
Anschen Conradie skryf op Facebook:
Tropdiere is per definisie soortsoekers. Of so het ek gedink. Tot die dag toe my andersins befoeterde merrieperd ’n vark aangeneem het. Ek sê dit nie omdat sy myne is nie, maar bely tog ’n mate van subjektiwiteit wanneer ek na haar verwys as ’n visueel pragtige perd. En sy weet dit. Sy is trots, vurig, en die selfaangestelde leier van haar trop. En die vark was (ek wou nou sê “minder aantreklik”, maar vergun my blatante eerlikheid) regtig vrek lelik. So ’n klein harige affêre met ingesonke ogies en lang, skewe tande.
Ek kon dit glad nie verstaan nie, hierdie vreemde vriendskap, maar ek onthou die lesse wat ek daaruit geleer het. En die afgelope naweek, tydens die sewende Etienne van Heerden Veldsoirée, het ek die praktiese manifestasie daarvan weer in werking gesien. Dis veel meer as kruisbestuiwing, simbiose of uitruilings van kennis en ervarings; dis as ’n “bootcamp for the brain” beskryf – en dis grootliks korrek – maar tussen die uiters stimulerende formele gesprekke, vrae en antwoorde, wat sekerlik as die indrukwekkend-geteelde-perd-aspek beskryf kan word, was daar die laataandkuiers om kaggelvure, oppervlakkig beskou die onderskatte-rondloper-varkie-aspek, wat die naweek ’n ervaring gemaak het wat moeilik in woorde beskryf kan word.
Teen my ietwat chaotiese studeerkamermuur pryk daar ’n poging om die vreemde kombinasies op die rakke te beskryf: “This is a room where wisdom and chaos have formed a bargain.” Want in die ruimte waar spogperde en nederige varkies ewe welkom is, gebeur die magiese.
Ek gaan geensins poog om die inhoud van die program hier weer te gee nie – daar is kundiges wat dit baie beter as ek kan – en waarskynlik sal – doen. Maar ek kan wel sê hoe dit my laat voel het. In een woord: tuis. Eerstens was dit ’n vreugde om ou vriende weer raak te loop, maar tweedens was die vestiging van nuwe bande ’n ewe groot voorreg. Alles dinge wat sorgvuldig in my geheue-kênfroetbottels vir die onvermydelike wintersdae gebêre sal word.
Waar anders is dit moontlik vir Hertzogpryswenners, internasionale akademici, digters, musikante, kunstenaars, literatore, filosowe, motorfietsryers, boere, studente, kroegmanne, perdeliefhebbers, regsgeleerdes, kokke, pensionarisse, tuisteskeppers, politici en dromers om mekaar op ’n gelyke vlak te ontmoet? My pa het altyd gesê: “Almal weet iets wat jy nie weet nie.” Hy was reg.
En maak geen fout nie, dodelike erns is nie aan die orde van die dag nie. Dis juis die lagbuie wat almal telkens ’n nuwe kring om ’n vuur laat vorm. Die stories wissel: van die drink van water uit ’n blompot by ’n deftige huweliksonthaal, tot flaters voortspruitend uit identiteitverwarring, die geheime skakel tussen roomys en badkamers, en ander sosiale rampe, die onbaatsugtige liefde van ’n warm, varsgebakte brood wat met die hande gebreek en gedeel word, aangrypende lewensverhale van verlies, hindernisse, eensaamheid, en gesondheidsuitdagings, en, bo alles, die veerkragtigheid van die menslike gees.
Terug na die perd en die vark. Ons herhaal, te gereeld, die fout wat ek destyds gemaak het. Op sigwaarde behoort daar geen konneksie te wees nie; ons vooroordele verhoed ons immers alte dikwels om alternatiewe moontlikhede te oorweeg. Maar waag dit om ’n slag verby die stereotipiese en die aanvaarde norme te kyk, dieper as die kwalifikasies en prestasies – of die gebrek daaraan – en smeer jou voete botter om langer te bly waar die perd en die vark langs mekaar kan lê.
Lees ook:
Die Etienne van Heerden Veldsoirée 2026 deur Darryl David se lens
Orde van die Windpomp die sewende keer by die Etienne van Heerden Veldsoirée toegeken
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor





