
Troep, saamgestel deur Bun Booyens (Penguin, 2024)
Titel: Troep: Die dinge wat hulle saamdra
Samesteller: Bun Booyens
Uitgewer: Penguin Random House (Oktober 2024)
ISBN: 9781779860125
Troep is ’n omvattende boek oor diensplig, oor die impak daarvan op diegene wat dit beleef het – beide dié in uniform en dié wat van buite toegekyk het, byna soos wanneer daar ’n ontploffing was: Daar was mense naaste aan die episentrum en dan ook verder en verder weg, tot hulle wat vandag net kan onthou dat hulle op daardie tydstip daarvan in die koerante gelees het en tog daardeur aangeraak gevoel het.
Booyens noem dat meer as ’n halfmiljoen dienspligtiges tussen 1965 en 1989 die wapen moes opneem. Konskripsie word verduidelik (asook relase van troepe wat in die weermagtronk, oftewel detensiebarakke beland het, skuldig of onskuldig).
Oor hierdie boek se tema is sekere sinne en frases veral treffend, en hulle laat jou stilstaan en dink. Soos: “Baie lank gelede, tensy jy betrokke was”, en “Die dienspliggenerasie begin nou uitsterf [...] Die tyd raak min om herinneringe op te teken.”
En: “Jy het in iets meegedoen wat na die tyd as immoreel beskou word.” En: “Lewensverlies: 2 573, maar net 30% in aktiewe diens dood.”
En: “Afrikaanstalige mense het baie stadig aan die woord gekom oor die oorlog.”
Belangrike punte, tergende vrae. Vrae wat verdien om beantwoord te word ...
“Ek kon dood gewees het,” dink ouddienspligtiges. Survivor’s guilt? Waarskynlik. Ek het drie maal gehuil terwyl ek die boek gelees het. Soos hieroor: “Ons het nooit Henkie se horlosie teruggekry nie, want dit was natuurlik saam met sy arm deur die landmyn weggeskiet.”
.......
Ek, die resensent, en duisende ander voormalige dienspligtiges soos ek, weet vandag alte goed hoe gelukkig ons was om ongeskonde deur alles te kon kom. Juis daarom is dit nodig om hieroor te skryf. Noodsaaklik, ter wille van begrip vir hulle wat nie andersins ’n stem sou hê nie.
.......
Ek, die resensent, en duisende ander voormalige dienspligtiges soos ek, weet vandag alte goed hoe gelukkig ons was om ongeskonde deur alles te kon kom. Juis daarom is dit nodig om hieroor te skryf. Noodsaaklik, ter wille van begrip vir hulle wat nie andersins ’n stem sou hê nie.
Vroue, gewoonlik op ’n afstand en uitgesluit, ook nadat die laaste skoot geklap het, se reaksie by die lees hiervan is: “Nóú verstaan ons wat ons mans deurgemaak het.”
Wat is dit dan wat hulle nie weet en verstaan nie?
Dit sluit natuurlik die jonger generasies in, wat deesdae heelwat aan “die ander kant” se beïnvloeding blootgestel word, soos nou op universiteit gebeur. Die oorlog se propaganda hou steeds aan. En dis moeilik om tussen feit en fiksie te onderskei, soms met grys areas tussenin. Hoe betroubaar is mense se geheue? In welke mate word dit deur tyd en trauma verwring? Tydens die oorlog is gepraat van “hearts and minds” wat gewin moes word. Is dit nie wat steeds gebeur nie? Slagvelde en landskappe verander voortdurend.
Booyens beweer tereg dat “oorloë vir die groot veldslae onthou word, die klein besonderhede vervaag vinnig. Hoe het gewone soldate dinge beleef?” Daarom wou hy die “klein geskiedenis” opteken. Toe doen hy onderhoude met die “gewone ou wat niksvermoedend oproepinstruksies gekry het en buitengewone goed beleef het”. Geskiedenis is eens “the story of great men” genoem. Dit hoef nie meer so te wees nie.
Die optekening van taalgebruik was vir Booyens belangrik. En kultuurgeskiedenis wat hy in sy ouerhuis sou geleer het (sy vader was immers die legendariese pedagoog prof Bun Booyens), en kleingeskiedenisse, is juis deel van die nou helaas reeds uitgestorwe vakgebied – humor en tragedie, onderhoude met ooggetuies, kos wat geëet is, toerusting wat gebruik is, anekdotes, naamgewing, aantekening van sterftes, die musiek van daardie tyd wat steeds “triggers” is (nes wanneer harde geluide oudsoldate laat koes of ineenkrimp), die emotiewe aspekte van menswees wat nie noodwendig in “gewone” geskiedenisboeke neerslag vind nie ... dit alles is in Troep te vinde.
.........
Booyens beweer tereg dat “oorloë vir die groot veldslae onthou word, die klein besonderhede vervaag vinnig. Hoe het gewone soldate dinge beleef?” Daarom wou hy die “klein geskiedenis” opteken.
.........
Booyens reken dat ’n sekere volgorde van boeke oor die oorlog deur generaals en politici gepubliseer is, en dat “biegboeke en seun-tot-man-verhale feitlik net in Engels verskyn het.”
Afrikaanse skrywers soos Etienne van Heerden (Om te AWOL, Tafelberg, 1984 en Cassipirs en campari’s, Tafelberg, 1994), Jaap Steyn (Op pad na die Grens, Tafelberg, 1976) en Alexander Strachan (’n Wêreld sonder grense, Tafelberg, 1987) het wel lank reeds fiksie oor die oorlog geskep, maar weinig ek-vertellings is nog gepubliseer. “Daardie verhaal het nooit uitgekom nie,” sê Booyens, bedoelende “coming of age”-tipe vertellings oftewel persoonlike narratiewe/onthullings wat insigverkryging en groei weergee.
Wel, daar ís dalk nie genoeg hieroor geskryf nie. In ’n gesprek met Dana Snyman hieroor het hy aan my genoem dat my memoires, Omega, oor en uit (Tafelberg, 2016) dalk die eerste was. Ironies, is sy Seun (Tafelberg, 2024) dan die tweede. Meer navorsing hieroor is egter nodig, maar een ding is seker: Meer persoonlike (niefiksie-) vertellings aangaande belewenisse van die oorlog moet nog geskryf word.
Booyens voel dat daar nie godsdienstige indoktrinasie was nie. Dit was sý belewenis, ook oor ander aspekte van dié situasie, een wat baie spesifiek was; dog dit was baie anders vir duisende dienspligtiges. Die troepie op Walvisbaai, of Oudtshoorn, of Tempe, of Kaapstad in die Kasteel, of Hoedspruit, of Bagani in die Wes-Caprivi slagoffers van ’n missielaanval op Katima Mulilo ... en so kan jy aangaan ... die lugmag, die vloot, of van die infanteris teenoor die spesmagoperateur, ensovoorts, het elkeen ’n individuele ervaring en herinnering van diensplig. Mense se religieuse ervarings mag verskil, maar dat geloof vir talle ’n reddingsboei was, word verwoord deur die uitlating dat daar geen ateïste in loopgrawe te vinde is nie.
Die gevegte in Angola word in verskillende boeke beskryf, waarvan Die Buffel struikel, ’n storie van 32 Bataljon en sy mense” (oorspronklik self uitgegee in 2006) deur Louis Bothma as deuroopmaker vir verdere soortgelyke boeke spesiale vermelding verdien.
’n Mens lees boeke soos hierdie en verwonder jou aan mense se reaksies daarop, soos: Waar kom die opvatting vandaan dat Swapo nie prokommunisties was nie? Daar word tans aangeneem dat die dienspligtige ’n “ontrafeling” van sy politieke bewussyn sal hê. Nogmaals verskil dit van persoon tot persoon. Ook hulle aan “die ander kant”.
Genees die tyd? Dalk, soms, siende dat betrokkenes alles immers verskillend beleef. “Goeie ouens in ’n slegte stelsel en slegte ouens in ’n goeie stelsel” – so dink en hanteer Booyens die vraag oor die sogenaamde beskerming van apartheid (deur dienspligtiges), teenoor die terroris/vryheidsvegter wat hy (dood met ’n Bybel in sy besit) op die slagveld teëgekom het. Hieroor kan ook met vrug gelees word in Deon Lamprecht se Bloedbroers (Jonathan Ball, 2024) oor die trauma waaroor iemand soos Herman Lategan in Troep skryf in die hoofstuk “In die sanatorium”, wat ook aan Dana Snyman se Seun herinner.
Het so ’n boek terapeutiese waarde? Ek glo so, en hier kan ek uit eie ervaring getuig. Tydens die bekendstelling van die bundel Grensoorlogstories (Litera, 2012) het ouer mans, soos ek, gehuil en my (wat ook ’n bydraer tot die bundel was) met die boek in die hand bedank met die woorde: “Ek hoop ek sal dit eendag kan lees.”
“Kies jy kant as jy oor oorlog skryf? Beslis, indien jy betrokke was, hoe anders?” erken Booyens. Inderdaad. Jy is immers ’n mens, en ’n tema soos hierdie kan niemand onaangeraak laat nie. Daarteenoor: “Soos om na ander mense se vakansiefoto’s te kyk” – so voel ’n eggenote van ’n oudsoldaat oor weermagstories. Hierdie woorde resoneer by my, want dis ook wat iemand oor my boek oor diensplig gesê het. Dit word as kwetsend ervaar, want boeke soos hierdie handel nie net oor ligsinnighede nie; die humor, ironie en sarkasme daarin bring juis die pyn, angs en trauma van oorlog by wyse van kontras na vore.
Daar is ook boeke soos Anelia Heese se Diensplig, hoekom stotter ons pa’s so? (Tafelberg, 2023), wat skynbaar na ’n bekentenis soek; dat die dienspliggenerasie moet bely dat hulle, soos Booyens dit noem, beskuldig word as “deel te wees van iets immoreel” – maw dat die jong wit landsburger gretig sou gewees het om sy geborge middelklasbestaan te verlaat en sy lewe te gaan waag om apartheid te beskerm?
Asof jy, bloedjonk en onervare oor die wêreld in al sy wrede werklikheid, naïef geglo het in die indoktrinasie waaraan alle soldate van alle oorloë onderwerp word. Wel, sommige het. Ander het dit as ’n avontuur gesien, waarskynlik totdat hulle die bloed en derms aanskou het.
.......
Kultuur is meer as velskoene en biltong; dis die somtotaal van die kode wat jou waardesisteem omvat. Waarin jy glo, waarvoor jy staan.
.......
Boonop word die belewenis van bruin soldate ook in Troep weergegee, iets waaroor nog selde gelees kon word. Waarom het hulle, wat nie opgeroep was nie, by die SAW aangesluit? Troep gee antwoorde hierop, hoewel nog veel meer daaroor geskryf moet word.
Ek het gelees hat ’n Amerikaanse jongman homself tydens die Tweede Wêreldoorlog opgehang het omdat hy nie gekeur was om aan die oorlog deel te neem nie. Ander, tydens ander oorloë, van Viëtnam en Korea tot militêre konflikte in Suid-Afrika, die Anglo-Boereoorlog (oftewel Suid-Afrikaanse Oorlog) en die Grensoorlog, het wel probeer loskom. Geëmigreer of in die tronk beland. Verag as verraaiers. Lewenslank.
Die meeste soldate het gevoel hulle het geen keuse nie. Die “plig” in “diensplig” was vir hulle iets amper heilig. Maar bowenal het hulle gaan veg vir die behoud van hulle lewenswyse, selfs vir die behoud van hulle en hulle geliefdes se lewens. Dis waarom troepe gaan veg, oor al die eeue heen. Kultuur is meer as velskoene en biltong; dis die somtotaal van die kode wat jou waardesisteem omvat. Waarin jy glo, waarvoor jy staan. Die geskiedenis lewer boonop bewys dat in die geval van onvoorwaardelike oorgawe dit sleg gaan met die “hensoppers”. Oorlog gaan dikwels oor die voordeel van “hoë grond”, wat nie noodwendig morele hoë grond is nie, al mag almal graag so wil dink. Mandela het immers gesê dat wanneer ’n konfliksitasie lank genoeg aanhou, weet niemand later wie eerste geskiet het of wie wat gedoen het nie.
Nee, dit gaan oor wie die oorhand kry en die reëls opstel. En wie dié mag kan misbruik. Soos toe die Khmer Rouge, die Rooi bevrydingsorganisasie in Kambodja meer as twee miljoen landsburgers tussen 1975 en 1979 uitgewis het. En sommer ook hulle geskiedenis oorgeskryf het asof dit eers ná die oorlog begin het. Vanaf “Die jaar nul”, soos Pieter Haasbroek dit met die titel van sy roman (HAUM, 1986) beskryf het.
Ten minste dan moet gesorg word dat in ’n posisie van relatiewe mag onderhandel kan word. En ná die val van die USSR (en simbolies) die Berlynse Muur in 1989 was daardie punt bereik – of so is gevoel – en kort daarna is die oorlog wel beëindig.
Maar was daar iets soos die Swart Gevaar? Sekerlik slegs, uit die troep se oogpunt, indien daar ’n Rooi Gevaar was. Vandag word daaroor gelag en word dit gelykgestel aan stories oor “backtracking” en satanistiese babaslagtings. Karel Schoeman het geskryf dat die verlede ’n ander wêreld was. Dit beteken dat komende generasies aan vandag s’n sal vra: “Hoe kon julle toelaat dat die ANC die land stroop en lamlê?” Nes van vandag s’n vra: “Hoe kon julle apartheid toelaat; hoekom het julle namens ’n rassistiese regime gaan veg en sterf, en hoe kon julle ouers dit goedkeur?” “But, as opposed to what?” vra die Engelse mos wanneer ’n teenoorgestelde aksie bevraagteken word. Ons sal nooit weet nie.
Ons kan nou wel boeke soos Leopold Scholtz se Die SAW en die Grensoorlog (Tafelberg, 2013), of talle boeke oor kommunistiese konflikte, ook op Google gaan oplees, oor die geraamde 110 miljoen mense wat deur kommunistiese regimes uitgemoor is. “As opposed to what?” ... Dit kan ons vandag vra en met sekerheid weet dat geen demokraat eerder in ’n kommunistiese bestel wil leef as andersins nie.
.........
Troep se waarde lê veral daarin dat dit ’n bydrae lewer tot die groter(wordende) kanon (verskoon die woordspel) van Grenslit wat nou ook die perspektiewe van die voetsoldaat, matroos, vlieënier, kok en trokdrywer aanbied. Kleingeskiedenisse.
.........
Ons kan ook boeke soos Troep lees om hopelik insig in die gewone mense van die dienspligtyd te kry. Want soos Booyens vir Troep van veelvoudige bronne gebruik gemaak het, behoort die belangstellende in hierdie historiese periode ook na ander boeke en menings te kyk om ’n ingeligte mening te vorm.
Troep se waarde lê veral daarin dat dit ’n bydrae lewer tot die groter(wordende) kanon (verskoon die woordspel) van Grenslit wat nou ook die perspektiewe van die voetsoldaat, matroos, vlieënier, kok en trokdrywer aanbied. Kleingeskiedenisse. Vergeet van “great men”, want aan hulle hand kleef die meeste bloed. Laat ons juis die “gewone mens” se stories vier.
Naskrif: ’n Mens sou ook graag van Staandemaglede wou hoor, maar nie net van generaals, brigadiers en kolonels nie. En natuurlik ook meer van hulle wat aan “die ander kant” hulle bloed vir vryheid verspil het, ook dikwels gedwonge, en hoe hulle nou daaroor voel. Want die vraag kom gedurig by almal op: Was dit alles nodig? Ek glo nie daar sal ooit ’n bevredigende antwoord hierop wees nie, maar met meer boeke en stemme kan ons nader daaraan kom.
Lees ook:
Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? deur Anelia Heese: ’n resensie
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: video-opname van gesprek met Dana Snyman oor Seun
Suid-Afrika se Grensoorlog 1966–1989 deur Willem Steenkamp: ’n resensie
Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n LitNet-Akademies-resensie-essay