Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Nicolette Steyn praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.
Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?
Ek is Nicolette Steyn, ’n Afrikaans-dosent by die Universiteit van Namibië. My meestersnavorsing het gehandel oor die houdings en persepsies rakende Afrikaans in Namibië ná drie dekades van onafhanklikheid.
Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?
Ek wou graag my liefde vir my land en my liefde vir tale kombineer en ek was nuuskierig oor die inwoners (Afrikaanssprekendes, sowel as nie-Afrikaanssprekendes) se houdings teenoor Afrikaans, en wou toets of dit wel so positief is soos wat mens dit meestal ervaar. Die resultate het daarop gedui dat die oorgrote meerderheid van die steekproef ’n baie positiewe houding teenoor Afrikaans het.
Hoekom navorsing in Afrikaans doen?
Afrikaans is my hartstaal. My brood en botter. My primêre belangstellingsveld. Ek is baie lief vir tale en het ook Nederlands, Duits en Engels studeer. Maar daar is net iets aan Afrikaans wat die taal nog altyd heel bo aan my navorsingslysie geplaas het. Dis moeilik om presies te kan sê wat daardie “iets” is, want dis eintlik net so divers soos ons geliefde taal self.
Dis die feit dat ek my gedagtes en gevoelens – sonder om te veel daaroor te dink – beskrywend kan verwoord. Dis die mense – elk met haar/sy eie dialek, variant, aksent. Dis die beeldspraak wat lesers betower en die poëtiese gebruik in liedjies en gedigte. Dis ’n gevoel van “tuiswees” en selfs “tuiskoms” wanneer jy vir ’n ruk lank nie jou moedertaal gehoor het nie. Dis ’n klein bietjie van alles, toegedraai in ’n taalliefde waarmee ek net eenvoudig gebore is.
Is daar werk en toekomsmoontlikhede in 'n Afrikaanse omgewing?
In Namibië is die meerderheid werksomgewings nog baie Afrikaans, maar om meer spesifiek te wees: Indien jy Afrikaans studeer het, is die meeste werksgeleenthede as onderwysers en joernaliste en ook hier en daar vertalers of redigeerders.
Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy 'n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?
Ja, die navorsers, asook die navorsing wat aangebied word, verteenwoordig verskeie variëteite van Afrikaans.
Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?
Afrikaans behoort aan elkeen wat die taal lees, skryf, praat en daarna luister. Afrikaans behoort aan elkeen wat die taal haar/sy eie maak deur hul diepste gevoelens daardeur uit te druk, of bloot net die taal op straat te gebruik as ’n algemene kommunikasietaal.
Wat het jou opgeval van die ander referate by die kongres?
Talle referate wat op die kongres gelewer is, het gehandel oor Afrikaanse taalverwerwing en uitspraakwenke vir tweede- of vreemdetaalsprekers. Dit was vir my baie interessant, omdat ek self met tweede- en derdetaalstudente werk, en die feit dat daar tans so baie navorsing in dié veld gedoen word, is verblydend. Dit bevestig net weer eens so ietsie van ons taal – dat niemand dit gaan stuit nie. Net soos die taal reeds byna 100 jaar sy skoene volgestaan het, gaan dit vir nog eeue ore en monde vul met sy kenmerkende klanke.
Hierdie einste klanke veroorsaak dalk dikwels hoofbrekens vir tweede- of vreemdetaalaanleerders, maar darem kan ons daarby berus dat daar altyd ’n onderwyser, ’n dosent en verskeie geloofwaardige bronne sal wees met die nodige kennis om hierdie taalaanleerders te help.
Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?
Dit is altyd baie lekker om omring te word met mense wat dieselfde belangstellings as jy het. Dit gaan nie net oor die akademiese aspekte nie; belangrike vriendskappe en netwerke word ook by sulke kongresse gevorm.
Lees ook: