Marion Erskine: "Ek is die rykste mens in die wêreld"

  • 3

“As Lekkerleesboekrak vanaand wen, wen almal.” (Foto: Migal van As)

...
Mense kom soontoe vir veiligheid en gemeenskap.
...

’n Paar uur voordat die Smaakmaker 2025 aangewys word, vra ek Marion hoe hy voel oor sy nominasie onder die Lekkerleesboekrak-vaandel. “Ek weet van die lesers en ek weet van die skrywers. Ek weet ook van die gemeenskap en hoe belangrik die groep vir mense is. Mense het vriende geraak met ander met gemeenskaplike belangstellings. Mense het begin kyk na wanneer spesifieke persone ’n boek aanraai, en so sou hulle weet of hulle ook daarvan sou hou of nie. Sommige het ander begin volg wat skryf oor boeke, soos Amanda Claasens, Anschen Conradie, Trisa Hugo, Stefaans Coetsee, Irma Steffens en selfs jy. Daar is natuurlik nog vele meer wat ook impak maak. Ek het gevoel dat Lekkerleesboekrak nie altyd raakgesien is vir hoeveel invloed ons eintlik in die boekewêreld het nie. Dis amper wanneer ons sê jy moet dié lees of jy hoef nie daai te lees nie, dat dit wel ’n impak sal hê. Wanneer iemand in die community dus ’n boek sou aanbeveel (of nie) sou dit gewig dra by die lede. Dit is ’n trusting community.”

Lekkerleesboekrak en sy kroning as Smaakmaker

Sedert 2024 het Marion ook uiteindelik die Skrywer van die Maand (#skrywervandiemaand) saam met ’n span moderators afgeskop met Elsa Winckler as die eerste skrywer.

Vir Marion is dit ’n verskriklike groot eer dat sy breinkind, wat begin het met slegs 10 lede, nou ontplof het in hierdie gemeenskap van mense wat net saamwerk. Die meeste mense is gaaf met mekaar, daar is hier en daar iemand wat nie gelukkig is nie, maar: “Ek daag enige iemand in die wêreld uit om ’n boekgroep van 11 600 mense te run met die sukses wat ons doen. Partykeer moet jy kwaai wees. Partykeer moet jy jou reëls en regulasies strenger toepas. As jy egter kyk na enige ander groepe op die internet en boeliegedrag – ons het nie dit op ons groep nie. Mense kom soontoe vir veiligheid en gemeenskap. Net die idee dat ons ingesluit is die jaar en raakgesien word as beïnvloeders van boeke is fantasties.”

Marion wou Lekkerleesboekrak op Facebook inskryf as Smaakmaker, maar ’n individu moes ingeskryf word. Wie dan nou beter as die stigter van die blad? Marion sê: “As Lekkerleesboekrak vanaand wen, wen almal.”

En toe gebeur dit.

Sy kuier in Suid-Afrika sluit dus toe af met die wen van die Smaakmaker 2025 in die boekekategorie!

Radiodramas

In 2024 wen Marion die RSG Radiodramakompetisie met sy futuristiese radiodrama, Konneksie, wat later vanjaar uitgesaai gaan word. Op my vraag of dié sy eerste inskrywing vir ’n radiodramakompetisie was, sê hy: “Ek het al vantevore ingeskryf vir radiodramakompetisies; ek dink drie of vier keer. Ek het nog geen van hulle gewen tot laas jaar nie. Ek was ook nog nooit gekortlys vir enige van die kompetisies nie. Nadat die wenner reeds aangewys is, sou hulle my kontak en vra of hulle my drama ook kon uitsaai. Ek neem aan ek was dan nader aan die kortlys as wat ek gedink het. Ironies genoeg die jaar toe ek Akwarius ingeskryf het, het ek nie die kortlys gehaal of gewen nie. Desember 2017 word Akwarius toe wel uitgesaai en in 2018 wen ek met Akwarius die ATKV-Mediaveertjie vir beste teks vir radiodrama of -teater. Dieselfde jaar wen ek ook die ATKV-Woordveertjie vir Vlerke vir almal.”

Sover ek kon vasstel, is Marion die enigste Suid-Afrikaner wat in dieselfde jaar (2018) beide die Woord- en Mediaveertjie gewen het.

Marion is ook gevra om ’n radiodrama vir RSG te skryf oor Krugersdorp en die bankroof van jare gelede. As kluise kon praat word binnekort gedurende die eerste radiodramaseisoen, wat April afskop, uitgesaai. Dit klink of die lekker deel van die skryf hiervan die navorsing was. Die navorsing oor die bankroof dui byvoorbeeld aan dat dit nie gewone rowers was nie, maar moontlik mense in die mynwese kon wees as gevolg van hoe die tonnel gegrawe is. “Ek was in 1977 een jaar oud gewees. Ek het gaan kyk wat was die pop culture daai tyd. Die fliek Rocky Balboa het die Oscar gewen vir beste fliek, ABBA was groot en Elvis was nog nie dood nie. Toe dink ek dit kan lekker wees as ek die pop culture in die storie inwerk. Ek skryf toe die radiodrama en hulle love dit.”

Nuwe boek

Marion se volgende jeugroman verskyn binnekort. Die titel en voorblad word rondom April bekendgemaak. Hy laat wel die aap so bietjie uit die mou. “Dit gaan oor drie tieners wat in ’n klein dorpie bly. Daar is die eerstespanrugbyspeler, die hoofmeisie en ’n washout. Hulle ken mekaar van skool af, maar het niks gemeen met mekaar nie. Skielik een aand piep al drie se fone en die boodskap kom neer op iets soos: I know what you did last summer.”

Daar is ook afpersing, ’n moord, verdere afpersing, moontlike skuldiges en regte skuldiges.

Wat is die doel van die boek? “Ek wil vir die lesers, die tieners en die gemeenskap een simpel vraag vra: Wat het met ons samelewing gebeur dat ons ander se pyn celebrate? Daar is ’n satisfaction daar. Ek dink dit was nog altyd die geval, maar dit voel vir my of die society baie méér in daardie rigting beweeg, veral met sosiale media. Ek is nie happy nie. Jy mag nie happy wees nie. Ek hoop julle gaan van die boek hou.”

Dit is dus ’n lekker whodunit-jeugroman. Hy hoop ons gaan geskok wees.

Lewe in die vreemde

Marion woon nou al 23 jaar buite Suid-Afrika. Die realiteit dat hy vanjaar langer uit Suid-Afrika is as wat hy in Suid-Afrika gewoon het, het hom gevang toe AJ Opperman in ’n artikel oor hom skryf: “Die Suid-Afrikaans gebore Marion Erskine ...”

Hy besef: “Ek is nie meer ’n Suid-Afrikaner in daardie sin van die woord nie. Dis nie meer huis nie.”

Marion probeer hard om deel te bly van die kultuur, maar hy verstaan die helfte van die goed nie meer nie. Hy voel soms soos RIP van Winkel.

“Hoe ek geleer het van ander kulture, gelowe, kos – daai kan niemand ooit van my wegvat nie.” Foto: Migal van As

In Meimaand sal hy reeds twee jaar in Frankryk woon. Na die Emirate, is dié lewensomstandighede baie rustiger. Hy geniet die gevoel van veiligheid en dat jy kan gaan sit in ’n parkie of gaan fietsry net wanneer jy wil. Die taalkwessie is ’n hekkie wat sy liefde vir kuier saam met mense beïnvloed. Die Franse is lieflike mense. Hy leer baie van hulle kultuur. Hy kan nie wag totdat hy vlot Frans kan praat nie, want “dan weet ek gaan ek thrive daar”.

Dis baie duur om Frans te leer. ’n Gewone kursus kan jou tot €700 per maand uit die sak jaag. In die begin het hy sy spaargeld gevat daarvoor om darem net op ’n geselsvlak te kom. Deesdae besoek hy biblioteke en ander instansies waar hulle met jou conversational French help. Hulle het dan ’n gesprek oor spesifieke onderwerpe soos kos, reis, ensovoorts. Hy gebruik ook apps soos Duolingo, kyk TV terwyl hy die ondertitels volg en lees kinderboeke. So leer hy elke dag iets en sê: “Ek neem aan ek sal in die volgende twee jaar redelik vlot kan praat.”

Dit is tans moeilik om daar te werk omdat die taal nog ’n probleem is. Alhoewel hy ’n onderwyskwalifikasie het, moet jou grade op spesifieke maniere gesertifiseer wees om in Frankryk te werk. Hy hou tans die pot aan die kook met “’n deeltydse kontrak met prosedure-ontwikkeling vir Rhodes-Universiteit. Ek help ook party kinders in Suid-Afrika met debatte en toesprake. Ek skryf egter niks waarvoor jy nie huiswerk gedoen het nie. Skryf wat jy wil hê en ek sal jou help om dit te verbeter. Al help ek met debatte, moet julle kom met julle eie argumente en teenargumente. Ek help om te verbeter. Ek kontroleer ook die leerders se bronnelyste en so aan.”

Volgehoue liefde vir Afrikaans

Ten spyte daarvan dat hy soveel jare reeds uit Suid-Afrika weg is, bly hy steeds lief vir Afrikaans. Hy skryf meer Afrikaans as wat hy dit praat, behalwe vir maandelikse gesprekke met sy tannie en soms WhatsApp-gesprekke met vriende.

Hy skryf nie in Engels nie, want hy druk homself beter uit in Afrikaans. Hy sê wel oor sy skrywery in Afrikaans: “Ek is nie goed met spelling nie, was nooit nie en die uitgewer sal dit vir jou sê, maar hulle hou van my stories en hulle hou van my dialoog. Hulle duld my en my anglisismes en goeters, want hulle verstaan dat ek nie meer die verskil kan sien tussen wat is ’n anglisisme en wat nie, want ek praat permanent Engels of Frans.”

Hy lees baie artikels en Afrikaanse boeke om op datum te probeer bly, maar “ek is verskriklik lief vir die taal en my lewe lank was dit vir my verskriklik belangrik dat ek iets in Afrikaans moet doen. Die feit dat ek ’n community kon bou met Lekkerleesboekrak ... Mense en skrywery voel elke dag asof ek saam met my mense kuier. Sonder die internet en Lekkerleesboekrak sou ek verlore gewees het.”

Natuurlik wonder ek of dit oorspronklik sy plan was om permanent oorsee te woon. Sy eerste oorsese werk was vir krisisbeheer. Hy het op skepe gewerk net nadat sy pa oorlede is. Hy het as kind al gedroom oor toer: “Ek wou die Tower of Pisa sien en op die Great Wall of China stap. Ek was as kind reeds gefassineer met die wêreld. Ek het altyd groot gedroom. Toe ek op die skip gaan werk, het ek die epiphany gehad. Ons stop by Jamaika en ons eet saam met die mense. In Mexiko eet jy tacos. Daar het die toergogga my gebyt. Toe ek terugkom Suid-Afrika toe, het ek weer ’n rukkie hier gewerk, maar die wanderlust in my is wakkergemaak en ek moes iets daaraan doen.”

Laaste woord

“Jy groei net as jy uit jou comfort zone beweeg. Die outjie wat 23 jaar gelede uit Suid-Afrika weg is en wie ek vandag is, is twee verskillende mense. Jy ontmoet my en sê: ‘Jis, Marion, jy kom confident voor’, maar jy het nie ’n idee wie ek was toe ek op daardie eerste vliegtuig geklim het nie. Ek het bewerasies gehad, koue sweet in die hande. Ek kon nie met mense praat nie. Ek het myself gehaat. Ek het nie gedink ek is goed genoeg vir hierdie wêreld nie en hoe ek myself net verbeter het en steeds doen. Ek is op ’n plek in my lewe waar ek net weet, I’m so glad I did that, want as ek nou terugkyk na my lewe en ’n bus tref my môre op straat, dan het ek drie mense se lewens geleef. I’ll go out with a bang. Ek is die rykste mens op aarde wat ek ken en ek het nie baie geld nie, maar is ryk aan experiences, mense wat oor my pad gekom het en mense wat my gebless het. Hoe ek geleer het van ander kulture, gelowe, kos – daai kan niemand ooit van my wegvat nie. I honestly have become a better human because of the humans out there.”

Terwyl ek hier skryf, is Marion al reeds weer op pad terug Frankryk toe!

J’espère te voir bientôt!

Lees ook:

Vlerke vir almal deur Marion Erskine: ’n onderhoud

Draak-sprokie-kompetisie: Die draak wat graag brood wou eet

  • 3

Kommentaar

  • Surene, jy som dit so mooi op, ek kan eintlik Marion se stem hoor weerklink. Ek het die voorreg gehad om hom die aand voor Smaakmakers by ons te onthaal, met oa Anschen Conradie (ook op kortlys) vir 'n braai. Hy’t vir my binne 'n halfuur 'n vriend, broer, genoot én meer geword en mens kon nie anders as aan sy lippe hang nie. Die selfversekering, spontaniteit, opregtheid, empatieke innigheid en menswees sal enige persoon wat hom ken, se lewe verryk. Hy is werklik 'n waardige wenner en ek dink hy sal nog vele meer hoogtepunte in sy lewe behaal.
    Marion, weer eens baie geluk! Bisous bisous 😘😘

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top