In die fragmentarium 4

  • 0

BEGINSELF

swartkers
wil jy nou regtig hiér kom oorly ?

’n dag te vars vir verse
met lewe wat nog in die vingers bewe

beter om die laaste lag vol
vrese van allesverby af te wag

wanneer stilvrot verby alvergete in altydnag
die onverwoorde uitinge vergewe

« A poem is an invitation to a voyage. As in life, we travel to see fresh sights. »
(Charles Simic)

« I’m in the business of translating what cannot be translated: being and its silence. »
(ditto)

I have nothing
To pass on
But the mere fact
That Someone be there
With whom to share
The moon too bare
To stare at alone 
Makes the act
Worth the words

(Ka’afir)

(vir Daniël Hugo)
die vraag wat ’n mens vra
omdat jy reeds die antwoord ken

1.
oggende is heilig
wanneer die nag se dood
nog lewendig half ontwaak
in jou lê soos brood in die oond
byna reeds lig genoeg
om hier te wil rys
en die kors wat lewe is daar verwoord
te wil skrywe

oggende is heilig
wanneer niks oorspronklik
hoef te wees
om ook nog óóp tot die niet
van te gedroom het
op te staan
vir verdwyn in die verskiet
van alle moontlike hedes

en woorde nog onskuldig kaal twee-twee
salig onbewus van taal se sondes
hand aan hand na jou toe kom
om gestreel te word –
die oud-koue wat weer jonk is
die verslete en die vergete
die wit vergewe en die swart beskrewe –
sonder om die alwetende wete te wil belewe
waarin beweging se oppervlakmaak
ons nou godweet weer gaan begewe

2.
gedig ?
lê al ingebed
in hierdie moment
wanneer jy jou eerbiedig beroep
op die hand se skrywe
vir gebiedsvergunning
aan die gebed om die woord

(9 Maart 2023)

***

Oggende is heilig. Dis ’n ruskans vir stilte wanneer die wêreld nog oop-oor ontvanklik is. Niks vra nie, niks verwag nie. ’n Paar seevoëls kras hulle sommetjies baie hoog teen die donkerblou lei. Jy sit op die balkon met uitsig oor die berg en die son wat teen ’n invalshoek blindevlek speel met die ruite van die geboue. Moenie te groot woorde gebruik nie want die oggend is nog ongeskonde en heilig. Jy sit op die balkon asof dit ’n stoep is, met ’n eerste beker koffie en ’n moot beskuit hard soos ’n klinker. Die mooi maar moeilike dame in die blou rok agter die berg het dit gebak. Jy week dit. Waardeer die rosyne. Jy sit soos jou mense een-een al oor soveel geslagte heen gesit en wag het vir die dag om onhanteerbaar te word en jy sal jou vergeet in die verwagtinge en die vrese van hierdie land. Hierdie land is stukkend. Jy hoef jou nog nie te vereenselwig nie. Jy sê maar net, en sit dit dan opsy. Vir nou is daar nog geen “jy” wat die vraag kan stel nie. Kwalik ’n aanwesigheid. Synstevrede. Binnekort gaan skermswewers agter die heuwellyn begin uitdop en die son vang in hulle vlerke helderkleurig soos skoelappers. Is daar dan genoeg wind om hulle te dra, om aan vas te hou ? Wat was hier voordat hier mense was ? Het die uitsig bestaan toe niemand en niks daarvan geweet het nie ? Nou is die aaklige geboue daar om te wys ons kan gesamentlik alles tot niet maak omdat ons Urd nie begryp nie, die wêreld is nie ons woning nie, en ons kan nie met die onsekerheid oorlewe nie. Die mense – enkelinge, paartjies, ou een-een losieshuisverlooptes, is nog nie op in die woonruimtes van die woonstelblokke (ghrênd “courts” genoem) sommer vlak oorkant jou nie. Jy is al op die uitkyk vir die familie Afrikane oorkant (te skraal en te doenig om Nigerzaniërs te kan wees), die vrou is baie donker en het ’n bolla stip op die kop, daar is net af en toe saans ’n man wat stil aan tafel sit en drink, die dogters lyk almal soos die ma, dit is mense sonder ’n land maar miskien het hulle nog ’n eie taal van hulle komvandaan oorgehou saam met ’n paar verbleikte foto’s, selfs die kinders het nog nie bobbejaanspieëltjies om voor te pronk nie, hulle moet weet jy sien hulle sonder om te veel te wil kyk, dis onbetaamlik, hulle dink seker jy’s ’n ou voyeur, ’n mlungu wat sy rieme slap geloop het in Afrika. Hulle sal kamerjasse aanhê.

Op die balkonne van die afgryslike rooibaksteengebou regs is die versaakte weduwees nog nie besig om hulle potplante te vertroetel of ’n wasgoedjie uit te hang nie. Jy weet die krom en skewe leeflinge wat nie onthou hoekom hulle nog oorlewe net soos ook die kwetterende jong leegkoppe met die boudsels in swart kleefbroeke sal reeds al langs die see se soom loop of draf. Ook die eerste honde aan leirieme, hulle is so opgewonde wanneer hulle ’n medehond teëkom, verwurg hulself byna in die gretigheid om mekaar te beruik, daar is geen bossies om teen te pis nie. Bestaan daar nog ’n beroep soos dié van “koster” ? Vroeërjare, maar dan later in die oggend wanneer die son akkedisvriendelik is, het van die afgeleefdes teen ’n muur om een van die getyepoele gesit en wag vir Godot, die reuk van bamboes hang swaar in die lug. (“Blinkgesmeerde rykgatte naak vir naai elk met ’n siel wat hulle versmagting na die verkwanseling vir ’n stukkie piel blootlê,” het Ka’afir wrang opgemerk – maar hy sou nie weet van heilige oggende of ou mense wat nog Jiddisj met mekaar praat of ewe-oud Duitsers, “Oostenryks” of “Switsers” verkies hulle om voor te gee, wat geld gemaak het iewers in Afrika en hulle daarvan moet weerhou om nie instinktief die rug regop te trek en die hakke te klap nie. En dis net te maklik om snedige opmerkings te maak wanneer jy sonder verantwoordbaarheid ’n karakter uit die vervreemde skrywer se duim gesuig is.) Dit was toe Elsie nog te sien was, hoe sy in die nog skemerige heiligheid van elke onskuldige môre tandeloos, rondborstig en met vurige ywer regopstaande op die rotse na ’n mistige hemel gebid het, die hande pleitend na bo, o god, om tog verlos te mag word van die soet versoekinge van die ghantangvlees. Drank was nie die probleem nie.

een-saam
geen-saam
wat het die twee
gemeen
behalwe handgemeen
se voor die hand liggende
dat self omsons die maan
in die hand gaan neem
om die son te bevredig

Die nag is nog mét ons, die drome en die angste nog oopgerakel en nie te kwalifiseer of liasseer nie. Dis nog te vroeg vir seerkry. Ook al is die politici en bankiers en beleggings-charlatans reeds draf-draf besig om invloed na te jaag (wie is so vulgêr om van gjelt te praat ?) terwyl hulle hulself gesaghebbend oor ’n boeg babbel. Dis nog te vroeg om te weet hulle is gans en eend verlore, net soos jy, om klokhalsend te wag vir die choreografie van bevryding, vir die frenesie van vreet-en-vergeet, en indien dit ’n Sondag sou wees vir die lees van Sondagstront om agterna jou hande spreekwoordelik be-ink met die stank van sensasiebeluste geskinner in die hare te slaan. Hou die moorde en die welluidende woorde tog vér van my, o Here. Die aarde is diep en donker maar ons probeer dit nie weet nie. Dit sou te aanloklik wees. En nou daag die vroeë bouwerkers op – waar sou hulle vandaan kom ? – om met helms op die kop te begin hervat waar hulle herhaaldelik op moes hou toe alle krag taks soos ’n gesamentlike snik of sug versluk is. Op straat praat mense van lifeshedding. Jy weet nou al van die werkers word op ’n daaglikse basis in diens geneem, kom soek werk, moet elk ’n eie helmet hê en dalk ook eie gesteelde gereedskap. Die hyskraandrywer sit paraat in sy kajuit hoog bo die hemellyn. Hy kan aan die wolke raak. Die wolke is nie ons s’n nie. Dit word bedonner deur kaders van die Partystaat. Een van die bruin voormanne met die blou oë het jou vertel toe jy te nuuskierig was om nié te gaan uitvis nie – julle het selfs julle eie gedeelde hartstaal met mekaar kon praat sommer so sonder om dit agter te kom ten aanhoor van almal miskien was dit nog te vroeg in die oggend en miskien het julle gedink die land is nog nie wakker nie – dat die hyskraanmaan rats soos ’n aap teen die geel ystertoring op moet klim om by sy kajuit uit te kom, agt, nege, tien verdiepings hoog, en daar bo waar hy oor die wêreld troon wanneer die nood hoog is in ’n bottel pie om vanaand met die afklim die bottel piepie saam te bring. Coca-Cola. Drie verdiepings het hulle reeds staangemaak bo die hool in die aarde uitgeskopgraaf vir die warm stink beeste se parkeerplek, en nou nog vyf hoër. Dit gaan jou uitsig op die bloekombos teen die berghang, op jou daaglikse soeke na die kramats wat tog daar moet wees om hierdie verlore droom van ’n basterstad te beveilig, op die dakke van die geboue laer teen die helling en die onverwagse oases van bome – a, hoe oud en verknot is die bome nie, hoe ongetemd en vol lewende wysheid, die wysheiden sit in die takke, wat daar is omdat niemand dit raaksien nie ! – en die stadige bedrywighede van mense, die swerwers teen die steiltes en die singende stiltes … dit alles gaan jou ontneem word. Die geldvretende vrate en geldskytende vryemarkspekulante en eiendomsagente vryf hulle hande, die een hand was die ander van alle skuld. En huil snags wanneer niemand hulle hoor nie. Jy hoor hoe begin beweeg die maagde-koningin in haar oorvol hok hier benede in die gang van bediendekamers op grondvlak tussen die gebou met die balkon waar jy sit om die heiligheid van die oggend in te neem en die groter blok woonstelle wat vanaf die volgende straat bereik kan word. Haar naam moet Sjeba wees, sy is alewig aan die werskaf om haar woonruimte skoon te maak, die vloer te dweil, die denkbeeldige stof te hierkiepkiep, sy buk onhandig want daar is fout met haar regterbeen wat sy nie kan buig en ook nie op kan trap nie. Sy is kiaatbruin met ’n skerp neus en sy is tandeloos en wanneer sy met iemand in die gangetjie of in die kamer naas hare praat, sy praat maklik, haar stem is soet. Sy het die mees erotiese bos swart hare wat jy van kan droom byna altyd weggesteek onder ’n soort hoofbedekking van pienk plastiek. Maar Sondae is die hare los en uitgekam wanneer sy in die lieflikste tabberd met ’n blomme-motief Bybel onder die arm kerk toe hinkepink. Waar sou sy vandaan gekom het ? Uit watter bedolwe geskiedenis van slawehandel en ballingskap ? Jy is tot oor jou ore verdiep in haar en kan nie verhelp om haar doen en late gade te slaan agter die plankheining met die geëlektrifiseerde drade daarbo nie. Sy moet bewus wees van jou intense agierigheid, om méér van haar te wil weet om op haar af te gaan vir die opgaan in haar, maar sy wys dit nie. Net één keer toe jy inkopies moes gaan doen in ’n kettingwinkel was sy opeens daar tussen die waatlemoene en die kunsmelk en die rakke opwasmiddels. Sy het jou vasgenael met haar intense, gitswart oë. Oor watter tye en afstande heen het sy fier en vreesloos na jou gestaar ? Wat het sy onthou ? Jy was ’n insek. Dalk ’n drostersoldaat. Dalk ’n voornemende papbroekminnaar. Miskien slegs ’n lyfbediende. Haar hare was golwend los om die ingevalle gesig. Sy het weggedraai, in haar beursie gekrap om te betaal, en swaar half verlam steunend op die trollie inkopies verdwyn sonder om ook maar een keer om te kyk. Op haar vensterbank agter die tralies in die gangetjie is ’n versameling beenwit skulpe en klippe, een daarvan beskilder met ’n mistieke gebed : « I raise my singing to the face of the Lord. » Kruip sy weg ? Het sy in ’n vorige lewe gewerk vir ’n jaloerse iemand wat in een van die woonstelle bly ? Sy is in niemand se diens nie. Sou sy neergesien het op die arme Elsie wat so maklik geryp is ? Die vrou in die kamer langs hare is jonk en swart en sonder ’n man, maar op ’n dag was daar ook twee klein kinders. Een enkele keer, die oggend was nie meer heilig nie, het jy ’n ouer witman, ’n boemelaar, in die gangetjie sien beweeg. Reeds het die rooivlerkspreeus parmantig soos skollies hulself kom aanmeld vir iets, enigiets om te gaps of aas en astrant op die balkon te ontlas. Jy moet aan die gang kom. Die wit meisievrou in die hokwoonblok oorkant die straat kom staan klaar gereed maar nêrens heen om te gaan nie in haar skuifdeur se skreef om die eerste van soveel daaglikse sighrêts te rook, jy weet nie hoe oud sy mag wees en of sy nie net mollig nie maar ook mooi is nie, dis te ver om te sien en te na vir die gaan vra. Sy is heeldag tuis. Jy dink sy moet ’n gefnuikte seksslaaf van iewers uit die binneland wees. Sy staar verlangend na die “masseersalon” met die neonligte op die oorkantse sypaadjie, wanneer daar nie krag is nie begin die kragopwekker raas soos ’n mêddim wat besteel word, die groot bleek skoothond vet en stadig soos ’n porseleinpot uit ’n Ooste van pasjas en oorgewig eunugs sitlê aan haar voete en kyk af op die straat van Bangladesji keffies en pandjieswinkels en bordele. Miskien is die dier blind. Nou skryf jy voorgaande en ontheilig die oggend …

***

bewussyn is ’n metafoor. wat is “metafoor” ? die gelyktydigwees van omvorming na fatsoen van parallelle werklikhede in die vryval van ondenkbare vergelykings. metafoor is die voortdurende getyestoot van die onkenbare geboortesee teen die kus van die rasionele. die lewe in resonansie en implikasie. (en ritme). dit is die wilde ondertoon wat die botoon aanmekaar omdop om die broek te probeer uittrek. maar soos die dans word dit geaktiveer slegs omdat daar “’n wysie” is. en wanneer jy nié dans nie ? waar is dit dan ? is die soeke nie juis om te kan dans sonder dat daar ooit enige musiek of selfs die droom van oempapa was nie …

of is dit slegs die versoeking
van die onmoontlike ? 

***

verledehart is onverklaarbaar
hedehart is nie te verstaan
komendehart is reeds vergaan
(Dogen)

***

***

« ons lewe met die verbeelding van die dood
as verhaalde belofte-eggo in die are »

Jy lees in die Dao
dat Sokrates sou beweer
die begeerte is nie iets
waarvan ’n man ooit genees –

(Net soos jou lewe nooit
die dood klein kan kry –
Maar is die lewe dan (net) ’n begeerte lank, Meneer ?
En wat nou wanneer dit tong-uit
verlustig omdat die mond
vol woorde so swaar gaan weeg
dat jou soeke knak in dood se wurggreep ?
Sal sy wat Dood is dan (nog)
genoeg soet murg in die pype hê
om jou styf te laat skop in onvervulling ?)

***

palimpses

die lewe is in beweging 
se ewige singsoeke
na die ewewig
van ’n gesig te maak
en die gedig se alles ongedaan
te versaak
of anders gestel :
tussen die hartmakmaak
van alles te wil weet
vir die lewende doodgaanstaak
van alles te vergeet

***

Leser
ek
wyn
jou
in
my
gedig
vir
liefde
se
skyn
om aan
ons
pyn
ligter
gelig
’n glas as
bemaak

 

(leser se “ek” skyn
  in die wyn om jou ons
  en my glas pyn
  digter te maak as die liefde)

***

***

look : overhead a slew of stars
in flood to no(w)here
and among the vocables
as of memoried faces, see :
the southern cross around the neck
of the poet’s corpse
which belled low in the flow
of decayed words wished
to abjure the mystery by writ
and drowned
in the vocabulary of revershit

*** 

***

’n negeling

vandat hy besit kon neem
van die kunste
het hy gewaar dat die eie
ge-hierjy gaan word
tensy hy die eiening
laat bedaar sodat
hy in die spieël
kan sien hoe staar
die ander na hom

***

Die verskuiwing van paradigma en daarmee saam ons sin van syn en van self,
die opvangarea van wat nou belangrik is, is waarskynlik en na die oppervlak
van fenomene/bestaan/ervaring/bevaring gedryf.
Daar is nie meer “dieper” of “groter” waarhede wat agter of onder
die oppervlak skuilhou nie.
Ons essensiële interaksie is met die projeksie en die persepsie van daardie projeksie
van die beeld van self.
Ons is eindeloos gefassineer deur die onpeilbare vreemde,
die weerskyning van self in die glimmende oppervlak van aansluiting
en insluiting by ’n totaliteit, ’n web sonder begrensing en sonder begin of einde
of rede.
Utopie is per definisie van die verlede. Ons soek daarna uit nostalgie vir wat ons
geglo het, vir ’n verlore paradys. Want hoe anders kan ons dit verbeel as bepaal
deur die eienskappe van wat ons verbeel het ?
Dis ’n verlenging van wat ons ons verbeel herkenbaar is –
ten minste ten dele.
Omdat die versugting soms akuut is, is ons skerper bewus daarvan dat die pad
na die verte langer is as gister, langer as geheue, langer as wat ons gedog het
toe ons nie gedink het nie.
Vandaar die verlange !
Nie onthou nie maar behou.
Hou jy ook so veel van my as ek van jou ?
Hou dan poephol, hou, opdat ek jou nou nie vergeet nie.

***

shapeshitter

*** 

Hannah Arendt het gesê : Geseënd is hy wat orals tuis voel, maar nog méér geseënd hy
of sy wat nêrens tuis is of hoort nie. (Waartoe Ka’afir bygevoeg het : As dit net nie is
vir die blerrie baie se huis toe verlang nie.)

***

***

’n negeling

die enge geen
gee geen speling
vir die engel
om been te wys –
o waarheen
moet sy haar wend
om te kan laat sien
ook die engel het ’n stengel
wysheid tussen die bene

***

10 Maart 2023

Crito, wie sy ook mag wees (Oubôbjaan en Ka’afir baklei eintlik soos hulle hoed wil afhaal in waardering), het gelyk. Die Afferkaners is te bang/realisties/pragmaties/Sjymbosserig/kop-gekoloniseer/gemaklik om hulle eie bastertaal te eer en verdedig. Hulle sê, haau, askies my koning, ôs issie ploerte nie. Dan maar liewerster Glôbiesj, êwê. Wat ons heimlik altyd nog wou praat, hoe sleg dan ook. Dan is ôs mos oplaas ok universeel.

En ons groot uitgewersryk (mag hulle die genade bly koop van die Mafiaparty aan bewind maar darem ook ’n ietsie wed op die liberale alternatiewe perd, mens weet nooit, en wéét ons dan nie van oornagse oorskakeling van John Vorster na Bram Fischer nie, wizout missing a goosestep ? Dis versoening, my China). Ons groot gedigitaliseerde uitgewersempaaier sonder die beslommernis van boeke, aarrrgggh, (mag hulle bekker van aandele in Amsterdam oorvloediglik oorloop) het lankal die skaamkennis dat Afferkaans ’n swakte van die verlede is. Broers, susters, doppers, diamantsmokkelaars, LGBBieters plus of minus : Ons moet oorlewe ! Dis dúúr om ’n spoggerige wynplaas in stand te hou ! Dit is – soos my uitgewer my in kennis gestel het – waarom daar gerasionaliseer moet word, waarom die voorraad gedrukte bundels, te vol lelike woorde om te dien as kakpapier, verpulp moet word om plek te maak in ons pakhuise.

Dit is waarom ons glo in liefdadige opvoedingsaksies. Dit is waarom ek, Oubôbjaan as skimmel terroris (Ka’afir lag hom byna dood) nooit weer by hulle sal kan uitgee nie.

Dit is waarom hulle huil van die lag.

En dit, liewe Leser, is waarom ek jou en die ander vyf lesers so tugtig met hierdie morsige woordwerkwinkel, “In die fragmentarium”. ’n Hond kan nie anders as om te wil blaf nie. Al maak hy ook net tjankgeluidjies.

***

Onsevader
wat in die hemel is
ook maar dood te vrede met Self
onthou jy nog hoe héérlik
dit is om méns te wees
wanneer hierdie planeet
kanteldraai uit die duisternis
en nou dag breek oor glooiing en golf
gevang te word
in die ekstase van verbygaan ?

sou jy kon weet
jy ken ons nie meer
want ons het mekaar versaak
hoe dit is om in die lumier van die môre
die woord te vergesél na waar die nag kraak
om daar gehang te word aan ’n haak
want dit is wat ons aan mekaar doen ?

hoe gaan ek jou ooit kan vertel
van die ewige sang in stilte en lig se swaai
van dan één keer weer te gelewe het ?

Paternoster, 27/2/2022

***

Lees ook

In die fragmentarium 1

In die fragmentarium 2

In die fragmentarium 3

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top