KI-miniseminaar: Gebruik jy KI om jou met jou skryfwerk te help?

  • 0
> Die bydraes vir LitNet se KI-miniseminaar, “KI: katastrofe of geleentheid?”, is hier beskikbaar.

Foto van Chanette Paul: verskaf

........
Sedert ek aan my nuwe manuskrip begin skryf het, gebruik ek betreklik gereeld KI, maar bloot as ’n ekstra bron vir navorsing. As skrywer sien ek dit as Google op steroïede. Dis immers gebou om die vinnigs moontlike antwoorde te gee.
.........

Dis ook ’n vinnige manier om Engelse terminologie in Afrikaans te vertaal, al is dit dikwels misleidend of sommer net verkeerd. Wanneer ek twyfel, maak ek altyd uit ander bronne seker wat korrek is.

Danksy die bronnelys van die versamelde kennis wat KI verskaf, kan ek boonop seker maak hoe korrek die inligting is en of dit betroubare bronne is.

KI kan egter nie kreatief of oorspronklik wees nie. Beslis nie in die skryf van fiksie nie. Al waaroor KI beskik, is ’n sameflansing van werklik kreatiewe ménse se skeppingsvermoë. En dis nie kreatiwiteit uit eie reg nie. KI kan net slaafs herhaal wat dit gevoer is.

KI kan byvoorbeeld ’n prentjie (nie ’n skildery nie) in Van Gogh-styl genereer, maar nie ’n Van Gogh-skildery skep nie.

Uit suiwer nuuskierigheid het ek enkele kere toegelaat dat KI vir my ’n sogenaamd kreatiewe toneel skep gegrond op my vrae. Dis deur die bank afgesaag, melodramaties en heeltemal onbruikbaar.

Inligting wat KI wel kan lewer, hang ook af van die kreatiwiteit van die vraesteller/opdraggewer.

’n Voorbeeld: “Watter moordwapens kan ’n mens in ’n storie gebruik?” Hier sal mens ’n lys kry waar vuurwapen en mes of skerp voorwerp waarskynlik eerste genoem sal word.

Toe ek egter vra hoe ’n pomelo as ’n moordwapen gebruik kan word, was dit duidelik dat KI nog nie met my boek Siende blind gevoer is nie. Die vraag was kreatief, die antwoord was nie, maar daar kan moontlik iets bruikbaar wees vir ’n ander situasie.

Die punt is, KI sal nie ’n pomelo in die lys van moordwapens noem nie. Eers wanneer ek spesifiek oor ’n pomelo vra, sal dit kan terugvoer gee. In hierdie geval onbevredigend.

Die enigste mate van oorspronklikheid lê dus by die gebruiker van KI, nie KI self nie.

As navorsingshulp kan dit egter inligting gee wat deur ’n mens van vlees en bloed kreatief aangewend kan word.

In die storie wat ek tans skryf, wou ek byvoorbeeld die instinktiewe gewoontes van verskillende voëlspesies gebruik as parallel vir menslike gedrag. Ek vra dus ’n vraag soos: Watter voëls is van nature monogaam? Dis iets wat ek ook op Google kon opgesoek het, maar met veel meer moeite. KI gee vir my veel vinniger, veel meer inligting, asook die bronnelys, op een plek.

KI kan egter nie die parallel trek tussen my spesifieke karakters, hulle omstandighede en geaardhede, en die gewoontes van voëls nie. Dit kan my net inligting gee oor monogame voëls en dalk ’n paar ooreenkomste met mense in die algemeen.

Volgens ’n kenner met wie ek hieroor gesels het, kan KI nie ’n samehangende kernverhaallyn deurvoer nie, omdat dit net sóveel op ’n slag kan onthou voordat dit verward raak. Dit is ook duidelik uit die pomelo-antwoord wat ek gekry het. In ’n voorbeeldtoneel verwar KI ’n karakter uit die storie wat ek tans skryf met die agtergrond van ’n ander moontlike storie wat ek ondersoek.

Tog is daar mense wat KI-gegenereerde boeke publiseer. En daar is blykbaar mense wat sulke boeke koop en lees. Die persoon wat KI gebruik om sulke boeke te genereer, kan dus geld daaruit maak, maar vir hoe lank gaan lesers met sulke siellose stories tevrede wees? Want KI kan nie emosie verwoord nie; dit kan nie skep of vernuwend wees nie. Dit kan nie vars intrige of interessante, geloofwaardige karakters en konflik bedink nie.

Bygesê, indien sulke KI-gegenereerde herkousels ware fiksieskrywers sou benadeel, lê die blaam nie by KI nie, maar by die persoon wat dit sonder integriteit misbruik en lesers wat nie kieskeurig genoeg is om dit agter te kom of om te gee nie.

Vir my gaan dit daaroor dat ek vir my lesers die beste wil bied wat ek moontlik kan. Ek geniet dit om vars stories, ruimtes en karakters te bedink, konflik te skep, oorspronklike moordmetodes te gebruik, nuwe kinkels en kronkels uit te dink.

Ek glo my lesers weet ek skryf uit my hart, en sal nooit my hart verruil vir ’n blikbrein nie. Die blikbrein klop nie lewegewende, suurstofryke, menslike bloed wat die brein voed en kreatiwiteit moontlik maak nie.

Maar ek geniet KI as navorsingsassistent, al maak sy asof sy slimmer is as wat sy is.

Lees ook:

Kunsmatige intelligensie: Kan ’n bot die Hertzogprys wen?

Kunsmatige intelligensie kan leergeleenthede verryk

Moravec se paradoks

Die impak van kunsmatige intelligensie, generatiewe kunsmatige intelligensie en robotika op gesondheidsorg: Sal dokters oorbodig word?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top