In die fragmentarium 1

  • 2

(O)

In die fragmentarium

(byskrifte)

« The energy of our consciousness in all its concentration is continually trying to define itself by and against the energy of the universe in all its incomprehensible extension. Every form of interrogation of the stars has been about this, and every theory of origin is a story invented to describe the experience of being here. »

(Jan Herder – and our faces, my heart, brief as photos)

« What I did not know when I was very young was that nothing can take the past away: the past grows gradually around one, like a placenta for dying. »

(ditto) 

soos ’n geboortevlies vir sterwe  

Die handlei-ding

Wat jy hier in die hand neem, Leser, is ’n soort joernaal stukgewys bygehou oor

die drie jaar, of meer – tot dusver – van inperking en afsondering, bevraagtekening en disoriëntering. Alles veroorsaak deur die stiksiekte, die Kroonvirus. Van afsterwe natuurlik, maar dié sal in ieder geval gebeur. Juis op natuurlike wyse. Die inskrywings is op enkele uitsonderings na nié gedateer nie. Dit bestaan uit naggedagtes, aanhalings wat vir my iets wil sê in watter taal dan ook. Ek het nie nagegaan of die bronne korrek weergegee is nie. En baie herhalings. Daar sal gapings wees en die resultaat is nie ’n chronologiese relaas nie. Al vorm wat ek van weet het ’n “begin, middel en einde”, maar dit is slegs om die beweging – die bewe-gang – te kan fasiliteer, fatsoeneer of fatsoenlik te maak. Die gedigte is verskeie kere herskryf en is, soos die meeste gedigte seker, miskien versaak omdat die raak nie bereik kon word nie. Af en toe, so sal jy sien, is daar nog ’n halfhartige poging om iewers aan die hand en in die land van die teks beswaar aan te teken of in gesprek te tree met ’n buite-instansie. Tevergeefs. Dit dra niks by tot die natuurlike proses nie, maak geen verskil nie, is nog net rook uit ’n misvuurtjie. Hoekom sou jy wou dink ek bestaan, Leser? Die reise of verplasings is nou grotendeels nog net tussen drie, vier oornagplekke: Parys (met basis die ateljee), Kaapstad (Ark Royal) en hinterland wat op haar dag die Boland was, Gorée en drome (die Instituut), Katalonië (Can Ocells). Jy sal spore van korrespondensie met jou en met ander raakloop. Die meeste van hierdie reisgenote van wie daar nog eggo’s op te tel is, met wie ’n mens kaalkop gedagtes kon wissel of in wie se geselskap jy kaalgat ’n gek van jouself kon maak, is dood, het getjaila in ’n skadukol langs die pad met ’n “tot hier toe en nie ’n dêm verder nie”. ’n Mens praat met jouself. Hierdie oefeningboek is bedoel om uiteindelik een van vier-vyf geledinge in die nalaatwerk te wees. Jy sal dit dan nie wéér hoef te lees nie. Hulle sal nie in die volgorde van versaking verskyn nie. Indien ooit.

Van my hart tot joune     

(Desember, 2022)

***

(Ek het nege lesers. Waarvan jy één en enig is. Siende jy nou hier lees kan dit nie anders nie. Martin Versfeld (Oom Tao) het dit goed saamgevat: « Being here is the characteristic of the existing…/ (and) we have to remain within the existent and learn how to flow with the Tao so that we prevent the immediate from congealing. »

Dit is dalk so dat ek optimisties is wanneer ek verwys na “nege gedugte lesers”, maar dan moet jy onthou ek reken ook ’n paar dooies in die getal – en vir wat hulle nog sal wil aanhou lees, weet ek nie. Miskien uit leedvermaak. Miskien omdat dit hulle bevestig in wat hulle hoeka vermoed en dalk ook gesê het – dat ek op pad is na nêrens.

Geen terugvoering van enige aard word verwag en jy staan onder geen verpligting om verder te wil lees nie. Gaan ek trouens weet wanneer jy nié meer lees nie? Hoekom wil ek jou dan betrek by hierdie proses? Omdat jy geduldig is. Omdat jy weet van my komvandaan. Omdat ek waarskynlik plek-plek gaan raak aan onderwerpe of ervarings wat vir jou ook interesseer. Omdat jy ek is.)

***

en wanneer die Stil Een in my
aan léés begin gaan
sal ek oplaas opsy kan staan
sonder ’n dooiwoord te hoef sê

***

toe ek met die ydelheid van ’n ou man
wat nog regop staan
in die handspieëltjie kyk
vir streling op hierdie dag van pampoen

het ek my kyk weggeskrik
vir die smalende gesig
wat net soos ek lyk
op ’n haar na ’n lyk

vol verrotte woorde.
o gode ! o god !
wat sal ek nou hê
om my op te beroem ?

(en vir wat smaail jy so vir my-my lyk ?
ék gaan my tog nog met leegmaan versoen !)

***

jy bewe-weer
met die strop
om die nek
kan jy my darem
nog ’n keer
ophys                  uit die
longdrop se lys name
een vir een almal
lankal daarmee heen

***

remove I / find peace
remove eye / look-imagination
move eye / find place
kill I / nothing there

***

***

Ons is gekondisioneer – dis ’n biologiese gegewe – om liniêr te konseptualiseer en te lewe – dat ons daarmee gesê meer en beter weet as dié wat ons vooruitgegaan het. Hoe dan anders? Het hulle dan nie hul reise en ontdekkings en stellingnames aangebring teen rotswande en opgeteken in perkamentrolle, op papier, in beeld en op vlies, virtueel opgegaar gebêre om vergeet te word – en het hulle nie van dit alles gevolgtrekkings en slotsomme gemaak nie? Net so kan ons ook nie weet of voorsien wat gaan kom nie.

Maar is dit werklik soos dit is? Beheer en behou en leer ons nie selektief nie? Waaraan word ons tyd gemeet? Of gewéét? Is dit dan nie so dat ons sommige insigte en ewewigte en selfs tegnieke reeds weer versaak en vergeet het nie? En nou miskien bewus is van wat ons verloor het? Is om te vergeet al deurlopende eienskap wat ons behou het? En wat laat ons dink “vorentoe” anderkant die horison iewers oorkant die reënboog sal dit beter wees, en ons slimmer en meer vaardig ook al sal ons dan anders wees? Kan daar ’n draad wees as daar nie ontwikkeling is nie?

Maar “vergeet” is ’n oorlewensvaardigheid om verder te (wil) lewe met ons onvolmaaktheid. Niemand kan ooit weer so onvolmaak wees soos óns nie!

Om op en af te loop in die gang van syn (vir ons wat “mens” is, is “syn” om bewus te wees), daardie eenmalige gang van en na nie-syn… en te beléwe/weet/besef daar is geen vooruitgang en geen agteruitgang.

want wat ons maak
maak ons dood
tot vermaak
van die saak

***

wyskundig

een plus een 
is reeds gelyk aan twee ene
soos enne om die kruis
binnensmonds kloek
op ’n haar na vloek

maar een máál een
lyk my steeds mensalleen ge-eina
versteen (en geseën ?) in een-saamheid

***

  

***

ek weet van geen ander onfeilbare wyse
om die vandagvars wind so effens-effens
aangeklam op te laat steek
as om gister se leefvuil blare op die balkon
met ’n besem bymekaar te vee
en kop in een mus vir die son ore aan te sit

***

woordstilstand

« Die skande van menswees – sou daar ’n beter rede wees vir skrywe? » (Gilles Deleuze)

Wat is die ruimte vir die digkuns in hierdie barbaarse tyd?

Dis nie ’n nuwe vraag nie en duik elke keer op wanneer die mensdom die dag ná elke tragedie in ’n doodloopstraat beland (of dan, soos in die Kaap, in ’n doodsláánstraat), en dit stel weer die onvermoë van Poësie om die Geskiedenis te humaniseer aan die kaak. Dan klink Adorno se wanhoopskreet nogeens op:

kan mens nog ’n gedig skryf ná wat in Auschwitz gebeur het? Hoe durf ons dit selfs waag?

’n Antwoord sou kon wees: hoe durf ons die sleepsel van die haas ondenkbare bestialiteit nié die hoof bied, nie woorde na die dood te slinger, nié die bors ontbloot in die gebaar van poësie nie? Maar dis dalk maklik om te praat…

Ek wil poësie hier in die fragmentarium met digkuns vertaal ook al is dit geen kuns nie maar eerder ’n digter beoefening van lig toeganklik vir wie dan ook. Lig is vanself: die behoefte is die weergéé daarvan, om die onvaspénbare digter te maak deur dit in woorde vas te weef.

Maar, sê jy (en jy behoort te weet), die gedig is ’n ontkleedanseres wat sukkel om ontslae te raak van die kleed ordentlikheid van taal wat haar aan bande lê. En Wang Ping het iewers die voor-die-skryfhand-liggende blootgelê: « Language, like woman,/ Look best when free, undressed. »  Sou dit enige noembare effek hê om die gedig gestroop van ooreenkomste kaal die straat op te stuur om te gaan onderhandel met die staat?

Ons kan nie lewe sonder teksture en oewers nie. Iewers praat poësie wel met my, maar dan wanneer die hoed as ware gelig word, die cache-sexe van ’n deelteken verwyder en slegs die soms bevlekte doek van neem-en-éét dis my joune oorbly om die verdeling van sugte in die dal van doodskaduwee te bedek, en om so ’n doek aan die vlagpaal te hys as tartende mantel voor die burgerry. Laat hulle dan maar oor die verlies aan die skyn van fatsoenlikheid kweel.

Poësie is broos al neem dit ook haar toevlug tot die metaforiek. So sterk soos sy en so vertroubaar soos heuning. Broos, want haar werk om die siel te omvorm en die hart te verruim is stadig en onsigbaar.

Al verbind dit ook die skone aan die universele kan dit nogtans nie wegkom van haar beeld as die dogter van eensaamheid en die kantlyn, soos die eggo van ’n donker droom nie.

Dis immers digters se aanspreeklikheid om daardie alleenheid nie te verloën en ook nie op te hemel, maar om altyd ewige reisigers te bly tussen wat binne hulle is en die buite. Dit is hulle wat die drag van die vraag omtrent die noodsaak vir poësie draaglik moet maak. Dis aan hulle opgedra om die ongedurigheid van hulle kaal ligkuns deur nog méér skeppende onrustigheid nuut te maak. Want hulle het nie luukse om ’n teorie teë te kom wat immuniteit kan bied teen die uitbreek van die poëtiese nie.

Ook nie teen die gedeelde barbarisme van menswees nie.

Dis nie dat die poësie vreemd is aan ons wrede tye nie – die digkuns was nog altyd die opstandige dogter van haar epog – maar eerder omdat elke viering ook ’n fees is en dit ons nie vergun word om die vreugde van die fees te ervaar nie.

***

poësie, ek sê
         is om met geslote mond
al die variasies op ’n niebestaande tema
te sing                           as enigste uiting
wat ons met die onkenbare
in gemeen mag beding

*

want poësie, leser, word gebaar
in rillende gewaarwording
van die rigting vanwaar
jou stilte vir oulaas
gewaar is

voordat woorde
dit doekvoetsoek-soek agterhaal
en ingeloop
beroof van alle geloofwaardigheid

*

en om dood te gaan
bietjie-bietjie maar kort-kort
die verrottende wond te lek
en met die laaste besittings
papier, dans-partituur, klip toegedraai
in lap in ’n kissie ingespit verword,

hier en daar en elders oral waar
of wanneer die tyd op hande is,
jy lankal gewoond geraak
vergete al vergeet het
hoe om sterwend te moes lewe
sodat geen dood jou
ooit soos ’n haan
weer op hol sal kan jaag

*

en gedig dan?
is die woordweerskyning
van die verdwynende gesig
hier in die papier?

***

***

’n Zengesegde lui glo:
"Als je niet vaak aan de dood denkt,
zul je het niet ver brengen."
Wat vertaal as:
"Indien jy nie dikwels aan die dood
                             dink nie
sal jy nie ver kom (in die lewe) nie." 
Wie weet, miskien verkies ek tog
                            vaak  bo dikwels.
En vir wat sou jy nou sodanig juis
vér wil kom? 
Is dit nie beter
       (en minder van ’n stoornis
       vir die omgewing)
om maar liewer so dikwels moontlik 
                        vaak by die huis te bly nie?
Laat die dood dan maar na jou toe kom
as hy so danig is om orig
daarop aan te dring om jou te sien.
(Vreemde gedagte
        dat die dood
          ook eensaam kan wees,
ook geselskap soek.)
Jy kan mos altyd maak
asof jy nie die klop
                     aan die deur hoor nie. 
Dat jy reeds hardhorend is.
Dat jy reeds horende doof
en siende blind te vaak geword het
om jou oë oop te hou.

*** 

***

lank het ek elke aand  vroeg gaan slaap
om die verlore tyd na te spoor –
en alle deurlopendheid verloor
van droom tot droom

om wakker te word en wil herwin
ter wille van sin en sintaksis  se skynhelderheid –
hierdie brokke, flardes, vlerkegeklapper,
en soms ’n bloedbesmeerde veer in die boom

***

die digter (be)skryf ’n gedig
laat die naelstring lank genoeg wees
vir Leser om die eksegese te leer wees

vanaf die begin ’n lint lyn
soepel en tog styf genoeg
gespan om die klanke in vas te vang
maar gesnaar ook voldoende lank
vir die ophang van die vers
in die lus liefs fluit-fluit met die gesig
na die lig gekeer om te sién
wat verkieslik nié gelees sal word
en jou blind soos die kind
se leer spel gaan laat staar
af in die hart van die labirint
waar passies woorde dwarrelkolk
en jy wat ek is se geesvolk hul bevind
om makaber te dans wat geen tolk kan ontsê

***

  • Teks en foto’s: Breyten Breytenbach

Lees ook

In die fragmentarium 2

In die fragmentarium 3

In die fragmentarium 4

  • 2

Kommentaar

  • Beste Breyten, 'n singvolle gesprek - ook oor die donker wat sleepvoet naderkom. Baie dankie vir jou ontroerende gedigte. Dit is soos asem waarsonder lewe nie moontlik is nie. Ek sal dit diep in my hart bewaar en bewaak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top