherland. Die huis, waar NP Van Wyk Louw en WEG Louw gebore is, was vir ’n lang ruk baie vervalle. Gouws, en ander, het ingespring en berei tans die museum voor om weer vir die publiek oopgestel te word. Beide Louw-broers sal gehuldig word, en hul werk sal ook binne ’n groter konteks verduidelik word.
Almal is hierna terug na Die Tuishuise en Victoria Manor.

Etienne van Heerden en Heindrich Wyngaard het asem geskep in die lieflike voorportaal van die Victoria Manor.

Anschen Conradie en Hannes Barnard het idees uitgeruil.

Refiloe Moahloli het na ete bewys dat sy nie net goed is voor kinders nie, sy kan grootmense ook aan haar lippe laat hang met haar energie en passie.

Burgert Senekal het met behulp van KI Eugène Marais se gedig “Die lied van Suid-Afrika” as ’n lied in die genre van doemdoodsmetaal gekomponeer en selfs ’n musiekvideo daarvoor geskep. Hy het ook sy eie prosesse en gesprekke met die onderskeie KI-modelle verduidelik, en ook die uitdagings wat hy ervaar het.
Ná Senekal was daar weer voorleessessies – skrywers wat vir agt minute uit eie werk kon voorlees.

Tom Dreyer het eerste gelees.

Mphuthumi Ntabeni het gelees uit Multitudes, sy nuwe roman wat eersdaags op die rakke sal wees.

Naomi Meyer het in 2009 die Duleek Heritage Group-kortverhaalkompetisie in Ierland gewen met haar kortverhaal “Water”. Sy het die verhaal voorgelees.

Riana Scheepers het ons vergas op ’n kortverhaal en gedigte uit haar pen.

Carina Stander het voorgelees uit haar reeks oor die Bergengel.

Etienne van Heerden het voorgelees uit Diereriem, sy nuwe roman wat voor die einde van die jaar beskikbaar sal wees.

Van Heerden het daarna die Orde van die Windpomp aangekondig. Sy toespraak kan hier gehoor word.

Andries Bezuidenhout is aangewys as die ontvanger van hierdie eksentrieke prys.

Sondagoggend het varsgebakte plaasbrood gewag op diegene wat aangemeld het vir ontbyt op Buffelshoek. Daarna was dit weer volstoom vorentoe.

Jaap Goedegebuure het die oggend afgeskop met ’n lesing oor die falende helde. Hy het na literêre figure verwys, maar het ook geskiedenismakers soos FW de Klerk en Michail Gorbatsjof betrek.

Chris Heymans spesialiseer as politieke-ekonomie-adviseur, en water is veral iets waarin hy belangstel. Hy het ons vertel van die probleme wat tans in Suid-Afrikaanse munisipaliteite ondervind word, maar het ook bemoedigende woorde gehad. Daar is uitstekende mense wat nog probeer om ons land uit die verknorsing te kry, het hy gesê.

Frederik de Jager het die Griekse mitologie, en kuns, ingespan om vandag se uitdagings van KI aan ons samelewing teen ’n veel breër agtergrond te skets.

Piet Croucamp het gesels oor fiksie en die manier waarop dit die alledaagse lesers se politieke bewussyn kan oorreed om ’n saak te oorweeg, of nie.

Louise Viljoen het die Afrikaanse letterkunde teen ’n groter wêreldbeskouing gelees en toe ook gevra hoe ons inpas in die diskoers van die Globale Suide wat krities na ons toenmalige koloniseerders kyk.

Riana Scheepers het die gebeure op die dorp afgesluit met ’n lesing wat almal laat praat het. Sy het die baie ou gedig “Die Durbanse Poepwedstryd” ontleed om te probeer verstaan wanneer dit geskryf is en waarom. Die aanduidings is dat hierdie banale gedig eintlik ’n protesgedig was teen die joiners wat tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog met die Britte saamgewerk het.

Hierna het diegene wat wou, hul gehaas na Buffelshoek. Dirkie Visser, die eienaar, het die hulp van die plaaslike 4x4-klub ingeroep om die groot aantal gaste wat na Olive Schreiner se sarkofaag wou gaan, met die taamlik moeilike roete na bo te vervoer.

Tydens die stamperige rit kon ons kameelperde en ander diere sien. Ons het elke nou en dan gestop om bene te rek.

So ongeveer 400 m van die sarkofaag af stop die voertuie. Van daar is dit voetslaan teen die bult uit.

Maria Geustyn het die finale lesing gelewer by Schreiner se sarkofaag.

Schreiner het daar in die Karoo baie oor die see geskryf, maar het skynbaar net een keer, as kind, die see gesien voordat sy, baie jare later, as ’n suksesvolle skrywer, per boot na Europa vertrek het.

Geustyn het tekste gaan soek om te bepaal of Schreiner se seegedagtes gevorm is deur bekende skrywers waartoe sy toegang sou gehad het.

Geustyn het toe haar eie idees oor die Karoo, wat grootliks afgelei is uit die lees van werke soos dié van Schreiner, vergelyk met haar eie belewenis van hierdie mooi wêreld wat sy nou eers, op ’n hoër ouderdom, leer ken. Geustyn is van die Kaap, maar woon deesdae in Makhanda.

Andile Bhali het die einde van die Veldsoirée aangekondig met twee liedere in sy falsetto. Een was ’n gedig van Schreiner, en toe het hy “Al lê die berge nog so blou” gesing.

Ná die formaliteite was daar ’n geleentheid vir ’n blaaskans. Hier is Etienne van Heerden tydens ’n oomblik van bepeinsing.

Stefan van Zyl, die hoof- operasionele beampte by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het ook ’n tydjie by die sarkofaag vertoef. Hy het die Veldsoirée as ’n “bootcamp vir die brein” beskryf.

Ons kon almal wat tot bo geklim het, inkry en met behulp van die kamera se tydskakelaar afneem.

Stefan van Zyl het aangebied om die tegniese span agter die Veldsoirée af te neem. Hier is ek, Hanné Koster, Andile Bhali en Menán van Heerden.

Daar was toe geleentheid om bestek op te neem voor die terugrit. By die hut is daar ’n knertsie sjerrie aangebied vir diegene wat wou.

Charl-Pierre Naudé en Tom Dreyer het ’n filosofiese gesprek gehad.

Ek kon ’n mooi foto van Menán en Etienne van Heerden neem.

Japie Gouws en Andries Bezuidenhout het idees uitgeruil.

Hier is Dirkie Visser, die eienaar van Buffelshoek, in gesprek met Etienne van Heerden.

Ek kon ook die mense wat met die 4x4’s gehelp het, afneem. Hier is, van links, Gerhard (Cradock 4x4), Charles, Dirkie (Cradock Saad), Bernard (Cradock 4x4), Julius (Cradock 4x4), JG (Cradock Saad) en Andre (Cradock 4x4). Hulle het net name en affiliasies verskaf. HP, van die plaas Buffelshoek, was ongelukkig elders besig.

Hanné Koster het hierdie foto van ons geneem. Menán van Heerden, ek, Darryl David en Etienne van Heerden is almal op ons eie manier deel van die span wat die Veldsoirée help beplan.

Daar is natuurlik ’n enorme aantal mense wat nie op enige foto’s is nie. By Die Tuishuise en Victoria Manor, asook by Buffelshoek DiRosie Lodge, is daar talle mense wat baie hard gewerk het om die konferensiesale en die slaapplekke vir almal gereed te kry. Regdeur die land is daar ’n groot aantal ondersteuners wat elk uit eie reg ’n bydrae gelewer het om hierdie geleentheid moontlik te maak.

Ons maak in 2027 weer so. Teken solank 23 tot 25 Julie 2027 in julle dagboeke aan. Ek sal daar wees!
Lees ook:
Die Etienne van Heerden Veldsoirée 2026 deur Darryl David se lens
The 2026 Etienne van Heerden Veldsoirée through Andile Bhali’s lens
Orde van die Windpomp die sewende keer by die Etienne van Heerden Veldsoirée toegeken
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo

