USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Anke van der Merwe

  • 1

Foto van Anke van der Merwe: verskaf

Die USAN-kongres vir jong navorsers het vanaf 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Anke van der Merwe praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.

Anke, wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?

Ek is ’n finale-jaar-PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch, by die Departement Afrikaans en Nederlands. Die ikoniese Breyten Breytenbach se Afrikaanse poësie en laatwerk, en korpuslinguistiek, is die fokuspunte van my navorsing. Ek gebruik dus ’n rekenaarprogram (LancsBox) om literatuur te ontleed - dit beteken dat daar lekker statistiek betrokke is!

............
Breytenbach het al 60 jaar gelede begin publiseer en dit is hoekom dit gepas is dat ek die laatwerkteorie met betrekking tot sy poësie ondersoek. Laatwerk het te doen met hoe die kreatiewe loopbaan van kunstenaars verander soos wat hulle ouer word. My doel is om uit te vind of daar ’n verskuiwing na laatwerk is binne Breytenbach se Afrikaanse poësie. Ek gebruik drie parameters in my ondersoek: styl, tematiek en identiteit.
...........

Breytenbach het al 60 jaar gelede begin publiseer en dit is hoekom dit gepas is dat ek die laatwerkteorie met betrekking tot sy poësie ondersoek. Laatwerk het te doen met hoe die kreatiewe loopbaan van kunstenaars verander soos wat hulle ouer word. My doel is om uit te vind of daar ’n verskuiwing na laatwerk is binne Breytenbach se Afrikaanse poësie. Ek gebruik drie parameters in my ondersoek: styl, tematiek en identiteit.

Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?

My studieleier, Amanda Marais, is ’n kenner op die gebied van laatwerk. Sy het die teorie destyds voorgestel en ook die gebruik van korpusse. Daar is nie baie korpuskenners in Suid-Afrika nie en dit was dus die ideale geleentheid vir my om hierdie veld binne my PhD-studie te ontdek. Ons het eers aan ander Afrikaanse skrywers gedink, spesifiek prosaskrywers, maar my hart het nog altyd by poësie gelê. Ek het toe gevra of Breytenbach nie sou kon werk nie en toe het ons saam begin opgewonde raak toe ons sien dat dit wel perfék sou werk!

Daar is nie ’n tekort aan navorsing oor Breytenbach se werk nie, maar niemand het dit nog op die skaal gedoen waarop ek dit doen nie. Ek kyk na sy hele Afrikaanse poësie-oeuvre en nie net slegs na ’n bundel of twee nie.

Hoekom navorsing in Afrikaans doen?

My ma is ’n leksikograaf en ook ’n professor, so ek het in ’n huis grootgeword waar daar ’n liefde en respek vir Afrikaans gekweek is. Ek sal altyd trots wees op Afrikaans en wil nooit ophou leer in (en van) die taal nie. Ek het my MA by die Departement Algemene Taalwetenskap voltooi en was gelukkig om in Afrikaans te kon skryf. Ongelukkig was daar nie die moontlikheid om my PhD daar in Afrikaans te kon voltooi nie. Ek het baie sterk daaroor gevoel om my PhD in Afrikaans te skryf, dié dat ek toe by Amanda Marais by Afrikaans en Nederlands gaan aanklop het. Daar is nog so baie navorsingsmoontlikhede in Afrikaans en ons moet dit nooit vergeet nie. Deur my nagraadse studies in Afrikaans te skryf, beskou ek dit as my manier om vir die taal te veg.

Is daar werk en toekomsmoontlikhede in 'n Afrikaanse omgewing?

Daar is beslis nog baie moontlikhede. Elke generasie pak die voortbestaan van Afrikaans op ’n ander manier aan en ek glo dat ons nie moet moed opgee nie. Selfs net deur die werk in die akademie skep ons vir onsself moontlikhede en versterk die Afrikaanse omgewing.

Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy 'n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?

Ja, beslis. Ons het almal sulke uiteenlopende onderwerpe gehad, en dit was vreeslik interessant (en indrukwekkend) om almal se belangstellings en bevindinge te kon sien.

Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?

Ek dink dat die taal aan enige persoon behoort wat Afrikaans as hul taal beskou. Ons mag verskillende maniere hê van omgaan met dieselfde taal, solank daar ’n liefde vir die taal is, maak nie saak in watter vorm nie. Elke persoon moet die reg hê om Afrikaans as deel van hul identiteit te kan beskou.

............
Ek dink dat die taal aan enige persoon behoort wat Afrikaans as hul taal beskou. Ons mag verskillende maniere hê van omgaan met dieselfde taal, solank daar ’n liefde vir die taal is, maak nie saak in watter vorm nie. Elke persoon moet die reg hê om Afrikaans as deel van hul identiteit te kan beskou.
.............

Wat het jou opgeval van die ander referate by die kongres?

As ek nou terugdink aan almal se referate, dan is ek hoopvol vir die toekoms van Afrikaans. Almal se referate het op hul eie manier gewys dat hulle sterk voel oor Afrikaans, al was dit nie noodwendig sosiale of politieke kommentaar nie. Net die feit dat almal so passievol en sterk voel oor hul onderwerpe, is regtig inspirerend. Dit gee my ook motivering om my PhD op ’n hoë noot af te sluit. Daar was sulke uiteenlopende temas dat dit wys dat daar nog baie in die Afrikaanse akademiese omgewing kan gebeur.

Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?

Vanjaar was my eerste USAN en eerste kongres waar ek ’n referaat gelewer het. As ’n 26-jarige het ek al vergeet hoe dit is om voor ’n gehoor te praat, maar die senuwees was heeltemal verniet! Ek beskou nie myself as ’n ekstrovert met ’n lang asem nie, maar het die geselsies met nuwe en ou vriende vreeslik geniet en waardeer. Almal se komplimente oor my navorsing is ook ’n groot hupstoot! Die kongres was uitstekend georganiseer. Dit was regtig wonderlik om na almal se referate te luister en om die uiteenlopende navorsing te sien wat aan die gebeur is. Ek sien daarna uit om my medekongresgangers se navorsingsreise te volg.

Lees ook:

USAN-kongres 2024: ’n oorsig

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Nicolette Steyn

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Natasha Harmse

Breyten Breytenbach (1939–)

In die fragmentarium 6

In die fragmentarium 5

In die fragmentarium 4

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top