In die fragmentarium 2

  • 2

elegie vir Pajaro

« Time, space,
                       neither life nor death is the answer »
(Ezra Pound, from Canto 115)

« Escrebir sobre los que perdieron, una de las misiones esenciales del arte, porque perder nos hace radicalmente humanas. ¡ Ay de quienes no conocen la derrota ! »
(Santiago Gamboa)

 

’n elegie moet die klaagsang in lang klankreëls vleg
om op die wind te sweef
en ek kan om my lewe te red
geen sin maak van die patroon
geweef in die lyn
tussen jou dood
en myne

medewese, myne is jou stilte
aan my bemaak
maar het jy ooit gesing?
mis jy nou ook die veerintimiteit
van ’n nagboom vir jou drome?

het jy toe die lig te skel was
jouself verpletter teen eie beweging in die glas
om die stilte?

(hoe voorbarig moet mens wees
om die ander in jou dood te wil dink …)

drie dae
het jy op die bo-stoep gelê
met die dood onder jou tingerige vlerke
geneem en beskerm –
geen mier of kat sou aan jou kom vreet
ook reeds omdat ons weet
ons gekerm en verorbering
knaag aan perke
wat net onsself genoem kan word –
sonder om tot stink te vergaan

Pajaro – vergewe my hier in jou nes van die dood
se krummelaarde en verteringsvuur –
miskien sal daar weer seisoene wees
om te vergeet van jou algehele nie-syn
maar al is daar ook geen opstanding
of reïnkarkasnasie ooit
moet my mensdomheid tog nog dit vir jou bring:

jy was te vinnig en sku
om ’n skadu te fladder
in die geslote kring van my soeke

maar wie weet, kleinbaas van die plaas,
hoe jy nou saam met jou stilte
’n afwesigheid aan vlug neerlê
op die wind onder jou troupantvleuels

terwyl ek net hierdie belofte
wat nooit méér ’n sinwurm sal verteer
as woordstapeltjie van papier het om te offer –
’n ander hart het ek nie vir die gee:

gun my die maan om jou saam
met stilte in my op te hang – en te glo
ek kan die onthou van jou vlug vang
en laat klink voor dit vrot tot stank

en daarom 
te néém
te eet:
my woordvlees
is joune

***

(Pajaro : is jy nog daar?
ek is nog nie klaar
gerou om die stilte
van die hart se nie bedaar
soos ’n voëltjie
wat klou snawelkou
om uit die fuik
van die gedig te kom

moet my nie vertrou
met die stilte van jou kou nie
die na-klank bly my by
dat iets oor sal bly
in die brand van papier
om trou aan jou te sweer
hier
nou –) 

***

die gedig is altyd ’n offervuurtjie 
vir gode wat nie meer bestaan nie: 
jy tuur in die vlam, vertaal die rook 
en sonder om te soek kry jy soms ook 
onder die weggewaaide as 
’n halfverskroeide penveer 
waarmee jy die ek gaan leer 
om die verbranding van afwesigheid weer 
’n keer te besweer in die gedig

(« en woorde is uitgebrande gedagtes »)

« ’n Eggo breek in ons, en gaan dood,
    om geboorte te gee aan die reis se voleinding. »
(Magmoed Darwiesj, “Die Hoep-hoep”, soos vertaal deur Bester Meyer)

« le verset qui abrite sous son aile un seul poète
   a déjà perdu tout rythme »

(Mahmoud Darwich)

So turn up the music
Pour out the wine
Stop at the surface
The surface is fine
(Leonard Cohen, “die gedanste dans”)

Jikan says :
I intend to live forever
Why on earth, my friend?
I don’t know
How can you sing you don’t know
                                  and end the song?
Is it because you know no better
than to perpetuate your suffering
visited upon the other?
How must I hold the holy script
                                     of dying
to our face for you not to burn in the desert?
And if you insist upon living this eternity
                                            of the other
that sucks – for it is all
we will ever know,
            my friend –
do you mind if I string along
as your fellow follower?
And may we then pause for a song
In the Bar Anita on the island of the goddess
where Ulysses also wrote his twilight book
to say he got it all wrong?                    

« It is strange, but the philosophy put forth in the 1930 translation of the Tao
   is the one that has resonated most with me …
   I am quite sure this version contains a few misunderstandings, as the text
   probably went through several languages before eventually ending up in Icelandic,
   but the language is clear and beautiful.
   It’s strange to be influenced by possible misunderstandings,
   and it would be interesting to translate the translation itself into other languages
   so people understand what I mean. »
   (Andri Snaer Magnason, “On time and water”)    

***

die oor-soom-erse boom(be)klimmer
(vir my jaarbroer, AJC, los voor, al is dit met ’n kortkop!)

Kyk!

Kyk waar ?

Daar! Daai bos daar. Die een op die koppie se lip
so donker teen die luglyn

Wat moet ek sien?

Die boom. Die hoogste boom. Die een
wat die mas gaan wees van ’n skip vol klippe
en soos ’n vingerwysdroom groei

Wie is dit wat teen die boom opklim?

Ampie

Ampie wie?

Ampie Amperdaar

Hoekom wuif hy so?

Hy sê koebaai

Koekoebaai … Vir wié?

Vir die wêreld

Ek kan nie sien nie. Daar’s te veel sterre

Jy huil

Nee!

Dan is dit die skip se donker klippe teen die naghemelsee
wat jou wange die nat skynsel gee 

Moenie my woorde verdraai nie. Kyk! Hy klim hoër en hoër

Nee. Die sterre is te donker en dis te ver om te sien

Hy klim hoër … klip vir klip
Wat maak oom Ampie daar?

Wat maak oom Ampie nou?
Wat soek hy in die skip?
Waar gaan hy heen?

Oom Ampie gaan hys toe

(September 2020) 

« The meaning of language is dying (…) Through powerful metaphors we protest against this… (but) in the sadness of poems lies the end of meaning. »
– Ampie Coetzee 

jy het gelyk, Ampie – 
dis in die hartsweer van leë verse 
dat die lyk van betekenis opgeberg word – 
nie die beduienis of mening nie – 
dié is statiese abstraksies 
met bakkies wat glim van die kak en die akkies 
en nie kan weet van die erotika van soek nie – 
nee, be-téken-is is in haar eie lyf gebaar en balse-asem 

en wat skryf ons nou? 
(wat maak oom Ampie daar …) -
sal ons haar berg-op dra 
om met leë oë na die maan te kyk 
en verder te vaar die verdoemenis in? 
sal ons haar soos ’n metafoor oor ons knieë lê
ek wat haar onder woorde versmoor het 
en jy wat medepligtig was in die lees? 
en waarmee sal ons haar tydstaar dan besing 
soos wenende waansinnige honde?

***

waarnatoe nou met die dooie krokodil van Afrikaans?
dit was bestem om handsak te word,
en blink skoene
vir die loop in biblioteke van geleerdheid
van mense met liddorings —  
en toe het dit blindelings ontsnap,
tjopstert onder die draadversperring deur gedolwe
om anderkant vervelling uit te kom
en vry nie weer gevang te kan word
selfs met die vrot hoender as aas van versoening nie 

daar’s geen geheue terug na ’n niebestaande Nyl
maar tog nog ’n laaste swem
stil soos ’n skim in die Breërivier
om kinders en donkies te verskrik

voor jy van die gras gemaak
onthou mag word as saambestaan wat nie van hier was nie
wat lank gelede hier oorlewe het
om te mag vergaan

***

Vriende, mede-Afferkaners, Leser, 

Hoe sou dit dan ánders kon wees ? Ons is nie “staatsburgers” nie: julle/ons, jons, donsduifies, jye en sye en sjye en bruinbroodsnye met fênsie nagemaakte botter en ingelegde ghoenavy jêm, julle djollers wat witterig en bruinerig en Indiër en Maleier en Khoi en Portugans en utopiste en squatters en bywoners met plooie in die gesigte is, en nie geghlôbisjeer nie – julle is minderhede. Jy en ek en tant Sannie wat so lekker kan vry en die tronkvoëls en die kleinvolk en dié wat Sondae met die bolywe swaai terwyl hulle hallelujaliedere sing, is minderhede.

En die staat is nie “ons” s’n nie. 

Die staat is nie die Bolander of die Weskusmens of die patatvoete of die Nama-afstammeling langs die Oranje of die nurse in Tygerberg of die oesterdief in Kleinmond of die rooibosboer in die Bokkeveld of die Griek in sy keffie of die skaapboer in die fort van sy opstal of die hoofman onder sy praatboom of die onderwyseres in die plaasskool of die oumenseversorger of die koerantverkoper of die priester op sy knieë om beter onder die beswaardes se rokke te kan loer of die bergie of die nagvlinder in haar motgevrete Japansejapon of selfs die “revolusionêr”-wat-nou-skaamkwaad-anderkant-toe-kyk s’n nie. 

Die staat is die ANC s’n. (“En dis ’n treu-heurige verhaal, meneer …”)

Ook seker nie die “ANC” s’n nie, want daar is baie wat met min oor die weg probeer kom (en bietjies-bietjies steel om te oorlewe) en hulself in alle afhanklike dankbaarheid sal beskryf as synde lidmate van die ANC Partystaat. Daar is dié wat selfvoldaan soos ou Broederbonders handeviervoet kak vreet ter wille van nog ’n dag. Nood leer bieg.

Nee, die staat is die ANC-kakkakaders s’n. Daar is nou wel die brommers  daaromheen wat dink dat hulle ook ’n aandeel daarin het (en droom dit gaan hulle red): Ek verwys jou na die buk-intellectuals, die slimwimme van Gamorrasdorp, dié wat danksy kommissies van eksperte kruip na die voorste rangordelinie van sg internasionale erkenning – “Wat? Wie? Ékke? Apartheid? Baasskap? Aaaag man, dit was sommer net ’n jeugsonde. En ek het altyd omgesien na die belange van die bediendes. Hulle was soos familie.” – o, en dié wat breed sit selfs langs die Chinese allesvreter as vulsel in die kalkoen se pens (en hoop om raakgesien te word, en hoop om nie raakgesien te word nie), dié wat kan spog met hulle Calvynfynste nederigheid van op die Amsterdamse aandelebeurs te boer, die “realiste” en die “pragmatiste” want die duisternis strontvreetvlieë was nog altyd rég, dié wat ’n gelukkie kan slaan in Cofidia, die Naspers-doeminees (“Luister, dit gaan om vooluit-gang … Moet nou nie sit en grens soos ’n sissie oor verspilde drome nie …”) …

Eintlik wéét hulle miskien daar is geen staat om kop toe te vat nie, dat die werklike base en allesverorberaars, die poppemeesters, die elektroniese-sosialemedia-Poetsnoet-Hitlertjies, die wapenverkwanselaars, die onbegrensde internasionale Maatskappe wat die wêreld reguleer in markverwante raadsale van ongebreidelde grypsug … tot selfs die begrip staat gebruik om hulle agterwêrelde mee af te vee.  

My ou stukkende anargistehart jubel!  

***

oor-hand

om die gedig te skryf
om in die gedig geskryf te wees
om met die gedig geskryf te word
is om in die skyngeveg van beweging
se lewende polsing intiem
intiem met die dood
handgemeen te raak
en nooit die oorhand te bekom nie

denke is krapbeweging
op soek na niedenke
se woordvertroosting
by die verrotting van rigting
in gang intiem
ontlidwoord tot stilword
se voëlskeletvingers

wat is jou falsafa?
haal uit, vlek oop, sny weg:
wys hiér!

want die dwaas se mond is vol woorde
maar die wysaard weet hoe om stilte te kou
en die pitkos vere en al uit te spoeg in papier

***

om altyd net ’n bietjie verder te gaan
sonder soek, sonder gevloek, sonder sondeboek
en in genade miskien die sonder-broek skaduwee
van die gevlerkte meeloper te gewaar

***

en die woordreste
neer te lê in die stof
van geen betekenis
as steen van vergeet
nou nie met enige les meer
in die dubbele ontkenning
van vlees se vergaan
tot been en dan weer geen nie –

maar Leser, jy wat hiér lees
waar daar niks is
behalwe ’n vlek
lig op die lyk van lig
as skadustreep as
waar aanwesigheid eens
in knettering gekeep was

wéét hier is ek
klaar weggegaan
by benadering, weer kind
in asem se rym van ritmes
een vir een

***

« To write is to die a little. It is a good way to go … Write your book before you die. You will get great satisfaction from it … That’s the form of the thing. The content is any serious expression of self that does not harm others. It takes some dedication, some commitment. It is taking control of part of your life to shape it as you will. »

(Dit is natuurlik ’n beginselsaak wat iemand soos ek wat so kwetsend bitterbek kan wees as aanmaning teen my voorkop behoort te plak soos vlieëvangerpapier.)

Bogaande aanhaling is uit ’n opstel, “How to die”, van ’n skraal stukkie lewe met die titel The philosopher’s jokegeskryf deur Red Watson. Die subtitel is juis Essays in form and content.

’n Entjie verder in dieselfde opstel maak hy die opmerking dat sy gedagtes soetkoek behoort te wees vir filosotte wat die mening napraat dat gees (mind) en vlees identies is. Die inhoud mag egter miskien nie in hulle smaak val nie. Van die voorgestoelte-filosowe was lywig. « “Plato” means Fatso. »

Die konkretisering van bewussyn is leweskeppend. Maar dit is eweneens die uiting van sterwe.

Nie alle vorme van skepping lei tot oorgewig en swaartilligheid nie. Dit was verrassend om te lees dat daardie maer balling-swerwer-falsafis Hannah Arendt die poësie as meer tydbestand, enigmaties en diepgaande belewe het as die filosofie. Dalk het dit te doen met die dialektiek weetkunde-synkunde. Sy het self gesê: “Poësie is die naaste aan denke”, en sy het hierdie laat-gaan dissipline blykbaar haar lewe lank beoefen. In 1923 al plaas sy in een van haar boeke, Welgeluksalig is hy wat nie ’n tuisland het nie, ’n reeks verse genoem “Melancholie”. Een van die gedigte heet “Nie ’n woord nie”:

Geen woord
deurpriem die verduistering
Geen god lig ’n hand
waar ek ook mag kyk
hoe die aarde hopies grond word nie.
Geen vorm wat binding vind
Geen skaduwee in afwagting.
En sonder ophou hoor ek :
Te laat, te laat vir omdraai.

My oorbring van haar Duits via Frans na Afrikaans is sterk onder die vryheid van denke en interpretasie. (Die twee saam is dalk wat ons “begryp” noem.) Maar wat is synsoeke sonder vryheid? Die ys is immers dun genoeg. En die donkerte daaronder nog meer onpeilbaar as wat ons ooit kan weet.

Frau Arendt het ook laat val – dit verwys nou na haar liefdesverhouding met Martin Heidegger – dat die diskoers van hulle wat mekaar liefhet in essensie poësie is.

Skryf is liefdemaak.

Veel later in haar lewe sou sy by geleentheid, toe sy ontheemding haar eie begin maak het, enkele reëls van Nietzsche aanhaal: “Terwyl die kraaie na die stad vlug… / O, die geruis van vlerke … die krete! Binnekort gaan dit sneeu … / Om ’n patria te hê! Wee hulle wat nou nie een het nie …” Waarop Arendt dan antwoord: “Daar is lig in die woud, / Die dorp, die roete, en die boom. / Gelukkig is hy wat nie ’n tuisland het nie: / Want hy sien dit nog in sy droom.”

Ek wou die voorgaande los drade gebruik as aanknoping by waar ek eintlik wil uitkom, en nou het dit klaar vervleg begin raak in die verdigsel van ’n eie weefsel.

Dit maak seker nie saak nie.

Want sien, ek wil iets bydra tot die bespreking van Bester Meyer se bundel vertaalde verse van Magmoed Darwiesj, Die vlug van die vreemdeling, en daarmee hom en die gespreksgenote welkom heet in die digterstuin van my pa- en magoed. Namens hulle. 

Darwiesj se skryftyd het opgeraak op ’n operasietafel in Amerika (mens vra jou af wat die hartsjirurg in die digter se oopgevlekte hart gesien het) en nou het ons al die tyd van die wêreld soos spieëls in die nag op uitkyk vir vlermuise.

Die wêreld is vol vlugtende vreemdelinge.

Maar was daar nog ’n eietydse skrywer wat so emblematies is van ontheemding, verdrywing, vlugtelingskap? Die Abelsmerk van die digter was op sy voorkop gekerf. Was daar nóg ’n digter vir wie skrywe so ’n dinamiese vervlegting van dood en lewe en liefdemaak was? Met altyd as grondtoon die lig oor die heuwels en ’n paar klippies wat hy miskien in sy ballingskap met hom saamgedra het as grammatika van die verlore tuislandskappe.

Vergun my ’n laaste sprong, Leser: Onlangs was ek vir ’n week op die eiland Gorée. Oor die jare het die boeke en die opgegaarde dokumente in my kamers begin muf. Met die uitsorteer van blaaie – mens se tyd raak min en die woordekoord om die nek trek stywer (wát sou nog tekens van beweging wil gee in die een of ander fragmentarium en wát sou bestem wees vir die krematorium, al is die ou gebruik hier om die oorskot buite op ’n brandstapel van vlamme na rook te vertaal, want hoekom dan so snoep te wil wees met die sterre?) – kom ek af op ’n teks van Magmoed Darwiesj uit die Arabies in Frans vertaal deur sy vriend Elias Sanbar. Ek weet nie of dit ooit gepubliseer is nie. Waarskynlik was dit onder die leefmateriaal wat ek teruggebring het eiland toe as riem onder ’n donker hart na ’n besoek aan Ramallah. Die geleentheid – ’n geliefde frase wat Hannah Arendt in die oorspronklike Frans met haar saamgedra het, was Paul Valérie se “Geleenthede is die skuim van dinge” – was dus die besoek aan Darwiesj in die Besette Gebied deur ’n afvaardiging van die Internasionale Parlement van Skrywers, waarvan hy ’n lid was. Dit was my voorreg om ook by te kon wees daardie donker en ligte dae tydens Maart 2002. Die stank van brandende vlees het weer oor die wêreld gehang, byna net so sterk as die reuk van olie. Die konteks was die inval en vernietiging van naburige Irak. Die voorwendsel? Maar Keiser Kapitaal en die vraatbelange van die Hegemonistiese Moondheid het g’n “voorwendsel” nodig nie … Darwiesj het ons ontvang, toegespreek, ek onthou nie presies hoe dit gebeur het nie. Dit kan wees dat sy inset net op papier bestaan?

Indien jy tot hier gelees het, Leser, seker raadop oor waarnatoe, na watter hool van onbedagte oordele hierdie Ariadne-kwyldraad jou wil lei, sou jy gesien het dat ek mits dese iets van Magmoed se klaag- en lofliedere wou aangee in Afrikaans vir moontlike kennisname deur medelede van die Woordmakersgilde.

***

eggo ergo sum
« sal julle getrou kan bly aan Afwesigheid? »

Gedig: ek soek jou al so lank
in verre kontreie van kloof en woestyn
in kloosters en die blare van die boom
in lig en wolke in die sloot
in die geknetter van die vlam
en die nagklub se geraas
in die stilte tussen die dye van die mens
dat jy gaandeweg Gesig kom kry
wat ek my verbeel na my lyk
in die kykglas by opskrikking
van ekstase en pyn

ek neem jou saam in my soeke na jou
kyk mooi om jou nie mis te kyk nie
verbeel my jou naam is Maan
en dat ek jou soos ’n handspieëltjie
uiteindelik intiem sal eien waar jy verskaamd
agter die volgende strofe verdwyn

maar kry sal ek jou kry
al moet ek ook die oë sluit
om net jou beweging as gids te gewaar
en jou soos asem bely
aan die Stil Een in my

ook al is ek dan reeds nie meer daar
om julle voor te stel en aan mekaar
toe te vertrou
as man en as vrou  

***

ek is jou gyselaar:
o wat ’n bevryding
om nag vir nag
deur jou losgekoop te word

***

en lê my wapen aan jou voete neer / en draai my in jou witvlag toe /
trek dan die wit vlag van jou lyf / om jou bloot te lê en my aan jou oor te gee

***

escrivivir

want skryfel,
hermano in die skadu,
is die mano a mano
met wat onsêbaar is

***

No(w)here to die 

ek bieg 
dat ek al vanaf die wieg 
se tussen is en is nie 
lieg om aan die lewe te bly 
soos ’n sleg mens  

maak my dood 
indien jy hier verby sou kom 
sommer so op pad van is na is nie 
hier nie 
want dit is Dinsdag en dit word koud 

lê my in die wieg 
lê my weg in die aarde 
se sagte skommeling 
as bewys van jou genade 

en wéét dat ek jou dankbaar gaan wees 
dat jy ’n slegmens uit die wêreld help 
ook al is dit ’n terloopse 
wegvee van die lastige handvlieg 
om afgetrokke ’n predikant 
te plant in die sand 

sodat jy ook eendag 
indien jy dit intussen 
nie vergeet of verbeel het nie 
iets sal hê om te bieg 

liewe Leser – 
as jy maar kon weet 
hoe dankbaar ek is 
dat jy nie  hierdie gedig 
gaan onthou nie 

10.55, Dinsdag 17 November 2020, Paname 

***

toe die donker onttrek
om die versteende stad omgewing
en kontoer te gee:
opgekyk en gesien hoe manjifiek maan
geskik met stilte omkleed
haar majesteit in die hemel hang
sonder uitstraling en sonder skaduwee
en sonder om lig te weerkaats:
baas van die baan

asof daar nie hole van niks is
nie ruimtes van ritselende vlamme en kolke
mondende materie nie

die hart geknik
en onthou die vele nagte
in ander kontreie die wit
woordelose betekenis gestuifmeel oor die werf

en gemurmel van donker voëls in die kreupelhout
en hoe vlae nou die lyke
van vergete veldtogte snoer
in die aarde: alle lig
is klank se betekenis van vergeet

asof daar nie hole van niks is
nie ruimtes van ritselende vlamme en kolke
mondende materie nie

asof daar nie ’n vleesetende slang om die maan kronkel nie

***

as jy maar sou kyk
sou jy sien ek lê
my lewe neer
oral lappe en die geheen
en weer skuiwe mondvaarte
die sterre gevang
en aan die nek gehang
net voor wegvaag se klaarte
die kaarte van die loop
die saad se saai
die voëls wat so stroop
oral happe en narrespronge
liefdes se naarword
so tussen die woorde
as jy maar sou kyk
hoe verbleik die lyk
geslanggraat as windklank
in die boord
soos alles en met almal
altyd al

***

wakker skrik – eerste indrukke
verstrik in droomvanger
se web van lig – elke tjik
van voëls buite – die son
se skuur in stof deur die venster
en die hart se klikklanke
donker wat nog agter ooglede lê –
en te weet die wêreld is ’n oudste geheue
se vergaan wat aan geen
woordkonstruksie gehang kan wik nie

***

skaars genoeg water om wolke op te vang
skaars genoeg spieël om syn se omvang weer te gee
skaars genoeg oppervlak
om as naat te dien
vir binne se buitenisse

***

chi lu: om wanneer die tyd
lig-lig uitgedoof word
afskeid te neem van bewandelde paaie
is ’n ou Mantsjoe gebruik

en die hand te maak sing
van die ding
se verbygaan

maar die uitvee van woorde
gaan die vergaan
van ambagte en daarom die weggaan
van arbeiders
vooruit

“akkedis, akkedis, wat kak jy nog hier in my papier?”

***

soos ’n see-oolfant wat sokker
leer speel tussen die kool
soos ’n perd ander perd soek
vir die staan en vry in die veld
soos ’n Judasboom ligpers in bloei
middernag droom van rooi blommetjies –
so is ek lief vir jou

soos ’n wolk gesig soek
in die stilloop rivier
soos ’n huis op die bult
die haard se onthou het aan vuur
soos ’n hart sleg geword het van vergelykings
en daarom die lyke in die water laat tref en vergly –
ploep ploep – so het ek jou lief

***

kyk: in die loop van woorde
word die gedig ontbloot

in die nagvers se gang
word ’n dooimaan uitgestoot

as doodsbootjie

in die skelette opgehang
teen die hemel se heuwels

word voëlgrepe gestring
aan die ykbeweging

van oggendsang
gevang in diepte

soos in ’n skoot van sien

*** 

’n reisvers
(vir Bill)

wanneer mis oor die see kom
uit ’n nag uitgehol deur die horing se gebulk
en meeue die oggendlug in repe klief en skree
en kelp soos donker drenkelinge
anderkant die rotse dobber: 
dan weet ons ons het die kus van verlies bereik

verby goue dae van bloots die yskoue branders ry
en warm sand so warm soos jou hand
verby die lou aande se wandeling
al langs die soom tussen water en land
waar plesierliggies gestring aan drade flonker
om donker gaatjies te brand in die hart
waar drome nog in die deining spoel

verby die goue jare toe die lyf
’n trotse sloep was om al wat gety is te trotseer
om ander lande en lywe te ontdek
en anker aan één lang kus van die nag
toe die oog skerp soos ’n diepseevoëloog 
weiding en woeling en luglyn kon lees
sodat die handvlerk haar kaarte mog trek
sekuur soos ’n gedig …

was dit dan nie goeie tye, my maat?
in verre hawens het ons saad geskiet
in tavernes het ons met swier die nag uitgekoggel
ons het bemin en baklei ons het mense begrawe
ons het voëls soos engele teen die hemel sien hang
en die wind daardie ou-ou wiegelied op ons wange gevoel
soos ’n kiel het ons deur die lewe geploeg

wanneer mis oor die see kom 
grys en dig en gesigloos soos die gerug van winter
dan, dan:
is dit goed om goed en gelukkig en vol léwe gelewe
te strand op hierdie vasteland van die dood

***

voetnoot by “’n reisvers”

my lewe haal my ophaal
vir aftaal in

die skaal hel oor
na byna niks om te wys

al vee ek ook mond af en spog
ek het gelag en gekak en betaal

op my dag vir die poësie of twee
in omgang met die nag op die paal

gesit: ten minste was dit nie die aarsvaal
vaderskap van ’n poephol in sy paleis

of die professionele puisies-uitdruk in sy pondok
van die ontplooide propagandis nie

kyk: ek is nou ou-rot kaal sonder rok of broek
behalwe vir my skaduwee ongeskrewenheid

binnekort word die tafel gedek
vir ’n laaste spoegerige maal

met niks om te verhaal
en niemand om aan te sit nie

 *** 

(vir Cas Vos)

mag die digter tot rus kom
in die boord se donker aarde
waar alles wat soet was
nou woord vir woord ontbind
tot ’n weefsel efemere beelde
om weer die droom van afwesigheid
te voed met wat kon lewe
wanneer lig skeef skaduvlerke
flikker van blom tot blom in danspatrone
en die hemel se voëls tot naskrywe bring

so, en omdat wat onthou word nie sing nie
maar reeds in die verbeelding van vrugte hang
sodat die digter nooit weer al-een op reis sal staan

want ook petale soos ooglede vergaan
oor oë wat nie meer hoef te sien
hoe bane van tyd in die niet verskiet
en ligter nie-bestaan in die donker
aardboord tot rus mag kom

slaap, soet aarde slaap
begrawe in lig wat lig is

***

’n laat-taal

op hierdie leeftyd
wil hy nie nog kén nie
en soek geen bekentenis
of kennisname-van
maar dat hy weer ’n keer
in die vergeetlewe verstrik geraak
mag hérken:

die dagtegaal se melodieuse fluit
om nag uit die duisternis te vertaal,
Ounooi se hande-onder-die-voorskoot
deur die agterplaas loop om kiep-kiep
elke vrug en groente te gaan groet,
Oubaas vaalhoed en kruisbande
in opgerolde mou en broekspype –
alles hou asem op vir die sluis om lig deur te laat
sodat blou hemelswolke verby mag vaar
in die leiwatersloot

(en so sal hy ewig lewe)

vir die heel eerste aanblik-afskeid van Afrika
se omlynende kus
wanneer die vliegskip die Bekende verlaat
met aan boord ’n boot se reuk van toue,
die vrou se effense snaksug in genot en vertroue,
die huwelik onder die vyeboom,
’n vlag vol wind en die onskuldige teks
se dapper wappering 
vir vryheid, omtowering, die huis toe bring
van ’n boesel no-home poems
vir die traan in die skerpregter se oog

vir die eerstelaaste diepbuig voor Boeddha se skoot
as hy in stilte praat
oor hoe alle lewe ’n boog van gelewe is,
gespan om die synspyl wég te skiet in die nag
waar die teiken nog net gepeil kan word
en dis altyd net soos nooit te laat
vir ewiglewe
om agter te laat vir jou onthou
van beweging in skrywe na die taal
se verslane asem

(sodat jy so vir ewig lewe
en dalk moet keer vir meer of weer
want dit maak te seer) 

beginweer/begingaan

 Can Ocells, Desember 2022

Lees ook

In die fragmentarium 1

In die fragmentarium 3

In die fragmentarium 4

  • 2

Kommentaar

  • Beste Breyten, salig is elk-een wat jou dig-woorde op hulle leefreis hoor. Soms net 'n rare fluistering, sag soos die dood se asem. Andermaal weer-galm dit soos 'n laaste kreet vir die een met sy/haar skeet. Per aspera ad astra. Baie dankie vir die asem en rykdom van jou woorde uit soveel oorde. Mooi loop op jou reis.

  • Waldemar Gouws

    Mens kan nie sommer hiervan kennis neem nie. Dit (is dit net Breyten?) kry jou beet ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top