Suid-Afrika se Grensoorlog 1966–1989 deur Willem Steenkamp: ’n resensie

  • 3

Suid-Afrika se Grensoorlog 1966–1989
Willem Steenkamp
Tafelberg
2016
ISBN: 9780624076896

Willem Steenkamp se werk oor die grensoorlog is ’n knap, breë oorsig wat in toeganklike taal met hope foto’s vertel word.

Ek beveel dit aan vir alle wit mans wat diensplig gedoen het, en ook vir hulle gades.

Steenkamp vertel glad nie die hele verhaal nie – hy kan nie – maar sy boek gee ’n konteks aan die persoonlike stories waarmee elkeen van ons rondloop. G’n boek oor die oorlog kan volledig wees nie, maar hierdie een verskaf redes vir sekere krygsbesluite wat geneem is danksy talle politieke uitbarstings waarvan ons, wat in uniform was, glad nie geweet het nie.

Dit verskaf ook ’n uitmuntende chronologiese oorsig oor die gebeure in Noord-Namibië en Suid-Angola.

Iets oor “ons”

Ek was in 1987 en 1988 in die weermag.

My ideologiese onderrok het toe al gepla, maar ek was daar. Ek was ’n troep.

’n Jaar ná ek uitgeklaar het, was ek, teen die einde van 1989, weer op ’n troepetrein wat jong latte, my ouderdom, teruggeneem het huis toe. Dit was ’n verskriklike tyd vir daardie troepe wat hulle lewens gewaag het om die “vyand” te gaan opdonner, en dan te hoor die einste vyand gaan nou oorneem in Suidwes (soos Namibië toe nog in die volksmond bekendgestaan het). Deels was die woede gesetel in die troepe se geloof in die weermag se mag: ons hét uitmuntende krygsvernuf getoon – nóg Swapo, nóg die ANC, en ook nie die PAC se gewapende magte nie, had die vermoë om ons in ’n konvensionele oorlog te klop. Selfs in 1987, toe daar geen twyfel meer was dat “ons” stryd nou ook teen die Kubane, die Russe en Fapla was nie, het die SAW se troepe verskeie veldslae gewen.

Ons troepe was lojaal en trots, daarom dan die verbasing toe alles waarvoor “ons” baklei het, skielik ongedaan gemaak is.

Dis hierdie woede waarmee ’n teks soos Steenkamp s’n dalk sal kan help, en daarom beveel ek dit so sterk aan. Steenkamp plaas die oorlog en die politieke onderhandelinge naas mekaar: die manne in grys hou beraad, terwyl die troepe stof eet.

Op die agterblad staan: “Die oorlog het so lank aangehou dat pa en seun dieselfde kompanjiemedalje kon dra vir gevegte aan dieselfde front, al was dit 15 jaar uit mekaar.”

Die boek verduidelik hoekom dit so lank aangehou het, maar ook hoekom dit moes stop.

Daar is ander skrywers en boeke wat veel meer oor sekere aspekte van die oorlog vertel – Al Venter en At van Wyk se werke moet beslis hier genoem moet word.

Steenkamp steun, met erkenning, op Venter se werk en sy breë joernalistieke inslag en insig in die politieke werkinge rondom die front maak dat ek nie sou omgee as my seun hierdie een lees nie. Die knaap vra gereeld uit oor die oorlog en hoewel dié teks vir hom net mooi niks van my dienstyd sou vertel nie, sou dit aan hom ’n goeie beeld gee van die konteks waarbinne ons gewerk het. Vir diegene wat naas Steenkamp nog ’n kykie in die oorlog wil kry, sou ’n mens Leopold Scholtz se Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989 kon noem. Aan die einde van 1989 het Steenkamp ook ’n boek geskryf wat deesdae ’n versamelstuk is.

’n “Ons”-perspektief

Steenkamp se inleiding tot die stryd toon simpatie met die politieke bewegings in die toenmalige Suidwes wat van die Suid-Afrikaanse juk ontslae wou raak en hulle uiteindelik tot die wapen moes wend.

Hy doen moeite om bronne en perspektiewe van buite die SAW te betrek, poog ligweg om Unita se problematiese rol in die oorlog te interpreteer en gee duidelike dekking aan die steun wat Rusland en Kuba aan Angola en Swapo verleen het.

Die skrywer maak dit duidelik dat dit nie ’n wit oorlog was nie; op die grens het swart en wit saam geveg, hoe vreemd dit ook mag klink. Swart Namibiërs het sy aan sy met hulle wit landgenote baklei. Lede van 32 Bataljon en verskeie Boesmantroepe was verantwoordelik vir talle welslae wat aan die SAW toegeskryf is.

Reeds op die titelblad is die collage ryk aan veelvoud – talle rasse en geslagte word getoon.

En tog: die boek se ideologiese komvandaan is duidelik. Die “insurgente” (Swapo se gewapende magte) ontvang byvoorbeeld “politieke indoktrinasie”; dit word nooit van die wit troepies gesê nie – ons het skynbaar net weerbaarheidsopleiding ontvang.

Daar word gereeld verwys na linkses en kerkleiers se ongemak oor die behandeling van die Namibiërs, en hier en daar word daar erken dat troepe verkeerd opgetree het, maar die suksesse van die “Hearts and minds”-veldtog word harder uitbasuin. Op bl 36 is daar ’n foto van twee troepies wat in ’n takkraal sit en glimlag, en daarnaas staan dat die Suid-Afrikaanse regering “honderde duisende rande bestee [het] aan projekte om welwillendheid onder die plaaslike bevolking te wen”. Tog is daar op bl 213 ’n foto waar ’n soldaat van 101 Bataljon besig is om juis so ’n takkraal af te breek. Die teks sê die soldaat is op soek na insurgente en daarom word “tradisionele hoflikheid oorboord” gegooi. Ja, ja.

Ek kan aanhou met hierdie soort voorbeelde; op ’n vreemde manier verwelkom ek egter Steenkamp se perspektief, want dit maak sy teks toeganklik vir die wit troepies wat kwaad was toe die SAW onttrek het. Steenkamp praat “ons” taal. Dit is vanuit “ons” perspektief geskryf, maar die skrywer doen moeite om te vertel van talle politieke ontmoetings en feite wat nooit aan “ons” verduidelik is nie.

Waar is die grens?

Steenkamp konsentreer op die bosoorlog wat van 1966 tot 1989 aan die Namibiese grens en in die suide van Angola gewoed het. Daarmee onderbeklemtoon hy die rol wat die SAW in Suid-Afrika self en in lande soos Zimbabwe, Mosambiek en Lesotho gespeel het.

In ons weerbaarheidsklasse tydens opleiding is ons ingelig dat die grens binne Suid-Afrika was. Cosatu en die UDF was die vyand. Ons het diens gedoen in townships en by padblokkades. Daardie deel van die “grensoorlog” word nie bespreek nie.

In 1987 en 1988, toe Zimbabwe al lankal onafhanklik was, is talle van my vriende met ongemerkte Land Cruisers soheentoe. Hulle het siviele klere gedra, maar hulle was enige tyd net soveel deel van die oorlog as iemand wat met ’n Ratel in Angola was, of op ’n Buffel in Soweto. Sulke sendings word hoegenaamd nie vermeld nie.

“Dis nie my oorlog nie”

Ek salueer Steenkamp vir wat hy reggekry het in hierdie boek, maar ek neem aan dat talle soldate tog gaan sê: “Dis nie my oorlog nie.”

Die enorme rol wat die recce’s gespeel het, word bloot skrams genoem. Hulle was die ouens wat die grofgeskut moes lei, om nie van die talle ander koverte operasies te praat nie. Die inwin van inligting deur die Seiners word glad nie genoem nie. Valskermsoldate word soms genoem ... So kan ’n mens aangaan.

Die ander brokkie inligting wat ’n mens mis, is die geweldige rol wat Krygkor gespeel het om nuwe wapentuig vir die oorlog te bou. Steenkamp verwys daarna dat ons al hoe beter geword het met landmynbestande voertuie en dat die G5 sonder twyfel vir ’n hele ruk die beste kanon in sy soort was, maar agter die skerms was daar baie ure se harde werk deur ingenieurs en spioene om hierdie krygstuig te ontwerp, te toets en te vervaardig, en dit word nie deel van die vertelling nie – dalk lê hier ’n fassinerende nuwe boek en wag.

Daarom moet ’n mens weer eens sê: Steenkamp het probeer sin maak van die groter prentjie. Daardie prent(jie) is egter só groot dat dit onmoontlik sou wees om alle troepe se stories in een boek te vertel.

Wat Steenkamp wel vertel, is knap.

“Here war is simple”

In 1939 skryf WH Auden: “Here war is simple like a monument:/ A telephone is speaking to a man;/ Flags on a map assert that troops were sent.”

In 1988 was ek in uniform voor so ’n kaart. Die telefone en die teleksmasjiene het vlaggies rondgeskuif.

Rondom Cuito Cuanavale was daar baie vlaggies.

Dit was die senior offisiere, nie die amptelike telekse nie, wat teruggekom het met die nuus dat ons nie meer kan wen nie. Ons Mirages kon nie die nodige dekking verleen  teen die Mig 23’s nie; beide Kuba en Rusland was op daardie stadium van plan om die stryd vir eens en altyd te stop. Ons kon nog terugslaan, en hét ook soos helde, maar die boodskap van die senior soldate se kant af was duidelik: “Nou gaan julle begin body bags sien.”

Op dié punt wil ek vra: léés Steenkamp, want wanneer name soos Niel Barnard genoem word in die onderhandelinge om die oorlog te stop, moet jy weet: die politici het nou begin luister na die ouens met hulle ore op die grond; die baasspioen het sy kaarte fyn gespeel en die troepies het niks daarvan geweet nie. Steenkamp verduidelik hoe Swapo, die Angolese regering, die VSA, die Suid-Afrikaanse regering en Unita by tye halsstarrig en oneerlik was. Ons sou veel vroeër uit Angola kon gewees het as dit nie vir buitelandse inmenging aan alle kante was nie. Fidel Castro se ego was selfs groter as die getal dooies.

Steenkamp se boek is wat Auden sou noem “flags on a map”. Dit is klinies, en dit vertel slegs een perspektief, maar dit word goed gedoen.

Toe ek in 1989 op daardie trein geklim het op pad na ’n kamp, was die gemoed van diegene om my baie donker. Dit was ouens wat nog aksie gesien en ervaar het. Hulle was die ware helde van die Grensoorlog en kon nie die uiteinde verstaan nie.

Ek ken steeds heelwat toenmalige soldate wat aan posttraumatiese stres ly en sien steeds hoe huwelike verbrokkel as ’n gevolg daarvan. Dié boek sou dalk help dat van die troepe en hulle gades ’n beter perspektief sal kry op dit wat om hulle gebeur het: “ons” het nie gefaal nie; die politici het ons gewoon in die duister gehou. Steenkamp se simpatieke houding jeens die SAW is dus nodig; hy praat die taal wat daardie troepe op die trein sou verstaan. Sy navorsing is boonop deeglik.

Ek beveel die teks sterk aan. Dit is ook in Engels beskikbaar.

 

  • Izak de Vries is op die bestuur van PEN Afrikaans. Tydens die Grensoorlog het hy onder andere as joernalis en fotograaf diens gedoen. Hy skryf hierdie resensie in sy eie hoedanigheid.
  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    johannes tobias fourie.( tobie)

    Ek was betrokke in landmyn-ontploffing waar ek drie vriende veloor het. Die voorval het in 1980 gebeur. Is daar vergoeding?

  • Avatar
    Benette Grobler

    My pa was ook op die grensoorlog tussen 1974 en 1988. Hy was op Grahamstad gestasioneer en onder bevel van Kommandant de Wet. Is daar enige iemand wat dalk sal wil kontak maak?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top