
Grafika-erkenning: Gordon Johnson op Pixabay (gepubliseer op 5 Mei 2019) onder die volgende lisensievoorwaardes: https://pixabay.com/service/license-summary/
Op 21 Mei vanjaar het die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangekondig dat hulle hul KI-beleid wysig (Du Toit 2026). Hiervolgens sal die UV vanaf 1 Julie 2026 die gebruik van KI-bespeuringsagteware/KI-verklikkers – sagteware wat KI-geskepte teks uitken – in alle fakulteite en akademiese aktiwiteite staak (Du Toit 2026).
Die redes vir hierdie besluit is soos volg verduidelik:
The decision follows growing international concern about the accuracy, consistency, and appropriate role of AI detection technologies, including Turnitin’s AI detector. While these tools were introduced to identify AI-generated content, evidence is increasingly suggesting that they cannot consistently distinguish between human and machine-generated writing, raising concerns about accuracy, bias, and due process. (Du Toit 2026)
Ek bevind my in die rare posisie waar ek met UV-beleid saamstem. Ek het voorheen daarop gewys dat KI-verklikkers nie tans betroubaar is nie en boonop maklik geflous kan word, met verwysing na beide vorige navorsing en eie toetse (Senekal 2025a). KI-verklikkers maak foute na beide kante toe – met ander woorde, KI-geskepte teks word soms deur KI-verklikkers as mensgeskep geklassifiseer, en mensgeskepte teks as KI-geskep geklassifiseer. Alhoewel hierdie foute in die minderheid is, is dit belangrik genoeg dat die UV tot die besef gekom het dat daar nie hierop vertrou kan word nie, veral nie wanneer studente die gevaar loop om op grond van onbetroubare KI-verklikkers gepenaliseer te word nie.
Die akkuraatheid van KI-verklikkers is egter ’n oppervlakkige probleem. Wanneer ’n student byvoorbeeld ChatGPT sou gebruik om sy sinne duideliker te formuleer, vorige navorsing op te som of direkte aanhalings te parafraseer, is hierdie gebruik van skeppende KI nie na my mening ’n probleem nie (behalwe natuurlik wanneer sulke take deel uitmaak van die leeruitkomste van die kursus). Indien die KI-verklikker die teks waar die student sulke toelaatbare KI-take uitgevoer het, korrek klassifiseer, sal dit as KI-geskepte teks geklassifiseer word, wat beteken dat die KI-verklikker nie tussen toelaatbare en ontoelaatbare gebruike van KI kan onderskei nie. Meer fundamenteel is egter dat KI-verklikkers nie die deurslaggewende vraag, naamlik of die student die kursusinhoud onder die knie het, beantwoord nie. In ’n onlangse meningstuk skryf Anton van Niekerk (2026):
Leerprosesse by universiteite behoort uit te loop op die inwin en ontwikkeling van die beste en belangrikste kennisinhoude en vaardighede wat jongmense toerus vir die latere lewe en hulle in staat stel om ’n bydrae te lewer tot die effektiewer (en beter) funksionering van die samelewing. Natuurlik werk dit nie altyd vir almal so uit nie, maar dis ten minste die aanname en die ideaal.
En dít is juis wat ’n KI-verklikker nie uitwys nie. Alhoewel Van Niekerk fokus op die gevare daaraan verbonde dat studente werkstukke deur KI laat skryf, is daar ook ’n wye spektrum KI-toepassings wat juis leer kan bemiddel. KI kan byvoorbeeld studente help om opsommings te maak, multimedialeergeleenthede te skep, komplekse materiaal meer verteerbaar te maak, en selfs vasvrae te skep en die antwoorde as reg of verkeerd te beoordeel. Wat die skryfproses aanbetref, kan KI ’n student help om te leer hoe om te formuleer, navorsingstukke te struktureer en selfs om navorsing te evalueer. Die KI-verklikker staar homself egter vas teen die oppervlak: Is hierdie sinskonstruksie tipies van mens of masjien? – wat ook nie altyd korrek beantwoord word nie – terwyl die eintlike vraag moet wees: Verstaan die student die kursusinhoud en kan hy wat hy hier geleer het, oordra op nuwe probleme?
Dit wil voorkom of die UV hierdie belangrike beperking van KI-verklikkers begryp – Francois Strydom, senior direkteur van die Sentrum vir Onderrig en Leer by die UV, motiveer die besluit en die UV se alternatiewe soos volg:
The conversation around AI in higher education cannot only be about detection. It must also focus on how we design meaningful learning experiences and assessments that encourage critical engagement, creativity, reflection, and responsible knowledge production in an AI-enabled society. (Aangehaal in Du Toit 2026)
........
KI is reeds deel van die universiteit en sal nie geheel en al uit tersiêre onderrig verwyder kan word nie. Die vraag is dan hoe om te verhoed dat studente glad nie leer nie en net op KI steun.
.........
KI is reeds deel van die universiteit en sal nie geheel en al uit tersiêre onderrig verwyder kan word nie. Die vraag is dan hoe om te verhoed dat studente glad nie leer nie en net op KI steun. Van Niekerk (2026) noem "mondelinge eksamens, klas-vasvrae en handgeskrewe toetse en eksamens waar rekenaars verbied word", terwyl die UV verwys na "the greater use of reflective, oral, practical, and developmental assessment components" (Du Toit 2026). Sover ek kan sien, is sulke ouer toetsmeganismes die beste uitweg, wat volgens Van Niekerk (2026) ook ’n uitdaging sal wees teen die agtergrond van groeiende studentegetalle.
Dieselfde uitdagings rondom KI is van toepassing op ’n ander belangrike been van die akademie: die publikasiebedryf. Ook hier moet die bedreiging van KI-geskepte artikels aangespreek word, maar ook met begrip van die onbetroubaarheid van KI-verklikkers. Indien die UV op vorige navorsing steun en nie studente penaliseer op grond van teksklassifikasies deur onbetroubare KI-verklikkers nie, sal dit onlogies wees as redakteurs en keurders daardie selfde onbetroubare KI-verklikkers gebruik om voorgelegde artikels te beoordeel. Boonop geld dieselfde probleem dat KI-verklikkers nie tussen die toelaatbare en ontoelaatbare gebruik1 van KI kan onderskei nie, en selfs wanneer dit teks korrek klassifiseer, beantwoord dit slegs die oppervlakkige vraag, naamlik of KI in die skryf van ’n artikel gebruik is. Fundamentele vrae wat nie beantwoord word deur ’n KI-verklikker nie, is byvoorbeeld of die teorie akkuraat weergegee word, of vorige navorsing en feite korrek weergegee word, of die data die gevolgtrekkings steun, of die korrekte bronverwysings ingesluit is, en veral: Bestaan al die bronne wat in die bibliografie voorkom? Sulke vrae is heelwat belangriker, omdat dit gaan oor die betroubaarheid van die wetenskap. Boonop is dit hier waar die gebruik van KI sonder menslike toesig die grootste skade aan die wetenskap kan aanrig deur foute te skep: Bronne word ingesluit wat nie bestaan nie; stellings word aan die verkeerde persone toegeskryf; data word verkeerd geïnterpreteer; ens. Sou KI sulke foute begaan en nie deur ’n mens reggestel word nie, word foute in wetenskaplike publikasies opgeneem wat moontlik nooit weer volkome reggestel kan word nie. Ek dink hier veral aan die valse bewering dat Hamilton Naki glo Chris Barnard sou bygestaan het met die eerste hartoorplanting. Die bewering is in betroubare vaktydskrifte gepubliseer, en wel later onttrek, maar ChatGPT het hierdie eerste publikasies as opleidingsdata gebruik en het later die valsheid as waarheid herhaal (Senekal en Brokensha 2023:9–10). Ongekontroleerde gebruik van KI sal duisende sulke foute in wetenskaplike publikasies opneem, en daardie publikasies word die toekoms se KI-opleidingsdata (en mensopleidingsdata). Met ’n groot aantal foute in wetenskaplike publikasies gaan dit later moeilik word om die waarheid van valsheid te onderskei. Kortom: Energie moet daarop gefokus word om wetenskaplike publikasies so betroubaar as moontlik te hou.
Ek het voorheen geskryf oor die uitdagings en moontlike oplossings rondom KI in die akademiese publikasiebedryf (Senekal 2025b). Hier het ek ook voorgestel dat ’n vorm van ’n mondelingse voorlegging dalk artikels in die toekoms kan vergesel indien dit uitvoerbaar is. Maar soos Van Niekerk (2026) rakende groeiende studentegetalle en beperkte tyd noem, sal so ’n stelsel waar redakteurs onderhoude met skrywers voer, ook ’n groot las op vaktydskrifte plaas. Ek het voorlopig nie die finale antwoord nie, maar dit is noodsaaklik dat ons doeltreffende oplossings vind. Ek stem egter saam met die UV dat KI-verklikkers nie (tans) daardie doeltreffende oplossing is nie.
Bibliografie
Du Toit, C. 2026. UFS shifts academic integrity approach in AI era. https://www.ufs.ac.za/templates/news-archive/campus-news/2026/may/ufs-shifts-academic-integrity-approach-in-ai-era (2 Junie 2026 geraadpleeg).
Senekal, BA. 2025a. Hoe herken jy KI-geskepte teks? LitNet. https://www.litnet.co.za/hoe-herken-jy-ki-geskepte-teks (2 Junie 2026 geraadpleeg).
—. 2025b. Skeppende KI se uitdagings en oplossings vir akademiese vaktydskrifte. LitNet. https://www.litnet.co.za/skeppende-ki-se-uitdagings-en-oplossings-vir-akademiese-vaktydskrifte (2 Junie 2026 geraadpleeg).
Senekal, BA en S Brokensha. 2023. Is ChatGPT a friend or foe in the war on misinformation? Communicare. Journal for Communication Studies in Africa, 42(2):3–16. DOI: 10.36615/jcsa.v42i2.2437.
Van Niekerk, A. 2026. Is Kl einde van universiteite? Netwerk24. https://www.netwerk24.com/stemme/menings/anton-van-niekerk-is-ki-einde-van-universiteite-20260601-1062 (2 Junie 2026 geraadpleeg).
1 Sien Senekal (2025b) vir voorstelle oor wat toelaatbaar en ontoelaatbaar is in hierdie konteks.
Lees ook:

