«To live and die amongst foreigners may seem less absurd than to live persecuted or tortured by one’s fellow countrymen. All this can be true. But to emigrate is always to dismantle the center of the world, and so to move into a lost, disorientated one of fragments.»
(John Berger – And our faces, my heart, brief as photos)
***
23 Mei 2023
Om 1-uur – ons sit nog aan tafel in die eetplek vir trokdrywers en ander ruwe, fris Katalane onder in die vallei, Can Barcelo, toe die whatsapp tjiep-tjiep : Baby Pienkpop Poekels Ragie Rachel Susanna, my kleinsus, is om 12.45 oorlede. Oplaas verlossing vir haar. Sy het enkele dae gelede nog kon praat om te sê sy is gereed. Toe, ’n dag of wat later: «Ek wil nou gaan.» Hopelik en gelukkig was die oorgaan net ’n dieper insluimer danksy die swaar dosisse morfien om die pyn en die angs te bedwing.
Nou bly daar van die oorspronklike gesin nog net Kolonel Jan en jy. Het broer Jan al die nuus gekry ? Sy vrou, sy toegewyde en lankmoedige vrou, skryf hy het so maer geword en sy spierwit vaderkrismisbaard is nóg weliger en langer. Sy skryf dat hy ’n onrustige nag gehad het met veel pyn in die skouer (as beroepsoldaat is hy sewe keer verwond) maar dat hy vandag rustiger en stiller is. Hy soek blykbaar gereeld na Ounooi, ons moeder, asof sy nog daar iewers naby moet wees maar sy is al so lank één met die grond bo die see, en dan huil hy al is dit sonder trane. Op julle onlangse en seker finale besoek – hoekom is alles nou ’n afskeid neem ? – kon jy hom nie in die oë kyk nie. Sal hy vandag onthou wie Ragie was ? Sy vrou sal later laat weet sy gaan hom nie vertel van ons kleinsus se dood nie, hy sal dit nie kan verwerk nie, dit was reeds vir hom baie erg om te hoor sy is siek, en hy kan nog steeds nie die wegval van broer Cloete, ou Stinkie Knorres, aanvaar nie – hulle twee, so uiteenlopend van aard, was bloedbroers en baie geheg aan mekaar – en wanneer hy by naam soek na die afwesige broer nou sonder taal of tyding, troos sy gelowige vrou hom dat Cloete veilig by liewe Jesus is.
’n Paar weke terug het AnnaKind, Ragie se dogter, ons laat weet haar ma ly baie en is onrustiger en dat sy na jou soek by name. Jy het met AnnaKind afgespreek om Ragie te bel op haar, die dogter, se selfoon op so en so ’n tyd. En jy het so gemaak om vir Ragie te sê hoe lief ons almal vir haar is. Onbeholpe. Het sy jou gehoor ? Jy kan nie onthou of sy iets geantwoord het nie, jy verbeel jou jy het haar iets hoor sê. Miskien het die stilte met jou gepraat. Tog – daarná, so het AnnaKind gerapporteer, was haar ma minder ontsteld.
Ons betaal, ry heuwel-op terug huis toe. ’n Wind beweeg die blare in die boomkruine, die olyfboom word silwergroen van kleur. Jy maak die skootrekenaar oop, hierdie een waarop jy nou sit en pik soos ’n kieskeurige voël, en die eerste beeld wat opkom is ’n foto van julle drie op die stoep van die kolonel se huis wat oor die see uitkyk soos oor ’n Chinese verlede van reisiger-skilders se vou op mistige vou voorstelling van landskap. Of miskien is die foto daardie selfde dag geneem in die restaurant waar julle middagete gaan eet het. Jan jonger en sonder baard sodat jy die effens navrante glimlag kan sien, die intelligente aandag van die oë, hy was toe reeds donker van aangesig maar is nou behoorlik blas soos oom Jors was, geruite hemp, ’n glas wyn in die hand; dan jy, regop maar vorentoe gebuk soos die een wat die land verlaat het (ek is ook familie); en dan julle enigste suster effens spottend maar tog ook trots, die lig is in haar oë maar die blik direk op die kamera en haar regterarm verby voor jou gestrek tot waar haar hand (paaiend ? vertroostend ? besitlik ?) op oudste broer Jan se voorarm tot rus kom. Die laaste keer wat ons nog drie was, nog saam was. Jy probeer die foto isoleer om dit eenkant te kan bêre en dalk aan te stuur vir die tweede en derde geslag kinders … maar dit bly vervloei in ander terugdinkbeelde van daardie lente, 2020.
een-asem-saam
(vir Rachel)
vlees en bloed
van my moeder
gees en vlees en uiting
van my vader
en terug
terug
in die verste weet
en vergeet
van voorgeboorte roeringe
van mensweessoeke
uit die diepste holte van lig-begeerte
is jy gebore
deur die eenrigtingpoort
van syn
weer en weer
en weer
word jy vernietig
in die vryval
en die singende ruim
omvorm tot stof en self
en vergeet
en verdwyn
in nie-syn
jy lê die gees met ’n glimlag neer
in dit wat ons aarde en aard en aand is
dit is vir ons
die pyn
hierdie keer
dit is hoekom jy méns is
en moeder en óns
en voëlsang in die angs van vergaan
maar ook die lof-ode
ons eer jou
kleinsus suster ons voorlewe se kind
en kus jou teer
in die naam van ons gedeelde sterfte
die brandende pit
van bewus-onbewuste lewe
miskien ontmoet en herken ons mekaar
weer en weer
in ’n ander gedaante
en vryheidsvorm van lewe
die skynsel tussen blare
wolke se streling en spel oor die vloei van berge
maar vir nou en hier
is jy enig en ons in jou wese
is jy vry in jou eenmalige sterwe
en ons is fier
om jou heengaan te beween
om jou te onthou soos ons ons asem
onthou om jou in toe te vou
in die oneindige van ons allersterwe
***
Sien, dit is die diskoers wat ek gereed gehad het toe ek julle, al nege van ons, die lewende lesers saam met die onbeskaamdes, hier vergader het vir ’n bestekopname en die uiteensit van skadubewegings wat die vloei van die narratief vertroebel. Jy het besluit dit het tyd geword om van die skerwe bymekaar te begin pas. Dat die ‘onderwerpe’ duideliker toegeskryf moet word aan van die stemme wat so ver al saam trewwel en meeste van die tyd sommer net daar is vir kwaadgeld of om allerhande slimmighede – dikwels krom opgetel elders – kwyt te raak en dit dan nog bowendien aan my toe te skryf …
En opeens het die teenswoordige dringend geraak en begin deurbreek. Al is dit ook net om dit in ’n aanwesigheid duidelik te maak dat daar ’n deurlopende ‘werklikheid’ is wat nooit ontken kan word nie.
Thich Nhat Hanh, die Viëtnamese wyse man ook Thay genoem in die omgang – hy het oa die ‘stilloop’ van uiterste meditasie beoefen en geleer (Thay beteken ‘Meester’) – het om 01.30 uur die 22ste Januarie in die Tir Hiéu-tempel in Huế, Sentraal-Viëtnam, oorgegaan van oë toemaak (hy was die afgelope jare in ’n rolstoel na ’n beroerte en is toegelaat om na vyf-en-dertig jaar ballingskap terug te keer na die tempel waar hy op ouderdom van sestien monnik geword het en waar hy die waterbuffels opgepas het) na die oopmaak van oë deur geslote ooglede.
Hy was ’n besonder geliefde leermeester, het veel gereis, het al die jare vanuit die buiteland tempels en skole in sy tuisland ondersteun. Hy was 95 jaar oud. Sy ‘tuiste’ was Plum Village in die suide van Frankryk. Die leerstelling waarvoor hy veral onthou sal word was ‘interaksie’. Sonder vooroordele en met ’n eindelose medeliefde.
«Om ’n toevlugsoord te soek is in die eerste plek op die eiland van onsself en vervolgens op die eiland van ’n sangha(’n Boeddhistiese gemeenskap). Hierdie eilande is versetsgemeenskappe. ‘Verset’ beteken nie dat mens te velde trek teen ander nie. Dit is om jouself te beskerm so soos om in ’n huis te wees jou beskerm teen die weer.»
Middelwêreld.
So begin die dae van ritueel. Jy kan sien dit gebeur nou selfs terwyl ek hier skryf.
Die monnike en die nonne wat so dreunsing en hom herinner aan al die waarhede, dra snoetdoeke. Thay lê op ’n baar, sy gelaat is glad en blink («like a baby» sou Bra Leonard kon sing). Die rituele hou vir agt dae aan. Tydens een van hierdie sessies sal hy in ’n kis geplaas word, toegevou in lappe, en die kis verder volgemaak word met rolle geskrifte, met wierook en ander welriekende substansies. Miskien sal hy nou onthou van die waterbuffels wat hy na omgesien het, miskien van die familie wat hy gehad het, miskien van die riviere en weidings en berge wat hy gesien het. Hulle sê ’n Himba kry ’n eie lied reeds van voor die geboorte, dit kom met die wind na die bome, sy ouers neurie dit wanneer sy/hy in liefde verwek word en sy hele lewe lank word hy of sy daardeur gerig en begelei en betig tot wanneer sjy oud is en op die sterfbaar lê, hoe almal dan sjaar lewenslied ken en vir ’n laaste keer saggies oor en oor sing …
Op die negende dag – of die nag van die neënde – sal die lyk na buite geneem word om aan die vuur se onthou-en-vergeet toevertrou te word. In die virtuele werklikheid waarbinne ons lewe kan daar geluister word na Thay wat een van sy eie gedigte voorlees – langsaam en duidelik. Net een keer struikel hy oor ’n woord.
Please call me by my true names.
Don’t say I will depart tomorrow (sê hy) –
even today I am still arriving
…
Look deeply …
…
I am the child in Uganda, all skin and bones,
my legs as thin as bamboo sticks.
And I am the arms merchant,
selling deadly weapons to Uganda.
I am the twelve-year-old girl,
refugee on a small boat,
who throws herself into the ocean
after being raped by a sea pirate.
And I am the pirate,
my heart not yet capable
of seeing and loving.
I am a member of the politburo,
with plenty of power in my hands.
And I am the man who has to pay
his «debt of blood» to my people
dying slowly in a forced-labor camp.
…
Please call me by my true names,
so I can hear all my cries and my laughter at once,
so I can see that my joy and pain are one.
Please call me by my true names,
so I can wake up,
and the door of my heart
can be left open,
the door of compassion.
***
The Alphabet of humankind, the Dictionary of Diversity, the sharing of what was lost or wasted or discarded in the continuation of shaping and reshaping ourselves … (In being shaped and reshaped by others, including you, Leser.) With the accent, or attention, particularly, on what was small – insignificant, maybe marginal, maybe incidental, maybe even just part of the texture. It is in the infinitesimal, the evanescent, that we are the most alike – in the expression of difference and the diverse that we are authentic. It is also here that we find ultimately not only tolerance for the sake of the common good, but the veritable values we strive for … This ought to be the mission for whatever Agency that wishes to be a storehouse of humanity’s collective awareness. But it will have to be a humble mission if it wants to perdure.
***
(s)now
twee sneeuverse
(1)
wanneer die dag verbleek
en nag se versluiering as blousel
uit die laken gebleik word
klim die piekereeks waar sneeu
koulik van die donker gebruik moes maak
om uit te sak
nog hoër, nog kaler
hemel toe
en jy vra jou af
of jy daardie steiltes uit sal kan stryk en klim
om naak in die vrou se verblindende vlam
stilte gevou
te verdwyn
(2)
(skynsel van sneeu se leegtes)
binne die buitelyne van beswering
beweeg verbeelding as vertolkkolk
van die bestaande
en omvorm vryheid –
voor watter altaar moet ek die dankoffer sing
vir die omlyning van syn in tyd
wat bepaal is ?
wie gaan die lering van die selfportret
wat soos hierdie gedig lyk
en waarmee ek die dood af wou skrik
tot verstaan se maansverduistering bring
in die sneeu ?
***
In the beginning there is life … We don’t know where the beginning is. So the beginning is here now. The rest is living. We live life, all of us: the people, the ancestors, the universe, the leaves, the wind, the volcanoes, the thoughts, the words, the larvae and the flies … There is no ‘they’. Life breathes us.
Iets minder brutaal sou die woorde van Oom Tao wees soos hy dit opgeskryf het in sy opstel «At Maclears» in die boekie Pots and poetry and other essays:
«I submit that deadness is something proper to conscious beings. It is not proper to rocks, which we kill by projecting our own mortality upon them. We speak of somebody as stone dead, but who killed the stone? It was killed by some Cartesian poison. Perhaps there is life in the old stone yet, a life that has emerged in us as consciousness, and which draws us to the rocks as beings connatural with us.»
En John Berger weer eens, dié keer kom dit uit sy Confabulations: «Vir geruime tyd al vra ek my af of die vorms van die Natuur – ’n boom, ’n wolk, ’n rivier, ’n klip, ’n blom – waargeneem kan word as boodskappe. Boodskappe wat nie in woorde uitgedruk kan word en nie noodwendig aan ons gerig is nie. Is dit moontlik om die Natuur se vorms te leesasof dit tekste is?»
Veral wanneer ons in gedagte hou dat woorde ook slegs boodskappe is.
***
For I wish to get to the poetry, Jan Afrika says plaintively. What am I to do with this corpse ? Can’t I just call her ‘Leser’ and bury her here as if she were the moon ? Is it then not possible to cut the umbilical chord between death and poetry ? Maar nie almal wat lees sing hulle dood nie, maak jy beswaar. Dit maak nie saak hoeveel mantras opgesê word nie, Thay is nog steeds dood selfs al blink sy hele gesig soos ’n ingehoue glimlag. En miskien is dit ook so dat nie alle dooies daarin belang sou stel om aan te hou lees of gelees te word nie. Hulle ken immers die rympies en hulle weet die beskrywing kan net ’n inkantasie wees, kan nie die werklikheid wat om die grense van ons gesange flikker vervang nie. Dis nou al soveel dae en nagte en ons is byna aan die einde van die siklus. Daar kan tog nie veel van hom oor wees nie. Die gebalsemde lyk sal in die nag van Saterdag na Sondag, wanneer die maan nie meer skyn nie, na die brandstapel geneem word. En ‘hergeboorte’ is sommer stront – al is dit so dat stront ook hergeboorte is … It is so long since I have lost contact with him, Jan Afrika mumbles. Van wie praat jy ? vra jy. My father, Jan Afrika says. I’m talking about my ancestor. Maar behoort dit nie in die meervoud te wees nie ? wil jy weet. So van «our father who art …» ? You wouldn’t know, he says while shifting the corpse resting on his knees, our ancestors are indeed multiple on this continent. Sometimes you think you recognise them in an old down-and-out bergie scrabbling for food in a rubbish bin, sometimes you see her fleetingly as an angel as she carefully picks her way to the sea, she must have been a beauty in her day, maybe she was even crowned a queen … Mostly you discover them when they are already ancient, or appear to be so, when they should have been dead long since. Tatamkhulu Afrika is nearly blind now. Please help me remember. He was born in Egypt, you know, and adopted by a South African couple with rigid jaws. They took him to that wild land where he often lived up a tree, the wind taught him to write poetry. He fought the war, the blind one, in his native desert country and then joined the underground down south to struggle for liberation, he worked as barman and miner and bookkeeper, he is a Muslim mystic of the shriven and shriveling flesh and now he lives the life of a mad old poet in somebody’s backyard in District Six to bay inaudibly at the moon. This old man was going to be run over and killed by a taxi and the passengers were not even going anywhere particular. Words are black at night.
***
Only my skin still holds
my shape. This name that flees
me like a paper is
but a paper, is
a sound that is but the wind’s.
All I leave are these
tracks growing strange,
this dung beside the road,
this flesh a thorn has speared.
(Tatamkhulu Afrika at 80, from «Who will reach to me a hand» – Nightrider: Selected poems. Snailpress)
***
to live to live to die
is is is
to kill to die to live
***
***
handleier
oudword is wanneer die knop
nie meer in die broek is nie
maar in die keel
vir ’n wyle
se tyd van kwyl
voordat dit te swaar op die krop
losgeknoop sal word
om nes te skop in die versugting
van ’n laaste skroppie
ondergronds
***
wanneer jy presies om middernag
geen klok sal beier nie
opstaan om water af te slaan
is die ou opstal met die vele donker lewens
deurtrek met die goeie geur
van verbrande groeneikeblare in die haard
waar gister se vuur tong uitgesteek het –
iewers moet die al tot ’n einde kom
sodat daar weer met ’n begin begin kan word
dit maak nie saak nie
buig jy handpalm teen handpalm
om eindelik ten behoeftige laaste die ou meester
se aanvaarding in ontvangs te neem –
hy is al soveel en soveel jare gelede daarmee heen
en jy het die rituele murmeling van toewyding vergeet
dit maak nie saak nie
en voel die meester se vlieëplak skerp
klap in die skof waar vlerke gewortel verdor –
skielik is jou gemoed met weenverlange oorspoel
want wat het geword van ons wat vanslewe al nie meer hier is nie ?
***
’n maandans
moes dink aan ’n onvoltooide vergelyking
soos ons saamwees die tewaterlating is
van twee bote in die nag
waar maan op die dek blink
verby mekaar vaar
en tot stilstand kom
ankers diep verstrik
hoe ek jou naam roep –
jy het oor die reling gebuk
om te soek na die stem se vandaan –
twee skepe, verroeste walvisse
uitgekuier aan dieptes
waar die maan nie verskiet nie –
en nou bo-op die water lê wieg
soos mastodonte op sterwe na dood
met maanlig die lykgewaad glinsterend
oor dye en swye –
toe die vaartuie aan mekaar raak
byna met die streling van liefde
gaan ek by jou aan boord
met ’n lasbrief vir uiteindelikheid se heling –
so lank so ver so vergete
soek ek na jou oor seë en kontinente –
en jy was nie daar
en jy is nie hier nie
net die donker streep na die agterstewe
toe nag op die dek geblink het
waar jy dans met die maan
as geboortedroom –
dis waar dat die lewe ’n partituur is
om die tyd ritmies uit te meet
vir die dans
vir die allesvergeet van die dans –
dis ook waar dat diepseediere
bo-water kom dryf
wanneer die lywe verlyf in ’n metafoor
wéét die maan het in die niet gesink –
***
Paul Celan, translated by John Felstiner and quoted by the grootmeester of South African literature, John Coetzee, said in a 1958 speech, in response to doubts about the future of poetry: «There remained in the midst of the losses this one thing: language. It, the language, remained, not lost, yes in spite of everything. But it had to pass through its own answerlessness, pass through frightful muting, pass through the thousand darknesses of deathbringing speech. It passed through and gave back no words for that which happened; yet it passed through this happening. Passed through and could come to light again, ‘enriched’ by all this.»
***
jy vra vir wat ek so baie skryf
en hoekom suffel stront ?
leser, dis om al die gemors opgehoop
onder die kors met die hand in eie bors gedoop
woord vir woord leeg te skep, en in die lyf
’n wég te baan vir asem om in en uit te loop
***
alles ist weniger, als
es ist,
alles ist mehr.
(Paul Celan – Pour Paul Ricoeur)
alles is minder as
wat dit is,
alles is meer.
***
meetsnoer
(«Jy kan nie wees sonder om te word (te verword) en te ‘woordword’ met verwysing na wat jou stimuleer tot begrip of refleksie nie.» – Picaro)
wéét dan om één te word
in verwording met die land se donkerwoord
’n goeie rookskerm is vir die kamiljoenhand
wat die maan aan die brand soen in die boord
***
29 Mei 2023
Vanoggend is ’n vreemde ‘boodskap’ afgelewer – in die sin waarna Jan Herder na natuurverskynsels of vergestaltings – die wolk, die boom, die blaar – verwys as boodskappe wat ons as deel van die natuur behoort te kan lees. Jy was buite voor die huis, niemand gepla nie, dit was nog vroeg en die son nie direk nie en jy besig met ’n gedig (oudword is wanneer jy die outomatismes van oorlewe begin bevraagteken – daardie intieme vanself gebare gebore uit die bewuswording van syn – sonder om te kan meet hóé jy dan gekom het van weet na vergeet). ‘Besig’ beteken dat jy iets soos die voorgaande wil aansien vir ’n moontlike gedig en in die poging om jou spinnekopdenke te ontsyfer en as ’n leesbare sekwensie oor te skryf bedag is op die onverwagse insae, die struikeling of boodskap wat ’n verkeerde ontsyfering aan die hand kan kom doen. Jou nagte is vergeetagtig. Jou hand word styf. Hoekom het jy skielik opgekyk ? Wat het jou onbewuste aandag getrek ? In jou half-doofheid kon dit beswaarlik ’n geluid gewees het. Die lug was blou en wolkeloos. Nog nie gebrand nie. Uit die lug, of dan van ’n hoogte van seker vier of vyf meters, daal ’n perfekte veerneer. Jy is alleen. Geen voël in sig nie. Die lieflike veer, donkerblou met ’n suiwer silwer buitenste rand soos ’n stralekrans, is skoon en so ongerep jonk! Dit wentelval vertikaal uit die helder hemel (en hoekom sou dit ‘kaal’ wees) in ’n grasieuse tollende spiraalbeweging soos ’n ballerina wat op één voet in die rondte draai. Hoe moet jy dit interpreteer ? Die ervaring is so ongewoon en so sonder enige bekende oorsaak of verwysing of konteks dat jy slegs kan aanvaar dit moet ’n veer uit die vlerk van ’n onsigbare, speelse engel wees. Jy neem met eerbied en ootmoed en aanvaarding besit van hierdie metafoor vir uitdrukking. En wat nou gemaak ? Ons skryf nie meer met vere nie, Leser.
***
Daar móét tog engele wees! Wat hulle doen, waar die stasies van verantwoordelikheid aan hulle toegesê ook mag wees, en hoekom hulle vanaf selfs vóór die bewuste mensegeskiedenis deel is van ons geheue/bewussyn/verbeelding/drome, verskil van tradisie tot geloof. Lewe hulle tussen ons sonder dat ons hulle identifiseer behalwe soms in die seerkry van die hart of die élan van ’n taal wanneer hulle gemetafoor tot aanwesigheid ’n vergelyking word in ons ongehoorde fluisteringe ? Of versinnebeeld en gevisualiseer in verhale en kunswerke ? Ons weet niks van hulle familielewens nie. En tog, soms is daar ’n vlietende skaduwee. ’n Voorgevoel. En soms fladder ’n vreemde veertjie neer en kom lê op die aarde soos die teken van ’n aanwesigheid wat was of iets wat ongesiens beweeg het. Maar ons bly bewus daarvan. Of ’n onverstaanbare en dalk dringende boodskap. Dikwels dink ek dan aan Mazisi Kunene, die trotse Zoeloekryger as digter wat sy weg in die fragmentarium van ballingskap kwytgeraak het. Al waaraan hy vas kon hou was sy sonore isiZoeloetaal. Hy het vet en grys geword, by tye te veel gedrink om sy vandaan te vergeet, en homself Raymond genoem. En toe het ons kontak verloor. Dit was ’n leeftyd gelede. Ek verbeel hom waar hy nou is, gehurk langs ’n vuurtjie op die oewer van die Groot Oorkant, met ’n vleisie aan die lempunt van sy assegaai oor die kole. Miskien die vlees van ’n engel ? Wat anders sou hy hê om te eet in ons gedeelde verbeeldingsgeheue ? Hy was ’n man met sterk vleesluste. En soms dwarrel ’n veertjie grond toe.
***
binne-oorland
«In this world which we enter, appearing from a nowhere, and from which we disappear
into nowhere, Being and Appearing coincide …» – Hannah Arendt
oor seë het ek gedroom
van onstuimighede of ’n blou spieël
wat die dae in hulle nagte uitspoel
sonder die spuim onsekere gedobberbodder
van besluite neem
om ’n onderskeid anders in te kleur
met kaaie aan opbergloodse van hawestede
waar die dood uit donker lande grootmaat
verkoop word as smokkelware
waarop beslag gelê is
(die vragbriewe van oorsprong was ook vervals)
van mishorings wat stoei met die oplê van newelstilte
om vuurtorings wat gloei in die nag
het ek gedroom
dieper die lewenswyke in
op soek na koffie
dors vir die gefladder van nuuskierige oë
bo maskers agter kafeevensters
na waterslote
na keie en blou deure
na waar kameelperde in glaskaste
honend troon bo ’n herinnering aan vlees
na steë waar hoere hulle koggelware smous
met rek-etikette waarvan die oorsprong vervals is
na binnehowe en sonsakpaleise
en dieper die hinterland-kontreie in
oral asof weer
’n eerste keer
oral was alles presies
soos bekend
langs paadjies wat oor rantjies kronkel
en meelopers wag om ’n toekoms te bekonkel
teen die soetelaar se eenmalige afslagpryse
van jurke wat uitgetrek word om kaallyf
in vinnige riviere te spartel
in spelonke waar die tyd teen wande gegrif is
toe alles so bekend was
soos ’n eerste keer
in die donker uitgespel
van verre weë het ek gedroom
wat ore-in-die-nek pyl
na sidderende stede
met woonwyke vol glans
en by die kruisings
galgpale soos uitroeptekens hoër gekruin as die hoogste bome
sodat voëls nooit verdwaal of hoef te verhonger
want uit die vlerkskrif van krete
het ek af kon lei
om die hedewete uit te sonder soos ’n sonsondergangnag
soos ’n god wat wrang die wenkbroue lig
dat daar ’n hemel is vir reisigers
wat oopoog deur die lewe gaan
om die bekende te ontdek en verstaan
en van liefdes
en van intimiteite
en van sang
en van niks om ooit
voor bang te wees
selfs nie eens die ink
so koddig gespatsel
uit die hand se mik-mik dans
tot hier
tot waar daar nie meer ’n gesig
in die spieël is om gewig te gee
aan die tyd se wieg-wieg bieg en geliegtery
in die afwesigheid van lig nie
tot hier
aan die einde van die gedig
waar ’n slotreël uit die mou wurm
na hier
waar alle makkers verdwyn
omdat hulle nooit bestaan
waar daar geen pad is
na die onbekende van ’n eerste
laaste keer weer
met die oorsprong van ek ook vervals
want wie het dan gedroom
vir so lank soos wat nodig was
vir die woordverspilling om te voorspel
dat dit niks is om tot hier te skrywe
waar daar niks is nie?
Lees ook:
Kommentaar
Liewe Breyten, dit is met ontroering dat ek jou wankelwoorde lees. Ons wankel almal na die dood. Die gedig vir jou kleinsus, Rachel, is ontroerend. Opregte meegevoel met haar heen-gaan. Al is sy weg, is haar bloed nog in jou are. Lewensbloed. Ook jou skrywe oor broer Jan wat na Ounooi ver-lang, is aangrypend. oudword het my diep geraak. Dit bly die wonder van gedigte dat dit bande oor die see en kontinente smee. Hartlike groete vir jou, en ook vir Yolande. En dankie vir jou woorde wat harte diep raak.
Hartverskeurend mooi. Sterkte.
Die dood van 'n geliefde is altyd pynigend.
Dankie, Breyten, dat jy nie stilbly in ons groot stilte nie.
Die foto van Rachel: poreus, varsgebreekte Carraraklip.