USAN-kongres 2024: ’n oorsig

  • 0

Foto van Natasha Harmse: verskaf

Die USAN-kongres vir jong navorsers het vanaf 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Natasha Harmse, een van die navorsers wat ook die kongres bygewoon het, deel haar oorsig van die geleentheid met LitNet.

Vanjaar is die 10de bestaansjaar van die USAN-kongres vir jong navorsers. Die kongres het vanjaar van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Behalwe dat ek self ’n deelnemer was, het ek met groot belangstelling geluister na die wye verskeidenheid referate en lesings wat aangebied is. Daar was ook twee plakkate waaroor ’n mens die betrokke navorsers kon uitvra. Vir diegene wat dit nie self kon meemaak nie of wat nuuskierig is oor die onderwerpe wat aangebied is, gee ek ’n bondige terugblik oor die pas afgelope verrigtinge.

Op Woensdagoggend kom jong navorsers van heinde en ver bymekaar, sommige van so ver as Namibië, ander van Pretoria, Gqeberha, Kaapstad en Stellenbosch. Omdat daar so ver gereis is, word die bottel op die boeg gebreek met die motiverende verwelkomingswoorde van Vasti Roodt, visedekaan van onderrig en leer in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en Amanda Marais, voorsitter van die gasheerdepartement Afrikaans en Nederlands aan die US. Daarna luister ons na Elbie Adendorff wat in haar hoofreferaat ’n oorsig gee oor die navorsingslandskap van Afrikaanse taalverwerwing (of Afrikaanse taalaanleer, soos dit onlangs herdoop is). Dit is veral waardevol vir navorsers wat aan die begin van hulle loopbaan is om te hoor van die beproewings en oorwinnings van ’n ervare navorser soos sy.

Die res van dié dag hou twee sessies in met ’n keuse van 10 referate – nog nooit het ek meer gewens dat ek myself in twee kan deel om sodoende álles te hoor nie! My voorliefde vir die letterkunde het my keuses effens beïnvloed, maar soms was ek net té nuuskierig oor die onderwerpe binne die taalkunde en taalaanleer dat ek nie die versoeking kon weerstaan om oor te loop na die ander kant toe nie. Anke van der Merwe doen ’n tematiese ondersoek na die voorkoms van laatwerk by Breyten Breytenbach – sy het verwys na die frekwensie van sekere woorde of frases in verskillende fases van Breytenbach se oeuvre en ek sou nooit kon geraai het dat “pampoen” meeding in frekwensie met “nag” of “dood” nie! Nicolette Harmse Steyn verken en vergelyk houdings en persepsies rakende Afrikaans in die Khomasstreek van Namibië ná drie dekades van onafhanklikheid, en Merlyn van der Rheede praat oor haar ondersoek na die taalverskuiwing weg van Afrikaans in stedelike bruin middelklasgemeenskappe.

Die eerste dag sluit af met die tweede sessie: Elodi Troskie deel haar navorsing oor Dominique Botha se Donkerberg (2021) wat gelees word as ’n begeleidingsbundel vir Valsrivier (2013) deur die lens van plek-trauma-verbintenisse; Alana Lourens praat oor omstrede kwessies en politieke korrektheid in Afrikaanse jeugliteratuur met spesifieke fokus op Zelda Bezuidenhout se jeugboeke, en Jané de Wet ondersoek die verskynsel van kultusliteratuur in Afrikaans. In parallel met dié drie lewer Andréa Müller haar referaat oor die beeldvorming van Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Lynthia Julius en Ryan Pedro; ook Símone Strümpher werk met beeldvorming en bemarking betreffende Danie du Toit se digkuns; en Allison Matroos praat oor die gebruik van gedigte vir tweedetaalstudente op universiteitsvlak aan die hand van die taakgebaseerde benadering.

...

Veral insiggewend is Dalene se onderskeid tussen die gebruik van KI as ’n werktuig of ’n stuk gereedskap en nie ’n bron nie.

...

Op die tweede dag van die kongres meld ons vroeg aan vir Dalene Joubert se lesing getiteld “My navorsing en KI(e)” waarin sy ons bekend maak met verskeie KI-werktuie en die maniere waarop dit tot jou navorsingsproses kan bydra. Veral insiggewend is Dalene se onderskeid tussen die gebruik van KI as ’n werktuig of ’n stuk gereedskap en nie ’n bron nie. Deel van haar lesing is ’n praktiese verkenning van die verskeie KI-werktuie wat daarop gemik is om ’n mens se navorsing te help struktureer en organiseer, altyd met die doel om jou proses te vergemaklik of om tyd te bespaar, maar nooit om inligting of insigte van die werktuie te vra nie. Verskoon my simplistiese metafoor, maar vir my is dit vergelykbaar met ’n skrynwerker se verhouding met ’n hamer: Sy sal nie die hamer vra om die kas te bou nie; die hamer kan bloot help om die spykers op die regte plekke in te kap.

Daarna volg ’n propvol program vir die dag wat ’n keuse bied tussen 14 referate in drie parallelle sessies. Aangesien ek bondigheid belowe het, gee ek slegs elkeen se onderwerp hier weer: Jaydey Sass praat oor hoe om vreemdetaalsprekers te help met hulle uitspraak; Asambese Mkumatela ondersoek die gebruik van vertaalmetodes deur Afrikaanstaalaanleerstudente; en Carla Lindt bespreek Kaaps in opstelle. In die parallelle sessie praat Selwyn Milborrow oor aspekte van kwesbaarheid in die poësie van Vincent Oliphant; Joanna Gouws doen ’n resepsiestudie van die vertoning van Tom Lanoye se drama Bloed en rozen: het lied van Jeanne en Gilles (2011); en Annika (Mouton) van der Linde praat oor ’n kwantumteoretiese benadering tot die poëtiese bewussyn in die metagedig “Kû” deur Breyten Breytenbach.

Ná etenstyd is dit Kanja van der Merwe en Maret Blom de Wet se beurte om te praat oor onderskeidelik die nut van taalaanleerstrategieë vir prosesgerigte tolkopleiding en die akademiese redigeerder as akteur binne die netwerk van akademiese redigering aan Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings. In die lokaal langsaan praat Samantha Miller en Jana Klingenberg oor die evolusie en revolusie van die tydskrif Ons Klyntji: ’n stem vir ’n postapartheid identiteit; en Aletta Simpson bespreek wit broosheid en witheid in Azille Coetzee se In my vel (2019). Ons kry die welkome kafeïen en happies in vóór die laaste sessie waarin Carolyn Meads kyk na ideologiese invloed op die Afrikaanse hervertaling van Wilbur Smith se The sound of thunder; Danie Stander bespreek die opdiep van vrouebewussyn in Reza de Wet se On the lake; Marthie de Waal ondersoek die gebruik van voorsienbaarhede en gemengde leer in Afrikaanstaalaanleer vir dowe taalaanleerders; en Kruger Uys praat oor ’n edusemiotiese benadering tot multimodale poësieonderrig vir Afrikaans.

Met pizza in die een hand en ’n glas wyn in die ander luister ons by die skemerkelkie na voorlesings deur digters wie se werk al in die Penseel-studentebundel verskyn het, sowel as gedigte deur ons medekongresganger Selwyn Milborrow. Dié wat dalk ’n bietjie té lekker geskemerkelkie het, het miskien gesukkel met die vroeg opstaan vir die laaste dag van die kongres, wat afskop met ’n paneelbespreking oor kreatiewe skryfkunde. Danie Marais het die bespreking gelei tussen Antjie Krog, Willem Anker, Alfred Schaffer (almal werksaam as dosente in kreatiewe skryfkunde), SJ Naudé (wat die graad in kreatiewe skryfkunde voltooi het onder leiding van Marlene van Niekerk) en my, wat tans ’n student in dié rigting is. Die gesprek draai by vrae soos: Is die graad in skeppende skryfkunde ’n piramideskema, ’n handleiding oor hoe om jou vrou of man te vry (soos Phillip Larkin van mening is), ’n literêre rubberstempel of ’n kwantumsprong na uitnemendheid en publikasie?

Die kongres begin stadigaan tot sy einde kom, maar nie voordat ons luister na ’n lesing van Ted Sanders van die Universiteit Utrecht in Nederland oor “begrijplike” of gewone taal nie. In die sesde en laaste sessie sluit Annie Burger aan by Sanders se lesing met haar referaat oor gewone taal binne ’n revisieraamwerk. Susann Louw deel met ons haar ondersoek van genderkonstruksies in Afrikaanse tydskrifte; en laaste maar nie die minste nie: Lerie Tredoux praat oor die agentskap van ’n vertaler in ’n produksienetwerk, waarna die kongres amptelik afgesluit word.

...
In die geheel was dit ’n intens intellektueel stimulerende drie dae waartydens die roes van ’n lang Desembervakansie behoorlik afgeskud is.
...

In die geheel was dit ’n intens intellektueel stimulerende drie dae waartydens die roes van ’n lang Desembervakansie behoorlik afgeskud is. Navorsing is aangebied wat strek oor ’n wye verskeidenheid van rigtings en onderwerpe en daar is selfs in sommige gevalle gebiede geïdentifiseer waarin samewerking tussen navorsers in uiteenlopende velde in die toekoms sou kon geskied. USAN is ’n veilige ruimte vir jong navorsers om hulle navorsing met eweknieë te deel en om samewerking te bemoedig, maar die kongres word ook deur ervare navorsers en dosente bygewoon wat tydens die vraag- en-antwoord-sessies goeie raad gee en rigtinggewende vrae stel. Dikwels het dié sessies ontwikkel tot volskaalse besprekings rondom die betrokke onderwerpe – iets wat veral waardevol is vir jong navorsers, omdat hulle dan die kans kry om hulle eie werk vanuit nuwe perspektiewe te beskou, en dit dra uiteindelik by tot die gehalte en kompleksiteit van hulle werk.

Na afloop van die kongres is daar ook ’n geleentheid vir publikasie in ’n akademiese joernaal – miskien sommige deelnemers se eerste publikasie en ’n teken van USAN se wesenlike bydrae tot die navorsingslandskap in Afrikaans.

Ten slotte verdien die organiseerders, Annie Burger en Maryna Adshade, ’n pluimpie vir die besonder vaardige manier waarop hulle hiérdie skip gebou, geskipper en weer veilig in die hawe gemeer het.

Tot volgende keer!

Lees ook:

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Anke van der Merwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top