’n Manifes vir Afrikaans – ’n repliek

  • 6
  • Pleks van my gebruiklike skuilnaam, Johannes Comestor, te gebruik, skryf ek hierdie artikel onder my eie naam.

Meer as ’n maand het verloop sedert die publikasie van my skrywe waarin ek ’n pleidooi vir ’n manifes vir Afrikaans gelewer het (LitNet, 28 Mei 2020). Daar was ses reaksies deur vyf mense. Die kitskommentator Barend van der Merwe verwerp wat ek geskryf het; blykbaar omdat dit syns insiens van politieke verkramptheid getuig. Hannes Underhay is die enigste een wat gunstig gereageer het. Angus se insig is dat ek "weinig indien enige taalinsig" het. Ons kan glo "absoluut niks" doen om Afrikaans se situasie te verbeter nie. Hy noem tereg dat Engels (eens) as ’n prikkel vir nuutskeppinge in Afrikaans gedien het. Deesdae word Engelse woorde egter dikwels sonder enige aanpassing oorgeneem, bv township. Dirk Rigter beweer dat ek "heeltemal toondoof" vir apartheidspolitiek is. "Niemand van belang in die Afrikaanse dampkring" stel glo belang in die soort taalstryd wat ek voer nie. Volgens Anthony Wilson kan "niks" gedoen word aan hoe ’n taal gepraat word nie. My voorgestelde taalmanifes is glo rasgebaseerd. Ek sluit na bewering die grootste groep Afrikaanssprekers uit. Sodanige bewering is bog. Die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekers is tot redelik suiwer Afrikaans in staat. Al hoe meer van hulle wend hulle deesdae egter tot geradbraakte Afrikaans omdat daar, anders as vroeër, in hierdie opsig geen positiewe of duidelike leiding van Afrikaansinstansies en Afrikaansdosente is nie.

Dit bring my by die kern van my onvergenoegdheid. In geen reaksie is besin oor die wenslikheid van ’n manifes vir Afrikaans nie. Geen voorstelle ter verbetering van die inhoud is gedoen nie. As daar in Nederland, weens die bedreiging wat Engels inhou, ’n behoefte aan ’n manifes vir Nederlands bestaan, hoeveel te meer nie vir Afrikaans in sy huidige benarde situasie nie? Geen Afrikaansinstansie of Afrikaansdosent het hom verwerdig om te reageer nie. Dít is die geledere waaruit die redding van Afrikaans moet kom. Die mening het posgevat dat om vir Afrikaans te ywer ’n teken van politieke verkramptheid is. Dit word weerlê deur die voorbeeld wat deur Wannie Carstens gestel word. Hy is polities so verlig moontlik, maar dit weerhou hom nie daarvan om Afrikaans in woord en daad te ondersteun nie. Ongelukkig noop politieke byderwetsheid hom om nie taalsuiwerheid by Afrikaanssprekendes te bepleit nie. Hy is dus vry om Kaaps te ondersteun; daardie "variëteit van Afrikaans" wat myns insiens die voortbestaan van Afrikaans as ’n taal uit eie reg bedreig. Ek dink dat ’n belowende toekoms vir Afrikaans, naas Engels, slegs verseker kan word as ons sorg dat veral die woordeskat van Afrikaans duidelik van Engels onderskeibaar is.

Die verhouding in Suid-Afrika tussen Engels (die koloniale taal), Afrikaans (sowel ’n Germaanse as ’n inheemse taal) en Kaaps (’n tussen- of mengeltaal) kan met die oog op ’n toekomsblik vergelyk word met die taalverhouding in Paraguay tussen Spaans (die koloniale taal), Guarani (die inheemse taal) en Jopara (’n tussen- of mengeltaal). Soos die meeste Afrikaanssprekendes is die meeste Paraguane in ’n meerdere of mindere mate tweetalig. Soos in die geval van Engels en Afrikaans in Suid-Afrika is Spaans en Guarani amptelike tale in Paraguay. Ander ooreenkomste is dat Engels/Spaans dominant in die stede en in formele kommunikasie is terwyl Afrikaans/Guarani dominant op die platteland en in informele kommunikasie is. Engels/Spaans word (soms/dikwels) as meer gesofistikeerd as Afrikaans/Guarani beskou.

Die toekoms van Afrikaans/Guarani is onseker, maar met dié verskil: In Paraguay word die heil van Guarani deur die regering bevorder terwyl die Suid-Afrikaanse regering Afrikaans onsimpatiek, indien nie vyandig nie, gesind is. In die praktyk word die indruk gewek dat Engels (in ’n groot mate) die enigste amptelike taal is. Spaans en Guarani is die enigste twee amptelike tale in Paraguay, terwyl daar plaaslik naas Engels en Afrikaans nog nege amptelike tale is, wat die posisie van Afrikaans, in vergelyking met Guarani, verder verswak. In Suidelike Afrika word Afrikaans steeds in buurstate, veral in Namibië, gebruik, maar dit geniet daar geen amptelike status of ondersteuning nie. Guarani, daarenteen, geniet nie net aanhang in die buurstate van Paraguay nie, maar ook ’n groot mate van simpatie en selfs erkenning. Guarani het ’n fonetiese ortografie; iets wat ook in geskrewe Kaaps aangetref word. Dikwels word nóg die woordeskat van Standaardafrikaans nóg die spelling daarvan in Kaaps eerbiedig, wat ’n nadelige invloed op Afrikaans het.

Deesdae is al hoe meer Afrikaanssprekendes geneig om Engelse woorde in hulle taal te gebruik. By Guarani-sprekendes is daar dieselfde tendens deurdat hulle taal toenemend verspaans. Kaaps is plaaslik dié sprekende voorbeeld van ’n mengeltaal (Afrikaans en Engels). Kaaps se eweknie in Paraguay word Jopara genoem, wat letterlik ’n mengsel (van Guarani en Spaans) beteken. Dit is veral jonger mense wat geneig is om hulle Guarani in Jopara te laat oorgaan. Dit gebeur veral in stedelike gebiede. Daar is wêreldwyd ’n bevolkingsverskuiwing van die platteland na die stede. Wat in die stede gebeur, gee ’n aanduiding van wat vorentoe taalgewys kan/gaan gebeur. Dit impliseer ’n al hoe groter verskuiwing van Guarani na Jopara en moontlik ook van Afrikaans na Kaaps (as geen teenmaatreëls getref word nie); onder meer ook omdat daar meer jonger as ouer mense is. Soos by Kaaps se vermenging van Afrikaans en Engels word daar in die geval van Jopara van die (gemaklike) kodewisseling tussen Guarani en Spaans gewag gemaak. Die punt is dat die posisie van sowel Engels in Suid-Afrika as Spaans in Paraguay deur die opkoms van onderskeidelik Kaaps (of Engelsbesoedelde Afrikaans) en Jopara al hoe meer versterk word. Daar is gevolglik al hoe meer rede om besorg oor die toekoms van sowel Afrikaans as Guarani te wees.

Wat doen Afrikaansinstansies hieromtrent? ’n Kort antwoord is dat hulle geneig is om eerder Kaaps as Standaardafrikaans te bevorder. Ons het bv onlangs die onverkwiklikheid beleef dat die NP Van Wyk Louw-gedenklesing in Kaaps gelewer is. My beswaar teen Kaaps is nie teen wat eie aan Kaaps of Afrikaans is nie. Ek is slegs oor die groot Engelskomponent beswaard. Volgens my vertolking bring die koestering van Kaaps mee dat Afrikaansinstansies daarmee nie net die oorheersing van Engels aktief bevorder nie, maar terselfdertyd ook aandadig aan die ondergang van Afrikaans is. Onderliggend hieraan is daar politiek. Kaaps word met bruin mense, wat as voorheen benadeeldes geklassifiseer word, geassosieer en Standaardafrikaans met wit mense, wat as voorheen bevoordeeldes geklassifiseer word. Politieke byderwetsheid bring mee dat kant (noodwendig) vir Kaaps en bruin mense gekies word.

Minstens twee dinge word hiermee buite rekening gelaat of doelbewus geïgnoreer: Standaardafrikaans word deurlopend evolusionêr aangepas én Standaardafrikaans is dié aangewese Afrikaansvariëteit waaraan die toekoms van die taal toevertrou behoort te word. In eenheid, insluitende taaleenheid, is daar immers krag; dus nie in die bevordering van alle Afrikaansvariëteite soos Afrikaansinstansies dikwels met oorgawe bepleit nie. Hulle strategie help die ondergang van Afrikaans aan.

Daar is iets anders wat in hierdie strategie opval. Afrikaansinstansies toon ’n gebrek aan doodgewone moed om direk of onomwonde die heil van Afrikaans te bevorder. Voorkeur word aan ander oorwegings as Afrikaans gegee. Dit gaan eerder om politieke byderwetsheid as taaloorwegings. Wat by voorkeur bevorder word, is bv versoening, nasiebou en diversiteit. Afrikaansinstansies spreek hulle dikwels ook sterk ten gunste van die bevordering van moedertaalonderrig, meertaligheid en die gebruik van Afrikatale uit. Maar dit word gedoen sonder om daarop aan te dring dat spesifiek Afrikaans in al drie hierdie hoedanighede moet figureer. Sodanige aandrang is noodsaaklik omdat Afrikaans andersins in al drie gevalle uitgesluit kan word.

Dit is bekend dat die regering verkies om Afrikaans nie as ’n (egte) Afrikataal te beskou nie. In hierdie opsig is hy nie heeltemal verkeerd nie. Die oorsprong van Afrikaans is in Europa. Plaaslik het veral Hollands/Nederlands veranderings ondergaan en is dit tot ’n volwaardige, eiesoortige taal, Afrikaans, uitgebou. Die primêre taak van Afrikaansinstansies behoort die bevordering van die heil van Afrikaans te wees; ’n taal uit eie reg wat so duidelik moontlik van Engels onderskeibaar behoort te wees.

.....

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus

.....

In Kaaps is die massiewe invloed van Engels waarneembaar (Frank Hendricks en Charlyn Dyers (reds), Kaaps in fokus, Stellenbosch: Sun Media, 2016, bl 47). Voorstanders van Kaaps wil hê dat "negatiewe ideologieë" soos taalpurisme en taalhiërargie laat vaar moet word (65). Wat taalhiërargie betref: Al is Engels ’n wêreldtaal en Afrikaans nie, behoort Engels plaaslik nie hoër as Afrikaans geag te word nie. Afrikaans word heel moontlik steeds in ’n groter mate as Engels dwarsoor die land gepraat en verstaan. By die sogenaamde variëteite van Afrikaans is daar ontologies ook nie sprake van ’n hiërargie nie omdat bv sowel Standaardafrikaans as Kaaps werklik bestaan.

Maar kwalitatief behoort ’n hiërargie erken te word. Kaaps is nie volwaardige Afrikaans soos soms beweer word nie (97). Dit is ’n mengeltaal wat weens sy groot Engelskomponent die voortbestaan van Afrikaans bedreig. In die belang van Afrikaans behoort Standaardafrikaans hoër as Kaaps geag en aktief bevorder te word. Afrikaansinstansies doen Afrikaans ’n ondiens aan deur Kaaps (by voorkeur) vir bevordering uit te sonder.

.....

Ons kom van vêr: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

.....

Daar word doelbewus valshede verkondig om stemming ten gunste van Kaaps en ten koste van Standaardafrikaans te maak. Byvoorbeeld, Standaardafrikaans is glo "'gesuiwer' van Khoi, Maleisiese en slawe-invloede" (WAM Carstens en Michael le Cordeur (reds), Ons kom van vêr, Tygervallei: Naledi, 2016, bl 371). Die "beheptheid" met "suiwer" Afrikaans moet glo ter wille van bv nasiebou laat vaar word (376). Kaaps word selfs verhef tot die "kerndialek" van Afrikaans (565).

.....

Video: "Die toekoms van Kaaps"-webinaar

.....

’n Webinaar is vanjaar op 16 Junie – doelbewus op Jeugdag, wat op ’n politieke oriëntasie dui – oor die toekoms van Kaaps gehou; nie die toekoms van Afrikaans nie, terwyl Afrikaans se toekoms baie meer onseker as dié van Kaaps is. By daardie geleentheid is beweer dat Kaaps die oudste Afrikaansvariëteit is. Met uitsprake oor Kaaps soos dat dit dié kerndialek en ouer as ander Afrikaansvariëteite is, word gepoog om ’n hiërargie daar te stel waarvolgens Kaaps selfs hoër as bv Standaardafrikaans geag word.

Wat hier gedoen word, is erg en heel moontlik doelbewus misleidend. Die Kaaps (of Kaaps-Hollands) wat die vroegste vorm van Afrikaans was, was iets heeltemal anders as die hedendaagse Engelsbesoedelde Kaaps, wat eers ná 1806 sy intrede gemaak het. Vroeë Kaaps/Kaaps-Hollands het Afrikaans bevorder, terwyl die latere en veral hedendaagse Kaaps ’n vernietigende uitwerking op Afrikaans as taal uit eie reg het. Dit is nie moontlik om hedendaagse Kaaps sonder kennis van Engels te verstaan nie. Wat in geskrewe Kaaps opval, is dat Engelse woorde altyd korrek gespel word. Afrikaanse woorde, daarenteen, word in baie gevalle eerder foneties as korrek gespel. Dit dui op agting vir Engels en ’n gebrek aan respek vir Standaardafrikaans.

Die absurde situasie is dat Kaaps sonder ’n Afrikaanswoordeboek verstaanbaar, aanvaarbaar of "korrek" geskryf kan word, maar – sekerlik in baie gevalle – nie sonder ’n Engelswoordeboek nie. Dit bevestig my standpunt dat hedendaagse Kaaps eerder Engels as Afrikaans bevorder. Daar is ’n ingeboude dislojaliteit jeens Afrikaans in Engelsbesoedelde Kaaps. Daar is al beweer dat diegene wat ook suiwer(der) Afrikaans magtig is, Kaaps soms doelbewus gebruik (eintlik misbruik) om wit Afrikaanssprekendes uit te tart. Daar is ook bloedweinig ondersteuning in bruin geledere vir die stryd wat ’n Gideonsbende wit Afrikaanssprekendes ten bate van Afrikaans voer. "Bruin mense is nie militant by die taalstryd betrokke nie, want hul voortbestaan word nie deur die afskaling van Afrikaans bedreig nie" (Hendricks en Dyers, 91). By baie (behoudende) Afrikaanssprekende witmense, daarenteen, is Afrikaans ’n (selfs dié) kernelement van hulle kultuur.

Sedert 1994 het Afrikaans merkbaar agteruitgeboer. Afrikaans is die enigste plaaslike taal wat toe baie aan (amptelike) status ingeboet het. Die regerings op al drie vlakke kommunikeer sedertdien by voorkeur in Engels. Maar daar is ook baie klein jakkalsies wat die Afrikaanswingerd verder verwoes. Voorheen het Afrikaanssprekendes daarop aangedring om in Afrikaans in winkels bedien te word. Deesdae is daar meesal geen sprake hiervan nie. Die assistente kan of wil nie Afrikaans verstaan nie; om van praat nie te praat nie. Sake-ondernemings het meesal Engelse name. Dié wat ook ’n Afrikaanse naam gehad het, het dit laat vaar. Daar is nie meer iets soos ’n poskantoor, Ou Mutual of Eerste Nasionale Bank nie. Wanneer laas het u ’n nota op ’n deur gesien wat OOP of TOE lui of in Afrikaans vra dat ’n masker gedra moet word? Op RSG word Afrikaanse advertensies dikwels met Engelse slagspreuke versier; leuses wat net so goed in Afrikaans geformuleer kan word. Produkname en beskrywings op produkte is deesdae, anders as voorheen, meesal eentalig Engels. Op RSG word die voorletters by vanne dikwels Engels uitgespreek terwyl Engelssprekendes hulle nie verwerdig om voorletters Afrikaans uit te spreek nie.

Anders as in die vorige eeu is daar bitter min of geen sprake nie van Afrikaansinstansies wat hulle teen sodanige miskenning van Afrikaans uitspreek. Katastrofiese Afrikaansverliese, soos die verengelsing van die eens Afrikaanse universiteite, word halfhartig teengestaan en spoedig te gelate aanvaar. Daar word in gebreke gebly om die Afrikaanssprekendes wat die leiding in die vernietiging van tersiêre Afrikaansonderrig geneem het, na behore te veroordeel. Daar word blykbaar van Afrikaanssprekendes verwag om hierin te berus omdat Afrikaans maar een van elf amptelike tale is, die regering glo om verstaanbare redes voorkeur aan Engels op alle terreine gee, ens. In werklikheid behoort Afrikaanssprekendes hulle te verset as hulle ’n situasie anders wil hê as wat dit is, anders word al hoe meer inbreuk op die regte en voorkeure van Afrikaanssprekendes gemaak. Eentalige Engelsheid word geregverdig met dié mite: Almal verstaan mos Engels. Bowendien, dit is nou glo te duur om aankondigings, omsendbriewe en advertensies op televisie en in die pers in Afrikaans aan te bied, al is sodanige koste in die vorige eeu nie as ’n onoorkomelike struikelblok beskou nie.

In ’n mate herdenk Afrikaansinstansies jaarliks Afrikaansdag (14 Augustus), hoewel daar blykbaar geen groot entoesiasme vir die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is nie omdat die agt stigters wit nasionaliste en daarby mans was. In die jaarprogram op die webwerf van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) word Afrikaansdag nie eens genoem nie. Afrikadag en Mandeladag word wel elke jaar getrou gevier. Daar is geen sprake dat 6 April, die dag waarop Hollands, as die voorloper van Afrikaans, aan die Kaap gevestig is, deur die ATM in sy huidige gedaante herdenk sal word nie. ’n Mens sou dink dat ander Afrikaansinstansies die ATM tereg sou wys, maar dit word nie gedoen nie omdat hulle deesdae self (grootliks) in gebreke bly om die gebeure op 6 April 1652 te herdenk. Waarmee al hierdie instansies in ’n meerdere of mindere mate besig is, is om wit mense se (mede-)eienaarskap van Afrikaans sover moontlik te verswyg en dit aan die Khoisan en die slawe en diegene se nageslag oor te dra.

Die ontstaan van Afrikaans word daarom, in navolging van Christo van Rensburg se polities byderwetse voorstel, deesdae graag op 1595 gestel, al is dit hoe vergesog. Dit help immers met die verinheemsing van Afrikaans en die verdoeseling van Afrikaans se Europese wortels en die onoortrefbare rol wat wit mense in Afrikaans gespeel het en steeds speel. Om dieselfde redes word die Bo-Kaap die bakermat van Afrikaans genoem, al het die slawe, wat in 1834 (effektief 1838) vrygestel is, hulle eers later daar gevestig. Die huidige pogings om Afrikaans van Afrikanerssprekende witmense te ontspeen, is tot mislukking gedoem omdat die dominante rol van Afrikaners in die ontwikkeling en uitbouing van Afrikaans onontkenbaar is. Dit is (gewoonlik) nie moontlik om ’n spesifieke datum aan die ontstaan van ’n taal te koppel nie. "Die historikus GD Scholtz het jare gelede aangevoer dat Afrikaners op 9 Februarie 1657 uit die vestiging van nege Vryburgergesinne aan die Liesbeekrivier ontstaan het" (Flip Buys, Die pad na selfbestuur, Centurion: Kraal Uitgewers, 2019, bl 203). Eerder as enige ander jaartal kan 1657 as die begin van Afrikaans beskou word.

Die indruk wat Afrikaansinstansies by my wek, is dat hulle futloos is. As dit anders was sou hulle bv lankal beswaar teen die heersende politieke aktivisme by die ATM aangeteken het. Die ATM, wat beheer oor twee van die allerheiligste Afrikaanskleinode (die museum en monument) uitoefen, erken openlik dat die bydraes van wit mense tot Afrikaans op die agtergrond geskuif word sodat die aandag op diegene wat na bewering voorheen gemarginaliseer is, gevestig kan word. Daar word selfs so ver gegaan as om die Taalmonument as ’n monument vir al die inheemse tale te beskou. Vóór 1994 sou sulke skuiwe nie net luide protes uitgelok het nie, dit sou heeltemal ongehoord gewees het. Deesdae word kwalik ’n piepgeluid daaroor gemaak.

Wat ek hier bo en op 28 Mei oor Afrikaansinstansies geskryf het, is in ’n groot mate ook op Afrikaansdosente van toepassing. In werklikheid is dit vir hierdie dosente baie makliker as vir ’n instansie om vir Afrikaans in die bres te tree. Iedere dosent kan immers self oor sy/haar standpunt en optrede besluit. Dit hoef nie vooraf vir goedkeuring aan ’n groep persone voorgelê te word nie. Daar behoort bv iets soos akademiese vryheid te bestaan. Ek roer sake aan wat van deurslaggewende belang vir die heil van Afrikaans is. Nogtans swyg Afrikaansdosente hierdie sake in dieselfde mate as Afrikaansinstansies dood. Dit is nie in die beste belang van Afrikaans nie. Dit is myns insiens die dure plig van sowel Afrikaansinstansies as Afrikaansdosente om duidelike leiding oor taalgebruik, bv taalsuiwerheid, te gee; des te meer as die voortbestaan van Afrikaans, soos deur my aangetoon, daarvan (kan) afhang.

Lees ook:

’n Manifes vir Afrikaans

 

  • 6

Kommentaar

  • Baie dankie, Johan Bekker, dat jy weereens die saak so helder stel. Diegene wat maar "die stroom volg" en Engels of sy kleinboetie, Kaaps, omhels, doen dit om opportunistiese redes en om die huidige korrupte en selfs misdadige bewind ter wille te wees. Om jou ten gunste van Standaardafrikaans uit te spreek, behels 'n politieke en sosiale risiko - allermins 'n groot risiko - en daarom skram die "futloses" soos jy dit noem, daarvan weg.

    Wat vir my amper erger is, is hoe dieselfde mense eintlik in hul denke deur die plaaslike Engelssprekendes met al hul koloniale denkkonstruksies gekoloniseer is. Die oordrewe politieke korrektheid van Engelssprekendes is net die kultuurmarxistiese keersy van die vervloë Ryksgedagte: dis suiwer konformisme. Hoe op aarde kon soveel mense die hele Afrikaanse tradisie in die land, behalwe nou die flardes Kaaps wat so fluks rondgestrooi word, maar eintlik net flardes is, eenvoudig net wegsmyt? En tesame daarmee, millennia van nie-Engelse denke, van die klassieke tye af tot by vandag? Al wat tel, is die polities korrekte modes wat vanuit Engeland en Amerika na ons toe aangewaai kom.

    Ons sit met 'n taalprobleem, maar ook met 'n ideologiese en denkprobleem. Tereg wys jy op die Europese bronne van Afrikaans. Enigiemand wat dit ontken - selfs al noem hy hom of haar 'n "taalkundige" - is eenvoudig besig met gekkerny. Jare gelede het ek al gewys op die ooreenkomste hier te lande met die ou Sowjetunie waar wetenskaplikes marxisme en gelykheid "in die natuur" by die plante en diere ook gevind het.

    Suid-Afrika is soos 'n kaskar teen 'n afdraand sonder brieke. Finansieel en andersins staar ondergang ons in die gesig, danksy jare se diefstal en korrupsie. Dít alles is al onomstootlik bewys - selfs deur die liberales en polities korrektes wat steeds bid dat die ANC sy gewaande "goeie kant" moet wys. Indien Afrikaans dan saam met die land moet ondergaan, voel ek daar moet darem iets van die taal en van ons tradisie gered word.

    So 'n "ark vir Afrikaans" kan net in samewerking met Europa geskied. Reeds is daar meer klassieke boeke in digitale vorm in Nederland beskikbaar as in Suid-Afrika waar mense eerder luukse motors of handsakke met staatsgeld koop as om dit op erfenisbewaring uit te gee.

    Op 'n manier is die keuse tussen "Europese Afrikaans" en polities korrekte, half-Engelse Kaaps wat eintlik teer op die karige bietjie hulpbronne waaroor Afrikaans steeds beskik. As voorstanders van Kaaps nie ook aan "histories Afrikaanse universiteite" een of ander joppie gehad het of in die Afrikaanse media aandag kry nie, sou niemand ooit van hulle of Kaaps gehoor het nie. Het enige "Kaapse taalterroris" - ek neem aan terrorisme is vir hulle 'n positiewe begrip, soos wat die heer Jeremy Veary al aan ons verduidelik het - al op eie inisiatief en met eie tyd en geld selfs net 'n webblad in die veel geroemde Kaaps gepubliseer? Ek glo nie.

    Kaaps hoort by Engels; soos Hermann Giliomee ook al iewers geskryf het, verteenwoordig mengeltaal 'n "oorgangstweetaligheid" op pad na volslae verengelsing. Sprekers van Kaaps dink reeds in Engels met suiwer Engelse of Angel-Saksiese begrippe en gemeenplase, dis waarom hulle nie in staat is om hulle geheel en al in Standaardafrikaans uit te druk nie. Afrikaans is soveel meer as sy naasbestaan of deesdae, onderwerping aan, Engels in hierdie land. Die taal se wortels strek soveel verder terug, na 'n tyd nog lank voor Engels hier was. Selfs in die negentiende eeu het heelwat Afrikaners glad nie of swak Engels geken. Paul Kruger moes van 'n tolk gebruik maak tydens sy onderhandelinge met die Britte.

    Feit is dat die huidige taalbeleid in Suid-Afrika veel meer van 'n skande en internasionale afwyking verteenwoordig as wat sg. apartheid ooit was. Vele Europese lande en leiers klink asof hulle tans besig is om apartheid of afsonderlike ontwikkeling weer uit te vind. Selfbeskikking is immers terug te voer na Woodrow Wilson se beroemde "veertien punte". Om in die een-en-twintigste eeu een taal so te bevoordeel soos wat die ANC-bewind, asook vele privaatmaatskappye, tans doen, is egter ongehoord. Dit sou in geen ander land verdra word nie. In Frankryk, wat vir alle praktiese doeleindes 'n eentalige land is (hoewel dit histories veeltalig was), bevat vele produkte in die supermark Frans en Nederlands omdat hulle daarsonder nie in België toelaatbaar sou wees nie. Maar in "elftalige" Suid-Afrika moet ons met slegs-Engels tevrede wees.

    Indien enigiets, moet Kaaps op sy eie bene staan. Immers het Afrikaners toe hulle besluit het om hul vorm van Nederlands anders te spel en 'n ander grammatika in te voer, nie van Nederland verwag om dít alles te befonds en te bevorder nie. Ons het dit self gedoen, uit eie bronne.

    Indien die voorstanders van Kaaps oor 'n greintjie trots beskik, sou hulle dieselfde doen.

  • Baie dankie vir jou deeglik beredeneerde stuk Johannes, jou skrywe word opreg waardeer. Ons sal veg tot die bittereinde toe, en sal nie (soos die res van die Weste) toegewings maak aan politiese korrektheid nie; waar geen genuanseerde argumente, geskiedenis self, en die reg op vryheid van assosiasie, -opinie en -gewete meer geduld word nie.

    Die kruiperigheid van diegene in die "akademie" [die tradisionele westerse, uitnemende klassieke universiteit - R.I.V.], vermaak (die sportbedryf [dit is myns insiens enigiets behalwe "sport" soos ek die begrip verstaan, maar 'n verwronge, afstootlike weergawe daarvan - ek kyk nie eers meer die Engelse sokkerliga nie, want die is na dese net so "woke" en het ek geheel en al my aptyt daarvoor verloor], Hollywood - op sy knieë- behalwe vir die paar prysenswaardige, nie politiese-korrekte eerbare pogings wat nog gewaag word. Die pogings se dae in hierdie verstikkende linkse-sensuur kulturele rewolusie [kanselleer-kultuur] is in elk geval sekerlik getel - sien John Nolte van Breitbart se artikel vir 'n briljante toeligting van die toedrag van sake. Voorbeelde van rolprente wat sekerlik van nou af gesensureer en 'gekanselleer' sal word is 'Once Upon a Time in Hollywood'- tekenend van die goue ou dae, toe Hollywood nog ordentlike rolprente kon maak, sonder 'n linkse gesanik en valse skynheilige, konserwatief/behoudend-hatende deugde vertoning ens.) en joernalisme maak my warm onder die kraag!

    Die instellings is deurdrenk met 'n anti-westerse houding, en niks goed kan voortaan daarvan verwag word nie. Byvoorbeeld, die "vermaakinstelling" [want 'n kulturele instelling is dit en andere wat voorgee dat hulle behaag is oor kultuur, geensins meer nie!] HBO wil selfs "Gone with the Wind' en 'Dr. Zhivago' (oor die se realistiese uitbeelding van die ellende van rewolusie en kommunisme) 'kanselleer', en so kan mens voortgaan. Wat gaan oorbly as hulle klaar is? En wie dink dat hierdie linkse, pro-marxistiese kulturele rewolusie nie op die ou einde dieselfde resultate as Mao se kulturele rewolusie gaan oplewer nie?

    Die punt wat ek met voorgaande paragraaf wil maak, is dat jou betoog soos uiteengesit in jou skrywe nie in isolasie gesien moet word nie, maar in die konteks van 'n wêreldwye aanval teen die Weste en hul kosbare, Godgegewe kultuurbesittings en die vernietiging/verwatering daarvan (soos ons geliefde wonderwerk Afrikaans wat omvorm moet word tot 'n onsmaaklike brabbeltaal wat nog Afrikaans nog Engels is) en aanvalle teen Westerlinge en die wat waag om die prestasies en morele hoegrond daarvan te loof en voorop te stel, oor die algemeen.

    Ons is nie die enigstes ten opsigte waarvan daar gepoog word om ons geskiedenis, trots en erfenis uit te wis nie (soos almal sekerlik weet- sien die VSA en Europa). Enkele uitsonderings op persone waaraan ek vinnig kan dink wat te midde van die malheid ("Bad men need nothing more to compass their ends, than that good men should look on and do nothing.", "The only thing necessary for the triumph of evil is that good men do nothing." - na bewering (onseker en word betwis) deur Edmund Burke - jammer vir die Ingels!) is Flip Buys en die Solidariteitbeweging (wat eintlik maar oor die breedte van SA [die Wes-Kaap weet ek nie!] die Afrikaners se burgerregte organisasie is en waarsonder ek meen ons reeds in die stif sou gebyt het), die Tsjeggiese president (lg. tipeer die terroristiese, rewolusionêre, anti-Westerse BLM-beweging as rassisties - welke mening ek mee akkoord gaan) en natuurlik, president Trump en sy manjifieke "Rushmore doktrine". Hy het nie gelieg toe hy nou die dag gesê hy hy is die "lone warrior" nie! Wat my verbaas is dat daar mense is wat nie kan begryp wat tans aangaan nie en wat die gevolge daarvan sal wees nie, selfs onder ons Afrikaners-volksgenote! Linkses is nie meer liberaal nie, hulle is fasciste, dus kan die ideologie nou aan die linkerkant van die spektrum gevind word, en nie aan die regterkant, soos tradisioneel die geval was nie!

    Weereens dankie vir jou skrywe, want soos ons weet (ander dalk nie) werk 'n kruiperigheid en paaibeleid nie. Mens moet of ondubbelsinnig standpunt inneem, of handdoek ingooi en die godskreiend skandelike hedendaagse verskynsel van "wokeness" (kode vir oikofobie en selfhaat) omhels. Ek weier, en wil dit uitbasuin vir die wêreld!

    Op 'n verbandhoudende noot; anders as die skrywer van die nuwe boek oor Generaal Ben Viljoen, ken ek net een benaming vir die oorlog teen die Britte, en dit is die Anglo-Boereoorlog (of die Tweede Vryheidsoorlog, en minder algemeen, die Driejarige- of Engelse Oorlog), en ek maak nie verskoning daarvoor nie, want geskiedkundig-akkuraat gesien, wat anders was dit as 'n oorlog om die behoud van die twee Boererepublieke (waarvan een steeds geloof en getipeer word as 'n 'modelrepubliek') en hul vryheid teen die aggressiewe Britse Ryk en sy imperialisme?

    Om in te gee en gerieflikheidshalwe, gelate en op permissiewe, traak-my-nie-agtige luim [sonder standpunt inneem], geskiedkundig- en realiteit-ontkennend, naïef en liggelowige wyse in die gees van "wokeness" en historiese revisionisme, 'versoening' [sonder om doekies om te draai - slegs in die mees liggelowig, realiteit-ontkennende gedagtes- kan so iets nog bestaan) die ANC se motief met hul "Suid-Afrikaanse Oorlog" diskoers te aanvaar sonder bevraagtekening; goedsmoeds sonder 'n kritiese benadering en ter wille van tegemoetkomendheid (hoe verdraai mens die geskiedenis, ten gunste van kruiperigheid en 'n paaibeleid?) omrede 12,000 anderskleuriges gesterf het saam met die Boere en byna 27,0000 onskuldige boerevroue en -kinders in die 'moordkampe', is myns insiens niks anders as historiese revisionisme, intellektuele luiheid en oneerlikheid en toegeeflikheid/oorgawe aan die linkses wat afsydig staan teenoor die prestasies en lyding van westerlinge, insluitende ons heldhaftige boere-voorouers.

    Hierdie kritiek word verder versterk met die opmerking dat daar in 1899 nog nie eers politiese of kultureel iets soos "Suid-Afrika" bestaan het nie, en derhalwe is die oneerlike benaming die voortsetting van 'n leuen, swak deurdag en 'n vb. van 'n afskuwelike anachronisme, asook oneerlik en 'n poging om Afrikaners, net soos met Afrikaans nie geval is, welke verskynsel uitstekend beredeneer en gemotiveer word in hierdie artikel, van ons glorieryke, trotse erfenis en geskiedenis te ontneem, en die laaste bietjie self- en volkstrots wat ons mag he te vernietig.

    Een ding het ek al geleer, in hierdie land, net soos in andere soos bv. Belgie, is taal politiek, en politiek is taal, derhalwe Prof. J.C. Steyn se skitterende werke oor taalpolitiek oor die jare. Kom ons aanvaar dit is nou maar eenmaal Afrikaans se lot, maar kom ons aanvaar ook gelyklopend met erkenning van die gedagte, dat ons nie vir een oomblik waag twyfel, weifel of terugstaan in die geveg om ons taal en die opofferings wat in die naam daarvan aangegaan is nie- want die oomblik dat ons dit doen, is dit neusie verby met ons pragtige liefling!

  • Ek het simpatie met die skrywer se siening.

    Ek dink ook dat Kaaps dikwels ondersteuning geniet bloot omdat dit getallegewys gewig dra en daar gevoel word dat daardie deel van Afrikaans nie verontagsaam kan word nie.

    Om voortskriftelike te werk te gaan in die naam van suiwerheid ens. is na my mening ook nie 'n oplossing nie. Taal is 'n kommunikasiemedium wat gedurig verander. 'n Basies vereiste is dat dit nie so vinnig verander dat kommunikasie belemmer word nie.

    In die geval van Kaaps kan die skielike, totale inkorporering daarvan in standaardafrikaans (wat die term dan ook mag behels) die gevolg hê dat gemaklike kommunikasie verdwyn onder 'n aanslag van 'n streekstaal sonder bepaalde vaste reëls. Ek vind dit bv besonder moeilik om sommige van die Kaapse geskrifte gemaklik en met spoed te volg - dis tog ten minste tog deel van die basis vir effektiewe kommunikasie?

    Gegewe die verskeie konflikte, is my (naïwe?) beroep om 'n poging om die standpunte en realiteite te versoen.

    Ons doelwit is tog 'n soepel, effektiewe, gemaklike Afrikaans wat Engels die loef kan afsteek. Is dit regtig so moeilik om Kaaps deel van Afrikaans te maak? Kan ons nie die Engelse deel daarvan verwerk op een of ander wyse nie? Ek dink 'n deel (ten minste) van die probleem met Engels is bloot dat die Afrikaanse ekwivalente daarvan so selde gebruik word. 'n Voorgestelde oplossing sal dus gedeeltelik behels dat moedertaalsprekers fokus op die verhoging van die frekwensie van die gebruik van minder bekende Afrikaanse teme.

    My pleidooi is: Kan ons regtig bekostig om die probleem te reduseer tot 'n antagonistiese stryd?

  • Marieka Visagé

    Ek is 'n leek. Ek sukkel dus (uit my ervaring) om te weet hoekom daar 'n stryd tussen Kaaps en Standaardafrikaans is. In Europa het die lande amptelike tale, bv. Duits in Duitsland en Oostenryk. Die verskillende bondslande praat egter hulle eie dialekte of streekstale. So het ek amper ses maande lank in Wene gewerk voordat ek die Weners kon verstaan as hulle met mekaar gepraat het - met my het hulle dus aanvanklik Hoogduits gepraat. Die geskrewe "Wienerisch" was makliker om te verstaan omdat ek nie nog die dialek ook moes ontsyfer nie.
    In die skool leer die kinders Hoogduits en is my taalgebruik veral deur die plattelanders as "hooggeleerd" (dankie prof. Trümpelmann!) ervaar! Ek het egter nooit enige vyandigheid of krapperigheid tussen streekstaal en die amptelike Duits ervaar nie.
    Gevolgtrekking: politieke korrektheid, 'n eufimisme vir lamsakkigheid, is die wortel van die probleem.

  • Wannie Carstens

    Beste Johan, ek praat graag in die toekoms met jou oor die saak. Dit is eerder 'n en-en-kwessie as 'n of-of-kwessie soos jy dit benader. Dit is natuurlik te sê as jy bereid is om met so 'n 'polities verligte' persoon soos ek te praat. Dit is 'n omvattende kwessie wat tyd gaan neem om te deurtrap en weens verskeie ander verpligtinge het ek nie nou tyd om skriftelik hierop te reageer nie. Ek dink 'n persoon-tot-persoon gesprek sal dinge makliker maak. Ek dink die idee van 'n manifes behoort ondersoek te word, maar dan moet dit inklusiwiteit as vertrekpunt hê. As jy belang stel, kan jy my via Messenger kontak en dan kan ons dit daarvandaan verder neem. Ek sal dan my kontakbesonderhede aan jou gee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top