Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Susann Louw praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.
Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?
Ek is Susann Louw en ek doen navorsing oor Afrikaanse gender in die media, in die besonder Afrikaanse tydskrifte. My referaat by vanjaar se USAN-konferensie het op die volgende aspek van my navorsing gefokus: Die ondersoek van genderkonstruksies in Afrikaanse tydskrifte: ’n multidissiplinêre metodologie.
Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?
My inspirasie kom van my belangstelling in gender, maar ook die waarneming dat die media, samelewing en gender in ’n konstante en vervlegte verhouding tot mekaar ontwikkel en verander.
Is daar werk en toekomsmoontlikhede in ’n Afrikaanse omgewing?
Ja, daar is, veral op gebiede soos opvoedkunde en samewerkingsgeleenthede met ander tersiêre instellings, plaaslik en internasionaal.
Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy ’n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?
Ja, ek sien die ontwikkeling van verskeie variëteite van Afrikaans sowel as die interessante navorsingsmoontlikhede wat studente in hulle navorsing identifiseer. Dit dra ook definitief by tot taalontwikkeling en -uitbreiding.
Aan wie behoort Afrikaans, indien enigiemand?
Ek glo Afrikaans behoort aan almal wat dit praat en waardeer, ongeag hul agtergrond, identiteit of nasionaliteit. Ek het heelwat vriende wat Afrikaans as ’n vreemde taal aanleer en dit vir werks- of studiegeleenthede gebruik.
Wat het jou opgeval van die ander referate by die kongres?
Al die referate was van hoë gehalte. Elbie Adendorff se voordrag het my veral bygebly en bied my inspirasie vir my eie taalaanleerkursus wat ek in 2024 gaan aanbied. Carla Lindt (UWK) en Kruger Uys (UP) se referate staan vir my uit van hierdie jaar se kongres. Ek het Carla se resultate veral interessant gevind en die belangrike ondersteuning wat dit aan Afrikaanse onderwysers Afrikaans-onderwysers in die Wes-Kaap kan bied. Kruger se inkorporering van animasievideo’s met die aanbieding van poësie aan hoërskoolleerders bied ook nuwe inspirasie en insigte vir enige opvoedkundige.
Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?
Die USAN-kongres vanjaar was ’n uiters waardevolle geleentheid om kennis en idees uit te ruil oor Afrikaanse taalkunde en taalverwerwing. Ek is dankbaar vir die geleentheid om daaraan deel te neem en na navorsing van ander te luister.
Lees ook: