KI-miniseminaar: Ek, my Muse, en my KI

  • 0

Die bydraes vir LitNet se KI-miniseminaar, “KI: katastrofe of geleentheid?”, is hier beskikbaar.

Foto van Deon Opperman: verskaf

Ek ag myself ’n augmentor. Nie ’n puris nie, nie ’n selfvervanger nie, – ’n augmentor

Laat ek verduidelik wat ek daarmee bedoel, want hierdie terme is belangrik. Toe KI as ’n ernstige kreatiewe instrument losgebars het, het dit skrywers, sover ek kan vasstel, in drie kampe laat verdeel. Aan die een kant was daar die puriste, wat niks daarmee te doen wil hê nie – die enigste intelligensie waarmee hulle saamwerk, is hulle muse. Aan die teenoorgestelde kant was daar dié wat ek die selfvervangers noem, wat wil hê KI moet die werk doen terwyl hulle die tantiemes invorder. En dan is daar die groep wat ek die augmentors noem (by gebrek aan ’n beter Afrikaanse woord – “vermeerderaars” werk nie vir my nie), by wie ek my skaar – skrywers wat KI as ’n mede-intelligensie ag, om ’n term by die Wharton-professor Ethan Mollick te leen – nie ’n vervanging vir die skrywer se kreatiewe wil nie, nie ’n irrelevansie nie, maar ’n kragtige denkgenoot wat die skrywer se visie dien.

Dit is waar ek staan. Maar my posisie op die spektrum tussen puris en selfvervanger is nie vas nie. Dit verskuif na gelang van die aard van die werk. Vir herhalende, formulistiese take – administratiewe werk, die meganika van ’n formulistiese telenoveladraaiboek – gee ek soveel as moontlik aan KI oor. Maar wanneer dit kom by toneelstukke en televisiedramas, waar alles wat saak maak, in die spesifiekheid van die dialoog of toneelaanwysings leef, skryf ek alleen. Wat aan my behoort, skryf ek. Die KI skryf nie my stem nie.

Wat die KI wél doen, is saam met my dink.

........
Ek gebruik dit as ’n dinkskrumvennoot tydens verhaalontwikkeling, vir die ontwikkeling van storiekonsepte, vir strukturele probleme, vir die oomblik wanneer ek weet iets is verkeerd met ’n toneel maar ek kan nog nie sien wat nie. Dit is nie ’n degradering van die kreatiewe daad nie.
.........

Ek gebruik dit as ’n dinkskrumvennoot tydens verhaalontwikkeling, vir die ontwikkeling van storiekonsepte, vir strukturele probleme, vir die oomblik wanneer ek weet iets is verkeerd met ’n toneel maar ek kan nog nie sien wat nie. Dit is nie ’n degradering van die kreatiewe daad nie. Dit ís die kreatiewe daad uitgevoer in ’n ander soort vertrek. Wanneer ek ’n eerste weergawe klaargeskryf het, vra ek die KI-program om dit te kritiseer, net soos ek ’n vertroude kollega sou vra. Die terugvoer wat ek tot dusver ontvang het, was net so genuanseerd en indringend soos enige wat ek in vier dekades se professionele skryfwerk teëgekom het, en dikwels deegliker en meer insiggewend.

Sommige sal hierteen weerstand bied. Ek verstaan die weerstand. Maar oorweeg wat oorspronklikheid werklik is.

Die dominante siening, waarmee ek saamstem, is dat oorspronklikheid nie die skepping van iets uit niks is nie – "niks kom van niks nie," soos Lear sê. Oorspronklikheid is die nuwe kombinasie van bestaande elemente – dieselfde musieknote, herskik tot ’n melodie wat nog nie bestaan het nie; Einstein wat met bestaande wiskunde gewerk het om te openbaar dat ruimte en tyd nie konstant is nie. Elke skrywer wat ooit geleef het, het gewerk met die oorgeërfde materiaal van taal, letterkunde en filosofie, narratiewe konvensie, en menslike ervaring. Niemand skep in ’n vakuum nie.

’n Groot taalmodel soos Claude of ChatGPT doen presies dit: Dit herkombineer bestaande elemente in nuwe konfigurasies. As dit is hoe oorspronklikheid werk – en ek glo dit is – dan is KI se “verbeelding”, wat my betref, nie kategories anders as die menslike verbeelding nie – dit is ’n weergawe daarvan, merkwaardig omvattend wat betref die inligting tot sy beskikking, en wat op ’n skaal werk wat geen individuele verstand kan ewenaar nie. Om met ’n KI te “brainstorm” verskil nie in essensie daarvan om dit met ’n menslike medewerker te doen nie. Die verskil is een van graad. Die KI het toegang tot meer van die opgehoopte rekord van menslike denke as enige persoon saam met wie ek ooit in ’n vertrek sal sit.

Dit beteken nie die KI vervang die skrywer nie. Dit kán nie. Dit sien nie die wêreld deur my oë nie. Dit het nie die spesifieke opeenhoping van sekondes geleef wat my maak wie ek is nie, en dit is juis die menslike ervaring in daardie derduisende sekondes wat ’n verhaal sy eiesoortigheid, sy tekstuur, sy waarheid gee. Die KI kan my help om die struktuur te vind; dit kan nie die wond verskaf nie. Dit kan ’n verhaalrigting voorstel; dit kan nie weet wat ek oor menswees wil sê nie.

So: ek, my muse, en my KI. Drie in die vertrek.

Ek het geen illusie dat hierdie formulering die puriste sal bevredig nie. Maar ek sou hulle dit wil vra: Wanneer ’n sanger ’n mikrofoon gebruik om sy of haar stem die krag te gee wat dit akoesties nie het nie, is die sanger nog steeds ’n sanger? Die geskiedenis van tegnologiese vooruitgang is die geskiedenis van menslike augmentation.

Die vraag is nie of jy ’n mikrofoon of KI moet gebruik nie. Die vraag is of jy nog steeds die een is wat sing ... wat skryf.

Ek ís nog steeds die een wat skryf. Dit het nie verander nie. En sal ook nie.

Lees ook:

KI-miniseminaar: Gebruik jy KI om jou met jou skryfwerk te help?

KI: katastrofe of geleentheid? ’n Miniseminaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top