USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Carla Lindt

  • 0

Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Carla Lindt praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.

Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?

Ek is ’n nagraadse student aan die Universiteit van Wes-Kaapland in die Departement Afrikaans en Neerlandistiek. Ek het in 2023 my meestersgraadverhandeling vir eksaminering ingedien en my fokus is hoofsaaklik op die vind van oplossings vir die uitdagings aangaande die gebruik van dialekte in die klaskamers – spesifiek in Afrikaansonderrig.

Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?

Toe ek hier by UWK kom studeer, het ek ontdek dat alhoewel my medestudente Afrikaans praat, praat ons almal verskillend. Eers was dit vir my nogal snaaks, omdat ek Engelssprekend en van die Kaapse Vlakte is, maar hier praat my maat van Ceres en Upington nou dan ’n ander variëteit van Afrikaans.

Die modules wat ek voorgraads gedoen het, het eintlik my kennis oor die verskillende variëteite van Afrikaans uitgebrei. Ons is geleer dat alle variëteite gelykwaardig is en die gebruik daarvan gaan om kontekstuele gepastheid. Maar toe ek gaan skoolhou, het ek agtergekom dat die kinders wat Kaaps en ander dialekte praat, gepenaliseer word as hulle in Kaaps skryf of praat. Daarom het ek ondersoek ingestel oor die gebruik van dialekte in die klaskamer.

Hoekom navorsing in Afrikaans doen?

Ek hoor baie keer mense praat van “Afrikaans is besig om te sterf”. Dis glad nie waar nie! Daar is soveel mense wat die taal praat, daarin skryf, sing én daarin leef. Toe ek in my eerste jaar vir vakadvisering gaan by Anastasia de Vries en vir haar sê: “Ek wil Afrikaans doen, maa ek praatie reg’ie”, toe sê sy: “Nee, djy praat an soe mooi.” Vir my was dit soos in yoh, jy oordeel my nie en ook nie die manier waarop ek praat nie – en daai nogal vir ’n dosent! Ek het gemaklik gevoel in my eie vel. Dit het my ook gemotiveer om óór Afrikaans ín Afrikaans te skryf!

Dít is hoe ons die taal lewend hou. Laat mense praat hoe hulle praat en skryf soos hulle skryf – natuurlik in gepaste kontekste. Sodoende skep dit ruimte om die gebruik van Afrikaans as wetenskapstaal uit te bou.

........
Afrikaans behoort aan almal wat dit praat – elke liewe spreker, maak nie saak eerste of tweede of derde taal nie; maak nie saak watter ras; maak nie saak watter dialek, watter sosiolek ... Van die ghaadtjie op die Kaapse taxi en die vrugtesmous langs die pad tot die professor op universiteit.
........

Is daar werk en toekomsmoontlikhede in 'n Afrikaanse omgewing?

Natuurlik is daar. Ek het ’n passie vir taalkunde en het iets opgelet: Daar is ’n gebrek aan bruin Afrikaanse taalkundiges. Ons departement is voortdurend aan die groei met die aantal studente, en daar is ’n groot belangstelling in taalkunde. Daar is ’n toekoms vir ons studente in soveel velde, byvoorbeeld as dosent, onderwyser, joernalis, vertaler, taalpraktisyn, ens.

Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy 'n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?

Wat vir my opvallend was, is dat daar meestal referate oor die letterkunde was en baie min oor taalkunde. Meer taalkundestudies moet aangemoedig word en op daardie platform (USAN) blootstelling kry – veral studies wat die taalverskeidenheid van Afrikaans ondersoek.  

Aan wie behoort Afrikaans, indien enigiemand?

Aan almal wat dit praat – elke liewe spreker, maak nie saak eerste of tweede of derde taal nie; maak nie saak watter ras; maak nie saak watter dialek, watter sosiolek ... Van die ghaadtjie op die Kaapse taxi en die vrugtesmous langs die pad tot die professor op universiteit.

Wat het jou opgeval van die ander referate by die kongres?

Almal het sulke interessante onderwerpe gehad. Afrikaans kan op verskillende maniere bestudeer word. Maar soos ek gesê het, daar was ’n handjievol referate wat oor taalkunde gehandel het.

Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?

Dit was nogal ’n goeie beginplek vir ons as jong navorsers om referate aan te bied. Die lug was gevul met senuwees, maar tog ook ’n gevoel van verligting, aangesien ons almal steeds besig is om ons pad op die akademiese veld as jong navorsers te navigeer.

Lees ook:

USAN-kongres 2024: ’n oorsig

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Joanna Gouws

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Anke van der Merwe

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Nicolette Steyn

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Allison Matroos

USAN-kongres 2024: ’n oorsig

Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat

"Herskep Afrikaans": Neville Alexander-gedenklesing 2020

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top