Die internet staan op die rand van ’n kennisparadoks. Nog nooit was soveel inligting so maklik beskikbaar nie, maar nog nooit was dit so moeilik om vas te stel wie dit geskep het, waarop dit berus en of dit vertrou kan word nie. Namate kunsmatige intelligensie (KI) al hoe meer van die internet se inhoud skep én vertolk, ontstaan ’n ongemaklike vraag: Gaan KI uiteindelik die menslike kennisbasis verswak of selfs vernietig?

Wikimania 2026, The Wikimedia Foundation (CC4.0)
Hierdie moontlikheid was een van die onderliggende temas van Wikimania 2026, wat van 21 tot 25 Julie in Parys, Frankryk plaasgevind het. Wikipedia, Wikidata, Wikimedia Commons en die talle verwante Wikimedia-projekte vorm steeds ’n belangrike deel van die wêreld se vrylik toeganklike, mensgegenereerde kenniskorpus. Die waarde daarvan berus nie bloot op die hoeveelheid inligting wat beskikbaar is nie, maar op menslike deelname, kritiese bronbeoordeling, openbare bespreking, deursigtigheid en kollektiewe verantwoordelikheid.
Juis hierdie eienskappe word belangriker namate generatiewe KI die manier verander waarop mense toegang tot kennis verkry.
Besoeke aan die Engelse Wikipedia en Wikipedia-weergawes in ander tale, waaronder Afrikaans, is onder druk namate meer gebruikers hul vrae direk aan groot taalmodelle soos ChatGPT en Claude stel. In plaas daarvan om self op Wikipedia na inligting te soek en die onderliggende bronne te raadpleeg, ontvang gebruikers ’n klaar saamgestelde antwoord deur ’n KI-koppelvlak.
Dit beteken egter nie dat Wikipedia minder belangrik word nie. Inteendeel, hoe meer mense op KI-antwoorde staat maak, hoe belangriker word die betroubare, goed verwysde menslike kennis waarop daardie antwoorde behoort te berus. Wikipedia bly een van die grootste vrylik toeganklike bronne van eietydse, mensgegenereerde kennis en geniet steeds die ondersteuning van duisende vrywilligers wêreldwyd. Die groot aantal jongmense wat Wikimania bygewoon het, getuig daarvan dat ’n nuwe geslag bereid is om hierdie werk voort te sit.

Jimmy Wales, medestigter van Wikipedia, en Rianne van Vuuren, skrywer van die berig (Foto, Sobaka via WikiMedia, CC1.0)
Jimmy Wales, medestigter van Wikipedia, het die uitdaging in ’n onderhoud met Le Monde nugter saamgevat: “Ons sal aanpas en KI tot ons voordeel gebruik. Ons sal ’n weg vind.”
Wanneer meer inligting minder kennis beteken
KI bring sowel uitdagings as geleenthede vir die toekoms van menslike kennis mee. Tydens Wikimania was dit een van die dominante onderwerpe, maar die gesprek daaroor was nóg ongekwalifiseerd entoesiasties nóg bloot defensief.
Een van die grootste gevare is dat KI die hoeveelheid beskikbare teks dramaties kan laat toeneem sonder dat die gehalte daarvan noodwendig verbeter. Groot hoeveelhede oënskynlik geloofwaardige, maar foutiewe, oppervlakkige of swak nagevorste inhoud kan gevolglik op Wikipedia en elders op die internet beland.
KI-stelsels kan feite versin, verwysings verkeerd weergee en selfs bronne aanhaal wat glad nie bestaan nie. Hierdie foute is dikwels moeiliker om raak te sien as gewone vandalisme, omdat die inhoud taalkundig afgerond, selfversekerd en geloofwaardig voorkom. In kleiner Wikipedia-taalgemeenskappe, waar daar minder aktiewe redakteurs en administrateurs is, kan sulke inhoud lank onopgemerk bly en mettertyd die betroubaarheid van die hele projek ondermyn.
Daarby verhoog KI die gevaar van waninligting, propaganda en georganiseerde beïnvloeding. Politieke groeperings, regerings, ondernemings of aktiviste kan outomaties groot hoeveelhede inhoud, wysigingsversoeke en besprekingsbydraes genereer om artikels subtiel in ’n bepaalde rigting te stuur.
Die gevaar lê nie slegs in openlike leuens nie. Dit sluit ook in selektiewe brongebruik, die verswyging van teenargumente en die kunsmatige skep van die indruk dat ’n bepaalde standpunt breë steun binne die gemeenskap geniet. Wikipedia se konsensusmodel kan onder druk kom wanneer menslike redakteurs nie meer seker is of hulle met ander mense of met gekoördineerde KI-stelsels kommunikeer nie.
Wie se kennis word sigbaar?
Vooroordeel hou ’n verdere uitdaging in. KI-modelle word hoofsaaklik opgelei op bestaande digitale materiaal wat deur groter tale, ryker lande en dominante kulture oorheers word. Wanneer hierdie modelle gebruik word om artikels op te stel of te vertaal, kan hulle bestaande kennisgapings en Westerse, Engelstalige of kommersiële perspektiewe reproduseer.
Plaaslike kennis, mondelinge geskiedenis, inheemse begrippe en bronne uit die Globale Suide kan gevolglik verder gemarginaliseer word. Op die Afrikaanse Wikipedia kan KI byvoorbeeld bestaande Engelse inhoud bloot weergee sonder om die Suid-Afrikaanse konteks, plaaslike terminologie of Afrikaanse bronne voldoende in ag te neem.
Dit skep ’n wesenlike risiko: KI kan die indruk wek dat dit wêreldkennis ontsluit, terwyl dit in werklikheid die mees sigbare en reeds dominante dele van die bestaande kennislandskap herverpak.
Privaatheid en menslike veiligheid is eweneens ter sprake. KI kan persoonlike besonderhede oor minder bekende mense uit verspreide databronne saamvoeg. Dit sluit inligting in wat tegnies openbaar is, maar wat nog nooit voorheen op een plek byeengebring is nie. Hierdie vermoë kan tot teistering, identiteitsmisbruik of die onnodige blootstelling van gewone mense lei.
Wikipedia se streng vereistes vir biografieë van lewende persone word daarom nóg belangriker in ’n tyd waarin KI vinnig omvattende persoonlike profiele kan saamstel.
KI as deel van die oplossing
Ironies genoeg, berus baie van die voorgestelde oplossings vir hierdie probleme ook op KI. Soos een Wikipedia-gebruiker dit tydens Wikimania gestel het: “Beveg vuur met vuur.” Dit kan tot ’n voortdurende wapenwedloop tussen die skadelike en verantwoordelike aanwending van digitale vermoëns lei.
KI kan help om vandalisme en verdagte wysigings op te spoor, swak of foutiewe verwysings te identifiseer, duplisering uit te wys en taalgebruik te verbeter. Dit kan ook moeilik toeganklike bronne opsom, moontlike kennisgapings identifiseer en artikels tussen tale help vertaal.
Vir kleiner Wikipedia-taalgemeenskappe kan hierdie hulpmiddels besonder waardevol wees. Dit kan hulle help om agterstande in te haal, terminologie te ontwikkel en inhoud oor onderverteenwoordigde gemeenskappe vinniger beskikbaar te stel. KI kan egter slegs verantwoordelik aangewend word, indien die uitsette daarvan deur mense nagegaan word en aan dieselfde vereistes vir verifieerbaarheid, neutraliteit en betroubare brongebruik onderwerp word.
Die kernbeginsel behoort daarom eenvoudig te wees: KI moet menslike oordeel versterk, nie vervang nie.
Die mens as laaste verdedigingslinie
Namate die gesprek oor KI voortgaan, word die belangrikheid van die mens in die kennisstelsel al duideliker. Wikipedia is onvolmaak, juis omdat dit ’n menslike projek is. Artikels bevat leemtes, meningsverskille kom voor en konsensus verg soms langdurige debat. Tog is dit juis hierdie menslike prosesse wat die projek deursigtig en aanpasbaar maak.
Die menslike aard van die Wikimedia-projekte kan daarom ’n lewensaar wees om ’n toekomstige “dooie internet” te voorkom – ’n internet waarin KI-gegenereerde inhoud oorheers, masjiene toenemend ander masjiene as bronne gebruik en oorspronklike menslike kennis geleidelik onder ’n vloed van sintetiese inhoud verdwyn.
Die gevaar is nie bloot dat KI verkeerde antwoorde sal verskaf nie. Die groter gevaar is dat dit mettertyd al hoe moeiliker kan word om die menslike oorsprong, konteks en bronne van kennis terug te vind. Sonder ’n lewende menslike kenniskorpus kan KI uiteindelik begin teer op afgeleide weergawes van sy eie uitsette.
Gaan KI dus die menslike kennisbasis vernietig? Nie noodwendig nie. Die antwoord hang af van hoe vindingryk en vasberade mense die integriteit van openbare kennis beskerm. Tegnologie alleen kan nie bepaal wat waar, billik, relevant of die moeite werd is om te bewaar nie. Dit bly ’n menslike verantwoordelikheid.
Die duisende vrywilligers wat Wikipedia en die ander Wikimedia-projekte uitbou en onderhou, versamel daarom nie bloot feite nie. Hulle beskerm die menslike geheue waarop toekomstige geslagte – en toekomstige KI-stelsels – sal moet staat maak. In die KI-era is hulle werk nie minder belangrik nie, maar dringender as ooit.

