KI-miniseminaar: 77 + 33 = 100

  • 0
> Die bydraes vir LitNet se KI-miniseminaar, “KI: katastrofe of geleentheid?”, is hier beskikbaar.

A: Wat is die heel eerste ding wat by jou opkom as jy die woord “koning” hoor?

B: “Kroon”.

A: Verkeerd, dis “koolkop”.

Hierdie voorbeeld is deur Edward de Bono, vermaarde logikus en fisikus, gebruik om sy konsep van laterale denke te verduidelik.

Lateraal stam van die Latyn latus en dit beteken “sy” of “flank”, en dis die dinkrigting wat De Bono aanraai as jy ’n probleem wil oplos. 77 + 33 is nie gelyk aan 110 nie – dis te logies, te liniêr, en dís trouens die probleem. Dink onortodoks, sywaarts; neem elemente in ag wat gewoonlik geïgnoreer word in logiese denke.

Vir die skeppende skrywer is laterale denke onmisbaar, anders is jou storie lam gebore. Om enigsins die aandag van jou leser te behou – belangriker as ooit noudat ons afgesuig word in die maalstroom van sosiale media – laat jy nie toe dat jou storie volgens ’n reguit, voorspelbare lyn verloop nie.

Hier volg ’n kort, kort storie wat ek sommer versin het:

Die familie sit op die stoep en gaan aan oor rugby, die oorlog, oor die byvoeg van rissiepoeier by jou boereworsresep, of nie. Jy raak lomerig, hierdie goed is oorbekend, jy slenter immers slaafs rond op sosiale media. En skielik, net toe jy amper aan die slaap raak, klink daar ’n stemmetjie op uit die fluitjiesriet aan die westekant van die plaashuis, daar waar die son sak. So ’n yl sopraanstem, onseker van haarself, maar nie van die lirieke nie:

Whatever happened to our love? I wish I understood
It used to be so nice. It used to be so good.
So when you're near me, darling, can't you hear me SOS?

Almal op die stoep sit regop, almal ken mos vir ABBA, almal is verlig om net vir ’n oomblik te ontsnap aan die ondermaanse. Die leser bowenal – die leser word weggeraap uit die ryk van verveling.

Hierdie aspekte van die kreatiewe storie: laterale denke, versinning, woordvindingrykheid, veelsydige kundigheid, onortodoksie én die worsteling om byvoorbeeld die onopvallendste karaktertrek of die kleure van ’n oopgeskeurde walvis of die liefdesbetuigings binne ’n gorillagesin ráák te kan sê.

Hoe op dees aarde kan Antjie Krog haar outobiografie as ’n roman bestempel? Sy versin.

Franz Kafka sê voorts: Moenie buig (voor konvensie), moenie jou storie afwater, moenie dit logies maak nie. Die idee vir Die transformasie het by hom posgevat tydens die eerste ernstige krisis in sy verhouding met Felice Bauer, meestal gebaseer op briewewisseling. Terwyl hy afgemat en hopeloos in sy bed lê, besluit hy dat hy glad nie gaan opstaan alvorens hy ’n brief van Felice ontvang nie.

En so kom hy op een van die beroemdste openingsinne af: “Op ’n oggend toe Gregor Samsa in sy bed wakkerskrik van rustelose drome, kom hy agter dat hy tot ’n monsteragtige insek getransformeer is.1

Daardie openingsin, en die daaropvolgende storie van Gregor Samsa as ’n monstertor in die gesinshuis, was Kafka se laterale oplossing vir sy dilemma van onbeantwoorde liefde.

Kafka, F. 2024. Selected stories. Massachusetts: The Belknap Press of Harvard University Press. Bl 83, vrye vertaling. Klik hier vir ’n groter weergawe.

Moenie vir my sê KI kan dit namaak nie. Ek praat nie eers van ópmaak nie.

KI is, volgens Noam Chomsky – en bewaar asseblief hierdie skerp, lateraal denkende filosoof van die implikasies van sy assosiasie met Epstein – is pleinweg internetplagiaat.

Al steel die KI-leërskare ook hoeveel uittreksels uit Franz Kafka en Marcel Proust en Roberto Bolaño en Karel Schoeman en Antjie Krog en Breyten Breytenbach en weet ek wat, kan en wil ek net eenvoudig nie glo dat dit ’n lakse skrywer ooit by ’n sin soos dié gaan help uitkom nie (let op die woordkeuse, die sintaksis of samestelling van die lang sin, die ritme en die toonaard):

Ek was bewus van hul angstige stemme, ek het hulle verskrikte bewegings in die kerslig gesien, maar ek het nie meer na hulle woorde geluister nie, wagtend dat die woorde moet end kry en die kers geblus word, wagtend dat die nagliggie langs my bed moet uitbrand en selfs die reëlmatige asemhaling van die slapende meisie op die katel verstil, afgesonder in myself met net my gedagtes en my herinneringe.2

Laastens, iets oor “worsteling”. Dit wil sê, die stryd om ’n ding reg te sê. James Joyce het gesê dit het hom een slag twee weke gevat om ’n bepaalde sin te skryf.

Hier's die opdrag: Jou moeder sterf. Jy is aangesê om ’n huldeblyk te skryf. KI kan dit vir jou doen binne tien tot twintig minute. Mét al die kenmerkende eienskappe van ’n KI-gegenereerde teks.

Maar jy't nie geworstel nie. Jy't net mooi niks geleer en ontdek wat jy wel sou gedoen het as jy moes stry met die skepping van die teks nie. Jou vermoë om te onthou en om vanuit daardie herinnerde stof ’n teks te skryf, is anoreksies: Niks word ingeneem, niks word uitgegee nie. Jy's so te sê halfdooi.

Hier's die resultaat van worsteling deur een van my mees beminde, lateraal digtende musici: Laurie Anderson. Anderson moes so ’n huldeblyk oor haar gestorwe moeder skryf, en daaroor sing. Dit was bitter moeilik, want haar ma het regtig nie eintlik van haar gehou nie. Sy wou egter nie iets skryf of sing met net die onliefde wat so kaal en lelik tussen hulle gestaan het nie. Sy moes grawe, diepdink; sy moes lankonthou, sy moes worstel. Toe onthou sy iets, iets kleins, maar nogtans.

Anderson vertel die storie tussen al die ander stories in haar opera Heart of the dog (honde was ook uitgenooi na die vertoning in LA en Sydney): Dit was winter, die meer bevrore. Daar rol die bleddie prêm met haar boeties binne-in die yswater. Hoe gemaak? Sy duik wragtig die bevrore meer in en trek haar boeties uit die sinkende prêm. En toe – dís wat sy dieponthou – wat sê haar ma toe sy die ding hoor? Sy sê: “I never knew you could swim, Laurie.” En so het sy geweet dat daar ’n titsel van liefde in haar ma se hart bestaan. En haar huldeblyk staan klaar.


Eindnotas:

1 Kafka, F. 2024. Selected stories. Massachusetts: The Belknap Press of Harvard University Press. Bl 83, vrye vertaling.

2 Schoeman, K. 1993. Hierdie lewe. Kaapstad: Human & Rousseau. Bl 210.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top