Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Natasha Harmse praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.
Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?
Ek is ’n MA-student in skeppende skryfkunde by die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US. Die teoretiese gedeelte van my studie gaan oor die gebruik van die objekkorrelaat, oftewel figure of gestaltes, in poësie. Ek kyk spesifiek na drie Afrikaanse digbundels waarin hierdie tegniek gebruik word: DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok (1979), Antjie Krog se Lady Anne (1989) en Jolyn Phillips se bientang (2020). Nadat ek hierdie tegniek deeglik ondersoek het, is die idee om dit in my eie kreatiewe projek toe te pas.
Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?
Ek stel belang in die maniere waarop literêre tekste, veral gedigte, inmekaarsteek. Daarom benader ek hierdie tekste soos wat ’n motorwerktuigkundige dalk ’n enjin sal benader: Ek wil ’n werkende masjien uitmekaarhaal en die onderdele bekyk voordat ek dit weer aanmekaarsit – en dan hoop ons dat die motor nog sal loop nadat ek daaraan gekarring het!
Hoekom navorsing in Afrikaans doen?
Hoekom nie?
Is daar werk en toekomsmoontlikhede in 'n Afrikaanse omgewing?
Mag ek die vraag verbreed, want ek wonder of daar werk en toekomsmoontlikhede in ’n Suid-Afrikaanse omgewing is? Ons het ’n hoë werkloosheidsyfer, maar ten spyte daarvan sien ek tog geleenthede om in Afrikaans te lewe en werk. As daar nie bestaande geleenthede is nie, moet ’n mens dit seker maar self probeer skep.
Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy 'n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?
Benewens die referate en navorsing waarin verskillende variëteite van Afrikaans die hooffokus is, het formele en informele gesprekke daarrondom dikwels opgeklink by die kongres. Dit is wonderlik om nuwe perspektiewe aan te hoor en om saam daaroor te dink en te praat.
Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?
Ek dink ’n taal is ’n bietjie soos ’n kat – behoort dit ooit régtig aan enigiemand? Ek begryp dat dit verstrengel is met kultuur en identiteit, maar om ons nuwe R100-noot aan te haal: “united in our diversity” – miskien behoort dit aan ieder en elk wat Afrikaans praat en gebruik.
Wat het jou opgeval van die ander navorsingsreferate by die kongres?
Die wye verskeidenheid en die hoë gehalte van die navorsing wat aangebied is.
Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?
Ek het dit al elders genoem, maar dit was ’n plesier om so ’n goed georganiseerde kongres by te woon. Dit was lekker om weer die USAN-veterane in aksie te sien, maar ook om nuwe mense te ontmoet en nuwe verhoudings te smee – dalk is daar volgende keer ’n referaat of twee oor nuwe navorsing wat uit hierdie ontmoetings spruit.
Lees ook:
Kommentaar
Opwindende projek! Sien uit na eindproduk.