
Foto van Allison Matroos: verskaf
Die USAN-kongres vir jong navorsers het vanaf 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Allison Matroos praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.
Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?
Ek is Allison Matroos, ’n nagraadse student aan die Universiteit Stellenbosch in die Departement Afrikaans en Nederlands. My navorsing gaan oor die gebruik van gedigte in die taalverwerwingsklas om die taalaanleerproses vir taalaanleerders te vergemaklik.
Wat het jou geïnspireer om hierdie navorsing te doen?
My ervaring as vreemdetaalstudent in die Department Moderne Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het Duits as vreemde taal aangeleer en in dié klas het ons gedigte behandel. My Duitse woordeskat en begrip van die Duitse taal het aansienlik verbeter. My leefwêreld en taalbegrip is deur middel van gedigte verryk en ek wou aan ander die geleentheid bied wat ek gehad het.
Hoekom navorsing in Afrikaans doen?
Daar is nog nie navorsing oor gedigte-onderrig in Afrikaans onderneem nie en taalaanleerders het ’n negatiewe ingesteldheid teenoor die gebruik van gedigte in die klaskamer gehad.
Is daar werk en toekomsmoontlikhede in ’n Afrikaanse omgewing?
Daar is etlike werk- en toekomsmoontlikhede in Afrikaans. Indien jy belangstel, doen deeglike navorsing en daar sal iets opduik wat jy wil doen.
Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy ’n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?
Definitief.
Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?
Afrikaans behoort aan enigiemand wat dit praat.
Lees ook:
Het Afrikaanse liedjies hierdie studente gehelp om Afrikaans beter te kon uitspreek?