Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Van Gutenberg tot Zuckerberg – oor die beloftes en bedreigings van die nuwe tegniese era in die Suid-Afrikaanse universiteitswese

  • 0

Die grafika-elemente van die prent is afkomstig van Canva, onderhewig aan hierdie gratis lisensie-voorwaardes: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/. Die foto in die middel is afkomstig van Pixabay en hier is die erkenning: Christopher White op Pixabay, gepubliseer op 18 Februarie 2022.

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
.........
Dit is die verantwoordelikheid van die eietydse universiteit om studente eerstens in te lyf in die oorspronklike vorm van hoë geletterdheid sodat hulle dit intelligent kan vergelyk met die vervalsings daarvan, naamlik groottaalmodelle, en dié tegnologie kan toe-eien en aanpas om hul vermoë om te dink, te verbeel, te vernuwe, te kan uitbrei en optimaliseer ten einde betrokke burgers te word van ’n land wat nog worstel om waarlik postkoloniaal, dit wil sê waarlik soewerein, te word.
........
  1. Van Gutenberg tot vandag

In die filosofie en geskiedenis van die tegniek word dit wyd erken dat die mensdom ’n nuwe era betree het met die omvattende toe-eiening van die gedrukte woord as die voorkeurmedium van die oordrag van kennis en idees. Dié era word verbind met die naam van Johannes Gutenberg, wie se drukpers teen 1450 in bedryf was. Monumentale gebeure soos die demokratisering van die wetenskap en kennis; die Protestantse Revolusie; die geleidelike verspreiding van massageletterdheid; die opkoms van die parlementêre demokrasie; die openbare sfeer; nasionalisme en die nasiestaat; asook rofweg 500 jaar van Westerse kolonialisme, imperialisme en wêreldoorheersing, hang almal op een of ander wyse saam met die Gutenbergse era van die gedrukte woord. Vir die doeleindes van hierdie essay word ’n ander kenmerk van dié era beklemtoon, naamlik dat die universiteit as instelling van hoër onderwys mettertyd sou berus op die aanname dat sowel dosente as studente ’n hoë vlak van geletterdheid, waarin die lees en skryf van tekste van wetenskap en kennis wesenlik is, moes bemeester.

Soos vele van die gebeure en kenmerke van die Gutenberg-era slegs met verdrag van tyd plaasgevind of verskyn het, is dit ook die geval met die oorgangsera wat ons vandag beleef. Vanaf die 19de eeu tot tans is die gedrukte woord byvoorbeeld geleidelik as die voorkeurmedium van die oordrag van kennis en idees gerelativeer. Dit gebeur deur die uitvinding van tegnologieë soos die telegraaf, die fonogram, die rolprent, radio, televisie, die rekenaar, die kasset, die laserskyf en die internet. Kortom, die oordrag van kennis en idees geskied tans toenemend (indien nie hoofsaaklik nie) deur middel van oudiovisuele en digitale tegnologieë. Gevolglik, en vir die doeleindes van hierdie essay, kan die aanname dat universiteitsdosente en -studente ’n hoë vlak van geletterdheid vir die lees en skryf van tekste van wetenskap en kennis moet bemeester, nie langer as ’n gegewe beskou word nie. Die ontploffing van sogenaamde kunsmatige intelligensie op die openbare toneel in die vorm van OpenAI se sagteware, ChatGPT, aan die einde van 2023 sou sentraal blyk te wees vir die relativering van ’n hoë vlak van geletterdheid in die eietydse universiteit. Later in hierdie essay word teruggekeer na die onderwerp van sogenaamde kunsmatige intelligensie en die implikasies daarvan vir die eietydse universiteit – en spesifiek vir ’n toenemend tipiese Suid-Afrikaanse openbare universiteit, waarvan die Universiteit van die Vrystaat ’n voorbeeld is. Vir eers word eers ’n stap terug gegee ten einde die verhouding tussen die mens en die tegniek te oorweeg. Dit is wesenlik om dié verhouding reg te verstaan ten einde ’n nugter beoordeling van die beloftes en bedreigings van die nuwe tegniese era te maak.

  1. Die mens en die tegniek: Bernard Stiegler

Die verhouding tussen die mens en die tegniek word raakgevat deur die Franse filosoof van die tegniek, plek en geheue, Bernard Stiegler (1952–2020), wanneer hy in 1994 in die inleiding van band een van La technique et le temps (Technics and Time 1) skryf: “Die tegniek is die lewe geleef deur ander middele as die lewe self.” Wat Stiegler bedoel, is dat die tegniek alles insluit wat ’n deel van menswees veruiterlik en optimaliseer. Die klipmes veruiterlik en optimaliseer byvoorbeeld die vermoë van die hand om te sny, nes ’n skoen die beweeglikheid van die voet veruiterlik en optimaliseer. In navolging van Stiegler kan ons sê dat die natuurlike – die menslike – deur die kunsmatige, oftewel die tegniek, veruiterlik en geoptimaliseer word. Kortom, om die wêreld vir die mens bewoonbaar te maak is onvoorstelbaar sonder die tegniek, dit wil sê, sonder die opbouende wisselwerking tussen die mens en die tegniek in ’n voortgaande proses van die uitbreiding van albei.

Stiegler neem ’n verdere baie belangrike stap in sy besinning oor die tegniek wanneer hy aanvoer dat alle vorme van die tegniek vorme van geheue en herinnering is. Dit kan verduidelik word met verwysing na die voorbeeld van die klipmes. In een opsig ontstaan die eerste klipmes in die menslike verbeelding, in die menslike bewussyn. Toe die eerste klipmes  gemaak is, is dié inhoud van die menslike bewussyn in die fisiese vorm van die klipmes veruiterlik. Elke keer dat ’n ander klipmes dan gemaak of gebruik is, beteken dit vir Stiegler dat die heel eerste daad van die verbeelding en skepping van ’n klipmes in effek in herinnering geroep word. In navolging van Stiegler kan gesê word dat die geskiedenis van die mensdom geskryf kan word deur die bestudering van die geskiedenis van die tegniek, aangesien die tegniek die rekord van die veruiterliking en optimalisering van die menslike is.

Stiegler ontwikkel sy begrippe van die mens en die tegniek ten einde ons aandag uiteindelik te vestig op dit wat die huidige tegniese era onderskei – asook die beloftes en bedreigings wat dit vir ons inhou. Volgens Stiegler word die huidige tegniese era onderskei deur die feit dat in bogenoemde tegnologieë vanaf die telegraaf en die fonogram tot die radio, televisie en die internet niks minder nie as die menslike bewussyn sélf veruiterlik en geoptimaliseer word. Stiegler noem hierdie tegnologieë geheuetegnologieë, omdat hulle almal inhoude van die menslike bewussyn, verbeelding en intelligensie veruiterlik, opneem en versprei. Aangesien hierdie tegnologieë almal ontstaan het as deel van die voortgaande Nywerheidsomwenteling, is Stiegler van oordeel dat:

– die Nywerheidsomwenteling in wese die veruiterliking, optimalisering en verspreiding van die menslike bewussyn en sy inhoude op ’n ongekende skaal is

– ons kan en moet praat van die industrialisering van die menslike bewussyn

– hierdie immer versnellende, voortgaande revolusie vandag aan die mensdom ’n ongekende uitdaging bied, naamlik dat ons te staan gekom het voor die reële moontlikheid dat die medevorming van die mens en die tegniek moontlik tot ’n einde mag kom, met die gevolg dat die tegniek die mens toenemend mag bepaal.

  1. Kunsmatige intelligensie of ... ?

In navolging van Stiegler word hier aangevoer dat die pas vermelde moontlikheid tans bowenal verteenwoordig word deur uiteenlopende tegnologieë waarna gesamentlik verwys word as kunsmatige intelligensie. Daar is egter twee redes waarom hier bo na dié tegnologieë verwys is as “sogenaamde” kunsmatige intelligensie. Die eerste is dat dit vanuit die gesigspunt van die filosofie en die wetenskap gebiedend is dat dinge reg benoem word ten einde ernstige foute te voorkom, insluitend in hoe die aard en rol van die universiteit bedink word.

Die tweede rede waarom na dié tegnologieë as “sogenaamde” kunsmatige intelligensie verwys word, is dat die algemene eietydse gebruik van die term getuig van algehele onkunde oor die feit dat die énigste soort intelligensie wat kunsmatig is, ménslike intelligensie is – en dit omdat, soos hier bo aangedui, die mens en dié se intelligensie veruiterlik, geoptimaliseer en aangevul word deur die tegniek.

Die feit dat die term kunsmatige intelligensie so wyd inslag gevind het, is nie slegs aanduidend daarvan dat in gebreke gebly word om menslike intelligensie en die kunsmatige aard daarvan te verstaan nie, maar ook van die moontlikheid dat die tegniek die mens toenemend sal bepaal – veral indien universiteite in gebreke bly om dit wat dié tegnologieë kan en nie kan doen nie, deeglik te deurdink, en dié tegnologieë hanteer as ’n gegewe wat bloot voor die voet toegeëien moet word in die naam van vernuwing, transdissiplinariteit en die toekoms, asof universiteite nie ook, en veral, die taak het om studente allereers op te voed oor wat dit beteken om mens te wees nie.

’n Ander leidende eietydse filosoof van die tegniek, Jean-Pierre Dupuy, publiseer reeds in 1994 ’n klassieke studie oor die opkoms van die kognitiewe wetenskappe waaruit die tegnologieë van sogenaamde kunsmatige intelligensie ontwikkel (in Engels vertaal as On the origins of cognitive science: the mechanisation of the mind). Dupuy wys daarop dat in die Macy-konferensies, ’n reeks byeenkomste van kognitiewe en rekenaarwetenskaplikes ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945), twee benaderings tot dié soort tegnologieë na vore sou kom. Die een benadering sou die ontwikkeling van bewuste masjiene wees; die ander sou masjiene wees wat menslike intelligensie oortuigend naboots. Aangesien die eerste benadering waarskynlik nie sommer verwesenlik sal word nie, verduidelik Dupuy dat vanaf die 1980’s die leeueaandeel van kapitaal en navorsing in die veld aan die tweede benadering gewy is. In aansluiting by Dupuy word hier voorgestel dat die gepaste term vir die tegnologieë waarna tans as kunsmatige intelligensie verwys word, eerder intelligensiesimulasie is.

Let daarop dat deur ten gunste van die term intelligensiesimulasie te betoog, die enorme potensiaal van dié tegnologieë vir die voortgaande uitbreiding van die menslike geensins misken word nie. In sy 2025-boek oor intelligensiesimulasie bied die Franse filosoof Luc Ferry byvoorbeeld oortuigende getuienis aan dat enorme mediese deurbrake tans danksy die gebruik van intelligensiesimulasie op hande is, insluitend die genesing van verskeie soorte kanker. Op ’n ligter noot is daar geen rede waarom sagteware soos ChatGPT nie gebruik kan word om allerlei tydrowende verslae wat universiteitsbesture en akademici deurlopend moet voortbring, te lewer nie.

Die bedreiginge van intelligensiesimulasie, waarom dit in hierdie essay gaan, sentreer eerder rondom die soort intelligensiesimulasietegnologie wat stellig die grootste prominensie in die openbare bewussyn geniet, naamlik die groottaalmodelle waarop sagteware soos ChatGPT berus. Voor dié bedreigings in fyner besonderhede behandel word, moet nogmaals beklemtoon word dat produkte soos ChatGPT inderdaad merkwaardig nuttig vir navorsing kan wees, byvoorbeeld in die verwerking van massiewe hoeveelhede data of die kontrolering van feite.

Wat is hierdie bedreigings dus?

Pas is hier bo verwys na Jean-Pierre Dupuy. Ten einde die bedreigings van groottaalmodelle vir die universiteit te verstaan, moet in gedagte gehou word dat Dupuy ’n vriend en medewerker was van René Girard, die baanbreker van mimetiese teorie en ’n reus van die 20ste-eeuse filosofie en wetenskap. Gebaseer op ’n lewenslange studie van menslike kulturele evolusie deur geweld en religie in verskeie vakgebiede, voer Girard aan dat mimese aan die kern van menswees is. Mimese kan ’n krag ten goede wees, byvoorbeeld wanneer ’n goeie ouer of dosent nageboots word. Dog dit kan ook ’n krag ten bose wees, byvoorbeeld wanneer magtige lande wat mekaar naboots, daarby eindig om met mekaar te wedywer en hul wedywering tot die uiterste te eskaleer, soos wat dit eens die geval met die VSA en die Sowjetunie was, en tans toenemend die geval met die VSA en China. Vir die doeleindes van hierdie essay is Girard se werk uiters belangrik, omdat dit ons bedag maak op die moontlike gevare van suksesvolle tegniese simulasie, byvoorbeeld groottaalmodelle van menslike lees en skryf in die universiteitsomgewing.

In navolging van Girard se argument dat mimese ’n krag ten goede kan wees, kan aangevoer word dat in die era van die Gutenberg-universiteit toegang tot en sukses aan dié universiteit vir ’n student berus op die geslaagde nabootsing van sy of haar onderwysers, aangesien die moderne skool self die bemeestering van lees en skryf as sy grondslag het – ten minste soos dit ná Gutenberg opkom in dieselfde Europese lande wat Afrika sou koloniseer, en waar die koloniaal gevestigde skool ’n baie ander oogmerk had, naamlik die verstandelike onderwerping van die gekoloniseerdes, soos denkers soos Ngũgĩ wa Thiong’o en Paolo Freire briljant gedemonstreer het.

  1. Suid-Afrika se durende koloniale aard en die versoeking om hoë geletterdheid na te maak

Ek het al dikwels aangevoer dat in weerwil van Suid-Afrika se politieke bevryding van Britse imperialisme, en later van apartheid, die land in vele opsigte steeds koloniaal bly. Vir die doeleindes van hierdie essay word slegs na twee kenmerke van Suid-Afrika se durende koloniale aard verwys: eerstens, die hardnekkige neiging om die uitheemse as die model vir voortreflikheid te beskou pleks daarvan om tussen die uitheemse en die inheemse te bemiddel; en tweedens die hardnekkige bevoordeling van Engels ten koste van die meeste van die inheemse tale in die land se skoolstelsel en universiteite. As gevolg hiervan neig die  Suid-Afrikaanse universiteite ná 1994 veral in die humanoria in den brede en die bestuur van die openbare universiteite om wat ook al tans in die Anglo-Amerikaanse kulturele sfeer in die mode is, te omarm – en dit in Engels.

Een van die gevolge van die hardnekkige bevoordeling van Engels ten koste van die meeste van die inheemse tale in die skoolstelsel, asook van die stelselmatige agteruitgang van die openbare skoolstelsel die afgelope meer as 30 jaar, is dat die meerderheid van Suid-Afrikaanse skoliere in die skoolstelsel blootstelling ontneem word van modelle van geletterdheid wat hulle suksesvol kan naboots om in staat gestel te word om te slaag in universiteite wat gesentreer is rondom die lees en skryf van tekste van wetenskap en kennis.

In die praktyk het dít ten minste twee betekenisvolle gevolge. Die eerste is die handhawing van wat Paolo Freire die koloniale bankmodel van onderwys noem, waar diegene wat onderwys gee, as die bewaarplek van kennis gesien word, en diegene wat onderwys ondergaan, as sou hulle ’n verstand so leeg soos ’n bankkluisie hê waar iets waardevols geplaas word. In die praktyk kom onderwys in dié model neer op papegaaiwerk, wat inderdaad glad nie is om te leer nie, en waar die vreugde van om werklik te leer, te ontdek en te verbeel hierdie skoliere ontsê word.

Die tweede gevolg is die etiese eis om toegang tot die hoëronderwysstelsel, wat in die verlede die eksklusiewe voorreg van die koloniaal bevoordeeldes was, en waar toegang ten alle koste nagejaag word - met die gevolg dat wanneer baie van hierdie jongmense by die universiteit opdaag, hulle nie ingelyf is in die kultuur van hoë geletterdheid wat aan die kern van die universiteit is nie. Kortom, weens krimineel hardnekkige koloniale onvoldoende geletterdheid is die soort toegang wat dié jongmense tot die universiteit kry, soortgelyk aan wat ek ervaar het toe ek in die ouderdom van 24 deur my nuwe werkgewer, die Franse Instituut van Suid-Afrika, vir ’n maand lange besoek na Parys gestuur is. Nes die onvoldoende akademies geletterde student wat uiteindelik die droom vervul om die universiteit te betree, is ek toegelaat om ’n droomland van my jeug te besoek, maar is toegang daartoe ontsê op álle vlakke buiten fisieke teenwoordigheid, aangesien ek nie Frans kon praat of lees nie. Daardie hele maand lank het ek gevoel soos ’n kind wat deur die venster van ’n winkel vol wondere staar, maar nooit in staat is om die winkel binne te gaan nie. Ná my terugkeer uit Frankryk, terwyl ek die enigste Suid-Afrikaner onder my Franse kollegas was, van wie die meeste skaars Engels kon praat, het die ervaring van om tegelyk ingesluit én uitgesluit te wees vir die volgende twee jaar voortgeduur tot ek uiteindelik Frans kon begin verstaan.

Indien dit korrek is om dié persoonlike ervaring te vergelyk met die ervaring van talle studente wat by Suid-Afrikaanse universiteite opdaag – indien nie die meeste nie: Is dit ’n wonder dat die toe-eiening van tegnologieë van die namaak van hoë geletterdheid so ’n versoeking vir die student word? Hierby moet gevoeg word dat hierdie gelyktydige in- en uitsluiting geensins beperk is tot studente wat in hul tweede of selfs derde taal skoolgegaan het nie, want die feit van die saak is dat die opkoms van oudiovisuele en digitale tegnologieë vir die oordrag van kennis, inligting en idees oor die laaste 25 jaar die kultuur van die gedrukte woord en hoë geletterdheid vir almal wêreldwyd gerelativeer het – des te meer vir digitale boorlinge, oftewel mense wat in die afgelope 25 jaar gebore en geskool is of word. Daar is ’n groeiende korpus getuienis dat selfs in die wêreld se top universiteite die versoeking van die toe-eiening van intelligensiesimulasie in die vorm van groottaalmodelle om die Gutenberg-universiteit na te maak, onweerstaanbaar geword het, wat sodoende die Gutenberg-universiteit toenemend in ’n simulasie van sigself verander. Indien ’n universiteit (soos die Universiteit van die Vrystaat) waar meer as 80% van die studente eerstegeslag is, in hul tweede of derde taal skoolgegaan het, en almal digitale boorlinge is, sagteware gebaseer op groottaalmodelle voorhou as die toekoms in die naam van vernuwing, sal dit ’n abdikering van die opvoedingsverantwoordelikheid van so ’n universiteit teenoor sy studente wees. Waarna dit ook sal lei, is die legitimering van die simulasie van hoë geletterdheid en die aflewering van verstandelik gekoloniseerde graduandi wat geen rede sal sien om nie met hierdie simulasiepraktyke in hul loopbane vol te hou nie. Volgens mediaberigte gebeur dit reeds op senior vlakke in die Suid-Afrikaanse staatsdiens.

Dit is vanselfsprekend – of ís dit nog? – dat dít nie is wat ’n universiteit wat die naam werd is, behoort te doen nie. Hoe moet ’n universiteit wat sigself nog ernstig opneem, dit wil sê, begrond op die lees en skryf van tekste van wetenskap en kennis, dan tegnologieë van intelligensiesimulasie in die algemeen, en sagteware gebaseer op groottaalmodelle in die besonder, benader?

  1. Walter Ong en ’n deurdagte universiteitsbenadering tot intelligensiesimulasie

Om mee te begin, word ’n basiese norm voorgestel, naamlik dat ’n Suid-Afrikaanse universiteit met die soort studenteprofiel soos pas hier bo beskryf is, op die heel minste nie moet bydra tot die verdere verskansing van die durende koloniale aard van die land nie. Oorgeesdriftige aansprake oor die toe-eiening van intelligensiesimulasie in die naam van vernuwing sonder om die konteks van die universiteit versigtig te oorweeg, is nie die weg om in te slaan nie, aangesien dit neerkom op ’n herhaling van die klassieke koloniale gebaar om dit wat van elders af kom af te dwing op wat hier is – oftewel ’n daad van selfkolonisering. So ’n daad van enorme selfkolonisering is reeds ná 1994 gepleeg deur bykans alle openbare Suid-Afrikaanse universiteite wat hulself vrywillig onderwerp het aan grootliks Anglo-Amerikaanse universiteitsnorme in die vorm van die berugte universiteitsranglyste waar navorsingspublikasies in ander tale as Engels grootliks nie in ag geneem word nie – asof navorsing en onderrig in Mandaryns, Russies, Farsi, Hindi, Frans, Sotho, Zoeloe of Afrikaans eenvoudig nie as kennis en wetenskap tel nie.

Tweedens, soos reeds hier bo gesuggereer is, kan ‘n mens die sin daarvan insien om tegnologieë van intelligensiesimulasie oordeelkundig aan te wend, veral wat die administrasie van die instelling betref.

Derdens word, met betrekking tot die soort student wat hier bo beskryf is, verwys na die uitstaande werk van ’n ander belangrike eietydse filosoof van die tegniek en van oordrag, Walter Ong, met sy klassieke boek Orality and literacy (1982). Ong se werk is relevant vir ’n land soos Suid-Afrika waar die mondelinge, geskrewe en gedrukte woord elk ’n belangrike rol gespeel het en steeds speel – ondanks koloniale pogings om die gedrukte woord as ’n instrument van onderwerping eerder as van opheffing in onderwys te gebruik. Ong beklemtoon die waarde wat die mondelinge, die geskrewe en die gedrukte woord elk uit eie reg het, sodat daar geen rede is om die gedrukte woord as die enigste medium van wetenskap en denke te fetisjiseer, soos dit in die Eurosentriese koloniale era gedoen is nie. Ong toon ook aan dat van hierdie drie die gesproke woord werklik in die begin was en dat dit wesenlik vir oordrag sal bly, byvoorbeeld van mense se moedertale, lewende kulturele herinneringe en – moet beklemtoon word – onderrig in persoon in die klaskamer of lesingsaal.

Vir die doeleindes van hierdie essay, waarvan die vlag aan die mas van die Gutenberg-universiteit gehys is, moet Ong se vergelyking tussen die gesproke en die gedrukte woord ook kortliks vermeld word. Terwyl twee of meer mense in ’n mondelinge gesprek met mekaar ’n onmiddellike konteks deel, is dit nie die geval met die skrywer en die leser nie. Vir geslaagde kommunikasie en oordrag tussen skrywer en leser om te geskied is dit wesenlik dat hulle hul in mekaar se kontekste inverbeel. ’n Student wat byvoorbeeld Plato se geskrewe weergawe van Sokrates se mondelinge hofverdediging in klassieke Athene 400 jaar voor die gemeenskaplike era wil verstaan, kan dit nie doen sonder om iets van die konteks van daardie samelewing te weet nie, nóg sonder om intens met die teks te worstel deur dit te lees en te herlees. Alle geslaagde dade van dieplees is dade van geslaagde vertaling van die leser van die skrywer se boodskap na die leser se konteks. Dié soort lees is onmoontlik sonder geduld, empatie en verbeelding, oftewel juis daardie deugde wat toenemend in die eietydse wêreld onder beleg is en bra ironies nagemaak word deur die meer geslaagde soorte sagteware gebaseer op groottaalmodelle – selfs tot op die punt om verwarde, eensame tieners sagkens tot selfdood te begelei.

Terwyl die mondelinge medium die voordeel van ’n gedeelde konteks tussen sprekers bied, leen die onmiddellikheid daarvan dit ook tot die haastige en selfs heftige argument. Die gedrukte woord, daarenteen, beskik nie oor dié onmiddellikheid nie, en die leser wat met die skrywer in debat wil tree, word gedwing om sy tyd te neem. In aansluiting by Ong se werk is dit geen toeval nie dat die kragtige terugkeer van die mondelinge deur die medium van oudiovisuele tegnologie, en ons manipulasie deur reuse tegnologiemaatskappye wie se kosbaarste kommoditeit ons aandag is, beskaafde openbare debat oor die afgelope 15 jaar feitlik vernietig het. Daar rus ’n sware verantwoordelikheid op universiteite om dit teen te werk deur studente in te lyf in sowel hoë as digitale geletterdheid. ’n Universiteit wat dié verantwoordelikheid abdikeer terwyl dit terselfdertyd daarop aanspraak maak om graduandi te lewer wat kritiese burgers is, is ten beste onkundig, ten slegste oneerlik.

Vierdens en laastens: Soos wat hier bo te kenne gegee is, is die oudiovisuele, die digitale, en sagteware wat op groottaalmodelle gebaseer is, toenemend die verstekmediums van oordrag vir studente wat digitale boorlinge is. Terwyl dit hier bo hopelik duidelik gemaak is dat elke medium sy eie sterk en swak punte het, het die universiteit ’n sleutelverantwoordelikheid teenoor sy studente om hulle op te voed oor die risiko’s van groottaalmodelle. Hierdie modelle is immers so aanloklik juis danksy hul toenemend oortuigende simulasie van die Gutenberg-kultuur van hoë geletterdheid – tot op die punt dat die private, meesal winsgedrewe maatskappye wat hierdie tegnologieë ontwikkel, self ’n verskanste belang daarby het om studente te oortuig dat die vervalsing goed genoeg is dat hulle hul nie met die oorspronklike hoef te bemoei nie. Dit is die verantwoordelikheid van die eietydse universiteit om studente eerstens in te lyf in die oorspronklike vorm van hoë geletterdheid sodat hulle dit intelligent kan vergelyk met die vervalsings daarvan, naamlik groottaalmodelle, en dié tegnologie kan toe-eien en aanpas om hul vermoë om te dink, te verbeel, te vernuwe, te kan uitbrei en optimaliseer ten einde betrokke burgers te word van ’n land wat nog worstel om waarlik postkoloniaal, dit wil sê waarlik soewerein, te word.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n Filosofiese oorweging van intelligensiesimulasie (IS) – Luc Ferry se IA, Grand remplacement ou complémentarité?

Universiteitseminaar: Gedagtes rondom die Universiteit van die Vrystaat (UV) se gewysigde KI-beleid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top