Draak-sprokie-kompetisie: Die draak wat graag brood wou eet

  • 0

Diep in die woud aan die rand van die dorp het Lofti die draak gewoon. Lofti het nie maats gehad nie, want die menselinge van die dorp het nie van drake gehou nie. Hulle het gesê hy is “te groen” en “te groot” en die feit dat hy vuur genies het, was eenvoudig een te veel.

Elke oggend het Lofti in die hoogste boom naby sy grot geklim en verlangend oor die dorp gekyk. Almal het so gelukkig gelyk. Lofti  kon tot die vars brood uit die bakkery ruik en dit het hom honger gemaak.

Eendag sit Lofti onder sy boom en speel klippie-pak – sy eie speletjie. Hy pak wit en grys klippies op mekaar en probeer ’n toring maak. Die laaste klippie-kleur wat bo is voordat die toring omval, wen. Vandag was sy klippie-toring sommer baie hoog. Lofti het behoorlik gekonsentreer. 

Karplaks! Daar val die hele toring om.

“Ag, nee!” sug Lofti en skraap die klippies op ’n hoop bymekaar. 

Skielik hoor hy ’n giggel agter hom in ’n bos en spring benoud op.

“Wie’s daar?” vra hy vinnig. Sy stem klink veels te klein vir sy groot groen lyf. “Kom uit, of ek nies vuur!” probeer hy weer.

’n Klein menseling staan op. Sy het groot blou oë en ’n stert van lang swart hare.
“Ek hou van jou speletjie. Sal jy my leer hoe om te speel?”

Lofti het oopmond na haar gestaar. Dit is die heel eerste keer dat ’n menseling met hom vriendelik is.

“My naam is Tam-Tam. Wat is joune?”

“Lofti,” antwoord hy skaam. En vra dan met ’n bietjie meer bravade:  “Is jy nie bang vir my nie?”

Tam-Tam lag. “Waarom moet ek vir jou bang wees?”

“Want ek nies vuur.” Lofti draai sy draaktoon in die grond.

“Nee,” lag Tam-Tam. “Ek wens ek kon vuur nies!” Sy grawe in haar sak en haal iets uit.  “Wil jy ’n hap van my broodjie hê?”

Lofti het so opgewonde geraak dat hy woes genies het. Die tak bo sy kop het morsaf gebrand. 

“Sjoe,” het Tam-Tam met blink oë gesê.
 
Lofti en Tam-Tam het sommer vinnig maatjies geword. Hulle het saam klippie-pak gespeel en Tam-Tam het altyd haar heerlike toebroodjies gedeel.

Maar een oggend het die paadjie leeg gebly. Toe hoor Lofti ’n vreeslike geraas onder in die dorp. Vinnig klouter hy teen sy boom op.

Die menselinge van die dorp het geskree en rondgehardloop. Daar was boewe met lang swaarde op perde. Tam-Tam het gehuil en het haar mamma se hand styf vasgeklou. Lofti was kwaad. Baie kwaad! Soos blits het hy by die boom afgegly en na die dorp gestorm. Hoe nader hy kom, hoe meer vuur het hy geblaas. Die boewe het hulle boeglam geskrik en dadelik weggejaag. Twee selfs met brandende broeke.

“Wat wil jy hê?” vra die burgemeester met ’n bewende stem.

Lofti knipoog vir Tam-Tam. “Ek wil nog altyd ’n varsgebakte broodjie probeer. Een wat pas uit die oond kom!”

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top