|
Girlhood and boyhood, at least until quite recently, have often been treated as separate, different and unequal in children’s literature. (Judy Simons, 2009)
Prenteboeke kan kragtige werktuie in die manipulering van jong kinders tot die aanvaarding van gestereotipeerde genderrolle wees. Kinders identifiseer met die karakters in storieboeke en vorm sodoende ’n eie mening oor die self en die wêreld om hulle. Die prenteboek met sy potensiële magte van kreatiwiteit, verbeelding en vryheid kan dus ’n belangrike rol in die ontwikkeling van genderidentiteit by klein kinders speel. Volgens ’n redelik onlangse studie onderneem deur Hamilton, Anderson, Broaddus en Young (2006) is seksisme in kinderboeke ongelukkig steeds aan die orde van die dag. Literatuur kan beskou word as die draer van die kultuur van ’n gemeenskap. Binne hierdie dominante kultuur word manlike karakters meestal voorgestel as sterk, dapper en slim, terwyl meisies die stil, stadige moederlikes sonder ’n wil van hul eie is. In hierdie artikel word die voorstelling van gender in die kinderboek Die avonture van Wilde Willemientjie deur Riana Scheepers, met illustrasies deur Vian Oelofsen, deur middel van diskoersanalise ondersoek. Daar is bevind dat die vroulike protagonis in hierdie boek sterk, eiesinnig, slim en selfhandhawend is. Met hierdie boek bied die skrywer en die illustreerder die jong leser ’n humoristiese alternatiewe diskoers tot dominante genderideologie. Die term genderideologie verwys na die algemene opvatting oor gepaste rolle vir, en verantwoordelikhede van, vroue en mans binne die gemeenskap. Deur patrone van klank, herhaling en ritme skep die skrywer-digter ’n alternatief tot, en ’n parodie op, die dominante kultuur se reëls van sogenaamd “behoorlike” gedrag vir seuns en meisies. Die illustrasies ondersteun die subversiewe aard van die teks. Dit is my bevinding dat die bestaande orde van gendervooroordeel suksesvol uitgedaag word.
Trefwoorde: gendervoorstelling; Afrikaanse prenteboeke; stereotipering van genderrolle; transgressiewe literatuur; kinderliteratuur
Transgression in the presentation of gender in Die avonture van Wilde Willemientjie by Riana Scheepers and Vian Oelofsen
From birth onwards children are exposed to gender stereotyping. When a baby is born, response to it is defined by its biological sex. Researchers in the field of early child development argue that through language and discourse, culture constructs the boundaries that define properly manifested expressions of gender (Wickens 2011:150).
Picture books can be powerful tools in the manipulation of young children into accepting stereotypical gender roles. Children identify with the characters in the books to which they have access and through them the young child constructs an own opinion of the self and the surrounding world. The picture book, with its potential forces of creativity, imagination and freedom, can play an important part in the development of gender roles in small children.
According to research undertaken by Hamilton, Anderson, Broaddus and Young (2006:757) sexism in children’s books unfortunately is alive and well and literature can be seen as the transmitter of society’s culture. Male characters are often portrayed as being the strong, brave and clever ones, while the girls are quiet and motherly, with no will of their own. This behaviour is not innate but a result of the pressure of societal roles thrust on women/girls and men/boys by a male-dominated society. According to Hamilton et al. the stereotypical representation of women in children’s literature can be harmful to the development of children. It can hamper their career aspirations and their attitude towards being a parent. It can also impede their personal development. As children are not mere passive observers, they develop within the reigning order of structure. They develop a set of rules to live by in accordance with the world they perceive around them. It is within this strong and rigid gendered society that picture book characters find themselves and it is within this stereotyped milieu that these characters must be presented as subversive and exciting. Unambiguous gender transgression in picture books gives children liberating access to an adventurous subversion of existing socio-cultural notions.
In this article I utilise discourse analysis to explore the ways in which an Afrikaans picture book has constructed and represented masculinity and femininity in text and image. I chose Die avonture van Wilde Willemientjie by Riana Scheepers and Vian Oelofsen because it is boldly subversive. Throughout the analysis I indicate the ways in which assumptions are dealt with subversively.
A simple coding chart was used and on every page (including the cover page) both text and pictures were analysed. The actions, characteristics and language of main and co-characters were investigated according to a list based on the model as presented by Williams, Vernon and Malecha (1987:153). Aspects investigated include appearance, activities, roles and language, as well as the sex of the main and important co-characters. The aim was to investigate ways in which masculinity and femininity were portrayed in a picture book for young children.
Although it is certainly not the only way to read a book, feminist theory allows one the opportunity to look at things you have “cheerfully ignored before” (Paul 1998:17). I was looking for questions to ask, not necessarily for answers to those questions – it was more a way of looking and investigating. Some of these questions were: Whose story is this? Who is named and who is not? Who is on top (hierarchical ordering)? Who gets punished and who gets praised? Who speaks and who is silenced? Who acts and who is acted upon?
The text in Die avonture van Wilde Willemientjie is in rhyme format. Poetry can be associated with the irrational, the imaginary and natural feelings. In this text the reader finds a free flow of rhythm and rhyme. The sound patterns are lyrical, almost ecstatic. Through these sound patterns the writer-poet supports the female protagonist in the transgression of gender boundaries. The illustrator also challenges gender boundaries with his imaginative illustrations. He offers the reader a magical milieu in which the characters live. Willemien is portrayed as a symbol of uninhibited, independent girlhood.
In this book the protagonist is a wilful, strong, clever and assertive little girl and through it Scheepers and Oelofsen offer the young reader a humorous alternative discourse to dominant gender ideologies. This implies attitudes regarding the appropriate roles and responsibilities of women and men in society. Through patterns of sound, repetition and rhythm, Scheepers and Oelofsen create an alternative to and parody of the dominant culture’s rules of so-called appropriate behaviour for boys and girls.
As part of the reading experience children make sense of cultural notions of gender – probably the most basic dimension through which children can observe and decide where they fit in. Their perceptions of gender influence the way they interact with one another as well as the way they see themselves. The picture books to which they are exposed can also introduce them to notions and views that challenge cultural norms.
Scheepers and Oelofsen sensitively reflect the changing role of women and girls in society. When choosing a book, parents and teachers should be on the lookout for well- written books which portray well-rounded individuals with well-defined personalities. It is very important for characters to be judged in terms of who they are and not in terms of their gender. In this book gender construction is subverted by emphasising that the female protagonist has freedom of choice and that her value is not limited by physical appearance or gender. Scheepers and Oelofsen’s robust humour offers young readers access to an alternative discourse that challenges existing ideologies of gender bias.
The question could be asked whether sexism in picture books for children really matters. According to Hamilton et al. (2006:757) there can be no doubt about the importance of this issue. It is only logical to assume that gender bias in books is real and that stereotyping of gender roles and the under-representation of female characters will be negative for the development of children. Picture books can offer children an introduction to opinions other than their own. Their notion of sexuality can influence the way they regard themselves and others. Picture books can be the first conveyors of ideas to confront cultural norms of gender bias. Die avonture van Wilde Willemientjie allows gender restrictions to fade. It represents a shift away from gender stereotyping. The presentation of gender is subject to the story/illustrations. Gender construction is subverted by emphasising that the protagonist can be worthy irrespective of gender.
Keywords: gender presentation; Afrikaans picture books; sex-role stereotyping; transgressive literature; children’s literature
1. Inleiding
Reeds vanaf geboorte word kinders blootgestel aan genderstereotipering. Sodra ’n baba gebore word, word optrede teenoor die kind gedefinieer deur sy/haar biologiese geslag. Teen die tyd dat ’n kind skool toe gaan, het hy/sy reeds ’n goeie idee oor eie geslagtelikheid gevorm. Navorsers op die gebied van vroeëkindontwikkeling meen dat kultuur, deur taal en diskoers, die grense stel vir wat sogenaamde “behoorlike” uitdrukkings van gender is (Wickens 2011:150). Deur manipulering, kanalisering en verbale benoeming van en blootstelling aan sekere aktiwiteite leer ’n kind sy/haar genderidentiteit deur vroeë sosialisering aan (Grobler 1988:126). Gevolglik herken baie kinders vroeg reeds die rolle wat die gemeenskap mans en vroue onderskeidelik oplê.
Deur van kleins af met boeke te doene te kry word kinders al in die voorleesstadium met karakters wat die realiteit van die gemeenskap verteenwoordig, gekonfronteer. Hierdie realiteit vervat die sosialiseringsproses, wat dit uitsluitlik ten doel het om twee groepe mense te ontwikkel, naamlik ’n duidelik manlike groep en ook ’n duidelik vroulike groep (Grobler 1988:127). Dit is dus te verstane dat kinderboeke die kind se beskouing van genderrolle en die stereotipering daarvan sal vorm.
Uit navorsing deur mense soos Hamilton, Anderson, Broaddus en Young (2006:757) blyk dit dat genderstereotipering in kinderliteratuur ’n inherente kenmerk daarvan is. In ’n studie van 200 gewilde prenteboeke het hulle bevind dat prenteboeke kragtige werktuie in die daarstel en vaslegging van geslagsrolstereotipering is. Met daardie navorsing is getoon dat die vroulike karakter tipies voorgestel word as beperk en marginaal, terwyl die manlike karakter sterk, slim en suksesvol is. Geen biologiese verklaring vir sogenaamde “manlike” en “vroulike” gedrag kon gevind word nie. Die aanname dat meisies meer emosioneel, afhanklik en in ’n groter mate sosiaal aanvaarbaar wil wees as seuns, blyk bloot ’n gevolg van die druk van die gemeenskap op vroue/meisies en mans/seuns binne ’n mangedomineerde samelewing te wees (Grobler 1988:127). Met die ondersoek van Die avonture van Wilde Willemientjie is gevind dat hierdie Afrikaanse prenteboek juis soortgelyke stereotipering uitdaag.
Hamilton e.a. (2006:757) reken dat die gestereotipeerde voorstelling van vroue in kinderliteratuur negatief op die ontwikkeling van meisies kan inwerk. Dit kan naamlik hulle loopbaanvooruitsigte beperk, hulle houding ten opsigte van toekomstige ouerskaprolle belemmer en selfs hulle persoonlike karakterontwikkeling strem. Volgens hulle het gendervooroordeel ook ’n soortgelyke beperkende invloed op die ontwikkeling van seuns.
Volgens Seellinger Trites (1997:1) het feminisme deur die jare reeds ’n beduidende impak op kinderliteratuur gemaak – met die vrouebeweging in die sestigerjare is jong lesers onderwerp aan “heavy-handed indoctrination into gender roles” en dit is tóé dat die vroulike karakters in kinderboeke begin staal wys het. Feminisme het ook dekades lank al ’n invloed op Suid-Afrikaanse kinderboekskrywers en -illustreerders. Die gedig “Ballade van Hestertjie Haarnaald” in Opperman se Klein verseboek (1959) is waarskynlik ’n eerste voorbeeld van ’n feministiese kinderteks in Afrikaans en die karakter van Wilde Willemientjie kan beskou word as ’n soort nuwerwetse Hestertjie Haarnaald.
Ek het diskoersanalise ingespan om die wyses waarop manlikheid en vroulikheid in teks en illustrasie uitgebeeld word, te ondersoek. Dit is my hipotese dat Afrikaanse skrywers en illustreerders reeds geneig is om subversief met die voorstelling van geslagsrolle in kinderlektuur om te gaan. Gevolglik word bestaande norme uitgedaag en vroulike karakters neem sterker leiersrolle aan, terwyl manlike karakters ’n “sagte kant” openbaar.
2. Gendervoorstelling in die kinderboek
Die voorstelling van vroulike protagoniste as sterk van gees en liggaam en met hope wilskrag kan binne kinderliteratuur as positiewe rolmodelle vir dogters én seuns dien. Wat egter die meeste beïndruk van ’n literêre werk vir die jeug, is ’n boek wat dit regkry om manlike en vroulike karakters as gelykes te laat groei, sodat elke individu optimaal binne sy/haar eie genderidentiteit ontwikkel sonder om sy/haar manlikheid of vroulikheid prys te gee. Om dit reg te kry bly egter ’n uitdaging. Jeugliteratuur behoort kinders aan die dink te sit oor gestereotipeerde geslagsrolle en -verwagtinge.
Bo en behalwe die vele ander waardes daarvan is die kinderboek ook ’n sosialiseringsmeganisme waardeur tradisionele waardes van ’n gemeenskap van geslag tot geslag oorgedra word (Gooden en Gooden 2001:1). Soos reeds genoem, het navorsing in die buiteland bevind dat genderstereotipering steeds ’n gegewe in hedendaagse kinder- en jeuglektuur is. Navorsers is dit is ook eens dat seksisme in kinderboeke die ontwikkeling van ’n genderidentiteit by jong kinders kan beïnvloed.
Volgens Tsao (2008:108) aanvaar kinders sekere gedragspatrone as deel van hulle sosialiseringsproses en identifisering met ander. Dikwels is hierdie gedrag gendergeoriënteerd. Die ontwikkeling van ’n genderidentiteit is belangrik vir die kind se vorming van selfpersepsie. Wanneer literatuur dan beskou kan word as vrugbare teelaarde vir genderstereotipering, kan tot die gevolgtrekking gekom word dat die genre van kinderliteratuur, en spesifiek prenteboeke, voortdurend kinders se beskouing van geslagtelikheid kan beïnvloed. Hulle word immers blootgestel aan karakters met wie hulle kan identifiseer en aan wie hulle hul eie optrede, aanvaarding of verwerping van aksies, asook eie gevoelens of emosies kan meet. Sodoende vorm die kind ’n eie opinie oor die self en die wêreld (Tsao 2008:108).
Deur middel van visuele beelde/illustrasies en taal word die kultuur van die gemeenskap oorgedra. Kinderliteratuur is dus ’n belangrike komponent in die totale opvoedingsproses van jong kinders, spesifiek ook met betrekking tot geslagsrolle. Manlike karakters word dikwels voorgestel as aktiewe, slim, dominante individue met goeie beroepe, terwyl vroulike karakters voorgehou word as passief, die ewige slagoffers, emosioneel, lomp, ’n bietjie dom, die moederlike allesgedogendes, en niewerkend. ’n Vroulike karakter wat aggressief voorgestel sou word, kan beskou word as onnatuurlik, aangesien sy veronderstel is om sag en troetelend te wees (Oulton 2010:211). Hierdie soort vooroordeel in ’n kinderboek kan gendergestereotipeerde denke by die kind aanmoedig.
Met die ontleding van Die avonture van Wilde Willemientjie word telkens gewys op die maniere waarop daar subversief met hierdie aannames omgegaan word.
Aangesien kinders nie blote passiewe waarnemers is nie, ontwikkel hulle binne die heersende struktuur van orde. Hulle neem die omringende wêreld waar en ontwikkel ’n stel reëls waarvolgens daar geleef behoort te word. Een van die mees kritieke areas van die leerervaring van jong kinders is genderontwikkeling en dit is juis hier waar die prenteboek met sy potensiële kragte van kreatiwiteit, verbeelding en vryheid ’n enorme rol kan speel. Dit is teen die agtergrond van ’n streng en rigiede geslagtelike samelewing dat prenteboekkarakters hulle bevind. Dit is binne hierdie gestereotipeerde milieu waar die karakters juis op so ’n wyse uitgebeeld moet word dat kinders hulle as subversief en opwindend kan beleef. Dan sal die lesers vasgenael bly en sal karakters as boeiend ervaar word.
Die bevrydende rol van goeie, ondubbelsinnige genderoorskryding in prenteboeke kan nie ontken word nie. Dit bly ’n manier waarop kinders toegang tot ’n (hopelik) avontuurlike omverwerping van bestaande sosiokulturele aannames kan kry.
3. Benadering
’n Studie is onderneem om ondersoek in te stel na die mate waarin Die avonture van Wilde Willemientjie (2006) bestudeer kan word as voorbeeldteks van oorskryding van gestereotipeerde aannames rondom gender. Daar is bevind dat hierdie boek as openlik subversief beskou kan word. Die ontleding van die gedrag van die karakters is gedoen volgens die model van Williams, Williams, Vernon en Malecha (1987:153). Die aspekte wat ondersoek is, sluit in: voorkoms, bykomstighede, aktiwiteite, rolle, taalgebruik, asook die geslag van karakters.
Die doel van hierdie studie was om die maniere uit te wys en te beskryf waarop manlikheid en vroulikheid in ’n prenteboek vir jong kinders uitgebeeld word.
Alhoewel beslis nie die enigste manier waarop gelees kan word nie (die leser behoort bewus te wees van ’n verskeidenheid moontlike interpretasies), bied feministiese teorie die geleentheid om te let op dinge wat dalk andersins verborge sou bly. Hierdie teorie bied bowendien die ideale bril waardeur daar op die voorstelling van geslagtelikheid in tekste gelet kan word.
Die advies van Lisa Paul in haar boek Reading otherways (1998:16) is gevolg, dus is daar gesoek na vrae om te vra en nie noodwendig na antwoorde op hierdie vrae nie. Dit was hoofsaaklik ’n manier van kyk en ondersoek instel. Van hierdie vrae is:
- Wie se verhaal is dit hierdie?
- Wie word benoem? Wie nie?
- Wie is bo? Wie is onder? (Hiërargiese ordening)
- Wie word gestraf? Wie word geloof?
- Wie praat? Wie word stilgemaak?
- Wie tree op? Teen wie word daar opgetree?
- Wie besit/het?
- Wie is afhanklik?
- Wie kyk? Wie word beskou?
- Wie veg vir eer? Wie ly daaronder?
4. Metode van ondersoek
Elke blad (insluitend die voorblad) is bestudeer. ’n Eenvoudige koderingskaart (sien Tabel 2 hier onder) is opgestel vir gebruik tydens die ontleding van die teks en die illustrasies.
5. Gendervoorstelling in Die avonture van Wilde Willemientjie
Die avonture van Wilde Willemientjie is spesifiek gekies vir die ondersoek na die voorstelling van gender. Op die vraag: Wie se storie word hier vertel? is die antwoord: Willemientjie se verhaal. Willemientjie is die sterk, potente, magtige en aktiewe vroulike protagonis en sy word reeds in die titel van die boek benoem. Die voorblad is ’n aanduiding van die oorskrydende aard van wat gaan volg. Hier word ’n klein dogtertjie ewe tuis op die rug van ’n gemsbok aangebied. Die titel stel dit duidelik aan die leser: die hoofkarakter is “wild”, met ander woorde ongetem, ongewoon en onbeperk. Dermate dat dit in haar naam herhaal word (“wilde” en “wille”). Boonop beleef sy “avonture”. Die verwagting word dus reeds in die titel geskep dat dit ’n avontuurverhaal is, waar dit gaan oor opwindende gebeure wat die protagonis buite ’n bekende, veilige milieu ervaar. Hierdie soort verhaal gaan gewoonlik gepaard met liggaamlike en geestelike uitdagings en dienooreenkomstige optrede deur die hoofkarakter. Die titelblad maak dus reeds namens Willemien aanspraak op onafhanklike, sterk optrede van ’n uitermate “wilde” klein meisietjie.
’n Inhoudsontleding van die soort aktiwiteite waarmee dié karakter haar besig hou, toon geen beperkinge op haar optrede nie – daar is niks wat sy nie kan doen nie. Die magstrukture in die boek is duidelik. Alhoewel sy ’n kind is, is Willemien in beheer. Soos wat sy Boelie die hond “soos ’n perd ry” (5), beheer sy alle ander karakters in die boek.
Met hierdie debuutprenteboek loods Scheepers ’n humoristiese aanslag op geslagsbevooroordeling. Deur ritmiese en herhalende klankpatrone en die aanwending van humor bied sy ’n subversiewe aanslag op die dominante kultuur van gendervooroordeel. Scheepers wend die magiese krag van die verbeelding aan waardeur Willemientjie gendergrense oorskry.
Met sy illustrasies ondersteun Oelofsen hierdie idee van oorskryding. Willemien dra broeke én rokke. Haar hare is wild en woes, maar met ’n strik, al is dit dan ’n klein slangetjie, daarin gebind. Haar optrede is soms konvensioneel, gerieflik vroulik, maar merendeels is dit uitdagend en grensloos selfhandhawend.
Tabel 1. Soorte illustrasies
Kategorie |
Getal |
Slegs vroulik |
14 |
Slegs manlik |
3 |
Albei geslagte |
35 |
Neutraal |
9 |
Totaal |
61 |
Tabel 1 dui aan dat daar heelwat meer illustrasies van albei geslagte per bladsy is as wat daar enkelgeslagtekeninge is. Aangesien die hoofkarakter in hierdie boek vroulik is, is die voorkoms van slegs vroulike illustrasies, soos te verwagte, heelwat hoër as dié van slegs manlik. Waar die geslag van diere onbepaald is, aangesien dit ook nie deur byvoorbeeld kleredrag toegelig word nie, word sketse as neutraal geag.
Vervolgens is die optrede, eienskappe en taalgebruik van die hoof- en medekarakters in die boek ondersoek. Die lys van hierdie patrone is geskoei op die model soos ontwikkel deur Williams e.a. (1987:153).
Tabel 2. Gedrag, houding, eienskappe en taalgebruik van hoof- en belangrikste medekarakters
Optrede, eienskappe, taalgebruik |
M |
V |
Afhanklik |
2 |
4 |
Onafhanklik |
5 |
14 |
Kompeterend |
1 |
5 |
Dienslewerend |
3 |
4 |
Selfhandhawend / Sterk wil |
5 |
18 |
Ondersoekend |
5 |
13 |
Kreatief |
2 |
8 |
Vertroetelend |
4 |
7 |
Aggressief |
6 |
13 |
Emosioneel |
4 |
9 |
Aktief |
8 |
21 |
Passief |
3 |
6 |
Reddend/Beskermend |
8 |
8 |
Versorgend |
3 |
9 |
In Tabel 2 is die bevindinge met betrekking tot gedragspatrone en eienskappe van die hoofkarakter en medekarakters vervat. Tydens hierdie bespreking van die bevindinge, word geen voorbeelde uitgewys nie. Dit volg egter later in die artikel. Die helfte meer vroulike karakters as manlike karakters tree steeds afhanklik op. Hierdie optrede geskied egter (soos later uitgewys word) hoofsaaklik wanneer Willemien beslúit dat sy nou afhanklik van ’n ander persoon of persone gaan reageer. ’n Groot aantal onafhanklike optredes van vroulike karakters kom voor. Vroulike karakters is meer kompeterend, selfhandhawend en ondersoekend. Hulle is ook meer kreatief as manlike karakters, veral wanneer daar uit moeilike situasies ontsnap moet word. Meer vroulike karakters word as emosioneel uitgebeeld, maar ’n beduidende meerderheid kere word vroulike karakters ook as aggressief voorgestel. ’n Groot aantal gevalle van aktiewe optrede deur vroulike karakters kom voor. Wat betref reddende of beskermende optrede, is daar ’n gelyke mate van verteenwoordiging van albei geslagte. Vroulike karakters kom steeds heelwat meer versorgend as manlike karakters voor. Dit blyk uit bogenoemde lys dat sowel vroulike as manlike karakters as betreklik nietradisioneel voorgestel word.
6. Oorskryding in teks
Die teks van Die avonture van Wilde Willemientjie word in rymvorm aangebied. Die digkuns kan geassosieer word met die irrasionele, die verbeelding en natuurlike gevoelens. In die teks vind die leser ’n vrye vloei van ritmes en beryming. Die klankpatrone is liries, byna ekstaties. Deur die skep van hierdie klankpatrone ondersteun die digter-skrywer die vroulike protagonis in die oorskryding van geslagsgebondenheid.
Reeds vroeg in die teks kies Willemientjie haar eie lotsbestemming:
[…] vinnig word ons meisie groot
sy doen dit presies volgens plan. (2)
Haar plan is naamlik om van die begin af anders te wees, deur dinge te doen soos wat sy dit wil doen en nie soos wat grootmense (die samelewing) aan haar voorskryf nie. Met “anders” word hier juis bedoel dat sy nie, soos babas gewoonlik is, afhanklik van andere vir haar versorging wil wees nie. Anders as ander babas (sy is hier maar twee weke oud) eet sy reeds volwassenes se kos – geen sagte babakossies vir hierdie meisie nie. Sy verorber groot stukke vleis, groente en selfs sterk kerriedisse:
’n Skewe bek trek sy
vir babapap en groente
maar tjops en wors, dié slaan sy weg,
eet kerrie sonder ’n gedoente. (4)
Willemientjie slaap nie heeldag soos ander babas van haar ouderdom nie. Sy klouter in bome rond:
Van slaap wil Willemien niks weet
van rus en stilte nog veel minder
buite rondklouter in die bome – ja!
en kerjakker met ’n vlinder. (4)
Willemientjie is nie bereid om soos ’n baba behandel te word nie. Sy behou die keuse van optrede:
Tannie Sêra kom nader van haar huis
om Willemien op die rug te dra
dié juffer skop en skree iets vreesliks
“As ek ’n baba wil wees, sal ek daarvoor vra!” (4)
Reeds in hierdie heel eerste bladsye van die boek bespeur die leser ’n stryd tussen realiteit en die kragte van kreatiwiteit, die verbeelding en vryheid. Dit is immers nie moontlik vir ’n klein baba om op hierdie wyse op te tree nie, maar hiérdie baba kan, en maak ook so, omdat sy ’n wilsbesluit daartoe geneem het. Die verbeelding het die vermoë om tot anderkant rede en realiteit te beweeg.
Willemien oorskry patriargale posisionering deur te besluit wanneer sy sogenaamd “behoorlik” wil optree en wanneer nie. Wanneer haar grootouers kom kuier, neem sy ’n bewuste besluit:
Willemientjie sien hulle aankom
en is die grootste skat
soet soos stropies sit sy daar
en speel liefies met die kat. (6)
In ooreenstemming met sogenaamde aanvaarbare norme is hierdie meisie se gedrag ’n “sonde” teen die bestaande orde:
“jou pa en ma oordryf totaal
oor al jou kammakastagge sonde.”(6)
Juis omdat sy nie passief, afhanklik en onderdanig wil optree nie, word sy as sondig, koppig en rebels deur omstanders ervaar. Die grootmense in haar lewe verteenwoordig ’n diep ingebedde simboliese orde en hulle wil aan haar voorskryf hoe sy haar moet gedra en wie sy mag wees. Hierdie sekondêre karakters in die boek verteenwoordig ’n kollektiewe onthutsing oor haar transgressiewe gedrag.
Willemien omring haarself met gevaar. Haar avontuurlustigheid en weetgierigheid spreek uit haar ongewone keuse van metgeselle. Potensieel gevaarlike diere, soos leeus en slange, is haar vriende:
Mamma sê: “Pasop vir Leeu,
pasop vir Valk, pasop vir Slang!”
Willemientjie lag – dis dan haar vriende
vir hulle is sy nie bang! (7)
Nie eens ’n dodelike skerpioen skrik die meisie af nie:
Willemien het ’n skurwe skerpioen
wat sy op die bek wil soen! (8)
Scheepers gebruik voorts die Bakhtiniaanse suggestie van ’n bevrydende karnaval as ’n instrument tot oorskryding (Loubser 2005:32):
Mens en dier is aan die twist
die hande bo die kop
die musiek is lekker hard en wild
en niemand dink aan stop. (43)
Daar heers ’n holderstebolder joligheid en ’n totale oorgawe aan die ritme van Willemien se orkes, waar selfs die dominee die dansbaan betree met “die stoetbul as sy chick” (43).
Bakhtin ontwikkel die karnaval in ’n kragtige, kritiese ommekeer van alle amptelike woorde en hiërargieë. Die karnaval kan gesien word as ’n feestelike kritiek op beperkende reëls van die samelewing. Dit verteenwoordig ’n wêreld van feeste, komedie, dans en geleerde diere. Karnaval word dus ’n deurmekaar wêreld van oordaad en vergrype (Loubser 2005:32).
Dieselfde subversiewe humor kom ook voor in die gedeeltes waar Willemientjie en haar vriende die bose jagter tot ’n val bring:
Die jagter hoor alles, hy skrik hom lam
hy bollie in sy broek
hy weet nie wat het hom besiel nie
wat hét hy hier kom soek? (59)
Verdere verwysing na die laer dele van die liggaam/uitskeidingsorgane kom ook in die teks voor:
Erdvark stoot van onder
Ystervark skiet van bo
die nare jagter se boude
lyk nes ’n sosatie – goed so! (61)
Hierdie soort humoristiese taboeverbreking vind bowendien groot byval by kinders van albei geslagte.
Daar is ’n gevoel van sensualiteit in die verorbering van groot stukke vleis wanneer Willemien weier om as baba sagte kos te eet. Dit is iets bykans ongehoord in boeke vir jong kinders. Hierdie suggestie van die erotiese in die teks word deurgaans aangetref waar die protagonis aggressief beheer oor haar minderes neem. Sy ry op Boelie die hond en is volkome in beheer. Later in die teks ry sy op ’n leeu se rug en sy soen ’n skerpioen. Selfs Pegasus, die mitiese perd van die gode, sprei sy vlerke gewillig en gehoorsaam wanneer sy op sy rug klim. Op die rug van ’n gemsbok, met sy horings in die lug, hou Willemien hom ferm in toom, “al gaan dit soms maar rof” (52).
’n Interessante verskynsel in die boek is die suggestie van ’n oorskryding van sosiale aannames rondom manlike seksualiteit. Dit word, aanvullend tot die protagonis se rol as grensoorskrydend, gevind in die voorstelling van die karakter van Leeu. Leeu is naamlik heel inskiklik dat hy getooi word:
Leeu laat haar sy maanhaar vleg. (8)
Die leeu is tradisioneel binne die Afrika-konteks die simbool van krag, mag, dapperheid en leierskap en kan (soos binne ’n heteronormatiewe gemeenskap) as verteenwoordigend van die manlike geslagsidentiteit beskou word. Hier word Leeu egter aan die leser voorgehou as iemand wat bang is en agter ‘n klein dogtertjie skuil:
Knus agter Willemien sit Leeu
Hy vou hom in ’n bondeltjie op. (19)
In hierdie prenteboek word die leeu aangebied as heeltemal in voeling met wat die tradisionele gemeenskap as sy vroulike kant sou wou beskryf. Hy noem immers self dat hy sensitief en “mooi” is, waar die woord mooi selde gebruik word as beskrywend van ’n manlike karakter. Die woord aantreklik sou waarskynlik meer “manlik” kon wees. Leeu se woorde is egter sonder skroom:
“Tiere sien … wie wil nou tiere sien?”
[...]
“ék is tog die mooiste kat
en uiters fynbesnaard.” (26)
Die uitbeelding van die leeukarakter kan dus beskou word as ’n soort ondermyning van dominante hegemoniese manlikheid. Hierdie vorm van manlikheid word deur Wickens (2011:159) beskryf as “the most honoured way of being a man” en dit vereis van alle mans om hulself in verhouding daartoe te posisioneer. Deur slim suggestie in hierdie teks oorskry Scheepers die magtige posisie van hegemoniese manlikheid en bied sy aan kinders ’n alternatiewe, transgressiewe karakter.
Soos reeds genoem, is Die avonture van Wilde Willemientjie in rymvorm geskryf. Dit is dus ’n liriese reaksie op die wêreld (Wolf, Coats, Enciso en Jenkins 2011:276). Die verse in die boek is humoristies en vermaaklik. Tog word ernstige kwessies soos stereotipering en die ondermyning van die bestaande orde van geslagsvooroordeel spelenderwys aangespreek. Die poëtiese tegnieke in die teks bied ’n verfrissende en uitdagende nuwe manier van kyk na dinge, in hierdie geval, die uitbeelding van vroulikheid en manlikheid in ’n prenteboek vir kinders. Die leser ontdek die krag van woorde en verbeelding.
Klankpatrone verleen aan die teks ’n sangerige gevoel. Dit word gevind in die ritmes wat ontwikkel uit die herhaling van sekere klanke, soos byvoorbeeld:
bly en kry
van en plan
kop en dop
tand en land
rond en grond.
Saam met die topografiese rangskikking van die sinne in digvorm, naamlik vier reëls in elke vers met ’n vrye rympatroon, lyk die teks so:
Dis jive en rap en blues
die skape blêr, die koeie moe
emmers kletter, deksels klater
daar’s ’n breakdance op die vloer. (42)
Hier is emotiewe kragte aan die werk in die rymelary en die sangerigheid van die teks, wat ’n ekstatiese gevoel verleen. ’n Droomagtige milieu word geskep waarbinne die protagonis toegelaat word om vry en wild te wees.
7. Oorskryding in illustrasie
Oelofsen daag eweneens gendergrense uit met sy verbeeldingryke illustrasies. In aanvulling tot en ondersteuning van die teks skep hy ’n magiese milieu waarbinne die hoofkarakter en haar vriende leef. Dit is ’n wêreld waar ontsnapping van grense nie net moontlik is nie, maar ’n gegewe. Willemien word uitgebeeld as ’n simbool van onafhanklike meisiewees. Sy verwerp nie haar vroulikheid nie, maar sy omarm dit as deel van haar eie identiteit as ’n onafhanklike menslike wese. Die illustrasies in die boek skep nie die idee van bespotlikheid, uitsonderlikheid of genderverwarring nie. Willemien is bloot ’n dapper, selfversekerde en aktiewe klein meisie. Die illustrasies wys dat sy meer as gelukkig is met wie sy is.
Aan die begin van die eerste verhaal word Willemien se besorgde ouers aan die leser bekendgestel. Hulle probeer nog hulle “wilde” kind in toom hou, maar later in die teks gee hulle oor. Hierdie oorgawe word geïllustreer deur die ma klein en wuiwend te skets (19). Sy gaan van nou af haar kind die vryheid gun om te wees wie sy wil wees en te doen wat sy moet doen. Die protagonis word dus toegelaat om as individu te ontwikkel. Alhoewel subtiel, is dit ’n belangrike boodskap wat deur illustrasie oorgedra word. Ten spyte van haar waaghalsige avonture bedags is Willemien so seker van haar ouers se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding dat sy saans kan terugkeer huis toe, tevrede met wat sy die dag vermag het, vir ’n nagrus veilig in haar bed.
Sy weet wat sy uit die lewe wil hê en word dan ook as sodanig in die illustrasies uitgebeeld. Die oorskryding van gendergrense word aangebied in die uitbeelding van ’n karaktertjie waarmee seuns en meisies sal kan vereenselwig. Willemientjie word voorgestel as ’n gelukkige kind, sy geniet haar gate uit, en saam met haar kan kinders al die wilde avonture beleef.
Willemien kan ’n “puur prinsessie” wees, “die liefste liefling in die land” (6).
In hierdie illustrasie (Figuur 1) stel Oelofsen die hoofkarakter as ’n oënskynlik lieftallige, sedige meisietjie voor. Die voorafgaande illustrasie reg langsaan op die vorige blad skets egter die teendeel wanneer Boelie en Willemien die huis op horings neem en behoorlik verwoesting saai.
Figuur 1. Willemien met die kat op haar skoot |
Sy kan egter ook baie dapper en waaghalsig wees en onverskrokke op die rug van ’n gemsbok ry (52).
Benewens die slang in haar hare, word die “wildheid” van die hoofkarakter in Figuur 2 beklemtoon deur die “hoed” wat sy dra. Tussen die blare op haar voorkop pryk twee dorings soos die horings van ’n dier. Sy word dus ’n gemsbok.
Figuur 2. Op die rug van ’n gemsbok |
Somtyds kan sy iemand toelaat om haar te help, al is sy heeltemal in staat daartoe om haarself te help. So (Fig. 3) laat sy haar oupa toe om haar van die trekker af te help en dit nadat sy reeds op haar eie die hele land omgeploeg, die koeie gemelk en die skape geskeer het (33).
Figuur 3. Oupa tel haar van die trekker af |
Aan die ander kant kan sy die gevaarlikste situasies en die moeilikste omstandighede op haar eentjie deurstaan (Fig. 4) en ongeskonde anderkant uitkom, soos wanneer sy haar vriende van die bose jagter red (57).
Figuur 4. Vreesloos in die visier van die jagter |
Willemien kan pragtige liedjies sing en strelende musiek maak (38).
In Figuur 5 word sy engelagtig voorgestel. Haar gesiggie spreek van soetsaligheid en daar is geen spore van haar kenmerkende “onheilige” rebelsheid nie.
Figuur 5. Willemien sing saam met haar orkes |
Sy kan egter ook gil en skreeu na hartelus en onsamehangende en barbaarse geluide maak (34).
Figuur 6. ’n Gillende Willemien |
In Figuur 6 word die leser uitgedaag deur ’n oorgrote voorstelling van ’n gillende, groteske Willemien. Haar oopgesperde mond, ontblote tande, tong en kleintongetjie, en die oorheersing van die kleur rooi in hierdie illustrasie beklemtoon die aggressie en uitbundigheid van die hoofkarakter. Onbeheers gil sy na hartelus. Telkens kry Oelofsen dit reg om die gemak waarmee Willemien kan beweeg van ’n soet, lieftallige dogtertjie na ’n wilde, woeste rooikopkind, uit te beeld. Humor en speelsheid bly immer die hoofbestanddele van hierdie energieke proses.
Willemien kan haar vriende in verwoede aanvalle lei (56), met haar doodsveragtend in die voorste linie.
Figuur 7. Die stormende vriende |
Tog kan sy ook ewe liefdevol op haar oupa se skoot sit, terwyl hy vir haar vertel sy is ’n “skattebol” en “regtig baie pragtig” (62).
Figuur 8. Liefies op Oupa se skoot |
Die hoofkarakter in Die avonture van Wilde Willemientjie is geensins ’n onbeduidende klein meisie nie. Sy is vernuftig, ambisieus en aksiehonger – glad nie ingehok deur die beperkinge wat die gemeenskap aan vroue stel nie.
Volgens Paul (1998:63) behoort die ondersoek na magstrukture in ’n boek ingelei te word deur die vraag: Wie is bo? Die antwoord is duidelik in al die illustrasies in hierdie prenteboek: Willemientjie. Die regverdiging vir hierdie aanname spreek uit die feit dat die klein protagonis altyd in beheer is. Sy is die karakter wat letterlik bo-op die rug van wilde diere uitgebeeld word, die een wat aan bome swaai, deur die lug vlieg, of die toerleier op een of ander reis is. Wanneer Willemien die rower takel, word sy uitgebeeld as ten volle oorheersend. Sy staan naamlik bo-op die kas, terwyl die rower onder lê (11). Hierdie illustrasie is ’n voorbeeld van direkte ondermyning van die patriargale orde van mans bo en vroue ondergeskik. Willemien demonstreer hier dat dit moontlik is vir meisies en vroue om posisionering om te keer en die gesagsposisie in te neem. Ook waar Willemien op die rug van die gemsbok reg in die visier van die bose jagter aanstorm, is sy hoër as die jagter (57). Sy bly immer die gesagsfiguur – die magtige een, ten volle in beheer.
Dieselfde oorskrydingstegniek wat in die teks gevind is met betrekking tot die karakter van Leeu, kom in illustrasies van Willemien se pa voor. Hy word telkens in die boek voorgehou as vertroetelend (13–4). Op een plek (13) dra hy ook ’n pienk hemp, wat ’n aanduiding van sy gemaklikheid met sy eie genderidentiteit kan wees.
Met die illustrasies van Sannetjie die muis wil dit met die eerste oogopslag na ’n stereotipering van ’n vroulike karakter lyk, maar by nadere ondersoek is hierdie karakter, alhoewel op die punte van haar tone en ewe vroulik gegrimeer en in ’n rok geklee, geensins tradisioneel nie. Sy is met elke avontuur dadelik by, leef haar drome uit (byvoorbeeld om “gaatjies in ’n kaas te vreet” (22)) en is onverskrokke in haar voorstel om Olifant se dansmaat te wees. Met elkeen van hierdie karakteruitbeeldings gee Oelofsen aan die kind ’n alternatief tot bestaande opvattings met betrekking tot gender.
Op die vraag: Wie straf? is die antwoord weer: Willemientjie. Sy is die sterk protagonis wat die ondergang van die rower en die jagter bewerkstellig. Hierdie twee booswigte word uitoorlê en hulle straf word bedink en voltrek onder die leiding van die rooikopkind.
Die avonture van Wilde Willemientjie is ’n redelik groot boek (ongeveer A4-grootte). Dit laat die wederstrewige, energieke stories in die illustrasies gestalte vind. Hoe groter die formaat van die boek, hoe groter en meer treffend kan die illustrasies wees.
Die leser bevind hom/haar telkens in ’n onderstebo wêreld. Hierdie Bakhtiniaanse nosie van die grensoorskrydende karnavaleske werk in die illustrasies ook die bestaande orde teen. Willemien en die inbreker word met groteske gesigsuitdrukkings uitgebeeld. Oordaad en oordrywing is dus aan die orde van die dag. Soos te verwagte word Willemien in een illustrasie weer bo die inbreker geskets (10).
Wanneer Willemien die bose jagter takel, beland hy op die naat van sy rug, met sy boude wat by sy broek uitloer (58). Dieselfde jagter word uitgebeeld as vlugtend met boude wat steeds uitloer, terwyl Willemien en die gemsbok hulle neuse teen die stank van sy “bollie” toedruk (59). Op die ou end hardloop die nare jagter weg met ’n agterwêreld vol ystervarkpenne (61). Tipies Bakhtiniaans word die anale (boude) en liggaamlike uitskeiding (bollie) benoem en geïllustreer. Albei is verteenwoordigend van die onderste/laagste vlak van kulturele hiërargie (Loubser 2005:32).
Die karnavaleske kom ook ter sprake tydens die jolige dansfees, waar “mens en dier” hulle inhibisies oorboord gooi en ’n vrolike gefuif plaasvind. Die bul, waarskynlik verteenwoordigend van die erotiese (hy is immers die stoetbul), verdwerg die dominee (verteenwoordigend van dinge soos orde, rituele en stigtelikheid) en dans lustig voort, terwyl Cassandra (die operasangeres en verteenwoordiger van hoë kultuur) se emosies haar so oorweldig dat haar trane en haar neus daarvan loop (42–3).
Opvallend in hierdie prenteboek is die oorheersende plek wat ’n spesifieke kleur inneem. Die kleur rooi word herhaaldelik aangetref. Die idee word dus onmiddellik by die leser gewek dat hier ’n boek met ’n reeks voorstellings van intense emosies, optredes en reaksies verwag kan word. Willemien is ’n kind wat maklik uiting aan haar gevoelens gee. Sy kan gil en raas, verwoed op die rug van ’n wilde dier voortstorm en woedend op gebeure reageer. Deur haar binne ’n milieu te plaas waar rooi die oorheersende kleur is, bevestig die illustreerder die boodskap van die geskrewe teks, naamlik dat Willemien aktief, selfversekerd, uitdagend en dapper is.
Heelwat vertikale lyne in sketse skep voorts die gevoel van energie en drama (in voorstellings van byvoorbeeld gepunte horings, uitgestrekte ledemate en hoë hare). Hierdie voorstellings in illustrasies van skerp lyne skep voorts ’n gevoel van angstigheid en dreigende gevaar. Die gepunte horings van die diere en die skerp ystervarkpenne waarsku byvoorbeeld dat skelms en rowers hulle moses sal teëkom.
In Die avonture van Wilde Willemientjie word die vroulike protagonis nie na waarde geskat op grond van haar afhanklikheid van manlike karakters nie. Sy word uitgebeeld as die avonturier, die ontdekker en die een in beheer van sake. Deur middel van “ontploffende”, beweeglike illustrasies (Wybenga en Snyman 2005:63) word Willemien aan die leser voorgehou as ’n meisie wat haar kan uitleef buite die beskermde omgewing van die huis en na haarself kan omsien deur intelligente keuses te maak.
8. Die teks-illustrasie-verhouding
Wanneer die teks en illustrasies in ’n prenteboek bestudeer is, kan die verhouding tussen die twee strukture ondersoek word. Daar kan gesoek word na die maniere waarop woord en beeld mekaar aanvul. Woorde dra grootliks temporale inligting oor, terwyl beelde/illustrasies ruimtelike inligting verskaf. Die narratiewe vloei van die storie dwing die leser om voort te lees, terwyl die illustrasies die verleiding bring om te stop en te kyk. Weens hierdie onderlinge spanning tussen teks en illustrasie is dit nodig om ’n prenteboek oor en oor te lees. Daar is soveel moontlike interpretasies wat binne die teks-illustrasie-verhouding bestaan dat ’n prenteboek selde ’n enkele storie vertel (Sipe 1998:99).
In Die avonture van Wilde Willemientjie vind die leser ’n meesterlike, meesleurende wisselwerking tussen rymende teks en sprekende tekeninge. Die taal waarmee die verhale in hierdie prenteboek poëties vertel word, is ’n digte sisteem van tekens, wat visuele verteenwoordiging insluit. Dit is ’n kombinasie van literêre en visuele kuns.
Volgens Sipe (2011:238) is prenteboeke ’n versmelting van woorde en illustrasies en “[t]he two dance together, in what Maurice Sendak once famously called the ‘seamless’ style of these two modes of expression.” Vir hom is dit ’n kombinasie van kuns en taal wat die estetiese objek lewer.
Prenteboeke is dus ’n visuele formaat van korresponderende woorde en beelde, waar woord en illustrasie ewe belangrik is en in ’n komplekse verhouding tot mekaar staan. Hierdie verhouding behels ’n samewerking en saambestaan (Sipe 2011:238 noem dit “synergy”) tussen woord en beeld om iets nuwer en groter te skep. Die ingewikkelde dans tussen woorde en visuele beelde lewer ’n besonderse bydrae tot die genre van kinderliteratuur, en van hierdie sinergie is Die avonture van Wilde Willemientjie ‘n sprekende voorbeeld binne die Afrikaanse prenteboek-genre.
’n Voorbeeld van waar teks en illustrasie mekaar aanvul, is die vriende se besoek aan Egipte (20). Die teks vertel van die piramides, van die Sfinks en Willemien wat haarself soos ’n mummie vermom. Die illustrasies gee verdere inligting, naamlik dat Pegasus bo-op ’n piramide gaan land en dat Olifant ’n arme kameel katswink sit met sy logge lyf. Sekere besonderhede word deur teks en illustrasie verswyg. ’n Toeris skrik naamlik so groot vir die “mummie” dat hy omval en “stokstyf” bly lê. Net die skoene/voete van die toeris is in die illustrasie sigbaar. Wie hy is en hoe hy lyk, en of hy dood is, word aan die leser se verbeelding oorgelaat.
Tydens ’n besoek van Willemien en haar vriende aan ’n Eskimo se huis maak die leser kennis met ’n baba wat aan ’n mammoet-been kou. Wat die teks egter verswyg, is dat die sensitiewe Leeu angstig agter die enorme been skuil, skoon bang dat die gulsige klein mensie hom ook as iets te ete eien (29).
Aanvullend tot die bedreiging wat die teks vir die bose jagter uitspel, vind die leser die werklikheid van die naderende vlymskerp horings van die diere in die illustrasies op dieselfde blad (60).
Teks en illustrasie bestaan dus in perfekte harmonie saam. Soms komplementeer die teks die illustrasie deur te voorspel wat gaan gebeur. Teks en illustrasie kan egter ook voortdurend beurte maak in die vertelproses. Die gesamentlike effek van die twee is in hiérdie prenteboek uiters treffend. Sonder die illustrasies sou die teks onvolledig wees en omgekeerd.
9. Slotbeskouing
Die vraag kan ontstaan of seksisme in prenteboeke regtig saakmaak. Hamilton e.a. (2006:757) meen dat dit bloot logies is om te aanvaar dat gendervooroordeel in boeke ’n reële kwessie is en dat stereotipering van geslagsrolle en die onderverteenwoordiging van vroulike karakters negatief op kinders se ontwikkeling sal inwerk.
Afrikaanse kinderboeke is geredelik in Suid-Afrika beskikbaar. Alhoewel nie alle ouers miskien met dieselfde mate van entoesiasme boeke aankoop nie, maak kinders tog vroeg reeds met storieboekkarakters kennis. Prenteboeke kan dus beskou word as ’n toeganklike kulturele bron waardeur kinders sin kan maak van geslagsrolle. Dit bied geleenthede vir bekendstelling aan opvattings en beskouinge wat moontlik van hulle s’n verskil en gender is waarskynlik die mees basiese dimensie waarin kinders hulle sosiale omgewing kan waarneem en waarbinne hulle kan besluit waar hul inpas. Kinders se idees oor geslagtelikheid beïnvloed die wyse waarop hulle met mekaar omgaan en ook hoe hulle hulself beskou. Die prenteboek waaraan die kind blootgestel word, kan ’n eerste bekendstelling wees aan idees en maniere waardeur kulturele norme aangespreek word. By die keuse van ’n boek behoort ouers en onderwysers spesifiek te let op goedgeskrewe boeke waarin individue as duidelike, goedgeronde karakters met definitiewe persoonlikhede uitgebeeld word. Dit is belangrik dat karakters gemeet word aan hulle prestasies en nie op grond van geslag beoordeel word nie. Meisies behoort nie alewig uitgebeeld te word as die swak en brose vat nie (Tsao 2008:113).
Met Die avonture van Wilde Willemientjie is dit duidelik dat Scheepers en Oelofsen sensitiwiteit ten opsigte van die veranderende rol van die vrou en meisie in die samelewing toon. Alles word geesdriftig in die stryd gewerp om genderstereotipering onbeskaamd uit te daag. Elke moontlike metode word aangewend. Daar is ritmes, rym, humoristiese illustrasies, humoristiese taalgebruik, spanning en drama in die boek. Dit is alles elemente wat kinders sal boei.
Die avonture van Wilde Willemientjie laat grense vervaag. Daar is ’n duidelike wegbeweeg van genderstereotipering. Die voorstelling van geslag blyk ondergeskik aan die verhaal/illustrasies te wees. Genderkonstruksie word omvergewerp deur die beklemtoning in hierdie prenteboek dat vroulike protagoniste ’n vryheid van keuse kan hê, van waarde kan wees sonder dat fisiese voorkoms tel, en bemagtig kan word ongeag geslag.
Met hierdie werk bied Scheepers en Oelofsen se robuuste humor aan jong lesers belangrike toegang tot ’n alternatiewe diskoers om dominante ideologieë van geslagsvooroordeel uit te daag.
Bibliografie
Baker, D.F. 2006. What we found on our journey through fantasy land. Children’s Literature in Education, 37:237–51.
Babbie, E. 2007. The practice of social research. Belmont: Thomson Wadsworth.
Cilliers, I. (red.). 1988. Towards understanding children’s literature for Southern Africa / Op weg na begrip: Kinderliteratuur vir Suider-Afrika. Kaapstad: Maskew Miller Longman.
Clapp-Intyre, A. 2007. Battle on the gender homefront: Depictions of the American Civil War in contemporary young-adult literature. Children’s Literature in Education, 38:153–61.
Gooden, A.M. en M.A. Gooden. 2001. Gender representation in notable children’s picture books: 1995–1999. Sex Roles: A Journal of Research, 45(1/2):89–98.
Goodwin, P. (red.). 2008. Understanding children’s books: A guide for educational professionals. Los Angeles: Sage.
Grenby, M.O. en A. Immel (reds.). 2009. The Cambridge companion to children’s literature. Cambridge: Cambridge University Press.
Grobler, H. 1988. Me Tarzan – you Jane: Sex stereotyping in children’s books. In Cilliers (red.) 1988.
Hamilton, M., D. Anderson, M. Broaddus en K. Young. 2006. Gender stereotyping and under-representation of female characters in 200 popular children’s picture books: A twenty-first century update. Sex Roles, 55:757–65.
Hunt, P. 2005. Understanding children’s literature. New York: Routledge.
Jackson, S. en S. Gee. 2005. “Look Janet”, “No you look John”: Constructions of gender in early school reader illustrations across 50 years. Gender and Education, 17(2):115–128.
LaDow, S. 1976. A content-analysis of selected picture books examining the portrayal of sex-roles and representation of males and females. East Lansin: National Centre for Research on Teacher Learning.
Loubser, H. 2005. Erotiek, geweld en die dood in ’n gelyke kans van Jeanne Goosen. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Nikolajeva, M. en C. Scott. 2006. How picturebooks work. New York: Routledge.
Nieman, M.M. en A.J. Hugo. 2004. Vrouekarakters in bekroonde Afrikaanse jeugboeke: ’n opdatering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 44(1):1-14.
Nodleman, P. 1988. Words about pictures: The narrative art of children’s picture books. Georgia: University of Georgia Press.
Opperman, D.J. 1959. Klein verseboek. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Oulton, C.W. de L. 2010. Child sacrifice and crisis of gender in Mary Cholmondeley’s major fiction. English Literature in Transition, 35(2):204–18.
Parsons, L.T. 2004. Ella evolving: Cinderella stories and the construction of gender-appropriate behavior. Children’s Literature in Education, 35(2):135–54.
Paul, L. 1998. Reading otherways. Woodchester Stroud: Thimble Press.
Scheepers, R. 2006. Die avonture van Wilde Willemientjie. Geïllustreer deur Vian Oelofsen. Kaapstad: Tafelberg.
Seelinger Trites, R. 1997. Feminist subversions in Children’s Literature. American Book Review, 19(1):4, 8.
Simons, J. 2009. Gender roles in children’s fiction. In Grenby en Immel (reds.) 2009.
Sipe, L.R. 1998. How picture books work: A semiotically framed theory of text picture relationsips. Children’s Literature in Education, 29(2):97-108.
—. 2011. The art of the picturebook. In Wolf e.a. 2011.
Tsao, Y. 2008. Gender issues in young children’s literature. Reading Improvement, 45(3):108–114.
Wannamaker, A. 2009. Boys in children’s literature and popular culture: Masculinity, abjection, and the fictional child. New York: Routledge.
Wickens, C.M. 2011. Codes, silences and homophobia: Challenging normative assumptions about gender and sexuality in contemporary LGBTQ young adult literature. Children’s Literature in Education, 42:148-64.
Williams, J.A., M.C. Williams, J. Vernon en K. Malecha. 1987. Sex role socialization in picture books: An update. Nebraska: Departement Sosiologie, Nebraska Universiteit.
Wybenga, G. en M. Snyman. 2004. Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ’n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Pretoria: LAPA.
Wolf, A., K. Coats, P. Enciso, en C.A. Jenkins. 2011. Handbook of research on children’s and young adult literature. New York: Routledge.