|
Opsomming
Kunsmatige Intelligensie (KI) het reeds ’n verskeidenheid industrieë vernuwe om die lewe vir mense makliker te maak. Kenners is van mening dat die onderwys geen uitsondering behoort te wees nie. Baie dosente en onderwysers mag egter nog onseker wees oor hoe om die onbekende terrein aan te durf en hulle mag dalk ook nie seker wees waar om te begin, en hoe om KI in die leerproses in te bring en te navigeer nie. Ek het nie in diepte gefokus op wat KI is nie, maar ’n blik probeer gee op hoe KI in klaskamers gebruik kan word om nie net onderwysers en dosente se lewens makliker te probeer maak nie, maar ook hoe KI gebruik kan word om die les-inhoud te verryk. Ek het van ’n literatuurstudie gebruik gemaak om meer daaroor te wete te kom en vanuit die tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudskennis (TPEIK) lens voorstelle gemaak om leerkragte te motiveer om ’n verrykende leerervaring vir skole en universiteite daar te stel. Verder het die artikel beoog om die leerproses (van die gee van ’n opdrag tot hoe kennis en motiveringshulpmiddels ingespan kan word om die leer beter vas te lê) opnuut te bekyk. Deur die leerders toe te laat om ander opdragte as net teksverslae te skep, kan ’n mens meer as net feite vaslê, aangesien die verkenning van elemente, soos die gebruik van tegnologie wat buite hul vaardighede en gemaksones is, voorsiening kan maak vir ’n dieper betrokkenheid by die leermateriaal. KI het gekom om te bly en veral ChatGPT het internasionale kennis makliker toeganklik gemaak. Plaaslike kennis en eie ervarings word egter al hoe belangriker. Wat in die mens se onmiddellike omgewing gebeur, is van groot belang omdat leerders die kennis steeds self moet bekom en neerskryf. Kennis, die waarde daarvan, die leerproses en die bydrae wat ’n TPEIK-lens in klaskamers kan maak, is dus in hierdie artikel ondersoek.
Trefwoorde: assessering; Kunsmatige Intelligensie; kurrikulum; leerproses; tegnologie; tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudskennis (TPEIK)
Abstract
Artificial intelligence can enrich learning opportunities
Artificial intelligence (AI) has made significant strides in transforming various sectors, offering innovative solutions and efficiencies. Education stands to benefit greatly from AI’s capabilities, yet many educators are uncertain about how to effectively incorporate this technology into their teaching practices. This article examines AI’s impact on education, focusing on how it can enhance teaching and learning experiences through the Technological, Pedagogical Content Knowledge (TPACK) model.
Key points
AI is part of the Fourth Industrial Revolution, which is rapidly evolving and presenting new challenges, particularly in the areas of privacy and data security. AI’s ability to perform tasks previously reserved for humans, such as problem-solving, reasoning and creativity, is advancing, though current capabilities still have limitations.
Central to AI’s functionality are neural networks, which emulate the human brain’s processes to recognise patterns in language, speech and emotions. Despite their potential, accurately assessing human emotions through AI remains a complex challenge.
AI has the potential to significantly improve educational experiences by offering personalised learning opportunities. AI-driven platforms can adapt content based on an individual student’s needs, analyse historical data for better educational insights and provide instant feedback to engage students more effectively.
Reconsidering pedagogical approaches
The TPACK model, introduced in 2006 and revised in 2014, provides a framework for integrating technology into teaching by combining three core types of knowledge: content knowledge (CK), pedagogical knowledge (PK) and technological knowledge (TK). The intersections of these areas create advanced components such as technological pedagogical knowledge (TPK), pedagogical content knowledge (PCK) and technological content knowledge (TCK). AI fits into the TPACK model by bridging technological, pedagogical and content knowledge, helping educators adapt teaching strategies to meet students’ needs and provide data-driven insights.
Integrating AI into education goes beyond merely delivering content. Educators can use AI to enhance learning pathways by incorporating algorithms and data analyses that support deeper understanding. AI tools, such as chatbots, can generate academic content that educators can use to gauge student interpretation and ensure that students’ work reflects their own ideas. AI’s role is to complement, not replace, traditional teaching methods by enriching learning environments and fostering critical thinking skills.
To fully leverage AI’s potential, educators can selectively integrate AI into learning experiences. AI can create dynamic and personalised learning resources tailored to individual needs, including those of students with special requirements. Effective integration involves organising workshops with diverse stakeholders to make informed decisions about incorporating AI into lesson plans and the curriculum.
The increasing use of AI in education brings up concerns about plagiarism and ethical use. As students have easier access to information online, there is a risk of misusing sources without proper citation. It is crucial to educate students on good research practices and guide them through the research process. There are differing opinions on how to recognise AI’s contributions, with some advocating for crediting AI creators and others suggesting alternative assessment methods, for example, oral presentations, to mitigate AI’s influence. As AI becomes more embedded in educational settings, updating assessment criteria and methods is necessary to effectively integrate AI into the evaluation process.
While AI offers many benefits, there are concerns that it could exacerbate the digital divide, particularly in regions like South Africa. Issues such as illiteracy, poverty, power outages, high data costs and lack of access to advanced technology, can hinder the effective use of AI in education. Educational technologies should be designed to function without requiring constant high-speed internet to ensure accessibility.
The integration of AI into education requires international cooperation on issues such as copyright, plagiarism and ethical use. Research practices and ethical guidelines should be standardised globally. While AI, especially tools such as ChatGPT, has made international knowledge more accessible, local knowledge remains critical. This localised knowledge must be actively sought and documented, as it is not always readily available online.
The article emphasises the transformative potential of AI in education when applied thoughtfully. By using frameworks like TPACK, educators can enhance their teaching strategies and enrich the learning experience. AI has the potential to address both factual content and social dynamics within the classroom, making it a valuable tool for creating more engaging and effective learning environments and opportunities.
Keywords: artificial intelligence; assessment; curriculum; learning process; technology; technological, pedagogical and content knowledge
1. Inleiding
Kunsmatige Intelligensie (KI) het reeds ’n verskeidenheid industrieë vernuwe en sodoende die lewe vir mense makliker gemaak. Cloete (2023) is van mening dat die onderwys geen uitsondering behoort te wees nie. Greeff (2023), Van den Heever (2020) en Oosthuizen (2023a) is dit eens dat KI ’n veld is wat by die minuut verander en ’n toenemende invloed op al die vlakke van die hedendaagse samelewing sal hê. KI, volgens die Jakes-Gerwel-gesprek by die Suidoosterfees van Mei 2024, gaan die wêreld binne die volgende drie tot vyf jaar byna onherkenbaar verander en dit gaan onontbeerlik in mense se lewens word (Oosthuizen 2023b). Baie dosente en onderwysers mag egter nog onseker wees oor hoe om die onbekende terrein aan te durf en hulle mag dalk ook nie weet waar om te begin, en hoe om KI in die leerproses in te bring en te navigeer nie.
Ek gaan nie indringend fokus op wat KI is en wat die voordele en nadele daarvan is nie, maar eerder ’n blik probeer gee oor hoe dit in klaskamers gebruik kan word om nie net onderwysers en dosente se lewens te vergemaklik nie, maar ook die leerervaring te verryk. Ek bied eers ’n literatuuroorsig om meer daaroor te wete te kom, en lê nie klem op al die gevare nie. Daarna bied ek strategieë, gegrond op die tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudskennis (TPEIK) model, om leerkragte te motiveer om verrykende leerervarings vir leerders en studente daar te stel. Ek gaan deurgaans van die terme leerder en student gebruik maak, aangesien die artikel beide skole en universiteite betrek.
Die artikel fokus op hoe KI in die klaskamer en lesinglokale ingespan kan word, en of die TPEIK-model wel vir so ’n toepassing geskik is. Die TPEIK‑model sal indringend bekyk word, nie net om toepassingsstrategieë te bied nie, maar ook om leerkragte te motiveer om tegnologie as ’n hulpmiddel te gebruik om verrykende leergeleenthede te bied.
2. Wat KI is en hoe dit gebruik kan word
Die Vierde Industriële Revolusie is volgens Philbeck en Davis (2019) aan die orde van die dag, met gevorderde tegnologie en digitale ontwikkeling wat by die minuut verbeter om daaglikse doen en late te beïnvloed. Dit skep uitdagings vir werkskepping, werksomgewing en vaardigheidsvereistes, en dit kan, volgens Brand (2020), ’n gevaar vir privaatheid en datasekuriteit skep. Brand beweer dat dit die potensiaal het om die manier waarop ons werk, kommunikeer, produseer en leef, drasties te verander aangesien dit nuwe vorme van outomatisering en produksie in die industriële sektor moontlik maak. Wat hierdie industriële revolusie, volgens Van den Heever (2020), anders maak as die vorige drie, is dat diegene wat hande-arbeid verrig, se beroepe tydens die vorige revolusies in gevaar was, maar nie hierdie keer nie, aangesien ’n geselsbot nog nie ’n gat kan grawe of ’n tuin kan omspit sonder die hulp van ’n mens nie.
Met KI kan rekenaars nou take verrig wat voorheen net deur mense gedoen is; dit kan selfs redeneer en probleme oplos wat voorheen nie vir masjiene moontlik was nie (Greeff 2023). Tegnologie en veral KI verbeter daagliks om die lewe van mense nie net makliker te maak nie, maar ook te verryk. Die vraag bly egter wat KI is en hoe dit werk. Ek het vir die geselsbot ChatGPT-3.5 gevra wat KI is en om dit op ’n akademiese wyse weer te gee sodat ’n student op universiteit dit sal verstaan, en binne sekondes het die volgende op die skerm verskyn:
Kunsmatige intelligensie verwys na die veld van rekenaarwetenskap wat fokus op die ontwikkeling van programme en stelsels wat in staat is om intelligente gedrag na te boots. Hierdie gedrag sluit in leer, redenering, probleemoplossing, en selfs kreatiwiteit. Die doel van KI is om masjiene te skep wat in staat is om menslike intelligensie te simuleer en in sommige gevalle selfs te verbeter. (ChatGPT-3.5 2024)
KI gebruik ’n verskeidenheid tegnieke en algoritmes om probleme op te los, aangesien die hele internet (tot en met die afsnydatum van ’n KI se opleidingsdata) beskikbaar is. KI kan nie net probleme oplos nie, dit kan ook kuns, musiek en literatuur herken, naboots en selfs vernuwings voorstel. Brand (2020) verbreed die omskrywing verder deur daarop te wys dat soekenjins, soos Google-programme wat gebruik word om inligting op die internet te verkry, verskil van KI omdat die internet oor ingeboude soekenjins beskik wat nie nuwe teks skep nie, maar dit wat beskikbaar is met mekaar vergelyk. Volgens Brand is KI ’n algemene term vir die simulasie van menslike intelligensie in masjinerie wat ook soekenjins soos Google se inligting insluit en verbeter.
Greeff (2023) wys egter daarop dat as ’n geselsbot uitgedaag word om ’n koppie koffie te maak, dit die taak deels kan verrig deur die instruksies te volg en selfs te gee, maar dat dit hedendaags nog nie self die koffie kan maak nie, met die klem op nóg nie, of op dié oomblik nie. Die vraag wat almal dus kwel, is of KI die mens sal kan vervang?
’n Ander belangrike aspek van KI is neurale netwerke (Hiltner 2019). Hierdie netwerke is geïnspireer deur die menslike brein en bestaan uit ’n netwerk van neurone wat met mekaar kommunikeer. Hierdie manier van leer help die mens om beeldherkenning, taalverwerking en spraakherkenning te bemagtig, maar die proses waardeur menslike vermoëns kunsmatig deur masjiene geïnterpreteer word, is egter meer kompleks as wat dit op die oog af mag lyk (Brand 2020). ’n Mens se emosies kan op ’n skaal van effens tot intens beoordeel word, en gesigsuitdrukkings is nie altyd herkenbaar en versoenbaar met die emosie wat beleef word nie. Voorts wys Brand (2020) daarop dat geslagsverskille en kultuurverskille ook ’n rol kan speel om die beoordeling van emosies te bemoeilik. Hy spekuleer dus oor hoe betroubaar “masjienassessering” van menslike emosies is, en of dit enigsins sinvol is om komplekse neurologiese funksies te vereenvoudig.
Volgens Oberoi (2018) is KI in staat om take te verrig wat met menslike intelligensie vergelyk kan word; hy sien dit as ’n rekenaargebaseerde simulasie of masjiennabootsing. Ranjan en Hopper verskil van Oberoi deur te waarsku:
The positive feedback cycle formed between quantum computer and artificial intelligence is the most eye-catching point that possesses the potential to reach the goal of self-learning and self-improvement. The new era of technology has approached, the only thing we need to do is to enhance and upgrade our knowledge to prevent being knocked out. (Ranjan en Hopper 2019:49)
Oberoi (2018) sien KI as slegs ’n gesimuleerde masjiennabootsing van menslike gedrag, maar Ranjan en Hopper (2019) waarsku dat as KI nie ondersoek word nie, dit dalk die mens kan klop in hierdie selfleer- en selfverbeteringstryd. Wanneer daar gereflekteer word oor die menslike vermoë om te dink, te redeneer en intuïtief nuanses deur middel van emosies te verstaan, is dit belangrik om ook na die menslike brein te kyk. Volgens Ponnet (2019) is die brein ’n sosiale orgaan en volgens opvoedkundige neurowetenskap (die studie van hoe die brein in die leerproses werk), kan ’n mens nie iets aanleer as daar nie emosies en gevoelens by betrokke is nie. Sy brei verder daarop uit deur te beweer dat mense verrykende herinneringe beter as alledaagse herinneringe kan onthou, en dat hulle beter leer in ’n veilige omgewing waar soveel vrae as moontlik gevra kan word. Dan is die mens nie net in staat om probleme op te los nie, maar ook om nuwe kennis te skep (Ponnet 2019).
Kennis wat van soekenjins en geselsbotte gekry word voorsien die mens van feite, maar volgens Ponnet (2019) het die mens ook hulpmiddels soos ’n veilige omgewing en positiewe herinneringe nodig om die leer te laat vaslê. Dit is dus nodig om KI as verrykende leerervaring te ondersoek, want deesdae kan KI kan ook nuwe kennis en unieke tekste skep.
3. Herbesin KI as ’n verrykende leergeleentheid
3.1 Herbesin die pedagogiese teoretiese lens
’n KI-teoretiese lens verwys na ’n raamwerk of perspektief waarbinne Kunsmatige Intelligensie geanaliseer en verstaan word. Aangesien navorsers nog nie vir KI so ’n lens ontwikkel het nie, is die TPEIK-lens hier ingespan om leerkragte ’n aanduiding te gee hoe om KI op ’n betekenisvolle manier in die leergeleentheid in te bring. In 2006 is ’n weergawe van die TPEIK-model deur Mishra en Koehler bekendgestel, wat later in 2014 aangepas is om tegnologiese kennis in te sluit (Van Staden 2019). Dit identifiseer sewe tipes kennis wat ’n opvoeder kan inbring wanneer daar beplan word om tegnologie in ’n les te integreer.
Figuur 1. Aangepaste en vertaalde TPEIK-model van Mishra en Koehler (2006), soos dit verwerk is uit Van Staden (2019:590). Kopiereg: LitNet Akademies 16(2)
Die drie duidelike sirkels in Figuur 1 hier bo verbeeld inhoudskennis (I), pedagogiese kennis (P) en tegnologiese kennis (T). Wanneer die drie sirkels of basiese komponente met mekaar integreer kom daar snypunte voor en vorm dit drie gevorderde komponente, naamlik: tegnologiese pedagogiese kennis (TP), pedagogiese inhoudskennis (PI) en tegnologiese inhoudskennis (TI). Waar die drie snypunte mekaar ontmoet, word TPEIK gevorm, soos die titel van die figuur aandui.
Die TPEIK-model is ’n raamwerk om die integrasie van tegnologie in onderwys te verstaan. KI pas hoofsaaklik by TPEIK in wanneer die tegnologiese, pedagogiese en inhoudskennis met mekaar integreer. KI kan ingespan word om onderrigstrategieë te verbreed, soos byvoorbeeld leerplatforms wat op grond van individuele studentbehoeftes aangepas kan word. Dit kan ook historiese data-analises verskaf wat relevant is vir spesifieke vakgebiede. Volgens Taylor en Van der Merwe (2022:462) kan dit vir die konseptualisering van data gebruik word en gee dit insig in die werkwyse, denkwyse en praktyk van die vakonderwyser. Hulle is verder van mening dat leerkragte moet weet hoe om tegnologie effektief te gebruik en sekere vaardighede moet aanleer om tegnologie binne sy of haar vakgebied op so ’n wyse te implementeer dat dit aanleiding kan gee tot meer effektiewe onderrig.
Wanneer TPEIK ter sprake kom behoort die onderwyser of dosent te verstaan hoe KI werk, en haar- of homself vertroud maak met die robotte. Die leerkragte moet verder leeranalises verstaan sodat hulle dit effektief in hul onderrigpraktyke kan integreer. Voorbeelde hiervan is KI-gedrewe platforms wat inhoude aanpas op grond van studentprestasies, wat beide pedagogiese kennis en tegnologiese kennis kan verbreed deur die probleemareas te bestudeer en voorstelle te maak om dit te verbeter. KI kan gebruik word om studentedata te analiseer. Verder kan KI-gedrewe platforms ontwikkel word om onmiddellike terugvoering aan studente te bied en sodoende leerderbetrokkenheid te bevorder.
Die TPEIK-model kan opvoeders help om tegnologie op ’n betekenisvolle manier te integreer en KI kan al drie kernareas ondersteun om ’n nóg ryker en meer effektiewe onderrig- en leeromgewing daar te stel. Herbesinning oor die leerproses en waar KI inpas, is dus nodig.
3.2 Herbesin die leerproses
Wanneer dosente of onderwysers meer as net inhoudskennis by leerders en studente wil inburger sodat hulle daarop kan voortbou om nuwe kennis te skep, is dit nodig om al sewe soorte kennis soos dit in Figuur 1 hier bo verbeeld is, in die leerervaring te probeer inbou. Met die gebruik van KI kan die bestaande leerpaadjies verryk word deur algoritmes en analises by te voeg. Hier bo is die geselsbot gevra om neer te skryf wat KI is en dit op ’n akademiese wyse weer te gee sodat ’n student op universiteit dit sal verstaan. Binne oomblikke het dit ’n paragraaf geskryf met die titel: “Die rol van kunsmatige intelligensie in die moderne samelewing.”
Hierdie belangrike stappe van die leerproses, naamlik die titel en die opdrag, moenie misgekyk word nie. Die geselsbot het sy eie titel gekies aangesien ek nie gevra het dat dit volgens ’n sekere titel geskryf moet word nie. Uit al die algoritmes tot die geselsbot se beskikking, het dit op die rol van KI in die moderne samelewing gefokus. Wanneer die opdrag dan herbekyk word, kan die leerkrag bepaal of dit in ooreenstemming is met die fokus of inhoudskennis wat aan die leerders gegee is om sodoende seker te maak dat die student sy eie interpretasie gegee het, of slegs op die bot vertrou het.
Om terug te kom by die opdrag; dit wat nog altyd baie belangrik in die leerproses was, is nou nóg belangriker. As die onderwyser weet dat die leerder van ’n geselsbot gebruik gaan maak, moet hy of sy nie vir ’n opdrag ’n vaste titel gee nie, maar sê leerders moet self een kies om sodoende die fokus van die leerder te bepaal en om seker te maak dit is hul eie idee en nie net dié van ’n geselsbot is nie. Die onderwyser kan ook vir die leerders ’n geskrewe stuk werk gee wat deur ’n bot geskryf is, en vra dat hulle iets soortgelyks skryf met hulle eie titel en soortgelyke inhoud. Sodoende leer die leerder nie net om die geselsbot te gebruik nie, maar ook om daarop te reageer om sodoende sy of haar eie leerproses te verryk. Studente kan selfs vir hulle ’n ander geselsbot soek of voorstel, en verskillende opdragte met mekaar vergelyk. Hier word TPEIK dus toegepas aangesien dit nie net groepwerk van ’n klas of studiegroep is nie, maar ook interaksie van ’n groep mense met ’n masjien wat sodoende ’n ryker omgewing vir aktiewe leer skep (Louw 2010).
Wanneer die opdrag herbekyk word, is daar vir die geselsbot gevra om die teks op ’n akademiese wyse te skryf. Die opdrag kan vir enige ouderdom gevra word. Op laerskool word die ouers gereeld gevra om vir ’n kind wat nog nie kan lees nie, te help om ’n toespraak te skryf en hulle af te rig om dit voor ander te lewer. Die opdrag lui dat die kinders dit moet kan verstaan en dat ’n bonuspunt gegee sal word vir die gebruik van idiome en segswyses. Vindingryke en dikwels oorwerkte ouers kan van ’n geselsbot gebruik maak om die toespraak op ’n sewejarige se vlak te skryf, en die meer vindingryke ouer kan sommer die bot vra om terselfdertyd prentjies as handnotas te teken sodat die kind die toespraak makliker kan onthou.
Die kritici sal sê ’n belangrike stap van die leerproses, naamlik die wroeging van die skryfproses, word uitgelaat. Dit is wél so, maar daar is soveel ander geleenthede hier om die TPEIK-model te betrek, wat nie misgekyk moet word nie. In die wêreld van werk is die eindproduk of verslag wat reeds deur kritiese denke geëvalueer is belangriker, en die verskillende bronne en metodes wat in die proses gebruik is van minder belang.
Om die TPEIK-model te bevorder en as deel van die leerproses by te werk, moet leerders op verskeie maniere en metodes reflekteer oor wat hulle gelees het, hoe hulle gevoel het terwyl hulle gelees het en ’n waarde-oordeel te maak. Volgens Greeff (2023) moet die leerders ook dan reflekteer oor wat hulle geleer het. Hulle hoef ook nie net ’n verslag oor hulle leerpaadjies te skryf nie, maar kan dit op enige manier verbeeld, hetsy deur kuns, musiek of literatuur. Greeff sê as KI reg gebruik word, stel dit leerders in staat om kuns te skep, om stories te skryf en om mobiele toepassings te maak. “Ons beweeg na ’n wêreld waar multimedia-voorleggings deur studente moontlik is op ’n manier wat nog nooit tevore gesien is nie” (Greeff 2023).
Van der Westhuizen (2024) en Van Staden (2023b) spekuleer of KI die onderwyser kan vervang, aangesien robotte redeneer en uit hul foute leer. Van Staden (2023a) meen dat KI bruikbaar is om jaarplanne, lesplanne en toetse op te stel, maar slegs wanneer daar duidelike instruksies aan die bot gegee word. Van der Westhuizen (2024) brei daarop uit deur te beklemtoon dat onderwysers denkvaardighede vir leerders leer omdat hulle die vermoë het om leerders nuuskierig te maak. Onderwysers is bewus van die kind se sosiale sy en hulle weet ook dat die leerder se brein heeltyd groei. Robotte, aan die ander kant, sosialiseer nie met mekaar nie en vergelyk ook nie stukke werk met mekaar nie (Van der Westhuizen 2024). Soos in die geval van Ranjan en Hopper (2019) is Van der Westhuizen en Van Staden ook van mening dat diegene wat KI omhels moontlik ’n beter kans het om in hulle beroep te oorleef. Hulle beklemtoon egter ook dat die gebruik van ’n geselsbot deur ’n volwasse persoon, ’n onderwyser of ouer genavigeer moet word om leerders te help om kritiese denkvaardighede te ontwikkel en nie net inligting as die waarheid te aanvaar nie.
Volgens Cloete (2023) is daar baie maniere waarop onderwysers met KI kan saamwerk. Dit kan byvoorbeeld help met individuele leer, waar daar vir elkeen ’n eie persoonlike leerervaring ontwerp word sodat leerders hulle volle potensiaal kan bereik. As leerders gevra word om aksies uit te voer waarin KI deel van die lesbeplanning sou wees, sal dit volgens hom, hulle dwing om take op nuwe maniere te verken en uit te voer. Kroeze, Van Staden en Eybers (2024) is ook van mening dat ’n Afrika-fokus in mens-rekenaar-interaksie en Afrika-gevallestudies die student verder sal stimuleer, en die kursusmateriaal sal verryk aangesien die bekende vir ’n student van hierdie gebied kan stimuleer om die kennis beter vas te lê.
Graeme Codrington (2024), ’n futuris, is ook daarvan oortuig dat KI nooit onderwysers kan vervang nie, maar hy waarsku dat die akademiese speelveld onherroeplik verander het. Ranjan en Hopper (2019) sê ook dat KI hier is om te bly, aangesien dit nie meer kan gesien word as net ’n nuusberig oor wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar as ’n voldonge feit.
Dit is volgens Greeff (2023) nou baie belangrik om skole en universiteite se kurrikula te hersien aangesien ons onsself hier in Suid-Afrika en wêreldwyd nou op dieselfde plek bevind, naamlik aan die begin van ’n toekoms saam met KI.
3.3 Herbesin die kurrikulum
Dit is dus ’n nuwe era waar die TPEIK-model so toegepas kan word dat dit onderwysers en dosente vertroud kan maak om met KI ’n bydrae tot individuele leer te kan maak. Behoorlike kurrikula waar die insluiting van KI en sy deelname aan die les of lesing erken word, kan ’n waardevolle bydrae tot die onderwysstelsel maak (Van Staden 2023a).
Eintlik is die toekoms nou, sê Vakulov (2023) in sy blog: Stel jou voor ’n KI-gedrewe kurrikulum wat dinamies is, en wat die heeltyd op grond van klasprestasies aanpas en ontwikkel. KI kan ingespan word om vir leerders met spesiale behoeftes meer aanpasbare leerhulpbronne te genereer en opvoeders sodoende help om meer doeltreffende geïndividualiseerde onderwysprogramme daar te stel. Voorts is Vakulov van mening dat KI selfs in emosionele en sielkundige ontledings kan delf om die welstand van die leerder op ’n bepaalde tyd te bepaal (Vakulov 2023).
Aangesien die moontlikhede legio is en nie meer geïgnoreer kan word nie, is dit nóú belangrik om eers goed beplande en goed georganiseerde werkswinkels te hou waar sinvolle vernuwings aan die kurrikula voorgestel word (Greeff 2023). Hierdie werksessies moet vooraf goed bedink en deurwerk word, aangesien dit noodsaaklik is dat ’n wye groep raadgewers hierby betrek word. Die uitkoms van die werkwinkels moet twee doelwitte voor oë hê: om goed ingeligte besluite te neem oor hoe KI ingevoeg kan word, en hoe om lesings en lesse te struktureer waar KI die leerders in die leerproses ondersteun. Vakulov (2023) is van mening dat dit noodsaaklik is om ook leerders en tegnologiese kundiges by die proses waar KI gebruik word te betrek, om sodoende ’n suksesvolle opvoedkundige reis vir hulle te kan verseker.
Cloete (2023) verduidelik dat KI kan help om die individuele behoeftes van leerders te identifiseer en as leerplanne daarvolgens opgestel kan word, sal dit onderwysers in staat stel om probleemareas betyds aan te spreek. Die geselsbotte kan ook ’n handige rol speel as dit by lees en skryf van tale kom. Hulle kan in die remediërende proses as tutors optree vir die leerders wat agter raak. Cloete (2023), Vakulov (2023) en Greeff (2023) is dit eens dat KI op verskeie maniere ingespan kan word.
Greeff (2023) sê deur leerders toe te laat om ander opdragte as net teksverslae te skep, kan meer as net feite vasgelê word, aangesien die verkenning van elemente wat buite hul vaardighede en gemaksones is, voorsiening maak vir ’n dieper betrokkenheid by die leermateriaal. Dit kan gebruik word om leerders onmiddellike en gepersonaliseerde terugvoering oor hul werk te gee wat hulle die geleentheid kan gee om teen hulle eie tempo te werk. Virtuele tutors kan leerders wat meer visueel georiënteer is bystaan om moeilike konsepte te verstaan.
Volgens Afrikaans.com (2023:2), het ChatGPT “akademici wakker geskud uit hulle akademiese middagslapie” en bied onder andere die volgende geleenthede: Navorsing kan nou behoorlik gedoen word deur feite met betroubare data te vergelyk; akademiese integriteit kan beklemtoon word deur seker te maak leerders weet waar om leiding en ondersteuning oor gesonde navorsingspraktyke te kry; en etiese gebruik kan verbeter, deur leerders te laat verstaan wat die korrekte en verkeerde gebruik van KI behels (Afrikaans.com 2023:3).
Alhoewel daar baie potensiaal is om KI in die kurrikulum in te bou, is dit ook belangrik om die implementeringsgevolge daarvan te oorweeg. Universele reëls oor die etiese en eerlike gebruik van KI word benodig om assessering makliker te maak en plagiaat te voorkom.
3.4 Herbesin assessering, plagiaat en etiek
Noudat kennis en inligting maklik aanlyn verkrygbaar is, kan leerders en studente heelwat bronne vir hulle projekte en opdragte raadpleeg. KI is ook in staat om nuwe bronne te genereer deur ouer bronne te raadpleeg, dit saam te voeg en nuwe gevolgtrekkings en afleidings te maak. In ’n wêreld waar ’n oormaat van inligting beskikbaar is, kan die leerder maklik in die strik trap om die bronne vrylik te kopieer en sonder behoorlike aanhalings, verwysings en outeurserkennings te gebruik. Dit is daarom dringend noodsaaklik om leerders vroeg bewus te maak van gesonde navorsingspraktyke, en dit is belangrik vir ’n ouer of ’n onderwyser om die leerder deur die hele proses te navigeer en te lei. Van Staden (2023b) waarsku dat as die student nie verstaan wat die korrekte en verkeerde gebruik van KI is nie, hierdie nuwe vorm van plagiaat die integriteit van universiteite nadelig kan beïnvloed, en dieselfde geld vir skole.
In die literatuur is daar twee sienings oor die erkenning van die gebruik van KI (Van Staden 2023b en Le Cordeur 2023). Van Staden is van mening dat as dit gebruik word, krediet aan die skrywers gegee moet word. Dit is vir haar ook belangrik om seker te maak of die inhoud deur kopiereg beskerm word en of dit vryelik gedeel kan word. Verder beveel Le Cordeur aan om die gebruik van geselsbotte eerder te vermy deur te fokus op kreatiewe alternatiewe soos mondelinge assesserings, kritiese skryfwerk en individuele gesprekke. Met die koms van sosiale media, seminare, werkwinkels, meningsartikels en blogs is dit nie altyd so maklik om die oorspronklike skrywer vas te stel en aan te haal nie. Wanneer KI ook nou deel van die teks word, gaan dit nie net moeilik wees om plagiaat vas te stel nie, maar ook om dit uit te ken. Brand (2020) verskil van die eerste groep deur daarop te wys dat KI dikwels gebruik word om inhoud te genereer en dit soms soos plagiaat lyk. Hy waarsku dat KI-stelsels net instrumente is, en dat dit die verantwoordelikheid van die gebruikers is om te verseker dat hulle dit op ’n eerlike manier gebruik. Hieroor sal nog baie navorsing gedoen moet word, maar dit is wel belangrik om KI en KI-stelsels van die begin af by die assesseringskriteria in te bou, en deurgaans assesseringsmetodes te hersien en aan te pas om voorsiening vir die insluiting daarvan te maak. Van Staden (2023a) het navorsing gedoen oor hoe KI algoritmes gebruik om die assesseringsinstrumente meer akkuraat, objektief en betroubaar te maak. KI kan die toetsresultate verwerk, en vinnige terugvoering aan dosente en onderwysers kan help om probleme vroeg te identifiseer en dan betyds in te gryp. Volgens Afrikaans.com kan dit veral nuttig wees in groot klasse waar dit moeilik is om individuele aandag aan elke leerder te gee.
Voorts kan KI tradisionele onderwysmetodes verander, en ’n verrykte leerproses en verpersoonlikte ervarings vir leerders skep waar selfs virtuele opdragte volgens ou maatstawwe beoordeel kan word. Hier word byvoorbeeld gedink aan om nuwe gegenereerde kuns met die reëls van bestaande meesterstukke te vergelyk. Le Cordeur (2023) het byvoorbeeld in sy eie klaskamer die studente gevra om ’n selfoonvideo van ’n gedig oor beurtkrag te maak en dit dan vir die klas aan te bied. Hy sê hy het dit as ’n mondelingse assessering gebruik en sommer ook getoets of die student kan klasgee. Mondelingse take is volgens Le Cordeur (2023) ’n kreatiewe manier om ChatGPT se gebruik te vermy, maar soos ons vroeër in ’n voorbeeld hier bo gesien het, kan die vindingryke leerder of ouer KI ook inspan om hulle toesprake te skryf.
Greeff (2023) is van mening dat die etiese benadering tot hoe KI gebruik moet word, iets is waaroor nog baie gepraat sal moet word. Hy vra of die dosent sal weet wie watter deel van die werk gedoen het as die student KI gebruik. Voorts sê Greeff dat wanneer hy oor die assesseringskriteria besluit, hy dan eerder na die tipe vrae wat die leerder die masjien gevra het, kyk en of dit suksesvol was vir die antwoorde wat die masjien gegenereer het. Vernuwende assesseringsmetodes is nodig wanneer evaluering of kritiese denke, en nie slegs feitekennis nie, in die leerproses voorkeur kry.
KI het die voordeel dat dit die leerder se vermoëns om navorsing te kan doen (deur data-analises beskikbaar te hê), kan verbeter en verryk, maar daarmee saam moet ook akademiese integriteit kom oor hoe en waar dit gebruik mag word, en waar dit nie op foutiewe wyse aangewend moet word nie. KI het verder die voordeel dat dit deur spelverifiëring kan help om assesseringsvideo’s te maak om as hulpmiddel die leerder vóóraf bewus te maak waarvoor hulle punte gaan ontvang, en hoe die punte toegeken en versprei sal word. Deur middel van hierdie simulerings kan leerders seker maak hulle voltooi ’n opdrag ingelig en na die beste van hulle vermoë. KI kan dus aanleiding gee tot geleenthede, mits onderwysers en dosente bereid is om nuut te dink. Le Cordeur (2023) is oortuig daarvan dat ’n paradigmaskuif nodig is en dat daar nie meer plek is vir die blote uitdeel van notas wat die studente moet memoriseer nie. Hy is ook van mening dat onderwysinstansies verplig kan word om hul benadering tot KI aan te pas.
Afrikaans.com waarsku onderwysers en dosente om KI eers met ’n klein aantal leerders en in ’n loodsprogram te begin om te verseker dat dit ’n goeie leerproses vir die leerder en opvoeder sal wees. Hulle is ook van mening dat die mees gesofistikeerde KI‑platvorms nie die menslike invloed van ’n onderwyser kan vervang nie. Volgens hulle kom die onderwyser en dosent se emosionele intelligensie, en die vermoë om leerders en studente te inspireer, van ’n besondere plek. Dus word goeie herinneringe en aangename emosies as motiveringshulpmiddels (Ponnet 2019), soos vroeër genoem, weer eens beklemtoon.
Assessering binne onderwyspraktyke moet dus dringend herbekyk word, aangesien dit hiér is waar die leer plaasvind. Die leerders en studente wat opbouende terugvoering oor hulle werk kry en binne bekende Afrika-perspektiewe onderrig word (Kroeze e.a. 2024), is meer geneig om die leer beter vas te lê aangesien hulle, soos Ponnet (2019) vroeër verduidelik het, bekende en hopelik goeie herinneringe en emosies daaraan koppel.
Binne die Suid-Afrikaanse onderwysgemeenskap word daar nog verdere uitdagings aan ons leerders gerig, wat ook in ag geneem moet word wanneer die kurrikulum en assesseringskriteria hersien word. Die uitdagings met die gebruik van gesofistikeerde tegnologie is vir sommiges angswekkend, en verdere uitdagings soos beurtkrag, die ekonomie en armoede moet deeglik by hierdie prosesse bespreek en in ag geneem word.
3.5 Herbesin die gebruik van tegnologie
Alhoewel die gebruik van KI opwindend is en baie voordele inhou, bly ’n mens wonder of dit nie juis die digitale gaping binne Suid-Afrika nog groter sal maak nie. Unieke struikelblokke soos ongeletterdheid, armoede, beurtkrag, die koste van data en tegnologie, en die feit dat leerders nie noodwendig toegang het tot eksklusiewe rekenaars of stabiele internetverbinding nie, dra daartoe by dat rekening gehou moet word met bogenoemde uitdagings, al is die wêreld se kennisstelsels aan ons vingerpunte. Wanneer daar nuwe tegnologie vir opvoedkundige instansies aangekoop word, moet die toerusting wat gekies word só veelsydig wees en so kan funksioneer dat dit nie heeltyd hoëspoed-internet benodig om doeltreffend te wees nie.
Opvoeders sal leerhindernisse op ’n kreatiewe en innoverende wyse moet aanpak en vroeg daarvoor beplan om seker te maak dat leerders die leertake sal kan baasraak. Le Cordeur (2023) stel voor dat die klaskamer na buite geneem word sodat die student vry van selfone en rekenaars geassesseer kan word om die KI-struikelblokke te probeer oorkom. Hy is van mening dat streng navigasie van die KI-leerproses nodig is.
Bogenoemde strategieë moet deeglik vooraf in die kurrikulum en leerplan ingewerk word om seker te maak dat van die leerders nie gaan agterbly nie, maar steeds ’n verrykende leerervaring sal beleef. Private instansies en tegnologiese ondernemings kan dalk betrek word om die onderwysers en dosente hier by te staan.
4. Gevolgtrekkings en aanbevelings
KI word oral om ons gebruik en dit sal onregverdig wees om leerders van die 21ste eeu te verbied om daarmee te eksperimenteer (Le Cordeur 2023). Dit het tyd geword om KI te omhels, en dit in die kurrikulum en assesseringskriteria in te bou. Die voordele van meer betroubare statistieke maak ’n mens opgewonde, maar basiese dinge soos die gebrek aan elektrisiteit, konnektiwiteit en tegnologiese toerusting maak opvoedkundiges bekommerd en onseker oor waar om te begin. Greeff (2023) wys daarop dat alle plekke wêreldwyd op dieselfde plek is wat KI betref en dat lande saam op internasionale vlak oor kopiereg, plagiaat en die etiese gebruik van KI moet besin. Navorsingspraktyke en die etiese toepassing daarvan sal volgens Greeff nou internasionaal gestandaardiseer moet word. Baie navorsing sal nog gedoen moet word om nie net KI se kragtige moontlikhede, toepassings en gebruike te ondersoek nie, maar ook die invloed wat dit hier en wêreldwyd op die samelewing se vooruitgang en welvaart sal kan hê. Van Staden (2023b) sê KI het gekom om te bly, maar die uitdaging is om dit reg en effektief te gebruik. KI en veral ChatGPT het internasionale kennis makliker verkrygbaar gemaak, maar plaaslike kennis raak deesdae volgens Greeff (2023), Kroeze en ander (2024) al hoe belangriker. Dit wat in ’n individu se onmiddellike omgewing gebeur is van groter belang, omdat hierdie kennis steeds self bekom moet word aangesien dit nog nie op die internet neergepen is nie. Jy kan byvoorbeeld die pad na jou skool en universiteit op jou elektroniese padkaart naslaan, maar die ervarings en belewenisse op pad is vir elke persoon anders en moet nog verwoord word. Kennis, die waarde daarvan, die leerproses en die bydrae wat KI in al die fasette van die kurrikulum kan maak, moet dus heel anders benader word as voorheen.
5. Slot
In hierdie artikel is daar nie indringend gefokus op wat KI is, en die voordele en nadele daarvan nie, maar daar is ’n blik probeer gee oor hoe KI in klaskamers gebruik kan word. KI is deur middel van ’n literatuurstudie ondersoek om meer daaroor te wete te kom. Op ’n strategiese wyse vanuit ’n voorgestelde pedagogiese teoretiese lens, naamlik die TPEIK-model, is voorstelle gegee om onderwysers en dosente te motiveer om verrykende leerervarings vir leerders en studente daar te stel. Sodanige inhoude wat nie bloot feitelik is nie, maar ook die sosiale aard van die klaskamer aanspreek en tegnologie as hulpmiddel gebruik om leergeleenthede te verryk, kan onderrig en leer ingrypend verander.
Bibliografie
Afrikaans.com. 2023. KI bied talle geleenthede indien reg aangewend. https://afrikaans.com/2023/08/29/ki-bied-talle-geleenthede-indien-reg-aangewend (6 Mei 2024 geraadpleeg).
Brand, H. 2020. Kunsmatige intelligensie. LitNet. https://www.litnet.co.za/kunsmatige-intelligensie-2 (2 Mei 2024 geraadpleeg).
Cloete, D.J. 2023. Die impak van kunsmatige intelligensie op die onderwys. Maroela Media. https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-impak-van-kunsmatige-intelligensie-op-die-onderwys (18 Februarie 2025 geraadpleeg).
Codrington, G. 2024. Werkwinkel: Get ready for the 4th industrial revolution. https://www.graemecodrington.com (14 Mei 2024 geraadpleeg).
Future of Life Institute. 2023. Pause giant AI experiments: An open letter. https://futureoflife.org/open-letter/pause-giant-ai-experiments (24 Mei 2024 geraadpleeg).
Greeff, J. 2023. Voordele en uitdagings van Kunsmatige Intelligensie vir die universiteitswese. https://www.youtube.com/watch?v=APB0srwGTq8 (14 Mei 2024 geraadpleeg).
Hiltner, J. 2019. Self-learning intelligence for object recognition. Quality, Vision and Sensors, Julie, 6VS–9VS. https://www.proquest.com/openview/6ec9d773426158ca75ccf07c90e16964/1?pq-origsite=gscholar&cbl=35812 (18 Februarie 2025 geraadpleeg).
Kroeze, J.H, C.J. van Staden en S.S. Eybers. 2024. Die afrikanisering van voorgraadse kursusse in Mens-rekenaar-interaksie en Besigheidsontleding. LitNet Akademies, 21(3):231–69. https://www.litnet.co.za/die-afrikanisering-van-voorgraadse-kursusse-in-mens-rekenaar-interaksie-mri-en-besigheidsontleding-bo-n-kwantitatiewe-studie-oor-studente-se-ervaring (18 Februarie 2025 geraadpleeg).
Le Cordeur, M. 2023. Gebruik KI só in die klaskamer. Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/michael-le-cordeur-gebruik-ki-so-in-die-klaskamer-20230828 (17 Mei 2024 geraadpleeg).
Louw, W. 2010. Africanisation: A rich environment for active learning on a global platform. Progressio, 32(1):42–54. https://uir.unisa.ac.za/bitstream/handle/10500/4999/Africanisation.pdf?sequence=1&isAllowed=y (18 Februarie 2025 geraadpleeg).
Mishra, P. en M.J. Koehler. 2006. Technological pedagogical content knowledge: A framework for teacher knowledge. Teachers College Record, 108(6):1017–54. https://doi.org/10.1111/j.1467-9620.2006.00684.x (3Mei geraadpleeg).
Oberoi, E. 2018. Robotics vs Artificial Intelligence: Know the difference. Skyfilabs, 23 Desember. https://www.skyfilabs.com/blog/difference-between-robotics-and-artificial-intelligence (4 Mei 2024 geraadpleeg).
Oosthuizen, J. 2023a. KI skep talle uitdagings en vrae vir wetenskaplike publikasies. LitNet. https://www.litnet.co.za/ki-skep-talle-uitdagings-en-vrae-vir-wetenskaplike-publikasies (26 Mei 2024 geraadpleeg).
—. 2023b. Kunsmatige intelligensie: Kan ’n bot die Hertzogprys wen? LitNet. https://www.litnet.co.za/kunsmatige-intelligensie-kan-n-bot-die-hertzogprys-wen (26 Mei 2024 geraadpleeg).
OpenAI. ChatGPT 3.5. https://openai.com/chatgpt (2 Mei 2024 geraadpleeg).
Philbeck, T. en N. Davis. 2019. The Fourth Industrial Revolution: Shaping a new era. Journal of International Affairs, 72(1):17–22. https://www.jstor.org/stable/26588339 (14 Mei 2024 geraadpleeg).
Ponnet, V. 2019. Using insights of neuroscience to improve teaching and learning. https://www.youtube.com/watch?v=NmAuawoYnUk (6 Mei 2024 geraadpleeg).
Ranjan, M en H. Hopper. 2019. What if quantum computer combined with artificial intelligence? Science Insights, 29(2):48–51. doi: 10.15354/si.19pe026.
Taylor, R en M. Van der Merwe. 2022. Die oorbrugging van pedagogiese en tegnologiese pedagogiese kennisleemtes van Afrikaans Huistaalonderwysers. LitNet Akademies, 19(1):462–510. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_16_Taylor-VanderMerwe_462-510.pdf (26 Julie 2024 geraadpleeg).
Vakulov, A. 2023. Navigating the 2023 cybersecurity landscape. Communications of the ACM. https://cacm.acm.org/blogcacm/navigating-the-2023-cybersecurity-landscape (17 Mei 2024 geraadpleeg).
Van den Heever, J. 2020. Die Vierde Nywerheidsrevolusie verander die wêreld waarin ons werk. LitNet. https://www.litnet.co.za/die-vierde-nywerheidsrevolusie-verander-die-wereld-waarin-ons-werk (9 Mei 2024 geraadpleeg).
Van der Westhuizen, M. 2024. Ses redes waarom onderwysers beter is as robotte. Skoleondersteuningsentrum.
Van Niekerk, A. Kunsmatige intelligensie en ChatGPT – Die toekoms is hier. https://akademia.ac.za/kunsmatige-intelligensie-en-chatgpt-die-toekoms-is-hier (17 Mei 2024 geraadpleeg).
Van Staden, C.J. 2019. ’n Ondersoek na die tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudskennis (TPEIK) waartoe die Arend-toep toegang verleen. LitNet Akademies, 16(2):584–622. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/10/LitNet_Akademies_16-2_vanStaden_584-622.pdf (15 Augustus 2024 geraadpleeg).
—. 2023a. ChatGPT: Vriend en vyand in die Geografie-vakdidaktiek-klaskamer? Implikasies vir die praktyk. LitNet Akademies, 20(2):498–588. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/09/LitNet_Akademies_j20n2d5_vanStaden.pdf (26 Mei 2024 geraadpleeg).
—. 2023b. ’n Proaktiewe strategie om plagiaat met behulp van ChatGPT-3.5 te bekamp. LitNet Akademies, 20(3):327–366. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/12/LitNet_Akademies_j20n3b7_Van-Staden.pdf (26 Mei 2024 geraadpleeg).
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |