Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Joanna Gouws praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.
Joanna, wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?
Ek is ’n nagraadse student in kreatiewe skryfkunde by die Afrikaans en Nederlands-departement in Stellenbosch. My navorsingsfokus het in die afgelope drie jaar heelwat gedaanteverwisselings ondergaan, soms ingrypend – enersyds weens blootstelling aan ’n menigte verskeidenheid onderwerpe en andersyds weens nuuskierigheid as onderliggende kondisie. In letterkundestudie het literêr-teoretiese benaderings soos dié van skisoanalise my interesseer en later meer literatuurwetenskaplike benaderings wat begin het by die destydse strukturele narratologie. Dit sou later groei tot ondersoeke in anti-instrumentalisme, kognitiewe narratologie en meer onlangs skrywerskritiek.
Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?
Ek plaas ’n hoë premie op kreatiwiteit in navorsing. As vertrekpunt is deeglikheid en die dissipline van die wetenskaplike metode natuurlik ononderhandelbaar, maar jy benodig ook ’n goeie skeut intuïsie. Daarsonder is navorsing oninteressant en steriel.
Hoekom navorsing in Afrikaans doen?
Mens se liefde vir jou taal en om jouself in jou taal te kan verwerklik is die eerste (romantiese) antwoord, maar dit handel ook vir my oor die krag van stories as denkinstrumente: Boeke leer ons iets omtrent onsself en die wêreld. Verder hou dit ook verband met die antwoord op bostaande vraag: Mens se belangstelling bring jou ook net so ver. Navorsing beteken lang ure se lees en onderwerpe waarvan die rasionaal deurdag moet wees. As mens dus jou nuuskierigheid met harde werk kan kombineer, hou jy jou besig met ware progressie. Anders mors jy bloot jou tyd.
Is daar werk en toekomsmoontlikhede in 'n Afrikaanse omgewing?
Dit is geen geheim dat Afrikaans in die taalpolitiese sin van die woord onder ’n soort beleg verkeer nie, maar wanneer ons – soos wat Neville Alexander en Richard Ruiz leer – taal begin sien as ’n hulpbron in stede van ’n probleem wat opgelos moet word of ’n reg wat aan ons toegeken moet word – dan betree ons ‘n veel meer konstruktiewe posisie as Afrikaanse taalgebruikers. Dan dink ons meer kreatief oor antwoorde aangaande werks- en toekomsmoontlikhede in Afrikaans: Taal skep so ’n ruimte as ek dit aanwend as ’n hulpbron. Die kort antwoord is dus ja – dit verg bloot harde werk en die raaksien van gapings. Die probleem is net dat ons dikwels die maklikste uitweg met die minste risiko soek as dit kom by sake soos inkomstegenerering, want die sosio-ekonomiese realiteite van ons land is skreiend.
Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy 'n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?
“Sien” nie soseer nie, maar wel waar die “hoor” ter sprake kom. Luister jy mooi na sprekers – intrareferaat of rondom ’n koppie koffie – en die nuanses van uitdrukkings en uitsprake uniek aan verskillende variëteite duik geredelik op. Partykeer kan jy ook net ander mense se verskille in variëteit uitken omdat jy jou eie variëteit so sonder selfbewustheid besig, en ek kom agter dat dit altyd sal deurskemer – maak nie saak hoe baie jy in die standaardomgangsvariëteit praat of skryf nie.
Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?
Afrikaans behoort aan almal wat dit gebruik.
Wat het jou opgeval van die ander navorsingsreferate by die kongres?
Ek het gehou van die uiters gevarieerde aanbod van die kongres. Verder is ek bemoedig deur die aantal referate wat oor taalonderrig besin, en waar daar in so ’n ruimte ’n alliansie tussen taalkunde en letterkunde vorm, raak ek baie opgewonde.
Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?
Referate het goed ingetonnel na goed afgebakende terreine van navorsing. Sprekers het belê in hulle belangstellingsveld. Ek het wel na afloop van die kongres gewonder of dit nie in die toekoms meer leersaam sal wees om te dink aan hoe al die referate met mekaar verband hou nie. Amper soos om, terwyl mens jou navorsing gefokus en gedissiplineerd hou, steeds ’n geïntegreerde, breë denkraamwerk voor oë te hou. Anders gestel: My navorsing is interessant, maar wat maak dit nodig? Waar en hoe pas dit in en hoe praat dit saam met wat ander navorsers doen?
Lees ook: