«I have hardly anything in common with myself and should stand very quietly in a corner, content that I can breathe.»
– Franz Kafka
Jy verwerdig jou om in Khalil Gibran (Libanon 1883–1931) se Die waansinnige, 1918 gepubliseer, te gaan haal wat jy soek: «... jy is nie by magte om na my my naggesange te luister of na my vlerke te kyk wanneer hulle sterre toe vlieg nie; en ek sal nie toelaat dat jy daarna luister of kyk nie. Ek wil alleen wees met my nag ... Tog, soos alles wat lewe het my verdriet gesterf en ek het agtergebly om te verteer en te mediteer ... En in my waansin het ek beide my vryheid en my veiligheid kon herwin – die vryheid om alleen te wees en die veiligheid om nie verstaan te word nie. Want hulle wat ons begryp maak ons op ’n manier ook onderdanig.»
***
die hand se oggendbewegings
wanneer jy soggens wakker word
op die rug
soos ’n lyk
asof uit ’n ryk gloeiende tuin
is jou arms op skouerhoogte gevou
met die hande twee verlepte blomme
leeg teen die bors geklou
uit water ruimte van vlug
het jy gestort?
of het die lyk te swaar
soos ’n droom van verlore vryheid
teen die hart gekoester
uit jou hand geglip
oor hierdie grens van lig?
***
skemertyd
’n innige dankbuiging voor Dolf van Niekerk, en die herinnering aan Chris Barnard
en nou om te slaap
te slaap te slaap in slaap
in te slaap verplaas na ruimtes
van sterwe en weer te lewe
wanneer vriende se beurtsang
in die riete langs die oewer bewend
opklink en op reis te gaan na die liefde
oplaas helder genoeg uit slaap ontslaap
vir die vleg van woorde sterk genoeg
om die droom se lyk
aan op te hang as swaaihart
bo die vlug-weerspieëlde lykedroom
van stilte in beweging onder die grond :
van stilte se opvang in die mond
beurtsang
Wat is mistiek? Is dit dan nie die klein-klein alles van poësie nie?
Of die tot niet maak van die smaak van grond in die aarde?
Is dit Een-wording? Die Ek-statika? Die konfrontasie met
die Stil Een se vuur? En wat nou as jy nie deel had in die geloof
in ’n Onervaarbare Bo-natuurlike nie?
Tog, iets in die gesig van die ou digter – Dolf van Nie-kerk –
laat my skrik en weet dis goed om te kon wonder oor wat
nie sins- en sinne-uiting is nie. Iets maak dit helder duidelik
dat woorde die tyd se antwoord onhoorbaar maak.
17 Augustus 2022 – Can Ocells (met dank aan Lamé Ebersöhn en Johann Rossouw)
Slapenstyd
In die skemering net voor vroeglig het ons in aller yl gevlug voor die aankomende soekligte van die agtervolgers. Ek het my bes probeer om my oorblywende kamerade te red – glo my – en het hulle dalk op die verkeerde pad gelei. Onder in die vallei waar dit nog donker is en die weë skei het ek hulle in volle vaart pad-af in die struikgewasse voorgegaan. «Na die hoofstad! Na die hoofstad!» het ons onsself moed probeer inpraat.
Daar was ’n digte mis oor die see. Aan die kus in die voorportaal van die statige ou hotel wat seker gewoond was aan rustiger ritmes en die gemurmel van beskaafde gesprekke was daar nou die roesemoes van ’n horde skadufigure wat elkeen skuiling moet vind teen die onbeheerbare duisternis daar buite. Nou was dit die tyd van die Groot Donkerte en Chaos in die land en niemand het geweet waar herwaarts of derwaarts is nie. Die desperate postulante hier saamgedrom – elk met ’n laaste versoek of pleidooi of belofte soos neergeskryf op hierdie vel papier met die amptelike stempel, kyk! – was onder die indruk dat daar iewers in die hotel ’n hof van wyses moet wees om uitsonderlik en in individuele regverdiging iedere verdienstelike siel van ’n vrypas uit die hel of ’n exit permit te voorsien. Daar móét tog ’n owerheid wees, ’n instansie met gesag?
Ek was moeg, tot die dood toe moeg. Om nie vertrap te word deur die menigte asielsoekers nie, het ek my toevlug geneem tot ’n outydse leunstoel oorgetrek in groenerige fluweel, met ’n hoë regop rug. Daar was nou wel reeds ’n oumens in die leunstoel, diep aan die slaap, miskien klaar oorlede tussen twee wêrelde, maar dit maak nie saak nie. Daar moet tog plek wees vir twee!
Toe ek wakker skrik is ek half verblind deur die ontploffende flitse van joernaliste se kameras. Tot my ontsteltenis sien ek ek lê skuins byna bo-oor ’n bejaarde figuur in die leunstoel. Hy is geklee in ’n deftige alhoewel verkreukelde pak wat duidelik beter dae geken het, met die een of ander medalje aan ’n verbleikte lint gespeld oor die hart en ’n rooi knopie in die lapel se knoopsgat. Onwillekeurig moet ek dink dis om ’n lang lewe gewy aan iets of iemand soos die poësie te eer. Sy hare is wit en golwend weggekam van die voorhoof soos in die styl van destydse foto’s. Hy ruik na skryfkamer met perkamente weggebêre in laaie. Nou het hy eweneens ontwaak in die gretige attensies van die storiehonde. Miskien is hy meer gewoond aan die blootstelling as ek. Toe ek verward op my voete probeer kom om om verskoning te vra, keer hy my met ’n terughoudende hand op my mou. Die hand is slank en bleek met gesonde vingernaels soos dié van iets wat ’n boot moes wees vir gedigte om die niet in te vaar.
Maar ek herken hom mos. Dis sowaar as waaragter Aragon! Hy moet bewus wees van my verbystering en verleentheid, want hy glimlag meewarig – ons maak almal foute – of miskien is dit nog die nag-nasmaak van ’n soet droom met Elsa in die mond. Ou mense moet immers vergewe word wanneer hulle van die trilteken op die e vergeet.
«Om te dink ek is my hele lewe lank al op vlug voor die werkersparadys,» probeer ek myself verontskuldig teenoor dié nuusgierige joernaliste, «net om wakker te word in die arms van die kommunis!» Die verfrommelde ou digter met wie ek my droom gedeel het soos met ’n medereisiger in ’n groen leunstoel glimlag soet. Hy weet tog meer as wat ek ooit van sal kan droom om te weet.
My verklaring klink nie reg of eg nie. Ek poog weer, die stryd duur voort. «My ganse lewe was ’n strewe om geregtigheid en menswaardigheid vir die hefnots. Maar die ortodokse Partydonkies het my as ’n afvallige indringer beskou en my die struikgewasse ingejaag.» Dis tyd om weer wakker te word.
Kommentaar
Ek hoop van harte die hele "In die fragmentarium" word uiteindelik - met kunswerke, foto's en al - nog in boekvorm uitgegee. Durf ons hoop?
Ek twyfel sterk. Daar’s nie genoeg moord-en-dood(se)lag in nie. Dit pas by geen verwagting en voldoen aan geen begeerte nie. Dis te toiingrig. Fragmentaries. Volksvreemd. Ons het rigting nodig in die donkerwording! Laat ons bly wees, en dit sien as 'n uiting van goedwillige verdraagsaamheid, dat LitNet die verlore (en nogal verbasend selfvername) siel die ruimte vir sy stotteringe gegun het. Dis mos al klaar die ekstra myl! Moenie dat ons nou stry nie ...