In die fragmentarium 3

  • 1
(maannaamnalaatsels vir die nag)

soos ’n sterfhuid vir léwe !

« … from the earliest times, every advance in the technologies for producing paper and covering it with words, signs, and images always brought with it the fear that what had been created might prove more a monster than a convenience. »
(from White Magic: The Age of Paper by Lothar Müller, as translated from German by Jessica Spengler)

***

ek het nog altyd gedog
as ek eendag wanneer dit net nag is
en ondeursigtig
en al wat oorbly in die gedagtekuip
verspot is
en die omdese tot verby ewigheid geligdig –
dat ek dan die enigste allemensgesig
na sal kan teken
om as vlies verdorwe vlees verbeel oor die skedel
onder weg te kan kruip
soos in ’n gedig

***

(pas de deux)

1.

gat skoongemaak
waar lyk moet gaan pas
in die partituur treurigheid geskryf op note
van die slotsloot

en nou nog net
om klaar te maak
vir die verhelderende
finale passies van vertelling
se tuur in die niet :

met die dood te dans
teen die einder

2. 

nee, moenie (vir my) sê
jy wil deurbreek na die niks
deur (by die deur uit) te wals
met dood – die siesaste danseres
in die eindelose geskiedenis van synwording nie !

wil jy regtig die deur uit
die nag sonder sterre in
dans in die arms van die gesiglose stil
één twee drie, een-twee-drie ?

nóém liewer sover ons (wil sou wou) weet
die betekenisvolle boodskapper
wat kom klop met die danskaart nuus

van wat jy reeds weet
en vergeet het jy weet
dat die einder op hande is
maar tog nog weet
jy het dit vergeet
buite onder die sterre

« moenie vir my sê jy het nooit geween
oor die skoonheid van te kon lewe
in die nimmereindigende sing en bedwelming
van illusie se waarwording op die dansvloer
tussen mede-sterwende leeflinge nie »

3.

en nou ?
as jy dan ontslae kon raak van die self
een twee drie
oplaas, oplaas
geplaas onder sterre –
wie gaan jou help om al hierdie gemors
(die bloed en derms
  die drome wat nie gedog kon word
  die stukkende fles vol dooie woorde
  soos ’n versameling motte)
op te ruim
om plek te maak vir die nag ?

***

« ai my kind
vergeet ! vergeet ! vergéét !
kyk, so baie lyke kan geen menseheugenis dra
en nié beswyk nie ! »

***

Verteller veronderstel Leser(s)

die verteller met die rou kopwond sê :
dink jy dis die mond wat nie wil ophou
lewe in die vrotbloei van woorde nie ?
en jy wou in vertroue mag rou
oor wat nog kom –
wil dat die ek-versteller selfdood pleeg –
(en soos altyd met die amenmoment
het die skryfvinger om die sneller gebewe) –

of het jy my van die vlug kom onthou,
Leser ?
jy dink ek maak ’n grap ?
     (kom ons om
     só kom ons om
     om om te kom
     krom en stom
     soos iets wat eens
     hier wou blom)

want vandat ek jou visualiseer
deur jou met vers en kapittel
gehoofletter te identifiseer
het ek lomp jou tjank afgetrap
soos die draad wat lei na andermansboord –
ek kan die stankdank van liefde nie meer verwoord
en jy (is) in die spieël so gefragmenteer
dat ek die klank nie meer beheer 
(kyk hoe langdradig word hierdie lyne nou) –

maar jy mag my vertrou –
ek gaan my lewe aflê
woord vir woord
omdat dit die enigste opsie is
om op te kan sê
(woord vir woord)
sodra die skrywe niks méér het om te gee
of bekostig

(behalwe ’n oepsie vir later se wegbêre)

 ***

dryfmaan is uit die water geskep
om met asem toegevou
soos die gedig-lyk
in die bark neergelê

te dobber op die donker spieël
se skyn
as verskeepte afwesigheid
tussen riete

só verlyf die klad
gewaad in woordekleed
ook as bladmusiek
met spraakbeelde bevlek

om van wordingsvergaan te sing
in die dood se plek

***

(beteken-is)

9 Jan 2023
om die maan
helder oordag om ons
in die niet se bodemloosheid
te sien skyn
oog in oog
is om die weg
na ’n oneinde
nie weer byster te raak

 

kyk hoe verspil woestyn
witsaad soos sand

man-na
is die ná-ma

naam vir maan
as dooierlewe

amper net so skaam
as die noemnoem

 

maar oor Afrika
was ons in die wolke
uit genade vir die maan
om met skaamte
nie onbedag lig te wil werp
op wat en wie hier benede baklei
om bestaansbesit en net
aan kan gaan as onnoembare verskynsel
3u10

vreemde gedagte :
ook oordag indien jy
hoog genoeg sou vlieg
bo die karos mis en wolke
beliglê die maan alles omheen
en maak van dag ’n helder nag

net soos
ook wanneer beweging
haar rug op jou keer

en jy reeds ingeskryf kluit
onder as
dit donker bly

tot in ewige gedagte donker
en gedig
al het jy ook die maan

se skyn
met jou saamgeneem
om die nag te ontstig
3u55

die verlede tyd van gedig
is gedig : geledig in tyd
is dit vir jou om wat dig is
weer oop te wurm
vir die uitvee van woorde
met die maan se gety
4u10

met ’n volle maan
deur die dag gereis
en die wolke was blou
soos wagtorings gebou na die hemel
om die einder se dans
uit te hou

sal die vlug se spoed
met lig ’n val van wolke op die vlerke
die begeerte na wat onmoontlik is
in moet boet ?

wat is die kleur van bloed se passies
in die wete van verbygaan ?
en waarom word die trapsoetjies
met die maan gespens in die pens
nooit weer blou nie ?
4u50

 

en voel jy nou beter ?
het jy verligting kon kry vir jou gemoed ?
voel jy die bloed weer ruis in jou are
soos wind se druising in hemelboomblare ?
of was jy maar net met die maan gepla ?
5u3

 

wat vlieg moet weer af kom aarde toe
vir die vervelling van klanke vertel
in die op- en aftel van woordskyn
om die lyn deur te trek
na dageinder in danspatrone :

dis dáár waar die son en die maan onder gaan
Bokkie, om ’n tuiskoms te bied
(ook al is dit net in naam
ter wille van die waan)
5u20

wysheiden

die tuiskomwerf
is die swerwer
se woorde-erf
onder dekking
van sterre se trajekte
afgestof en opgesê
vir ’n skyfieskerf lig
in die lensiesop
en die buitekans
om in hierdie elders
se bederfnis
te mag sterwe

***

(weerbegin)

jy sê buite jou raam vaar ’n volle maan
soos in ’n psalm verby
verby waar die nagholte
ook vol leegte is
om die brandende braambos te onthou te onthou
wat nie deur vlamme verorber kan word
en sonder blaam of skaamte wil saamsaam in kielsog

maar hiér waar sondernaam geen inspraak het
is die omheen ineens in newel gevou
sodat Klampunt se mishoring benoud steune kreun
om jou te waarsku jy loop gevaar
om lê-lê waar daar geen genoegsame vaamdiepte meer is
om die vaart te beaam te láát
die kus te laat gewaar

vroeëre seemanne het geweet van ’n hol
waar die anker gesak kon word
om binnensmonds te brom
vir so ’n verdwaalhemel om op te klaar

luister, heelnag was daar by stote die geloei
asof van ’n verstote koei wat haar koers
verloor het in die ontasbaarheid
en nou roep-roep na haar minnaar
in naam van die onthoutyd aan maan se strelende heling
na die naakte liefde van die vuurhoringstraal

my diepseeboot se naam is Leserlief
ek is liewer vir jou as die melkweg

ons sal wag vir die nag om gespeen te word
van die duister –
stel sekstant en kompas in op die môrester
en kyk, jy mag maar staar :
as aswoorde ook die vorme van stilte aanvaar
is die maan reeds onnoembaar daarmee heen

(4, 5 Feb 2023 – Ark Royal)

***

moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie

Leser:
As jy maar weet
Jou stillees was ’n murmelende stroom
Waar ek moeg gereis kon buk
Op soek na die afwesige gesig
En my dors te les
In die woordspieël droom
Wat onleesbaar vervloei
Soos ’n gedig

Lees ook

In die fragmentarium 1

In die fragmentarium 2

In die fragmentarium 4

  • 1

Kommentaar

  • Jacobus Swart

    trek los die gaas se rygdraad
    voor die oog

    ontvang die beeld aan sy naelstring
    onderstebo

    retinaloslating
    in sensuurlose kristal

    ontbind die daad
    in die hand

    op sy rugkant rustend
    stof op stof

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top