Veldsoirée 2026: Die sewende, die einde van die waarheid, die sterfte van fiksie, die grafrede by die laaste boek en laaste leser.

  • 0

Veldsoirée-gangers by Olive Schreiner se sarkofaag op Buffelskop. Heel regs staan Maria Geustyn, wat die grafrede oor Schreiner en die sogenaamde Blue Humanities gelewer het. Foto: Izak de Vries

Oor sewe

Vanjaar is dit die sewende Etienne van Heerden Veldsoirée te Nxuba (Cradock) – en watter uitnemende fees was dit nie. Boekbesete en leesgierig het hulle gekom, uit alle uithoeke van die Empaaier of nuutgemaakte Republiek.

Maar sewe laat my ook onmiddellik dink aan Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins. En ja, tussen die fiktiewe ruimte van Welgevonden en die werklikheid van die sarkofaag op Buffelshoek is daar steeds die groot soeke.

Dit is waarmee daar dié naweek deur sessie na sessie geworstel is. Dié soeke, die stoei met sin, maniere om opnuut te “disrupt”, soos Mphuthumi Ntabeni dit gestel het.

Om die (muskeljaat)kat vanuit Bekbaai tussen die duiwe los te laat. Etienne van Heerden gee ’n meesterklas oor hoe mens behoort te skrywe deur die leser te dwing om al die sintuie in te span. Almal sien uit na Diereriem.

Die laaste brandwag

“Ek is die laaste brandwag, die laaste bobbejaan” – op die album Bleek berus deur Andries Bezuidenhout.

Onder sy vele alter ego’s gebruik Breyten Breytenbach die name BB Lazarus, Jan Afrika, Jan Blom, Breyten Buiteblaf en nader na die einde, Breyten Oubôbjaan.

Die bobbejaan as metafoor vir soveel dinge.

Bezuidenhout skilder ’n ontstellende prentjie van die spreekwoordelike stoei na die siel van instellings, departemente en ander instansies. Die meedoënlose vreet van die swerms sprinkane, van dié wat ruim wil oes maar nooit kom saai het nie. Die vlug voor die vuur, die kampus as die laaste arena waarin die stiergevegte tussen die swaar gewapende magwellustige amptenary en die swak gewapendes met gewetes en beginsels finaal uit- en afspeel.

Saterdagaand ontvang Bezuidenhout die Orde van die Windpomp. Uit erkentlikheid vir sy uitnemendheid op soveel terreine.

KI, die blikbrein in die kamer

Burgert Senekal wys (met swaar metaal) wat jy met ouer Afrikaanse gedigte soos Eugène N Marais se “Die lied van Suid-Afrika” (hy put uit daardie periode hoofsaaklik om probleme rondom kopiereg te vermy) met die tussenkoms van KI kan vermag.

Ons wonder oor die moraliteit, indien enige, van KI (wat selektief met eksplisiete geweld en rassisme omgaan).

Met ’n bord in die hand

By Buffelshoek se middagete beland ek in die ry voor Mornay du Plessis (weduwee van wyle Koos du Plessis). Ons verwissel ’n paar woorde – lag oor die verwarring met die ander Du Plessis, manlik en rugbygebal, Morné du Plessis.

“Sprokie vir ’n stadskind”, “Kinders van die wind”, “Skadu’s teen die muur” – maar enkele diamante deur hom geslyp.

Vanoggend gaan kyk ek na die boeke op my rak en trek Om jou verlaas te groet (nagelate verse) van Koos du Plessis nader.

Ander sound bites

  • Heindrich Wyngaard skiet, soos gewoonlik, sekuur; waarsku teen die “politieke barbare” en doen ’n beroep op skrywers om nie te swyg nie.
  • Uit die Lae Lande kom die perspektiewe van Annemarié van Niekerk, Yves T’Sjoen, Jaap Goedegebuure en Juliana Pistorius.
  • Steward van Wyk gee ’n blik op sy ontdekking van Jakes Gerwel se gedigte, sommige sterk onder die invloed van die Sestigers.
  • Carina Stander is dankbaar dat sy wel vanjaar by die fees kon kom. Sy ontvang meelewende applous.
  • Frederik de Jager het dit oor KI en die Narcissus-mite; kyk dwarsdeur die raaisel in die spieël; en ek onthou Willem Roggeman se “The poem is a solution that is a mirror image of the riddle.”
  • Naomi Meyer beloer uit ’n regsoogpunt die mynveld rondom kopiereg in die era van KI en teen die einde besef ons daar is meer vrae as antwoorde op hierdie terrein.
  • Tom Dreyer lees en ons herinner ons waarom hy die Hertzogprys vir poësie ontvang het.
  • Darryl David ontroer met vertellings uit sy Doggone days, ’n massiewe boek teen R800.
  • Refiloe Moahloli, kinderboekskrywer, neem my terug na die dae van Boom Shaka, en lewer inderdaad ’n “vibrant and engaging talk”. Sy rol haar heupe op die maat van “It’s about time”. Een van die lede van Boom Shaka, Lebo Mathosa, “lived fast and died young”.
  • Japie Gouws skok effe as mens besef dat selfs plekke soos Die Louwhuis (met ’n literêre god soos NP Van Wyk Louw) nie noodwendig op befondsing aanspraak kan maak nie.
  • Charl-Pierre Naudé filosofeer.
  • Vasti Roodt staar in die kristalbal maar ruik gelukkig net-net nog nie die lyk van letterkunde op die kampus nie.
  • Mphuthumi Ntabeni lees uit sy komende boek. Die klok vang hom.
  • Piet Croucamp is sinies oor “fiksie as ’n manier om by die werklikheid uit te kom”.
  • Chris Heymans praat oor die d*** in die drinkwater en verwante aangeleenthede.
  • Louise Viljoen vermeld dat Gert Vlok Nel verwys het na die “tien mense wat gedigte lees” – gelukkig was drie van daardie tien mense oor die naweek op Cradock.
  • Riana Scheepers maak die harte Saterdagaand week met haar storie oor sjokolade, wyn en katte.
  • Ek loop (ongelukkig) sommige sessies mis en kuier met kennisse.

Skatalogie en Komrij se kopknik

Sondag se laaste sessie behoort weer aan Riana Scheepers en sy speel ’n opname voor van die gedig “Die Durbanse poepwedstryd”, opgevolg deur ’n briljante ontleding wat verby die ooglopende skatalogiese van die vers kyk en dit ontmasker as ’n reaksie en wraak teen die verraad van die joiners van dekades gelede.

Dank aan de Heer Komrij.

Terug

Sondag na die laaste sessie ry ek vinnig weer vanuit Michausdal terug na die supermark in die dorp om broodnodige benodigdhede vir huishoudelike gebruik te bekom.

Weer terug in Michausdal is ’n groep jeugdiges besig om reuse luidsprekers op die hoek van my straat op te stel. Terwyl daar sommige is wat na Sondagete die gebruiklike middagslapie wil probeer inkry, is daar hierdie “disrupters” wat met besete ywer die Koninkryk wil beërwe en die Woord wil verkondig, al is daar ore wat nie wil hoor nie.

Die soeke na waarheid duur voort.

Each to his own.

Kyk ook:

Orde van die Windpomp die sewende keer by die Etienne van Heerden Veldsoirée toegeken

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top