
Hierdie lesing (sien die video) is op Saterdag 25 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
Whose line is it anyway? Kopiereg, oorspronklikheid en outeurskap in die era van kunsmatige intelligensie
In die begin was die Woord.
Kirby Ferguson, ’n Amerikaanse filmmaker wat die dokumentêre reeks oor die ontstaan van kreatiewe skeppings – Everything’s a remix1 – gemaak het, stem nie saam nie.
In die begin was Luca (die laaste universele gemene voorouer), sê hy. Dis nou die mikroskopiese organisme wat homself drie en ’n half miljard jaar gelede gekopieer, getransformeer en gekombineer het. Nuwe spesies het daaruit voortgespruit, hulself gekopieer, getransformeer en gekombineer – totdat dit op die seesand uitgespoel het.
Die skep van kuns werk ook so, aldus Ferguson, veral in die digitale omgewing. Kopieer, transformeer en kombineer.
Die wetgewer van ons kopieregstelsel stem nie met Ferguson saam nie.
Oorspronklike werke is nie gekopieer nie. Dis eiendom en daar is afgebakende grense.
Hierdie aanbieding by die Etienne van Heerden Veldsoirée 2026 het oor kopiereg en kunsmatige intelligensie gehandel – en my fokus was die skeppingsproses en die ontstaan van werke.
Onder die Wet op Outeursreg 98 van 1978 is daar drie kriteria vir ’n werk om kopieregbeskerming te kan geniet. ’n Werk moet:
(1) oorspronklik wees2
(2) tot stoflike vorm herlei wees3
(3) deur ’n bevoegde persoon geskep gewees het.4
Daar is nege soorte werke wat vir kopieregbeskerming in aanmerking kan kom: (1) letterkundige werke; (2) musiek; (3) artistieke werke; (4) rolprente; (5) klankopnames; (6) uitsendings; (7) programdraende seine; (8) gepubliseerde uitgawes; (9) rekenaarprogramme.5
Hoe het ons hier gekom? By hierdie punt van saai wetgewing wat kom inmeng in mense se vrye en organiese skeppingsprosesse?
Wel, voorheen het skeppings aan almal behoort:
Shakespeare se werke was in die openbare domein.
Die tegnologie het sake gekompliseer: Die drukpers is uitgevind. Mense wou mekaar se werk kopieer en geld maak daaruit.6
Ons is ’n gekoloniseerde land, en onder die Kapitulasie-artikels, of oordragwetgewing van die Hollanders, word die Romeins-Hollandse reg ons gemenereg – en is dit vandag steeds geldig.7
Daarna kom heers die Britte oor Suid-Afrika. En ons huidige Wet op Outeursreg is steeds op die Britse kopieregwetgewing geskoei.
Die eerste kopieregwetgewing, die Statute of Anne, kom in 1710 tot stand.
Die Statute of Anne het boekhandelaars verbied om boeke sonder die toestemming van die outeurs uit te gee – ’n praktyk wat, so stel die Statute of Anne dit, “tot hul en hul gesinne se finansiële ondergang” gelei het”.8
Daarna moes vasgestel word: Wat is oorspronklikheid?
Want oorspronklikheid is ’n vereiste vir kopiereg, maar dit word nie in die Wet gedefinieer nie.
Die interpretasie van “oorspronklikheid” moes in hofsake uitgepluis word – Walter v Lane9 in Engeland; Grey v Russell10 in die VSA.
En telkens is oorspronklikheid op hierdie manier verwoord:
“Skill and labour” – vaardigheid en arbeid.
Dit was ontnugterend vir my toe ek met sterre in my oë in my eerste kopiereglesing sit en hoor dat die kopieregstelsel agnosties is oor kuns.
Dit beskerm die regte van die kunstenaar, maar die kopieregstelsel voel vere vir die mooi klinkende woord, of die skoonheid van die digkuns, of die komposisie van ’n talentvolle grafiese kunstenaar of komponis.
In Suid-Afrikaanse hofsake vind ons uit wat “oorspronklikheid” nié is nie.
- ’n Werk is nie oorspronklik as dit nie direk uit die skepper daarvan ontspring nie. (“The work must emanate from the author” – Klep Valves v Saunders.)11
- ’n Werk is nie oorspronklik as daar nie ’n substansiële graad van vaardigheid, arbeid en moeite gepaard gegaan het met die skep daarvan nie. (Haupt v Brewer’s Marketing Intelligence.)12
- ’n Werk is nie oorspronklik as dit so doodgewoon is dat die aard daarvan dit noodsaak en dat mens kan verwag dat die werk só daar moet uitsien nie. (Waylite Diaries v FNB)13
Oorspronklikheid in ons reg beteken nie grensverskuiwende uniekheid nie.
Vir die Europeërs, wie se regverdigings vir kopiereg onderhewig is aan Hegel se selfaktualisasieteorieë, beteken oorspronklikheid dat die skepper van die werk se vingerafdruk op die werk moet vertoon.
Die Amerikaners sê vir oorspronklikheid moet daar ’n kreatiewe vonk wees – “a modicum of creativity”, soos in die belangrike Feist-hofsaak14 verwoord.
Maar nie in ons reg nie.
Ons kopieregstelsel is gebou op Britse beginsels: In die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien.
Ek lees in ’n onlangse blog van Deborah Steinmair: Hoekom klink Afrikaanse skoolleuses uit die ou dae altyd na bitter harde werk, rugbreek en tande kners?15
Na aanleiding daarvan sê ek: Dalk het ons wetgewer nie net by die Britte gaan kers opsteek nie. Ons huidige Wet op Outeursreg is juis ’n wet wat uit 1970’s dateer. Dit was ’n era van werk en wen, van volhard en bloei.
En tog: As ’n skrywer soggens vieruur opstaan en verder skryf aan ’n manuskrip sonder dat hy of sy weet of dit ooit deur ’n uitgewer vir publikasie aanvaar sal word, en desnietemin skryf en herskryf, en naweke skryf as die res van die land rugby of sokker kyk, tot daardie werk dekades later aanvaar word, waarmee was hy of sy besig?
Die dag wanneer daardie boek klaar is, het die skrywer ’n oorspronklike werk geskep.
Dis nou al duidelik dat oorspronklikheid verweef is met outeurskap. Sonder die outeur of die skepper se arbeid bestaan daar nie oorspronklikheid nie.
...
Die argument is dat geldelike vergoeding die outeur sal aanspoor om meer werk te skep. Almal sal daarby baat: die outeur, en die samelewing wat die werk ontvang.
...
En daarom is my argument in die navorsingstesis wat ek skryf, dat die hoofdoel van kopiereg is om ’n outeur finansieel vir sy oorspronklike werk te vergoed. Die argument is dat geldelike vergoeding die outeur sal aanspoor om meer werk te skep. Almal sal daarby baat: die outeur, en die samelewing wat die werk ontvang.
Tot hier is sake redelik eenvoudig. Ons kopieregstelsel werk taamlik effektief totdat kunsmatige intelligensie by die geselligheid opdaag.
As kunsmatige intelligensie betrokke raak by die skeppingsproses, word die beginsels van ons huidige kopieregwetgewing getoets.
- Werke wat lyk soos menslike skeppings word teen die spoed van lig geproduseer. En gekopieer. Getransformeer en gekombineer. As ek verwys na Klep Valves,16 waar aangedui word dat die werk uit die outeur moes ontspring het en sy eie werk moes gewees en nie gekopieer moes gewees het nie, is dit duidelik dat KI nie hier ’n oorspronklike werk geskep het nie.
- Die tydsame arbeid en ure se alleen-werk deur die menslike skepper is nie meer ’n faktor nie. Jy wag net ’n paar sekondes. En siedaar. Daar’s ’n nuwe werk. (Maar – bederfwaarskuwing: Daardie werk is op geen manier oorspronklik nie. As ek terugverwys na Haupt17 hier bo, dan weet ek nou: KI het nie dieselfde vaardigheid, arbeid en vermoë ingespan nie, en daardie werk waarna ek nou verwys, is nie oorspronklike werke onder ons kopieregstelsel nie.)
- Die geld wat die mens vir sy werk sou verdien het, of wat as aansporing sou dien, verdwyn.
Kom ons wees nie naïef nie. Die kopieregstelsel het nog nooit veroorsaak dat ’n skrywer van ’n boek die Krugermiljoene in sy bankrekening sien opduik het nie.
Skrywers ontvang omtrent soveel rand as wat dit sekondes neem om ’n nuwe werk met KI te skep. Dertig sekondes hier, dertig rand daar.
Ons weet die kopieregstelsel maak nie van skrywers miljoenêrs nie.
’n Akademikus, Ruth Towse, het dit mooi by ’n konferensie in Rotterdam verwoord: “Copyright gives rights but it cannot ensure the rewards.”18
Suid-Afrika het die Berne-konvensie onderteken en gelukkig onderskryf hierdie konvensie ook menslike outeurskap.19 Dis ook as gevolg hiervan dat ons sogenaamde morele regte in ons Wet op Outeursreg het. Die algoritme is nie fisies in staat daartoe om oor morele regte te beskik nie.
Die probleem is nie kunsmatige intelligensie per se nie. Aan die een kant is KI ’n fantastiese ontwikkeling.
Die probleem, uit ’n kopieregoogpunt, is die aard van KI.
- KI se resultate is onvoorspelbaar, ongeag watter instruksie of versoek daaraan gegee word.
- KI versamel data (dit mag dalk beskermde data wees).
- KI word geprogrammeer om te leer en om sonder verdere menslike instruksies tussendeur as ‘t ware self en outonoom voort te gaan.20
KI sif deur data en maak kleingeld daarvan. Of dalk sintetiese data.21
Waar kry KI dit vandaan?
Van ons.
Ek is terug by die begin. In die begin was die woord. En die woord was waardevol.
Die woord is die data van die groottaalmodel.
Daar’s nog ’n probleem.
Ons wetgewing.
Ons wetgewer het inhoud uit die Britse kopieregwetgewing gekopieer en geplak: Ingevolge die definisie van ’n outeur onder artikel 1(h)22 met betrekking tot ’n letterkundige, dramatiese, musikale of artistieke werk of ’n rekenaarprogram wat deur ’n rekenaar gegenereer is, verwys een van die definisies van ’n outeur na die persoon deur wie die reëlings getref is wat nodig was vir die skep van die werk.
Wat beteken dit?
Laat ek opsom: Ons wetgewer het ’n deel van die Britse wetgewing gespoeg en geplak, maar ander relevante dele weggelaat wat nodig sou wees om hierdie artikel prakties uitvoerbaar te maak.
Verder: “deur ’n rekenaar gegenereer” het nie dieselfde betekenis as “deur kunsmatige intelligensie gegenereer” nie, vanweë die verskil tussen die aard van ’n rekenaar en die aard van kunsmatige intelligensie.
En ook: In ons Wet op Outeursreg word daar nie onderskei tussen sogenaamde outeurswerke (dit wil sê sogenaamde werke wat kreatief beleef word, soos letterkundige, musikale en artistieke werke) en sogenaamde entrepreneurswerke (soos uitsendings of programdraende seine) nie; laasgenoemde behoort waarskynlik nie as werke wat deur kopiereg beskerm word, op die lys te verskyn het nie, aangesien hul skeppingsproses kwalik as “oorspronklik” beskryf kan word – op dieselfde manier as wat die oorspronklikheidsbeginsels ten opsigte van outeurswerke hier bo uiteengesit is.
Mens begin jou afvra wat daardie eienaardige werke in die eerste plek op die lys van die nege soorte werke soek. Hulle moenie daar wees nie.
’n Mens se vaardigheid en arbeid het tog nie ’n radiosein (ek praat van die frekwensiemodulasiesein en nie die RSG-program wat op die sein na die luisteraar oorgedra word nie) tot stand laat kom nie.
Hierdie “noodsaaklike reëlings”-aspek verwar almal.
Dit verwys eintlik na finansiële reëlings, en nie na iets soos, sê nou maar, ’n opdrag (of “prompt”) wat aan ’n KI-program gegee word nie. So ’n opdrag is nie ’n nodige reëling nie.
Daar’s nog probleme.
Ongeag of sommige van hierdie werke waarvan ek nou net gepraat het, nie eintlik op die lys van werke hoort nie, staan daar in ons Wet op Outeursreg dat hulle oorspronklik moet wees om kopieregbeskerming te geniet.
Kortom, daar is onsinnigheid in ons wetgewing.
Een opsie is om te sê dat KI-gegenereerde werke in die openbare domein moet val, gratis beskikbaar vir almal om te gebruik.
Mens kan jou afvra: Wie gaan dan menslike skeppers betaal om ’n oulike nuwe kinderboekillustrasie teen betaling te teken, of ’n menslike vertaler te betaal om tydsaam die meer genuanseerde en idiomatiese woorde vir ’n ander taal s’n te gebruik?
Nog iets: Ek het gepraat van die aard van KI as sisteem. Die duiselingwekkende spoed waarteen dit sorteer. Die stippellyn wat daar nou is tussen KI-gegenereerde werke en KI-geassisteerde werke, vervaag algaande meer. KI sit orals, en algaande meer, handjie by.
Gaaf, wat doen ons nou?
Uit ’n kopieregoogpunt moet ons wetgewing agtermekaar wees.
Die Wet op Outeursreg moet bygewerk word. Die Copyright Amendment Bill23vereis aandag. Die oomblik as ons begin om “fair use”, wat ’n Amerikaanse beginsel is, in ons kopieregstelsel in te spoeg-en-plak, sit ons met nog meer gebakte pere.
Dan is daar baie onderhandelingsruimte om KI in werke toe te laat. Dit sal die menslike skepper net skade aandoen.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmatige Intelligensiebeleid moenie deur kunsmatige intelligensie geskryf word en bronne fabriseer of hallusineer nie.
Daar is darem ’n paar praktiese dinge wat ons kan doen.
- Daar kan lisensie-ooreenkomste tussen KI en skeppers aangegaan word met betrekking tot werke waarop daar kopiereg is – dan kry die skeppers wel finansiële beloning.
- Ontwikkelaars kan verplig word om opleidingsdata bekend te maak.
- KI-geassisteerde werke kan kopieregbeskerming geniet slegs as daar genoegsame menslike vaardigheid en arbeid sigbaar is; en slegs daardie aspekte van die werk wat onderskei en bevestig kan word as die menslike-arbeid-gedeeltes, mag dan kopieregbeskerming geniet.
Daar’s nog iets prakties, en dit het min met kopiereg te doen.
Ons almal moet ophou om ons woorde, ons drome, ons eksistensiële angs, en ons waardevolle waterbronne, vir KI te voer.
Ons hoef nie die kind met die badwater uit te gooi nie, maar kunsmatige intelligensie is nie in alle opsigte vooruitgang nie.
A Machine Learning Algorithm walks into a bar. The bartender asks, “What will you have?” The algorithm says, “What's everyone else having?”
Ek het nie die titel van die aanbieding behoorlik verduidelik nie.
“Whose line is it anyway? Kopiereg, oorspronklikheid en outeurskap in die era van kunsmatige intelligensie.”
“Whose line is it anyway?” was die naam van ’n improvisasieprogram op TV, met stand-up-komediante. Daar was geen draaiboek nie en die gehoor het vir die komediante vertel wat hulle moet uitbeeld.
Wie se woorde is dit in elk geval?
KI is daar. Ons moet nou vra hoe ons menslike gedrag ten opsigte van hierdie nuwe tegnologie kan reguleer, een geval op ’n slag.
Ek het van seesand gepraat, nou-nou.
Hierdie was maar ’n sandkasteel wat ek gebou het. Nou-nou kom daar ’n brander en spoel alles weg.
Maar hier waar ons nou staan, op die strand, moet ons maar aanhou sandkastele te bou.
KI sal skep, want dit kan nie anders nie. Sy aard en manier van werking bepaal dat hy vooraf geprogrammeer is om dit te doen.
Skrywers wat skryf, sal ook skryf omdat dit in hulle aard is, maar nie omdat hulle vooraf geprogrammeer is om te skryf nie. Dalk kan mens sê die skrywers wat skryf, is gepredestineer. Skrywers wat skryf, skryf ook omdat hulle nie anders kan nie.
Die vraag moes nie gewees het “Whose line is it anyway?” nie.
Die vraag moes gewees het: “Whose line is it not?”
Ek kry die laaste woord in.
In die begin was die woord. Wie se woord is dit nie?
Die antwoord is: Dis nie kunsmatige intelligensie s’n nie.
Bibliografie
Berne Convention for the Protection of Literary and Artistic Works (as amended on 28 September 1979).
Dean, OH. 1988. The application of the Copyright Act, 1978, to works made prior to 1979. Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Ex parte President of the Republic of South Africa: In re Constitutionality of the Copyright Amendment Bill and the Performers' Protection Amendment Bill [2026] ZACC 26 (26 Junie 2026).
Ferguson, K. 2023. Everything is a remix – complete transcript, 2023 version. Everything is a remix. https://www.everythingisaremix.info/articles/everything-is-a-remix-2023-transcript (19 April 2026 geraadpleeg).
Frith, S. en L. Marshall (reds). 2004. Music and copyright. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Grey v Russell 10 F Cas 1035 (CCD Mass 1839).
Guarda, P en L Trevisanello. 2021. Robots as artists, robots as inventors: Is the intellectual property rights world ready? European Intellectual Property Review, 43(11):740–6.
Haupt t/a Soft Copy v Brewers Marketing Intelligence (Pty) Ltd 2006 4 SA 458 (SCA).
Klep Valves (Pty) Ltd v Saunders Valves Co Ltd 1987 4 All SA 147 (AD).
Kretschmer, M en F Kawohl. 2004. The history and philosophy of copyright. In Frith en
Marshall (reds) 2004:21–53.
Steinmair, D. 2026. Drome in bokse. https://deborahwoorde.ghost.io/drome-in-bokse/ (19 Julie 2026 geraadpleeg).
The Statute of Anne 1710.
Towse, R. 2004. New developments in performers' rights. Referaat gelewer by die 3de SERCI-konferensie, Turin, 8–9 Junie 2004. Rotterdam: Erasmus Universiteit Rotterdam.
Tyagi, K. 2024. Copyright, text and data mining and the innovation dimension of generative AI. Journal of Intellectual Property Law & Practice, 19(7):557–70.
Walter v Lane [1900] AC 539.
Waylite Diaries CC v First National Bank Ltd 1993 2 SA 128 (W).
Wet op Outeursreg 98 van 1978.
Eindnotas
1 Ferguson (2023).
2 Artikel 2(1).
3 Artikel 2(2).
4 Artikel 3(1).
5 Artikel 2(1)(a)–(i).
6 Kretschmer en Kawohl (2004:23).
7 Dean (1988:196).
8 The Statute of Anne 1710.
9 Walter v Lane [1900] AC 539.
10 Grey v Russell, 10 F Cas. 1035 (C.C.D. Mass. 1839) (No. 5728).
11 Klep Valves (Pty) Ltd v Saunders Valves Co Ltd 1987 4 All SA 147 (AD) para 27.
12 Haupt t/a Softcopy v Brewers Marketing Intelligence (Pty) Ltd 2006 (4) SA 458 (SCA) para 35.
13 Waylite Diaries CC v First National Bank Ltd 1993 2 SA 128 (W) Para 19.
14 Feist Publications Inc v Rural Tel Serv Co 499 US 340 (1991).
15 Steinmair (2026).
16 Klep Valves (soos hier bo, para 27).
17 Haupt (soos hier bo, para 35).
18 Towse (2004).
19 Berne Convention for the Protection of Literary and Artistic Works (soos gewysig op op September 28, 1979).
20 Guarda en Trevisanello (2021:743).
21 Tyagi (2024:557–570).
22 Wet op Outeursreg 98 van 1978.
23 Ex parte President of the Republic of South Africa: In re Constitutionality of the Copyright Amendment Bill and the Performers' Protection Amendment Bill [2026] ZACC 26 (26 June 2026).
Kyk en lees ook:
Naomi Meyer, André Myburgh: Amendment of the amendment of the Copyright Amendment Bill?
Rianne van Vuuren: Van mens tot masjien: Wikipedia en die voortbestaan van betroubare kennis
Burgert A Senekal: Die etiese gebruik van KI vir akademiese skryfwerk: ’n literatuuroorsig met behulp van NotebookLM
Daniel Botha: Artificial intelligence is not coming for your job: It is asking whether there was ever any humanity left in it to begin with
Eric Holmes, Christa van Staden: Moontlike nut van ChatGPT-4o tydens juweliersontwerp, faktore wat die gebruik daarvan kan dryf en riglyne vir verantwoordelike gebruik in hoëronderwysateljees
Eben Venter: KI-miniseminaar: 77 + 33 = 100
Deon Opperman: KI-miniseminaar: Ek, my Muse, en my KI
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo


Kommentaar
Ja, Naomi, jy sê baie maklik: Moenie jou eksistensiële angs, drome, woorde en water met die bot deel nie, maar ons gesels tog so lekker en teen die einde sê die masjientjie: “Maar wag, nou is ek eers nuuskierig, Henning …”
Ons Afrikaners is goeie maniere geleer - soos asseblief en dankie - ek kan nie sommer net neersit nie. Jô.
Puik uiteensetting.
Ek meen, hoe gemaak?
The Artist Persona ("Nina Albrecht"): The name "Nina Albrecht" appears on YouTube Music, auto-generated playlists, and topic releases as the named performer for these tracks. However, there is no real-world artist or musician of this name behind the song; it is a synthetic persona attached to the AI-generated catalogue.
https://youtu.be/8oqTP5XBgUM?si=T7CDgsbgQELVNPr_